Mense met ‘n verlede (1)

2022-03-14
Lukas 13:12 NLV

Daar was ‘n vrou ‘…wat deur ‘n bose gees inmekaargetrek is. Sy was vir agtien jaar lank kromgetrek en kon nie regop staan nie. Toe Jesus haar sien, roep Hy haar nader en sê: ‘Vrou, jy is van jou kwaal genees!’ Toe het Hy haar aangeraak en sy kon dadelik regop staan. Hoe het sy nie God geloof en gedank nie!’ (verse 11-13 NLV). Die vrou kon nie reg loop nie omdat sy vir agtien jaar lank deur ‘n bose gees kromgetrek is. Dis ‘n lang tyd om met iets te worstel. Gedurende daardie tyd het sy kerk toe gegaan en geen hulp ontvang nie. Toe het Jesus haar vorentoe geroep. Hoekom het Hy haar nie net daar waar sy gesit het, genees nie?

Hier is twee redes daarvoor: 1) God wil hê ons moet geloof uitoefen en op sy Woord reageer. Wanneer jy vir ‘n lang tyd met ‘n onoplosbare probleem lewe, begin jy dink: ‘Dit sal nooit verander nie.’ Voor God dus jou omstandighede verander, verander Hy jou denkwyse en stel jou in staat om die moontlikhede te sien. Dit word ‘geloof’ genoem. Die Bybel sê: ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon’ (Hebreërs 11:6 NLV). Vandag wil God sien hoe jy na Hom toe beweeg.

2) God wil hê dat ons in ons eie bevryding moet belê. Wanneer jy in iets belê het, waardeer jy dit en beskerm jy dit. Op hierdie manier, wanneer Satan die probleem probeer terugbring, kan jy sê: ‘Nee, ek neem dit nie aan nie. Dis nie meer wie ek is nie. Ek is ‘n nuwe skepping in Christus.’

Sielskos: Est 1-4; Luk 16:19-31; Ps 24; Spr 7:24-27

Word ‘n aanbidder

2022-03-13
Johannes 4:23 ABA

Hoe word mens ‘n aanbidder? Eerstens, is daar nie net een regte manier nie. Die Bybel sê nie dat jy God op ‘n spesifieke manier moet aanbid nie. Aanbidding is so ‘n kragtige uitgieting van ons harte teenoor die Here, dat dit nie tot woorde beperk kan word of deur ‘n lied, ‘n uitroep of stilte gedefinieer kan word nie. Jesus het gesê: ‘…Nou sal die Heilige Gees die mense help om God reg te aanbid. Die Vader wil graag mense hê wat Hom so aanbid’ (vers 23 ABA).

Tweedens, God het jou geskep om Hom te aanbid. Miskien het jy nog nooit so daar aan gedink nie, maar God het ons geskep om die een ding wat Hy nie vir Homself kan doen nie, te doen – aanbidding! Johannes het geskryf: ‘U is waardig, Here ons God, om die hemelse heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alle dinge geskape het; deur u wil is alles wat bestaan, geskape’ (Openbaring 4:11 NLV).

Derdens, aanbidding kan deur enigiemand, enige plek, enige tyd, plaasvind. Die Samaritaanse vrou in die Skrif het geglo dat ware aanbidding net by ‘n heilige berg genaamd Gerisim mag plaasvind, terwyl die Jode geglo het dat dit by die tempel in Jerusalem beoefen moet word. Jesus het egter gesê dat dit nie tot ‘n kerk of ‘n spesifieke dag van die week beperk hoef te word nie. Die Psalmdigter het dit as volg gestel: ‘Prys die Here! Ja, prys Hom, dienaars van die Here. Prys die Naam van die Here! Geseënd is die Naam van die Here, nou en vir altyd. Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan, moet die Naam van die Here geprys word’ (Psalm 113:1-3 NLV). Word dus ‘n aanbidder.

Sielskos: 1 Sam 5:1-6:16; Op 11:15-19

Die Fariseër en die prostituut

2022-03-12
Lukas 7:47 NLV

Een dag was Jesus besig om by die huis van ‘n Fariseër te eet, toe ‘n prostituut binnekom. ‘…Toe het sy sy voete bly soen en aromatiese olie daaraan gesmeer. Toe die Fariseër wat die gasheer was, sien wat gebeur en wie die vrou is, het hy vir homself gesê: ‘Dit bewys dat Jesus geen profeet is nie. As God hom werklik gestuur het, sou hy geweet het watter soort vrou hom aanraak…’ (verse 38-39 NLV).

Simon die Fariseër was egter verkeerd. Dit was nie dat Jesus nie geweet het nie, dis net dat Hy nie omgegee het nie! Daardie dag het Hy haar sondes vergewe en haar verlos, herstel en herlei. Hierdie verhaal bevestig wat ons reeds weet; Jesus het gekom om sondaars op die straat en skynheiliges in die kerk te red. Niemand is buite sy genade se bereik nie.

Met dit ingedagte, onthou die volgende: 1) Moet nooit vergeet waarvan God jou gered het nie! Let op wat Jesus vir Simon die Fariseër gesê het: ‘…Maar iemand vir wie min sondes vergewe is, betoon maar min liefde!’ (vers 47 NLV). Toe hy die sondes van sy verlede onthou het, het Dawid geskryf: ‘…Hy het afgebuig… en my opgetel… uit die modder en die slym. Hy het my voete op ‘n rots laat staan… Hy het my ‘n nuwe lied gegee, ‘n lofsang om ons God te prys. Baie sal met eerbied toekyk. Hulle sal op die Here vertrou’ (Psalm 40:2-4 NLV).

2) Onthou dat Jesus nie na jou verlede kyk nie, maar na jou toekoms. Die skare het die vrou as onkruid gesien, maar Jesus het haar as ‘n roos gesien en vir haar water gegee. As jy vandag vergifnis nodig het, kom na Jesus toe. Wanneer Hy jou dan vergewe, stort jou hart in lof voor Hom uit.

Sielskos: Eks 39-40; Luk 16:1-18; Ps 135; Spr 7:21-23

Moenie jou vreugde verloor nie

2022-03-11
Filippense 4:4 NLV

Paulus skryf: “Wees altyd bly omdat julle Christene is. Ek sê dit weer: ‘Wees bly!'” Hoekom het Paulus homself herhaal? Omdat vreugde die brandstof is waarop ons hardloop en as ons dit nie dophou nie, kan ons tot stilstand kom. Dit beteken dat jy gereeld jou brandstofmeter moet nagaan om seker te maak dat jy nie in negatiwiteit en vertwyfeling verval nie.

In die Bybel, verteenwoordig wyn vreugde. Christus se eerste wonderwerk was inderwaarheid om water in wyn te verander – die beste wat hulle al ooit geproe het. Jesus is ‘n verskaffer van vreugde en wanneer jy aan Hom gekonnekteer bly, sal jy sy vreugde, ongeag jou omstandighede, ervaar. Hy het in Johannes 15:11 gesê: ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees’ (NLV).

Dink vir ‘n oomblik hieroor: Hoe kan jy rondloop en sê jou sondes is vergewe, dat God jou lei en jou beskerm en dat jy hemel toe gaan – terwyl jy lyk of jy met ‘n emmer asyn gedoop is? Paulus het soveel vreugde in die tronk gehad, dat sy tronkbewaarders vir Christus gewen is en daar ‘n kerk in die keiser se paleis ontstaan het (sien Filippense 4:22).

Mense word altyd meer deur jou houding as jou teologie beïnvloed. Wanneer hulle sien hoe vreugdevol jy in moeilike tye is, sal hulle heel waarskynlik begin wonder wat jou geheim is en dink: ‘Ek het dit wat daardie persoon het, nodig.’ Hulle word dan meer ontvanklik vir die waarheid. Die vreugde wat hierdie wêreld bied, is net ‘n reaksie op omstandighede, terwyl die vreugde wat uit ‘n lewe met Jesus spruit, jou bo die omstandighede uitlig. Fokus dus op sy vreugde, put krag uit sy vreugde en demonstreer vandag sy vreugde aan die wêreld.

Sielskos: Eks 36-38; Luk 15:11-32; Ps 27; Spr 7:10-20

Direk na die dood – glorie!

2022-03-10
Johannes 11:26 NLV

By die graf van sy vriend Lasarus, het Jesus vir sy hartseer susters twee allerbelangrike dinge gesê: 1) ‘…Jou broer sal weer opstaan’ (Johannes 11:23 NLV). 2) ‘Elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit…?’ (vers 26 NLV).

Wat gaan jou verder as die dood tot in jou hemelse tuiste bring? ‘n Goeie karakter? Om vir liefdadigheid te gee? Om kerk toe te gaan? Nee. Alhoewel al hierdie dinge prysenswaardig is, kan jy net deur jou vertroue in Christus te plaas, die versekering van die opstanding en ewige lewe hê. Jesus het die dood en die graf vir jou oorwin.

Jy mag dalk vandag hierdie woorde met trane van verlies en hartseer lees. Miskien het jy jou maat van baie jare verloor, of jou kind in ‘n tragiese ongeluk, of ‘n geliefde aan ‘n gevreesde siekte. Jesus verstaan jou smart soos niemand anders kan nie. Hy is in voeling met ons hartseer en smart (sien Hebreërs 4:15). Of miskien voel jy of die dood naby is.

As jy nog nie jou vertroue in Christus geplaas het nie, moet jy dadelik daarvan werk maak. Moenie vir ‘n meer gepaste tyd wag nie. Doen dit vandag en jy sal gered word; dit beteken dat wanneer jy jou laaste asem uitblaas, sal jy van die dood na die hemelse lewe toe oorgaan.

Wanneer jy jou vertroue in Christus plaas, is daar geen rede om dit wat aan die anderkant van die graf lê, te vrees nie. Hy is reeds daar en Hy het vir jou ‘n plek gereedgemaak. Dis daar! Onverklaarbare, ewige vreugde sal danksy Jesus vir ewig aan jou behoort. Jy kan saam met Paulus uitroep: ‘O dood, waar is jou oorwinning? Dood, wat het van jou angel geword?’ (1 Korintiërs 15:55 NLV). Dink daaroor: Direk na die dood – is daar glorie!

Sielskos: Eks 33-35; Luk 15:1-10; Ps 112; Spr 7:6-9

Luister na die regte stem

2022-03-09
Jesaja 30:21 NLV

‘n Gerespekteerde skrywer was saam met haar man en vriende op die toppunt van ‘n berg, besig om te bespreek watter rigting om te stap. Een ou het gesê: ‘Dis suid!’ ‘n Ander een het geantwoord: ‘Nee, dis oos in daardie rigting.’ Elkeen het ‘n stuiwer in die armbeurs gegooi, totdat die vrou se man uiteindelik ‘n kompas na vore gebring het en gesê het: ‘Ons kan hierdie argument vinnig opklaar.’ Binne sekondes het die kompas bevestig dat hulle inderwaardheid wes moes gaan! Die enigste betroubare bron het die laaste woord gehad en niemand kon daarmee stry nie.

Gedurende die dag wedywer baie stemme vir jou aandag en sommige wat soos kundiges klink, mag heeltemal verkeerd wees. Jy moet weet na watter stem om te luister, want as jy net na jou omstandighede kyk, sal jy gedisoriënteerd word. ‘n Onverwagte telefoonoproep, ‘n sukkelende verhouding, ‘n werk wat verloor is of ‘n siek kind kan noord soos suid en oos soos wes laat lyk. Wanneer dit gebeur, is dit maklik om tot die verkeerde gevolgtrekkings te kom en op die verkeerde pad op te eindig.

Die Bybel sê: “Jy sal ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die regte pad. Draai om en loop hierlangs.'” Daar is net een ware bron van wysheid en waarheid en Petrus het dit besef toe hy gevra het: ‘…Here, na wie toe sal ons teruggaan? U het die woorde wat ewige lewe gee’ (Johannes 6:68 NLV).

Jy hoef nie elke liewe detail vooraf te weet nie; dis nie hoe God te werk gaan nie. Dikwels wys Hy nie vir ons die groter prentjie nie, omdat dit ons sal oorweldig. Hy wil hê dat jou vertroue in sy karakter en goedheid onwrikbaar moet wees; en dat jy van sy krag afhanklik moet wees om sy plan vir jou te vervul.

Sielskos: Eks 30-32; Luk 14:25-35; Ps 106:24-48; Spr 7:3-5