Krisisbestuur (2)
2021-12-12Filippense 1:9 NLV
Wanneer jy jouself in ‘n krisis bevind, sal die regte houding die verskil tussen wanhoop en vasberadenheid maak. Dr Jeffrey Rossman stel die volgende ses stappe voor: 1) Soek maniere om betekenis in jou ervaring te vind. Veerkragtige mense gebruik hulle ervarings om ander mense te help. ‘In al ons swaarkry bemoedig Hy ons… sodat ons ook in staat sal wees om mense… by te staan met dieselfde bemoediging waarmee God ons versterk het’ (2 Korintiërs 1:4 NLV).
2) Ondersoek jou prioriteite. ‘Leer ons ons dae só gebruik dat ons wysheid kan bekom’ (Psalm 90:12 NLV). Hoe wil jy tans jou dae anders deurbring? Met wie wil jy dit die graagste deurbring? As jy net een jaar oorgehad het om te lewe, watter gesprekke sou jy wou hê? Wat se tipe mens sou jy wil wees?
3) Glo dat jy kan terugspring. ‘n Belangrike aspek van veerkragtigheid in geloof, is jou vermoë om dinge te kan hanteer. Selfs al het jy die praktiese vermoë om die kwessie te hanteer, sal jy struikel as jy nie in jou emosionele buigsaamheid glo nie.
4) Begin beweeg. Fisiese oefening verbeter jou energie en bui. Dit versterk jou vermoë om beheer van jou gesondheid en welstand te neem.
5) Klim uit jou gemaksone uit. Leer ‘n nuwe taal of rekenaarprogram; begin ‘n nuwe projek by die huis of werk. Wanneer jy die onbekende omhels, versterk dit jou selfvertroue en kapasiteit om nuwe situasies te hanteer. Hoe meer jy van jouself verwag, hoe meer veerkragtig sal jy word.
6) Verwyder die onkruid wat jou optimisme versmoor. Wanneer jy pessimistiese of siniese gedagtes begin dink, neem ‘n tree terug en wysig jou perspektief deur vir konkrete stappe om jou probleem op te los, uit te kyk.
Sielskos: Pred 11:7-12:1; Ps 39:4-13; 2 Tim 4:6-8