Soos saadjies wat binne-in jou groei

2022-05-04
1 Tessalonisense 2:13 NLV

Wanneer jy God se Woord lees, glo en daarvolgens optree, is dit soos saadjies wat binne-in jou groei. Daardie saadjies bevat lewe! In die natuurlike wêreld hoef jy nie die proses te verstaan waardeur sade groei nie; jy moet hulle net water gee, versorg en beskerm. Dis dieselfde met die Skrif. Paulus skryf: ‘…Julle het dit aanvaar, nie as mensewoorde nie, maar soos dit werklik is, as Gód se woord. Dié woord is aan die werk in julle wat glo’ (vers 13 NLV).

God se Woord is selfonderhoudend; dit vereis nie dat ander mense dit bevestig nie. Ons lees dat, toe Jesus op die water na sy dissipels aangeloop kom, het Petrus gesê: ‘…Here, as dit regtig U is, laat my dan op die water na U toe kom’ (Matteus 14:28 NLV). Jesus het geantwoord: ‘Kom dan…’ (vers 29 NLV), en Petrus het op die water begin loop. Die ander dissipels het waarskynlik nie geglo dat Petrus dit sou kon doen nie. Dis omdat hulle nie verstaan het wie met Petrus gepraat het nie. ‘…hulle het gedink dis ‘n spook’ (Markus 6:49 NLV).

Wanneer God met jou deur sy Woord praat, moet jy nie verwag dat almal sal verstaan, saamstem of jou ondersteun nie. Dis net menslik om te wil hê dat sekere mense moet sien wat jy sien en moet glo in wat jy doen. In hierdie Skrifgedeelte berei God ons egter vir die verwerping van diegene wat nie verstaan wat God vir ons gesê het nie, voor. As jy nie versigtig is nie, kan mense se opinies jou laat twyfel oor dit wat God gesê het. Soms bevestig Hy wat Hy gesê het deur ander mense, maar soms doen Hy nie. Solank as wat jy egter sy Woord inneem en dit glo, is dit aan die werk binne-in jou.

Sielskos: Num 3:1-4:33; Matt 5:27-37; Ps 2; Spr 10:30-32