2022-03-20
Efesiërs 4:32 NLV
Daar is niks erger as die pyn wat ouers hul kinders toedien nie. Dikwels gebeur dit as gevolg van onkunde, maar dit beteken nie dat dit minder seer is wanneer jy aan die ontvangkant daarvan is nie.
‘n Christelike skrywer merk op: ‘Behoeftes waaraan daar nie in die kinderjare voldoen is nie, sal net so sterk in volwassenheid wees, maar dit sal kundig gekamoefleer wees. As jy as kind mishandel is, moenie mislei word om te dink: ‘Ek is wedergebore – dis nie veronderstel om steeds seer te maak,’ nie. Die feit dat jy steeds seer het, negeer nie jou wedergebore status of maak jou minder geestelik nie. Omdat mense geneig is om God op dieselfde manier as wat hulle hulle ouers beskou het, te sien, neem dit tyd vir genesing, verlossing en om die liefde van God te leer ken, voordat algehele vertroue plaasvind.
Om jou ouers te vergewe is ‘n groot deel van die genesing. Jy moet die vader wat jou nooit beskerm het nie, die moeder wat jou misbruik en mishandel het, die stiefpa wat nie lief was vir jou nie, die oupa of oom wat jou seksueel mishandel het, die ouer wat nooit daar was vir jou nie, die selfsugtige ouer, of die emosioneel gebrekkige ouer, vergewe. Hierdie bitter pynlike ervarings sal aanhou om jou seer te maak as jy nie al daardie pyn en bitterheid laat gaan nie en vir God vra om jou te help om te vergewe nie. Hy is die God van genesing, so Hy kan enigiets wat in jou verlede gebeur het, verlos. Hy kan die brug tussen jou en jou kinders, of ouers, of vriende, regmaak. Laat God toe om jou situasie te verlos, sodat dit omgedraai kan word en in die regte rigting kan begin beweeg.’
Sielskos: Lev 24:17-22; Deut 15:7-11; Matt 5:38-48
2022-03-19
Lukas 17:14 NLV
“…tien melaatse mans… het hard na Hom geroep: ‘Jesus, Here, kry ons tog jammer!’ Toe Hy hulle sien, sê Hy aan hulle: ‘Gaan wys julleself aan die priesters.’ Terwyl hulle soontoe op pad was, het hulle gesond geword. Een uit die groep, toe hy sien dat hy gesond geword het, het omgedraai en met ‘n harde stem vir God geloof… Toe merk Jesus op: ‘Was daar dan nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege?’… Aan hierdie man het Hy gesê: ‘Staan op en gaan. Jou geloof het jou gered'” (verse 12-19 NLV).
Hierdie verhaal leer ons drie dinge: 1) Soms kom die antwoord gou; ander kere stadig, stap-vir-stap. Die Bybel sê: ‘…Terwyl hulle soontoe op pad was, het hulle gesond geword…’ Jy weet nie watter stap die antwoord gaan meebring nie, dus moet jy in geloof bly wandel. Mosaïese wette het vereis dat voor ‘n melaatse weer in die samelewing toegelaat kon word, ‘n priester hom eers as ‘skoon’ moes verklaar.
2) Moenie tou opgooi omdat ander mense jou verwerp nie. Hierdie mans het van Jesus verwag om hulle ook soos uitgeworpenes te hanteer. Wanneer jy egter nader aan God beweeg, sal Hy nader aan jou beweeg (sien Jakobus 4:8 NLV). Worstel jy met ‘n kwessie wat veroorsaak het dat ander mense jou vermy of eenkant toe stoot? Jesus sal dit nie doen nie. Hy het gesê: ‘…Ek sal dié persoon wat na My toe kom, glad nie verstoot nie’ (Johannes 6:37 NLV).
3) Onthou altyd om vir God dankie te sê en Hom te prys. Net een van die melaatse mans het die dankbaarheidstoets geslaag. Sou jy geslaag het? Wanneer jy besef hoe baie jou danksegging vir God beteken, sal jy nie ‘n dag laat verbygaan waar jy Hom nie loof en prys nie.
Sielskos: Job 8-10; Luk 18:18-30; Ps 116:1-11; Spr 8:8-9
2022-03-18
Spreuke 4:23 NLV
Wanneer dit by die alledaagse lewe kom, kan jy volgens die onveranderende beginsels van God se Woord, of volgens jou gevoelens wat konstant verander, lewe. Wanneer jy volgens God se Woord leef, het jy stabiliteit. Wanneer jy volgens jou gevoelens leef, is dit soos ‘n tuimeltrein; een dag is jy op, die volgende dag is jy af.
God wil jou tot by emosionele volwassenheid bring, maar jy moet jou samewerking gee. Dit verg dat jy daagliks kies om dinge op sy manier, eerder as jou eie, te doen. Wanneer dit ‘n gewoonte word, sal jy ontdek dat die lewe baie meer plesierig is. ‘Bo alles, wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen’ (vers 23 NLV). Dis jou denke wat jou gevoelens produseer, nie andersom nie!
Dis hoekom Paulus skryf: ‘…Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak’ (2 Korintiërs 10:5 NLV). Met ander woorde, as ‘n gedagte nie in lyn met God se Woord is nie, moenie dit ‘n stem gee nie. ‘…ons leef deur te glo en nie deur te sien nie’ (2 Korintiërs 5:7 NLV).
Dit mag dalk as ‘n verrassing kom, maar jy sal nie altyd God se teenwoordigheid as ‘n Christen aanvoel nie. Jesus het na sy opstanding aan twee van sy dissipels op die pad na Emmaus verskyn, maar hulle het Hom nie herken nie. Hoekom nie? Omdat hulle met hulle gevoelens besig was! Hoe het Hy hulle uit hulle negatiewe emosies uitgelig? ‘Hierna het Jesus begin om vanaf Moses en al die profete al die skrifgedeeltes wat oor Hom handel, vir hulle te interpreteer’ (Lukas 24:27 NLV). Jy moet slegs deur God se Woord gelei word.
Sielskos: Job 5-7; Luk 18:1-17; Ps 19; Spr 8:6-7
2022-03-17
Romeine 12:1 ABA
Paulus skryf: ‘Vriende, God is baie goed vir julle… Julle moet self offers wees vir Hom… Dan sal julle dinge doen wat God wil hê julle moet doen, goeie dinge, dinge waarvan Hy hou, dinge wat heeltemal reg is’ (verse 1-2 ABA). Daar is twee maniere om God se soewereiniteit te verstaan: a) deur sy inisiatief, en b) deur ons reaksie.
In wese sê Paulus die volgende: 1) Weerstaan die druk van ‘n wêreldsisteem wat jou in die verkeerde rigting trek. 2) Vernuwe jou gedagtes elke dag deur gebed en deur God se Woord te lees. 3) Herken sy wil vir jou lewe en lewe daarvolgens. Paulus hou egter nie daar op nie. Hy skryf: ‘Julle moet waarlik lief wees vir mekaar. Julle moet slegte dinge haat en graag goeie dinge doen. Julle behoort aan Christus en aan mekaar, daarom moet julle lief wees vir mekaar. Julle moet eerste wees om ander mense te respekteer… Wanneer julle swaarkry, dan moet julle geduldig wees. Julle moet aanhou bid. Party mense wat ook aan die Here behoort, het baie min goed. Julle moet van julle goed vir hulle gee. Julle moet vriendelik wees met vreemdelinge. Wanneer mense slegte dinge aan julle doen, dan moet julle vir die Here vra om goed te wees vir hulle … Wanneer mense slegte dinge aan julle doen, dan moet julle nie ook slegte dinge aan hulle doen nie. Julle moet goeie dinge doen… Julle moet baie hard probeer om in vrede te lewe met ander mense’ (verse 9-18 ABA).
God se soewereiniteit stel ons nie van persoonlike verantwoordelikheid vry nie. Dit beteken nie dat ons belangstelling in aktuele sake of ingeligte besluite moet verloor nie. God verwag steeds van ons om na uitnemendheid te strewe en besorg te wees oor ‘n verlore wêreld.
Sielskos: Job 1-4; Luk 17:20-37; Ps 11; Spr 8:4-5
2022-03-16
Lukas 13:12 NLV
Hierdie vrou het godsdiens probeer, maar dit kon haar nie help nie. Sy het dokters probeer, maar hulle kon haar nie genees nie. Die mense rondom haar het gedink dat haar probleem nooit opgelos sou word nie. Sy het self so gedink! Maar nie Jesus nie. Sy belofte is: ‘Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik’ (Matteus 11:28 NLV).
Maak nie saak hoe moeilik die lewe lyk nie, verligting is net ‘n gebed weg. Ongeag die struikelblokke wat in jou pad staan, reik uit na Jesus toe. Jy mag dalk tans ‘n buite-egtelike kind in jou arms hê, maar hou aan deurdruk na Hom toe. Jy mag dalk mishandel en gemolesteer wees en kan vir niemand daarvan vertel nie, maar moenie ophou om na Hom uit te reik nie.
Jy hoef nie vir almal jou hele verlede te vertel nie. Weet net dat Jesus jou roep. Hy ken jou verlede en Hy roep jou in elk geval. Hy sien jou nie soos jy is nie, maar soos jy sal wees wanneer sy genade in jou lewe gewerk het. Maria Magdalena mag dalk ‘n prostituut gewees het voor sy Jesus ontmoet het, maar sy het een van sy naaste dissipels geword. Matteus, wat die eerste boek van die Nuwe Testament geskryf het, was ‘n veragte tollenaar wat vir die Romeine gewerk het toe hy Jesus ontmoet het.
Jesus ondersoek nie jou verlede om te besluit wat Hy met jou toekomstige self gaan doen nie. Saul van Tarsus, die moordenaar van Christene, het Paulus die Apostel geword, die skrywer van helfte van die Nuwe Testament. Die goeie nuus is wanneer Jesus jou red, het jy nie langer ‘n verlede nie. Jy het slegs ‘n toekoms.
Sielskos: 2 Tess 1-3; Luk 17:11-19; Ps 115; Spr 8:1-3
2022-03-15
Lukas 13:12 NLV
Ons weet nie hoe lank dit hierdie vrou geneem het om vorentoe te kom nadat Jesus haar geroep het nie. Gestremde persone beweeg nie so vinnig soos ander nie. Daar is twee belangrike lesse in haar verhaal vir jou.
1) Soms sal jy nie so vinnig soos ander groei en volwasse word nie, omdat jy al vir ‘n lang tyd met ‘n aftakelende probleem worstel. Wat maklik vir ander mense lyk, kan baie moeilik vir jou wees. Daar is egter goeie nuus: Jesus sal vir jou wag en Hy sal saam met jou werk totdat jy jou probleem oorkom.
2) Jou getuienis sal uit die toetse wat jy deurgemaak het, kom. Maak nie saak waardeur jy al is nie, vandag roep God jou. Hy sê: ‘Staan op! Jy kan My nader.’ Ongeag wat jy gedoen het of watter tipe misbruik jy gely het, Hy roep jou. Jy mag dalk dink dat jou geheim erger as enigiemand anders s’n is. Wees gerus dat God reeds alles weet. En sy belofte is dit: ‘…Ek het jou lief met ‘n liefde wat nooit ophou nie. Ek trek jou met troue liefde na My toe. Ek sal jou weer herbou soos jy vroeër was…’ (Jeremia 31:3-4 NLV). Soos ‘n beeldhouers iets pragtigs uit ‘n stuk rots te voorskyn kan bring, so kan God jou gemors in ‘n boodskap van hoop vir ander mense verander.
Die rede hoekom Satan jou aanval, is omdat jy iets waardevols het om by te dra. Die vrou se verhaal eindig met hierdie woorde: ‘…en al die mense was verheug oor die wonderlike dinge wat Hy gedoen het’ (Lukas 13:17 NLV). God se plan is dat ander mense na jou lewe kyk en sê: ‘Iets het met jou gebeur; jy is nie meer dieselfde persoon nie!’
Sielskos: Est 5-10; Luk 17:1-10; Ps 18:1-29; Spr 26:24-27