Hoe om vrugte te dra (3)
2022-01-04Kolossense 2:7 ABA
Paulus skryf: ‘Julle het gehoor dat Christus Jesus die Here is, en julle glo in Hom. Nou moet julle lewe soos mense wat aan Hom behoort. Christus maak julle geloof sterk, soos ‘n wortel ‘n boom sterk maak… En julle moet aanhou om die dinge te glo wat julle geleer het, en julle moet altyd vir God dankie sê vir alles. Julle moenie luister na die mense wat dink hulle sê slim dinge en wat vir julle dinge laat glo wat nie waar is nie. Hulle het daardie dinge by ander mense geleer, nie by Christus nie… Julle behoort aan Christus. Christus het julle gered, en julle is heeltemal soos Hy wil hê julle moet wees. Christus is sterker as almal en alles wat oor die wêreld wil regeer’ (Kolossense 2:6-8, 10 ABA).
As jy ooit die Arizona woestyn besoek, sal jy die saguaro kaktus vind wat selfs in 50 grade celsius vrugte dra. Hoekom? Omdat sy wortels 15-20 meter in alle rigtings uitsprei. Jy moet diep geestelike wortels hê as jy dit deur die droogte van die lewe wil maak. Enigeen kan ‘n dag of twee van droogte oorleef, maar wat van uitgebreide seisoene van stres, rou, gebrek, siekte en teëspoed? Dit waaraan jou lewe vasgewortel is, is waaruit jy krag sal put.
Die Psalmdigter het geskryf: ‘Gelukkig is die mense wat… vreugde vind in die gebooie van die Here en sy voorskrifte dag en nag oordink. Hulle is soos bome geplant langs ‘n rivier, wat vrugte dra op die regte tyd. Hulle blare verwelk nie; in alles wat hulle doen is hulle voorspoedig. Maar dit geld nie die goddeloses nie. Hulle is soos kaf wat die wind verstrooi’ (Psalm 1:1-4 NLV). Bid: ‘Here, wortel my diep binne-in U.’
Sielskos: Gen 4-6; Luk 1:11-25; Ps 90:7-17; Spr 1:5-9