2022-03-08
Jeremia 44:16 NLV
Misbruik die gesaghebbendes soms hulle posisie en bewys dat hulle onwaardig daarvoor is? Ja, maar dit beteken nie dat jy kan rebelleer nie. Die Bybel sê dat Jesus Hom in sy jeug aan die gesag van sy ouers onderwerp het (sien Lukas 2:51). Selfs toe sy bediening deur demonstrasies van bonatuurlike krag gekenmerk is, het Hy steeds die mense geleer om aan die Romeinse regering onderdanig te wees. ‘…Gee dan aan die keiser wat die keiser s’n is en aan God wat God s’n is’ (Lukas 20:25 NLV).
Onderwerping aan gesag is nie opsioneel vir ‘n volgeling van Jesus nie. Of jy nou vir ‘n bevordering oorgesien is, ‘n onbekwame baas het, of voel dat jy onregverdig behandel is, dis nog steeds God se wil dat jy gesag sal respekteer en jouself daaraan sal onderwerp. Wanneer jy sy wil gehoorsaam, werk Hy namens jou.
Soos jy jou neiging om uitdagend te wees oorweeg, moet jy probeer om die oorsaak daarvan te bepaal, wat die volgende mag insluit: 1) ‘n Angswekkende geskiedenis van lyding of mishandeling. 2) Disrespek vir ‘n onbekwame meerdere. 3) Trots omdat jou vaardighede nie erken of beloon word nie. 4) Onregverdige gedrag van diegene in outoriteit. 5) ‘n Taktiek van jou kant af om die eerlikheid, sorg of besorgdheid van gesagsfigure in jou lewe te toets.
Die Bybel sê egter: ‘Dit impliseer dat hulle wat weier om die owerheid te gehoorsaam, hulle teen die instelling van God verset. Dié wat dít doen, bring ‘n oordeel oor hulleself’ (Romeine 13:2 NLV). Bid dus: Here, ek bely dat ek ‘n rebelse houding het. Herinner my asseblief dat alle gesag van U af kom en dat wanneer ek dit teenstaan, ek U teenstaan. Bemagtig my om myself te onderwerp. In Jesus se Naam bid ek dit. Amen.’
Sielskos: Eks 28-29; Luk 14:15-24; Ps 106:1-23; Spr 7:1-2
2022-03-07
Hebreërs 13:17 ABA
Totdat jy leer om jouself aan gesag te onderwerp, sal jy nooit gekwalifiseer wees om dit uit te oefen nie. Hoekom? 1) Omdat jy geen geloofwaardigheid sal hê nie. 2) Omdat jy nie regtig sal verstaan wat dit beteken om ‘n volgeling te wees nie. ‘n Opstandige houding sal jou ‘n eenrigting kaartjie na ‘n lewe van moeilikheid en mislukking koop.
Die Bybel sê die volgende: 1) Kinders moet geleer word om hulle aan die gesag van hulle ouers te onderwerp. “Kinders, omdat julle in die Here glo, moet julle aan julle ouers gehoorsaam wees… ‘Eer jou vader en jou moeder’ is die eerste van die Tien Gebooie waaraan ‘n belofte verbind is: ‘Sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag lewe'” (Efesiërs 6:1-3 NLV).
2) Vrouens moet hulself aan die leierskap van hulle mans onderwerp. (En mans moet bewys dat hulle waardig is vir daardie rol en verantwoordelikheid daarvoor neem). ‘Getroude vroue, julle moet aan julle mans onderdanig wees. Doen dit soos vir die Here’ (Efesiërs 5:22 NLV).
3) Lidmate van die kerk moet hulle aan die leierskap van hulle pastoor onderwerp. ‘Julle moet luister na julle leiers en julle moet doen wat hulle vir julle sê, want hulle hou aan om julle op te pas, hulle sal eendag vir God moet sê hoe dit met julle gaan…’
4) Landsburgers moet hulle aan die gesag van hulle regering onderwerp. ‘Julle moet die regering gehoorsaam, want God het dit daar geplaas… Dit impliseer dat hulle wat weier om die owerheid te gehoorsaam, hulle teen die instelling van God verset…’ (Romeine 13:1-2 NLV). ‘Eerstens spoor ek jou aan om vir alle mense te bid… Bid só vir konings en alle ander in gesagsposisies… So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser’ (1 Timoteus 2:1-3 NLV).
Sielskos: Eks 25-27; Luk 14:1-14; Ps 136:13-26; Spr 6:32-35
2022-03-06
Rigters 16:28 NLV
Simson het in die tronk gebid: ‘…’God, maak my tog net hierdie een keer so sterk…’ Simson het met sy hande teen die twee hoofpilare gedruk waarop die gebou rus… Hy het met al sy krag gedruk en die tempel het inmekaargestort… Met sy dood het Simson baie meer mense doodgemaak as deur sy hele lewe’ (verse 28-30 NLV). Hoe het Simson in hierdie tronk opgeëindig? Delila! Die Bybel sê: ‘…sy [het] dagin en daguit by hom bly neul…’ (vers 16 NLV).
Satan is aanhoudend en hy wag om jou in ‘n onbewaakte oomblik te vang. Dis hoekom sekere deure in jou lewe nooit oopgemaak moet word nie. As jy die verkeerde aptyt net vir een dag voed, kan jy ‘n leeftyd daarmee sukkel. Miskien het jy al die plakkaat gesien wat sê: ‘Elke oggend in Afrika, word ‘n wildsbok wakker. Hy weet dat hy vinniger as die vinnigste leeu moet hardloop, of hy sal doodgemaak word. Elke oggend word ‘n leeu wakker. Hy weet dat hy vinniger as die stadigste wildsbok moet hardloop, anders sal hy van honger sterf. Dit maak nie saak of jy ‘n leeu of ‘n wildsbok is nie; wanneer die son opkom, beter jy aan die hardloop wees.’
Die goeie nuus is dat Simson God onthou het! Dis ‘n wonderlike dag wanneer jy God onthou en weer na Hom toe uitreik. Simson se grootste oorwinning het in die laaste hoofstuk van sy lewe plaasgevind. Hy word inderdaad saam met die helde van geloof in Hebreërs hoofstuk elf, genoem.
Maak nie saak waar jy vandag is of in watse toestand jy jou bevind nie, draai na God toe. Hy sal jou help om ‘n terugkeer te maak. Dis nie te laat vir jou nie.
Sielskos: 1 Sam 21:1-6; Hosea 6:4-6; Matt 12:1-14
2022-03-05
Genesis 32:30 NLV
‘Jakob het die plek Pniël genoem, want hy het gesê: ‘Ek het God persoonlik gesien. Tog is my lewe gespaar.’ Die son het opgekom net toe hy van Pniël af weggaan. Van toe af was hy mank aan sy heup’ (verse 30-31 NLV). Die waarheid is dat sonder God se beskermende hand oor jou lewe, jy nie vandag hier sou wees nie! Die rede dat jy nie in die ongeluk gesterf het nie, of dat die gewas nie jou lewe geneem het nie, is omdat God nog nie klaar is met jou nie.
God het jou gered en jou geplaas waar jy vandag is. Nadat God klaar met hom gestoei het, het Jakob gesê: ‘My lewe is gespaar.’ Joune ook, nie waar nie? Die Bybel sê: ‘…Hy kan… iets uit niks tot stand bring’ (Romeine 4:17 DB). Hy wil dinge in jou lewe in plek stel wat nie vantevore daar was nie. Goeie dinge!
Let egter iets baie belangriks op: ‘[Jakob] het alleen agtergebly. Dáár kom hy ‘n man teë wat tot dagbreek met hom worstel’ (Genesis 32:24 NLV). Wanneer God oor belangrike kwessies met jou werk, doen Hy dit een-tot-een, nie as deel van die skare nie. Om in ‘n skare te wees kan jou inderwaarheid daarvan weerhou om sy stem te hoor.
Dit kan bedreigend voel om alleen by God te wees, omdat jou fasade en ego weggestroop word. Jou eerste impuls mag dalk wees om in die skare te bly, maar jy sal gou ontdek dat hulle nie die rusteloosheid in jou gees kan kalmeer nie. Daardie rusteloosheid is God wat jou vir ‘n ontmoeting roep! Moet dus nie, soos Jakob, bang wees om met Hom te worstel totdat ‘n nuwe dag vir jou breek nie.
Sielskos: Eks 22-24; Luk 13:18-35; Ps 136:1-12; Spr 6:30-31
2022-03-04
Spreuke 14:30 NLV
Vind jy dit moeilik om ander mense met hulle prestasies te komplimenteer? Wanneer iemand se naam in die geselskap opduik, voel jy goed omdat iets slegs met hulle gebeur het? Wanneer jy iets moois oor ‘n ander persoon hoor, voel jy genoop om te sê: ‘Ja, maar….’ en wys dan hulle negatiewe eienskappe of mislukkings uit? Hou jy aan om jouself met ander mense te vergelyk? Is jy behep met wat hulle doen, koop, dra en met wie hulle omgaan? Vertrou jy die mense vir wie jy lief is, of hou jy altyd dit waarmee hulle besig is dop? Die Bybel sê: ‘Innerlike kalmte bevorder die gesondheid. Jaloesie vreet ‘n mens op’ (vers 30 NLV).
As jy geestelik, emosioneel en fisies gesond wil wees, moet jy nie plek vir jaloesie gee nie, anders sal dit jou opvreet. Die ellendigste mense in die lewe is diegene wat met jaloesie gevul is. Dit vreet aan hulle en steel hulle vreugde. Al wat hulle aan dink is die dinge wat ander mense het wat hulle ook wil hê, wat tot wrokkigheid en twis lei.
Hoe oorwin jy jaloesie? 1) Erken dat jy ‘n probleem het. 2) Bekeer jou en vra God vir sy hulp. 3) Bid vir die persoon wat die teiken van jou jaloesie is. Begin om ander mense se suksesse saam met hulle te vier en maak ‘n punt daarvan om hulle te komplimenteer.
Onthou, niemand is so goed daarin om jy te wees, as jy nie. Jy het dus geen kompetisie nie. Wanneer jy weet wie jy voor God is, is dit nie nodig dat jy op enigiemand anders jaloers is nie.
Sielskos: Eks 19-21; Luk 13:1-17; Ps 77; Spr 6:29
2022-03-03
Psalm 3:4 NLV
Toe Elia op sy laagste punt was, het God vir hom hierdie drie belangrike dinge gesê: 1) Bring meer tyd met God deur. ‘Kom buitekant toe en gaan staan voor My op die berg…’ (1 Konings 19:11 NLV). Ons moet nie net altyd vir God werk nie, ons moet ook tyd saam met Hom deurbring. As jy dit nie doen nie, sal jou tenk leegraak en sal jy nêrens kom nie. Toe Dawid mismoedig gevoel het, het hy geskryf: ‘So baie sê: ‘God sal hom nooit red nie!’ Maar U, Here, is ‘n skild rondom my. U herstel my eer, U lig my kop weer op. Ek het tot die Here geroep. Vanaf sy heilige berg het Hy geantwoord’ (Psalm 3:3-5 NLV).
2) Hou op om dit alles self te probeer doen. Dis die vinnigste roete tot depressie. Leierskap gaan nie net daaroor om die werk gedoen te kry nie; dit gaan daaroor om ander mense te ontwikkel en dit deur hulle gedoen te kry. Elia was nie alleen nie. God het vir hom gesê: ‘Nogtans sal Ek 7 000 in Israel laat oorbly, hulle wat nie voor Baäl gebuig en hom vereer het nie’ (1 Konings 19:18 NLV).
) Besef dat jou opdrag nie verby is nie. God het vir Elia gewys dat daar nog konings was om te salf, oorloë om te wen, en ‘n opvolger om op te lei (sien vers 16).
Wanneer jy mismoedig is, raak God nie kwaad vir jou nie. Inteendeel, sy Woord sê: ‘Hy sal ‘n geknakte riet nie verder afbreek nie. Mense wat dof brand soos ‘n lamppit sal hy nie uitdoof nie. Hy sal in opregtheid reg laat geskied’ (Jesaja 42:3 NLV). Dit is die liefdevolle goedhartigheid van God!
Sielskos: Eks 16-18; Luk 12:49-59; Ps 70; Spr 6:26-28