Heman en Jedutun
2021-12-101 Kronieke 16:41 NLV
Daar is ‘n goeie kans dat jy nog nooit van hierdie twee mans gehoor het nie; hulle is twee van die meer onopsigtelike karakters in die Bybel. Hulle is aangestel om in die wonderlike aanbiddingskore van koning Dawid as dankseggers op te tree. Hulle het ‘…direk aan die koning gerapporteer’ (2 Kronieke 25:6 NLV). Dit was letterlik hulle werk om dank aan die Here te bring.
Dis ook jou werk! Jy rapporteer aan die Koning van Konings wat jou die volgende beveel: ‘…wees dankbaar’ (Kolossense 3:15 NLV), ‘Offer dankoffers aan God…’ (Psalm 50:14 NLV), ‘Laat ons met lofsange voor Hom kom…’ (Psalm 95:2 NLV), ‘Gaan sy poorte in met dankliedere…’ (Psalm 100:4 NLV), en ‘Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle as Christene verwag’ (1 Tessalonisense 5:18 NLV).
Was jy al ooit so ontroer dat jy spontaan begin lofprys het? Niks is meer opwindend as dit nie. Jy sal nooit weet wat jy misloop as jy nie jou Skepper met alles in jou aanbid nie. Sing, lig jou hande op, huil, lag, wat ook al… as jy dit in die gees van lofprysing, danksegging en dankbaarheid doen, sal dit God behaag. Danksegging lei ook tot beter fisiese, emosionele en geestelike gesondheid. Die Skepper van jou siel is ‘n meester sielkundige. Hy weet dat danksegging nie net toepaslik nie, maar ook terapeuties is. Dis moeilik om terseldertyd dankbaar en knorrig, krities of in ‘n slegte bui te wees.
Sielskos: Neh 5-7; Joh 18:12-24; Ps 150; Spr 29:22-27