Pas jou visie aan

2022-02-24
Jesaja 6:5 NLV

Voor God die profeet Jesaja tot ‘n leierskapsposisie geroep het, het Hy eers sy visie aangepas. Ongekorrigeerde visies lei tot ‘n skewe perspektief, swak oordeel en vermorste inspanning. Israel se konstante rebellie was besig om hulle in gevaar by God te stel en hulle het ‘n leier met ‘n duidelike visie nodig gehad. Dus, die eerste ding wat God gedoen het, was om vir Jesaja ‘n visie van sy glorie en heerlikheid te wys. Sonder hierdie lewensveranderende ontmoeting met God, sou hy nooit sterk genoeg gewees het om sy roeping te voltooi nie.

Dieselfde is op jou van toepassing. Dit waarvoor God jou roep, sal meer as ‘n paar basiese vaardighede verg. Jy sal ‘n visie van sy heerlikheid en onbeperkte krag nodig hê om jou gerus te stel dat Hy meer as voldoende vir die uitdaging is! (Sien Efesiërs 3:20).

Die tweede ding wat God gedoen het, was om Jesaja se visie van homself aan te pas. Wanneer jou begrip van God aangepas is, is jy gereed om jou siening van jouself aan te pas – en nie voor dit nie! Jesaja het uitgeroep: ‘…ek is ‘n sondige mens, tussen ander sondige mense…’ (Jesaja 6:5 NLV). Jesaja het besef dat hy nie beter was as die mense wat hy geroep is om na uit te reik nie. Totdat jy nie jouself realisties, eerlik en nederig in verhouding met God en ander sien nie, sal jou missie nie slaag nie (sien Romeine 12:3).

Die derde ding wat God gedoen het, was om op Jesaja se nederigheid te reageer. ‘n Engel het sy lippe met God se suiwerende vuur aangeraak en gesê: ‘…Nou is jou skuld weg en jou sondes vergewe’ (Jesaja 6:7 NLV). God roep nie perfekte leiers nie. Hy roep nederige, eerlike, vergewensgesinde leiers en kroon hulle pogings met sukses, ongeag die omstandighede.

Sielskos: 1 Tess 1-5; Luk 11:29-44; Ps 40:9-17; Spr 6:6-8

Dis ‘n bedekte seën

2022-02-23
2 Korintiërs 4:15 DB

As jy tans deur ‘n moeilike tyd gaan, laat Paulus se woorde jou bemoedig. ‘Ek kry dikwels swaar, maar ek is nooit mismoedig nie. Ek weet nie elke dag presies wat ek moet doen nie. Tog is ek nooit radeloos nie… Ek word onderstebo geloop, maar ek staan elke keer weer op’ (2 Korintiërs 4:8-9 DB). Met wie het Paulus hier gepraat? Met die volgelinge van Christus wat deur ‘n moeilike tyd gaan.

Hy het vir hulle gesê: ‘Daarom preek ek en daarom ly ek al hierdie dinge ter wille van julle. Op hierdie manier kan God se goedheid by nog meer mense uitkom. Dan is daar nog meer mense om Hom te dank. So word God se Naam grootgemaak. Ons gee nooit moed op nie, ook nie wanneer ons rondgestamp en mishandel word nie. Nee, dan byt ons eers vas, want God is die hele tyd by ons… Ons bietjie swaarkry hier en nou weeg nie op teen al die goeie dinge wat op ons wag in God se nuwe wêreld nie. Ek het nie genoeg woorde om vir julle te beskryf hoe wonderlik dit sal wees nie…’ (verse 15-17 DB).

Wanneer jy onder druk verkeer, groei jou geloof – en God weet hoeveel druk om toe te pas! Hy sal jou toelaat om by ‘n plek te kom waar jy: 1) uit antwoorde is en jou hulpbronne uitgeput is, 2) moeg is vir Satan wat alles steel wat God aan jou beloof het, en 3) waar jy nie meer gewillig is dat ander mense se opinies jou beheer nie. Dis wanneer jy niks meer kan doen nie, wat jy God begin vertrou om die onmoontlike te doen. Die krisis wat jy tans ervaar mag dalk ‘n bedekte seën wees; ‘n geleentheid om God se genade en krag in jou lewe te ervaar.

Sielskos: Jes 63-66; Luk 11:14-28; Ps 40:1-8; Spr 6:1-5

Wanneer voorbereiding geleentheid ontmoet

2022-02-22
2 Timoteus 4:7 NLV

Seneca die Jonger het gesê: ‘Sukses gebeur wanneer voorbereiding, geleentheid ontmoet.’ Soos jy in die Skrif van die mense wat God gebruik het om groot dinge te bereik, lees, sal jy agterkom dat hulle baie tyd bestee het om vir ‘n relatiewe kort opdrag voor te berei. Die ego in elkeen van ons smag na twee dinge – die kollig en ‘n lang lewe! Vir God maak net een ding egter saak: om sy wil te doen. Wanneer jy soos Paulus kan sê: ‘Ek het die wedloop voltooi,’ het jy suksesvol gelewe.

Vir wie gebruik God dus? Diegene wat voorbereid is! Of jy nou na besigheid, kuns, opvoeding, politiek, die mediese veld of die bediening geroep word, bly hierdie beginsel onveranderd: Die wat voorbereid is, ontvang geleenthede. Disraeli het gesê: ‘Een geheim tot sukses in die lewe is vir ‘n man om gereed te wees wanneer sy tyd kom.’ Dis ook nie genoeg om net eenvoudig voorbereid te word nie, jy moet voorbereid bly. Salomo skryf: ‘Hou vas aan die reëls wat ek jou leer. Moet dit nie laat los nie. Bly daarby, want dit verryk jou lewe’ (Spreuke 4:13 NLV).

Kennis in die meeste velde verdubbel ongeveer elke vyf jaar en tensy jy aanhou groei, sal jy met verouderde vaardighede opeindig wat nie by die uitdagings van die wêreld waarin jy leef, aanpas nie. Wanneer jy glo dat more se sukses van vandag se voorbereiding afhang, sal jy vandag anders sien. Koningin Elizabeth I het na bewering die koninklike geneeshere die helfte van haar boedel aangebied indien hulle haar lewe kon verleng. Hulle kon natuurlik nie. Ons lewens is kort, dis hoekom die Bybel sê: ‘Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom’ (Psalm 90:12 AFR83).

Sielskos: Jes 58-62; Luk 11:1-13; Ps 36; Spr 5:21-23

Doen jy dit vir die regte redes?

2022-02-21
Hebreërs 11:5 NLV

Wanneer jy met verwerping grootword, kan dit in ‘n behoefte om te isoleer en onttrek, of in ‘n dryfkrag om jouself heeltyd te bewys, manifesteer. Een man het dit so gestel: ‘Ek kan steeds my pa hoor skree dat ek nooit goed genoeg sal wees of nooit enigiets sal bereik nie. Hoe meer hy geskree het, hoe meer vasbeslote het ek geword om hom verkeerd te bewys.’

Praat die verkeerde stemme met jou? Indien dit die geval is – lees verder! Die Bybel sê dat daar van Henog getuig is dat hy God se goedkeuring weggedra het. Hoekom? ‘Omdat hy geglo het.’ God sien jou op ‘n ander manier as wat jou ouers of portuurgroep doen. Hulle aanvaarding word dikwels op jou optrede gebaseer, terwyl God se aanvaarding op jou posisie gebaseer word.

Paulus skryf: ‘God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word’ (2 Korintiërs 5:21 NLV). God sien ons waar ons in die geregtigheid van Christus omvou is; dus is ons altyd aanvaarbaar.

Sodra jy besef dat jou identiteit en waarde nie aan die kar wat jy bestuur, die huis waarin jy bly en hoeveel jy verdien, gekoppel is nie, verander dit jou beweegredes. In plaas daarvan om besorg te wees oor in watter buurt jy woon, raak jy oor jou bure besorg. In plaas daarvan om te fokus op hoeveel geld jy verdien, word jou fokus om God se koninkryk te finansier. In plaas daarvan om oor jou titel by die werk besorg te wees, word jou doelwit om met uitnemendheid en integriteit op te tree. Met ander woorde, in plaas daarvan om net hard te werk, begin jy dit vir die regte redes doen.

Sielskos: Jes 53-57; Luk 10:38-42; Ps 33:13-22; Spr 5:15-20

Verslaaf daaraan om God se wil te doen

2022-02-20
Efesiërs 6:6 NLV

Die woord ‘slaaf’ het normaalweg ‘n negatiewe konnotasie, maar nie in hierdie Skrifgedeelte nie. Paulus gebruik die sterkste moontlike taal om ons te herinner dat ons veronderstel is om daaraan ‘verslaaf’ te wees om God se wil te doen. Jesus het mense so lief gehad dat Hy sou sterf om hulle te verlos, maar dit het Hom nie gekeer om nee te sê wanneer dit nodig was nie.

In plaas daarvan dat dit sy aandag afgelei het, het: 1) Jesus geweier dat ander mense se idee van wat belangrik is Hom van sy doelwit weerhou, 2) Jesus besef dat om God se wil te doen belangriker was as om aan almal anders se verwagtinge te voldoen, en 3) Jesus gebed en ononderbroke tyd met sy Vader sy hoogste prioriteit gemaak.

Was dit maklik? Nee, en dit sal ook nie vir jou maklik wees nie! Vroeg in sy bediening, toe gerugte van sy wonderwerke begin versprei het, het: ‘Die hele Kapernaum… by die deur saamgedrom om alles te sien. Jesus het baie siekes… gesond gemaak…’ (Markus 1:33-34 NLV). Die volgende oggend het daar nog ‘n skare op sy drumpel gewag!

Hoe Jesus hierdie keer daarop gereageer het, mag jou dalk verbaas. “Nog voor dagbreek die volgende oggend het Jesus opgestaan en alleen op ‘n stil plek gaan bid. Later het Simon en sy makkers agter Hom aangegaan en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: ‘Almal vra na U.’ Jesus het egter geantwoord: ‘Ons moet ook nog verder gaan na die omliggende dorpe sodat Ek ook daar kan preek. Dit is immers waarvoor Ek gekom het'” (verse 35-38 NLV). Jesus was verslaaf daaraan om God se wil te doen, en jy moet ook wees.

Sielskos: Ps 23; Joh 10:7-18

God sal jou nog ‘n kans gee

2022-02-19
Jeremia 29:13 NLV

Omdat hulle ongehoorsaam aan God was, het die Jode sewentig jaar as slawe in Babel deurgebring. Hulle het hulle vreugde, hulle vryheid en hulle identiteit verloor; al die dinge wat die lewe die moeite werd maak. God was egter nie klaar met hulle nie. Hy het vir hulle die volgende gesê: “‘Julle sal 70 jaar lank in Babel wees. Maar… Ek sal julle na julle land toe terugbring. Ek weet wat Ek vir julle beplan het,’ sê die Here. ‘Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê. Julle sal na My roep en kom bid. Ek sal na julle luister. As julle heelhartig na my soek, sal julle My vind'” (verse 10-13 NLV).

Miskien het jy die pad byster geraak. Wanneer jy egter die Bybelse weergawes van die mense wat God geseën en gebruik het lees, sal jy ontdek dat mislukking nie ongewoon is nie. Die feit is dat daar niks in jou verlede of huidige omstandighede is wat God nie kan gebruik nie. Wanneer ons in hierdie wêreld kom, weet niemand van ons presies wat ons veronderstel is om met ons lewe te doen nie. Jy kan egter begin op die plek waar jy tans is.

Wanneer God jou lewe weer op die regte pad bring, begin Hy deur jou ‘n sin van hoop te gee, want net Godgegewe hoop sal jou deur die rowwe tye staande hou. Indien jy wonder of jy ooit by die plek waar jy veronderstel is om te wees gaan uitkom, gaan terug en lees weer wat God vir sy mense beloof het: ‘…hoop vir die toekoms…’ (vers 11 NLV). Die God wat vir Israel nog ‘n kans gegee het, sal dieselfde vir jou doen wanneer jy na Hom toe draai.

Sielskos: Jes 49-52; Luk 10:25-37; Ps 33:1-12; Spr 5:7-14