Bekommer jou minder en vertrou meer op God

2022-02-04
Markus 4:19 NLV

Jesus het in die gelykenis van die saaier gesê dat die saad in vier soorte grond geval het. Hier is een van hulle: ‘Daardie saad wat tussen die dorings gesaai is, staan vir die mense wat die Goeie Nuus hoor, maar die bekommernisse van hierdie lewe en die rykdom en die hunkering na allerhande goed verstik gou die boodskap, en dit bly sonder vrug’ (verse 18-19 NLV).

Let op dit wat God se Woord weerhou om effektief in jou lewe te werk: 1) Bekommernis dat God nie vir jou sal sorg nie. 2) Deur te dink dat as jy meer geld, ‘n groter huis, ‘n beter kar of ‘n aantrekliker voorkoms gehad het, jy gelukkiger sou wees. Hier is die vraag: Onthou jy toe jy gedink het dat jou huidige beroep, die huis waarin jy tans woon en die finansiële portefeulje wat jy bymekaar gemaak het, al jou bekommernisse sou laat verdwyn het? Dit werk egter nie so nie, doen dit? Hoe meer ‘goed’ jy het, hoe meer het jy om te verloor, te beskerm, te handhaaf en besorg oor te wees.

Bekommernis oor materiële dinge kan die lewe uit jou wurg! Vrede en geluk spruit uit vertroue op God vir dit wat jy nodig het; die wete dat wanneer iets reg is vir jou, God dit sal voorsien; en indien nie, dat Hy vir jou iets beters sal gee.

‘n Wonderlike ding gebeur wanneer jy oor God se beloftes mediteer. Jou bekommernisse verklein, jou gedagtes en houding word verander en jy geniet die lewe meer. Jesus het gesê: ‘Nee, maak die koningsheerskappy van God… julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (Matteus 6:33 NLV). Plaas dus vandag gebed en Bybelstudie aan die bopunt van jou prioriteitslys.

Sielskos: Jes 1-3; Luk 8:1-15; Ps 108; Spr 3:31-32