Wat om te doen wanneer jy mismoedig voel (1)

2022-03-02
Jakobus 5:17 NLV

Elia het so mismoedig geraak dat hy gereed was om dit alles te beëindig. Dit was op die hakke van sy grootste oorwinning. Hy het pas vuur uit die hemel op die Karmelberg neergeroep, toe hy van opgewondenheid tot uitputting gegaan het. Ons vergeet dat selfs wanneer ons suksesvol is en lief is vir dit wat ons doen, dit fisies, geestelik en emosioneel dreinerend kan wees. As jy dus ‘n doelgedrewe mens sonder grense is, let op!

1) Uitputting het Elia perspektief laat verloor. Hy het pas 850 vals profete oorwin (sien 1 Konings 18:19), en nou moes hy vir Jesebel vlug. Wanneer moegheid instap, stap geloof uit! Dit verdraai ons denke en veroorsaak dat ons God se krag en beloftes miskyk. Geestelike uitputting tesame met fisiese moegheid, is ‘n dodelike kombinasie wat hopeloosheid binne nooi en die illusie skep dat ons geen opsies het nie.

2) Vrees het veroorsaak dat Elia homself isoleer. Hy het sy dienskneg in Berseba agtergelaat, die woestyn binnegegaan en vir God gesê: ‘…Net ek alleen het oorgebly, en nou probeer hulle my ook doodmaak’ (1 Konings 19:10 NLV). Op daardie oomblik was Elia in die slegste geselskap moontlik – sy eie! Wanneer jy mismoedig voel, is dit nie die tyd om jouself te isoleer nie. Dis dan wanneer dit nodig is om na God en die mense wat lief is vir jou, uit te reik.

Selfs Paulus het hulp nodig gehad. Hy het geskryf: ‘Want toe ons in Masedonië aangekom het, het ons net nie tot rus gekom nie. Op elke moontlike manier is daar druk op ons uitgeoefen: van buite – aanvalle; van binne – vrese. God wat die vernederdes bystaan, het ons ook ondersteun deur die teenwoordigheid van Titus’ (2 Korintiërs 7:5-6 NLV).

Wie moet jy dus skakel? Na wie moet jy uitreik? Moenie dit uitstel nie – reik uit na God!

Sielskos: Eks 13-15; Luk 12:35-48; Ps 66:13-20; Spr 6:23-25

Laat die krag binne jou vry

2022-03-01
Filippense 2:13 NLV

Die enjin in jou kar het ‘n kragbron wat geaktiveer word wanneer jy die kar in rat sit. Eers dan het jy die momentum om te gaan waarheen jy nodig het om te gaan. Een van die gevare in jou soeke om deur die Heilige Gees vervul te word, is dat jy dit tot ‘n ‘ervaring’ kan reduseer, eerder as om dit ‘in rat te sit’ om groot dinge vir God te bereik.

In die Nuwe Testament, wanneer iemand met die Heilige Gees vervul is – het dinge gebeur. Mense het na Christus toe gedraai. Genesing het plaasgeving. Op een geleentheid, het hulle boeke op die stadsplein verbrand (sien Handelinge 19:19). Hulle het dit nie net in die kerk gevier nie – hulle het dit strate toe geneem!

In die eerste beeld wat ons van God in die Skrif kry, is Hy in sy kreatiewe rol. Hy skep ons na sy beeld, blaas lewe in ons in en sê vir ons: ‘Gaan uit en wees produktief’ (sien Genesis 1:28). As jy bid vir iemand met al die antwoorde om op te daag en jou omstandighede te verander, sal dit nie gebeur nie. Jy is nie ‘n hulpelose toeskouer nie. Wat God binne-in jou geplaas het, sal dit wat buite jou is verander – mits jy dit aan die werk sit!

Wat binne-in jou is, is groter as die moeilikheid waardeur jy gaan, die situasie waarin jy jouself bevind, of die struikelblokke wat oor jou pad lê. Wanneer alles rondom jou nee sê en iets binne-in jou sê ja, is dit ‘God wat jou gewillig maak om te doen waarvan Hy hou.’ Die ‘gewillig’ is jou deel – jy moet dit doen. As jy dit regkry, sal jou lewe verander.

Sielskos: Eks 10-12; Luk 12:22-34; Ps 66:1-12; Spr 6:20-22

Oefen om onselfsugtig te wees

2022-02-28
2 Korintiërs 12:15 NLV

Om mense te help, bring groot vervulling mee. Wanneer jy jou dae gebruik om ander te dien, kan jy jou kop in die aand neerlê en rustig slaap. Selfs al het jy die meeste van jou lewe bestee om selfsugtige winste na te jaag, is dit nooit te laat om jou hart te verander nie.

Dis wat Alfred Nobel gedoen het. Hy was geskok toe hy sy doodsberig in die koerant sien. (Sy broer het gesterf en die redakteur het foutiewelik Alfred se naam in die berig genoem, omdat die plofstof wat sy maatskappy gemaak het, baie mense doodgemaak het.) Dus het Nobel besluit om die res van sy lewe daaraan te wy om vrede te bevorder en erkenning te gee aan bydraes tot die mensdom. Dis hoe die idee van die Nobelpryse ontstaan het!

Wanneer jy buite jouself kyk en ‘n bydrae aan ander mense maak, begin jy werklik lewe. Onselfsugtigheid is sy eie beloning; dit hang nie van ander mense se reaksie af nie. Dis die beginsel waarvolgens die apostel Paulus gelewe het: ‘Ek sou baie graag alles wou spandeer vir julle lewe, ja, ook myself. As ek julle uitermate liefhet, hoe werk dit dat julle my dan minder liefhet?’ (vers 15 NLV).

Wanneer jy ‘n vierjarige sien, verwag jy selfsug. Wanneer jy dit egter in ‘n veertigjarige sien, is dit nie baie aantreklik nie. Van al die kwaliteite wat jy kan najaag, blyk onselfsugtigheid die grootste verskil te maak om ander deugde aan te kweek. Ja, dit dreun teen die menslike aard in. As jy egter leer om op ‘n onselfsugtige wyse te dink en ‘n gewer te word, word dit makliker om ander deugde soos dankbaarheid, liefde, respek, geduld en dissipline, te ontwikkel.

Sielskos: Eks 7-9; Luk 12:13-21; Ps 61; Spr 6:16-19

Benut elke geleentheid

2022-02-27
Efesiërs 5:16 NLV

Die lewe van John Wesley is ‘n goeie voorbeeld van die Skriftuurlike beginsel om elke geleentheid te benut. Hy het gemiddeld drie preke per dag vir vier-en-vyftig jaar gepreek, ‘n totaal van meer as 44,000 preke in sy leeftyd. Om dit te kon regkry, het hy met ‘n perdekar meer as 200,000 myle gereis – omtrent 5,000 myl per jaar. Selfs vir ‘n baie produktiewe mens sal dit soos ‘n voltydse werk lyk.

Tog het Wesley ook tyd gemaak om te skryf en te redigeer. Sy gepubliseerde werke sluit vier volumes Bybelse kommentaar, vyf volumes oor natuurlike filosofie, vier volumes oor kerkgeskiedenis en ‘n woordeboek vir die Engelse taal, in. Hy het ook geskiedenisboeke oor Engeland en Rome, taalkundige boeke oor Hebreeus, Latyn, Grieks, Frans en die Engelse tale; drie werke oor die mediese veld; ses volumes kerkmusiek; en sewe volumes preke geskryf; en hy het ‘n biblioteek van vyftig volumes wat as die ‘Christelike Biblioteek’ bekend gestaan het, geredigeer. Hy het elke oggend vieruur opgestaan en eers tienuur die aand gaan slaap, en homself net kort tye vir maaltye gegun. Tog het hy verklaar: ‘Ek het meer ure van ontspanning as enige ander man in Engeland.’

Ons dae is soos identiese tasse – almal dieselfde grootte. Sommige mense pak egter meer in hulle as ander. Hierdie is die doelgedrewe mense – anders as die man wie se grafsteen gelees het: ‘Toe dit by afsterwe kom, het ek ontdek dat ek nie gelewe het nie.’ Luister dus na hierdie Skrifgedeelte: ‘Wees baie versigtig hoe julle lewe. Moenie soos ‘n dwaas leef nie, leef wys! Benut elke geleentheid…’ (verse 15-16 NLV).

Sielskos: Rut 1:3-18; Joh 6:41-69

Vergewe ander mense (2)

2022-02-26
Jeremia 31:18 NLV

Die Bybel sê vir ons: “[Isak] het die putte wat sy pa gegrawe het… weer oopgegrawe… Maar die plaaslike skaapwagters het die fontein vir hulleself toegeëien. ‘Dis ons water,’ het hulle gesê… Hy het weer verskuif en nog ‘n put gegrawe. Hierdie keer het die plaaslike mense hom met rus gelaat. Hy noem toe die put Rehobot, ‘want,’ het hy gesê, ‘uiteindelik het die Here vir ons ruimte gemaak. Hier sal ons nou voorspoedig wees'” (Genesis 26:18-22 NLV).

Wat ‘n wonderlike voorbeeld van vergifnis wat beoefen word. Gedurende ‘n droogte het Isak putte grawe, maar sy vyande het inbeweeg en die putte vir hulself toegeëien. Dit was nie regverdig nie, maar in plaas daarvan om te baklei, het Isak aanbeweeg en nuwe putte gegrawe – en God het hom ryklik geseën.

Die waarheid is dat God die leegheid in jou lewe sal vul wanneer jy diegene wat jou seergemaak het, vergewe. So lank as wat ons hierdie planeet met ander onvolmaakte mense deel, sal hulle ons seermaak. Ons kan dit nie vermy nie. Wanneer die wond diep sny, kan dit moeilik wees om te vergewe.

Beteken dit dat jy moet rondgaan en maak asof niks verkeerd is nie en jou gevoelens moet ontken? Nee, die eerste stap na genesing is om jou gevoelens te erken. Jesus het vir ons die tweede stap gegee: ‘…Bid vir hulle wat jou seermaak’ (Lukas 6:28 NLV). Wanneer jy dit doen, gebeur daar iets onverwags. Jou hart begin sag word en jy begin om die oortreder deur God se oë, in plaas van jou eie rou emosies, te sien. ‘Maar ek wil hulle nie vergewe nie!’ sê jy. Dan is daar stap drie. Erken jou onwilligheid om te vergewe en vra God om jou gewillig te maak. Bid: ‘…Bring ons terug en herstel ons…’

Sielskos: Eks 4-6; Luk 12:1-12; Ps 58; Spr 6:12-15

Vergewe ander mense (1)

2022-02-25
Romeine 12:19 NLV

Lank nadat jy gedink het jy het iemand vergewe, mag jy steeds harde gevoelens koester. Jy dink en praat byvoorbeeld die heeltyd oor die insident. Jy neem elke geleentheid waar om hulle aan dit wat hulle gedoen het, te herinner. Jy is dan besig om ‘n onvergewensgesinde houding te regverdig! Daar is twee dinge wat God nie sal deel nie.

1) Die eer en lof wat Hom toekom. ‘…My eer deel Ek met niemand anders nie. Die lof wat My toekom, deel Ek nie met afgode nie’ (Jesaja 42:8 NLV).

2) Die reg om te vergeld. Paulus skryf: ‘Geliefdes, julle moet julleself nie wreek nie. Laat die straf aan God oor. Daar staan mos in die Skrif: ‘Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld, sê die Here.’ Doen eerder wat die Skrif sê: ‘As jou vyande honger is, gee aan hulle iets om te eet. As hulle dors is, les hulle dors. Deur dit te doen, sal julle hulle bloedrooi van skaamte maak.’ Moenie toelaat dat die slegte julle onderkry nie, maar deur goed te doen moet julle die slegte hokslaan’ (Romeine 12:19-21 NLV).

Vergewe dus, gee die situasie aan God oor en vertrou Hom om dit uit te werk. ‘Toe [Jesus] beledig is, het Hy nie terugbeledig nie…Hy het alles oorgelaat aan God wat altyd regverdig oordeel’ (1 Petrus 2:23 NLV). Wrokkigheid ketting jou aan die oortreder vas en jy eindig as ‘n gyselaar op. As jy aanhou dink aan iets wat jou ouers of eggenoot gedoen het, of hoe ‘n kollega krediet vir jou werk geneem het, of dit wat iemand dalk oor jou gesê het, laat dit jou – nie hulle nie – ellendig voel. Moenie enigiemand daardie tipe beheer oor jou lewe gee nie. Vergewe – en beweeg dan aan!

Sielskos: Eks 1-3; Luk 11:45-54; Ps 53; Spr 6:9-11