Sy dienskneg en sy getuie

2021-12-16
Handelinge 26:16 NLV

‘n ‘Dienskneg’ fokus daarop om sy meester se wil te doen. ‘n ‘Getuie’ getuig van dit wat hy of sy persoonlik ervaar het. As verloste kind van God, word jy geroep om beide te doen. Kom ons kyk na elkeen.

1) Jy is God se dienskneg. Dit beteken dat jou ore daarop ingestel moet wees om te luister na wat Hy wil hê jy moet doen, wanneer Hy wil hê jy dit moet doen en hoe Hy wil hê jy dit moet doen. Om sy wil te doen, moet die belangrikste item op jou daaglikse agenda wees.

2) Jy is God se getuie. Die waarde van ‘n getuie hang af van hoe naby hulle aan ‘n gebeurtenis was en wat hulle daar geobserveer het. Johannes skryf: ‘…[Hy] is die Een wat ons gehoor en met ons eie oë gesien het… ons het dit gesien en getuig daarvan…’ (1 Johannes 1:1-2 NLV).

Die geselskap waarin jy jou bevind, beïnvloed jou. Wanneer jy elke dag tyd met Jesus bestee, sal ander mense deur jou lewe beïnvloed word. Die Bybel sê: ‘…’n Mens wat wys is, red ander se lewens’ (Spreuke 11:30 NLV). Wanneer jy jou geloof deel, moet jy wysheid, takt en genade aan die orde van die dag lê. Die kans is goed dat baie mense wat jy teëkom, reeds ten minste een slegte ervaring met Christene en die kerk gehad het, dus moet jy ‘wys’ wees.

Hoe doen mens dit? Deur hulle te vertel dat Jesus die Groot Geneesheer is wat gebroke harte weer heel maak. Dat die kerk ‘n hospitaal is waar sommige mense gesond is terwyl ander nog in intensiewe sorg is. As jy dit behoorlik verduidelik en mense dit verstaan, sal hulle na Jesus toe aangetrek word. Wat is dus jou opdrag? Om sy dienskneg en getuie te wees!

Sielskos: 2 Tim 1-4; Joh 20:1-9; Ps 105:37-45; Spr 30:20-23