Oorkom verwerping

2022-02-01
1 Johannes 3:1 NLV

Wanneer jy met ‘n gevoel van verwerping sukkel, kan dit in dinge soos die volgende manifesteer:

1) Jy raak perfeksionisties. Dit werk egter nie, omdat ander mense se behoeftes en verwagtinge so van mekaar verskil dat dit onmoontlik is om almal gelukkig te hou.

2) Jy is tevrede met minder. Jy verdra verwaarlosing en mishandeling omdat jy dink dis wat jy verdien. Of jy is bang dat dit dalk jou laaste kans op ‘liefde’ mag wees.

3) Jy raak aggressief. Verwerping kan voel asof jy aangeval word terwyl dit nie regtig die geval is nie, maar jy trek jou bokshandskoene aan en begin appels swaai.

4) Jy hou ‘n onversetlike front voor. Gevolglik sluit jy jouself van ander mense af, jou fisiese, geestelike en emosionele behoeftes ly daaronder en jy voel eensaam.

5) Jy beloof jouself dat jy nooit weer iemand naby genoeg aan jou gaan toelaat om jou seer te maak nie. Dit klink goed in teorie, maar deur ander mense uit te sluit, sluit jy jouself af en al jou verhoudings ly daaronder.

6) Jy trek die verkeerde mense aan. So lank as wat jy met ‘n verminderde sin van selfwaarde rondloop, sal jy altyd die verkeerde mense aantrek. Die waarheid is, wanneer jou self-waarde op enige ander opinie as God s’n gebaseer word, sal jy altyd weerloos teenoor verwerping wees en jy sal nooit die unieke en wonderlike persoon wat God jou gemaak het om te wees, ontdek nie.

Wat is dus die antwoord? Johannes sê vir ons: ‘Kyk net hoe ‘n groot liefde die Vader aan ons betoon het. Dit is dat Hý ons sy kinders noem, en ons is dit beslis ook…’ (vers 1 NLV). Jy kan verwerping oorkom deur te begin verstaan en aanvaar hoe baie God jou liefhet en hoe hoog Hy jou ag.

Sielskos: Rom 9:17-11:36; Luk 7:11-23; Ps 107:23-32; Spr 3:25-26