Om sukses te behaal, moet jy God se Woord bestudeer

2022-02-18
Psalm 119:18 NLV

Die sleutel tot Bybelstudie is om dit daagliks, sistematies en met gebed, te doen. Die Psalmdigter het geskryf: ‘Maak oop my oë sodat ek die wonders kan sien wat opgeskryf is in u gebooie.’

Dit behels drie dinge: 1) God sal jou die waarheid oor Homself wys. Jy sal sy aard, sy opinie en dit wat Hy waardeer, ontdek. As jy met ‘n afwesige ouer grootgeword het, sal jy ontdek dat jou hemelse Vader heeltemal anders is – liefdevol en anders!

2) God sal vir jou die waarheid oor ander mense wys. Jy sal begin om hulle plek in jou lewe te verstaan en te waardeer. Jy sal ook leer om hulle behoeftes en die rol wat God wil hê jy moet speel om hulle te help, te herken en te antisipeer. Jy sien, wanneer God jou seën, is dit altyd om jou ‘n seën vir ander mense te maak (sien Genesis 12:1-2).

3) God sal vir jou die waarheid oor jouself wys. Jy sal begin verstaan en waardeer hoe belangrik jy vir Hom is. Ja, Hy sal jou probleme en swakpunte uitwys. Hy sal egter meer as dit doen. Hy sal vir jou die potensiaal wat Hy in jou sien en die planne wat Hy vir jou het (sien Jeremia 29:11), openbaar.

Maak dus elke dag tyd om jou Bybel te bestudeer. Bestee ‘n gedeelte van die tyd om eenvoudig die Skrif te lees, sonder om in komplekse teologiese konsepte te probeer delf. Lees en absorbeer wat God te sê het en laat sy Gees toe om met jou hart te praat.

Hier is nog ‘n gedagte: Aangesien die Bybel die enigste boek is wat God ooit geskryf het en jy eendag voor die Skrywer self gaan staan, sal jy nie graag vir Hom wil sê dat jy sy boek gelees het nie?

Sielskos: Jes 45-48; Luk 10:13-24; Ps 28; Spr 5:3-6

Saai saad van vrede waar daar onmin is

2022-02-17
Jakobus 3:16 NLV

Toe ‘n bekende pastoor deur ‘n skeptikus gevra is: ‘Glo jy dat daar ‘n ding soos ‘n regte duiwel is?’ het hy geglimlag en geantwoord: ‘Het jy al ooit ‘n jaarlikse kerkvergadering bygewoon?’ As jy al vir enige lengte van tyd ‘n kerkganger is, weet jy dat onmin sy lelike kop, net soos op enige ander plek, ook in die familie van God uitsteek. Paulus en Barnabas, ‘n briljante bedieningspan, het toegelaat dat hulle verskille oor Johannes Markus hulle uitmekaar dryf totdat hulle nie meer saam kon werk nie. Later het Paulus tot ander insigte gekom, maar die koeël was reeds deur die kerk. Hy het gesê: ‘Ek moedig sowel Euodia as Sintige aan om hulle meningsverskille op te los omdat hulle één is met die Here. En ek vra ook dat jy, getroue kollega, hulle daarmee help. Hulle het hard gewerk… om die Goeie Nuus uit te dra…’ (Filippense 4:2-3 NLV).

Onmin hinder ons gebede, neem ons fokus van verlore siele af en maak ons oneffektief in ons bediening. Ons moet leer om mekaar se talente, perspektiewe en posisies te respekteer, eerder as om afgunstig te wees. Met ander woorde, leer om te verskil sonder om onaangenaam te wees.

Die Bybel sê: ‘want waar jaloesie en selfsugtige ambisie is, dáár sal jy ook wanorde en allerhande gemene dade kry. Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om deernis te bewys, en het goeie gevolge. Dit diskrimineer nooit en is altyd opreg. Die vredemakers saai saad van vrede; hulle oes omdat hulle reg lewe voor God’ (Jakobus 3:16-18 NLV). God seën die vredemakers (sien Matteus 5:9), so wanneer onmin sy kop in jou kerk uitsteek, maak dit jou missie om sade van vrede te saai!

Sielskos: Jes 42-44; Luk 10:1-12; Ps 5; Spr 5:1-2

Moenie oordryf nie

2022-02-16
Spreuke 8:9 NLV

Koning Salomo het geskryf: ‘…Elke woord uit my mond is opreg. Ek praat die volle waarheid. Vir bedrog het ek nie tyd nie. Alles wat ek sê, is reg. Daar is niks daarin wat krom of verdraai is nie. Hulle wat insig het, weet dat ek reguit praat…’ (verse 6-9 NLV).

Ons kleur gewoonlik die waarheid bietjie in om twee dinge te kry: die aandag en die goedkeuring van die luisteraar. Oor tyd ontdek mense egter jou geneigdheid om die waarheid te strek en verloor jy jou geloofwaardigheid by hulle. Omvattende verklarings soos: ‘Almal doen dit,’ of ‘Jy doen nooit,’ of ‘Jy doen altyd,’ veroorsaak dat mense jou met ‘n greintjie sout neem en jou uiteindelik as onbetroubaar ag.

Dis in die haak om iets met entoesiasme te sê, maar vermy oordrywing. Bly by die feite en weerstaan die drang om die middelpunt van aandag te wees deur hierdie vorm van leuens te beoefen. Josef se broers was wrokkig oor die guns van God wat op sy lewe was. Dus het hulle hom in ‘n put gegooi, sy kleed in bloed gedoop en dit toe huis toe geneem en vir hulle bejaarde vader gewys. Hulle het nie ‘n woord gesê nie. Hulle het slegs toegelaat dat die ou man tot die gevolgtrekking kom dat sy seun deur ‘n roofdier verskeur is. Wat nog erger is, is dat hulle hom toegelaat het om vir jare met daardie wrede leuen saam te leef.

Openbaring 22:15 sê: ‘Al die onreines bly buite – die towenaars, die onsedelikes, die moordenaars, die afgodsdienaars en elkeen wat die leuen liefhet en beoefen’ (NLV). Tensy dit die geselskap is waarmee jy jouself wil ophou, moet jy die hele waarheid praat. Maak vandag die volgende jou gebed: ‘Here, red my van lippe wat lieg, en van ‘n tong wat mislei’ (Psalm 120:2 NLV).

Sielskos: Jes 38-41; Luk 9:57-62; Ps 149; Spr 4:25-27

Verteenwoordig Jesus by die werk

2022-02-15
Matteus 5:13-14 NLV

Weet die mense saam met wie jy werk dat jy ‘n volgeling van Christus is? Wat dink hulle van jou houding teenoor diegene wat in gesag is? Wat van die mense wat onder jou werk – is jy krities of komplimenteer jy hulle? Hoe is jou tydsberekening? Daag jy betyds by die werk op en gee 100 persent? Demonstreer jy ‘n toewyding aan persoonlike groei en uitnemendheid by die werk? Met ander woorde, laat jy Jesus goed lyk by die werk?

Wanneer jy ernstig daaroor begin dink, hang die ewige lotsbestemming van sommige mense saam met wie jy werk dalk van jou optrede af. Op die oomblik mag hulle dalk nie in dit wat jy oor God te sê het, geïnteresseerd wees nie. Dit kan alles egter in ‘n oogwink verander.

Wanneer mense voor ‘n krisis soos die dood, ‘n skeisaak, siekte of werkloosheid te staan kom, soek hulle iemand met werklike antwoorde. Dis dan wanneer hulle die mense wat in die oond en die leeu se kuil gegooi is uitsoek, omdat niemand anders rondom hulle antwoorde het wat werk nie.

Jesus het gesê: ‘Julle is sout wat smaak moet gee aan hierdie smaaklose wêreld waarin almal in sonde leef. As julle dit nie doen nie, beteken julle net mooi niks vir God nie… Julle is ‘n lig vir die donker wêreld rondom julle. Almal moet kan sien dat julle glo. Julle geloof moet net so sigbaar wees soos ‘n stad wat hoog bo-op ‘n berg gebou is… Julle moet soos ‘n lig in hierdie pikdonker wêreld skyn. Ander mense moet uit julle woorde en dade sien dat julle God van harte dien. Dan sal hulle sê dat God regtig ‘n groot en goeie God is. So word julle hemelse Vader se Naam regtig grootgemaak’ (Matteus 5:13-16 DB).

Sielskos: Jes 34-37; Luk 9:46-56; Ps 145:14-21; Spr 4:23-24

Onthou om: ‘Ek is lief vir jou,’ te sê

2022-02-14
1 Samuel 20:17 NLV

In die hoop om hulle verhouding te red, het ‘n vrou haar man na ‘n berader toe gesleep. Gedurende hulle sessie het die berader vir die man gevra: ‘Sê jy vir jou vrou jy is lief vir haar?’ Die man het gemompel: ‘Ek het vir haar gesê ek is lief vir haar toe ons getrou het – en as dit ooit verander, dat ek haar sal laat weet.’

Mense weet dat jy vir hulle lief is, wanneer jy dit vir hulle wys en wanneer jy dit vir hulle sê. Die verhouding tussen Jonatan en Dawid was so sterk dat hulle bereid was om hul lewens vir mekaar af te lê. Tog sê die Bybel: ‘Jonatan het sy eed van vriendskap met Dawid hernu, want… hy het hom liefgehad soos homself.’

Wanneer jy ‘n geliefde verloor, besef jy dat verhoudings baie belangriker as besittings is. Wanneer ‘n mens net ‘n kort tyd oor het om te lewe, verander jou perspektief radikaal. Dit maak dat jy elke kosbare oomblik met belangrike woorde wat jy nog nie gesê het nie en belangrike dinge wat jy nog nie gedoen het nie, wil vul.

Moenie toelaat dat jou selfgesentreerdheid wat agter ‘n masker van ambisie of godsdienstige ywer wegkruip, jou daarvan weerhou om jou liefde aan die mense in jou lewe wat nodig het om dit te hoor, uit te druk nie. Maak daardie oproep. Stuur daardie epos. Koop daardie blomme. Sê: ‘Ek is lief vir jou.’

Ja, dis belangrik om jou Godgegewe opdrag in die lewe te vervul, maar nie ten koste van die mense wat werklik saak maak nie. Klein woordjies wat mense nooit moeg word om te hoor nie, is: ‘Ek is lief vir jou.’ Dis nie ingewikkeld nie – dit verg net bedagsaamheid.

Sielskos: Ef 5:21-33; Hoogl 2:1-7; Ps 45; Spr 5:15-19

Leer om te konfronteer (2)

2022-02-13
Hebreërs 12:11 DB

Gesonde konfrontasie verg dat jy die ander persoon se welstand bo jou eie belange plaas. Hoe konfronteer mens dus iemand op die regte manier? Deur hierdie drie dinge te doen: 1) Wees seker. Daar moet ‘n goeie rede wees om te konfronteer. Dit moet ook ‘n rare gebeurtenis wees, nie ‘n alledaagse een nie. Jy moet nie die ervaring geniet nie. As jy dit doen, moet jy jou beweegredes ondersoek. Voel jy meerderwaardig? Rig jy jou woede oor ‘n heeltemal ander kwessie in hierdie persoon se rigting? Hef jy jouself op terwyl jy hulle afkraak? Voor jy iemand konfronteer, moet jy eers hierdie vrae eerlik antwoord.

2) Wees spesifiek. Vaagheid lei tot ‘n onsekere uitkoms, maak nie saak hoe taktvol en genadig jou woorde mag wees nie. Maak seker dat jy die rede vir die konfrontasie verstaan; en maak dit dan duidelik aan die ander persoon.

3) Wees sensitief. Elke situasie is anders, dus moet ‘n seisoen van selfondersoek en gebed enige ontmoeting van aangesig tot aangesig, voorafgaan. Andersins mag jy dalk probleme ondervind en die ander persoon sal die onsekerheid en ongemak in jou woorde agterkom. Moenie daardie risiko neem nie. As jy nie die tyd geneem het om vooraf te bid en raad te kry nie, moenie alleen in die situasie inspring nie. Dit laat altyd verwarring, wrokkigheid en ‘n spoor van gewonde siele agter. Maak seker dat jou woorde en stemtoon in voeling met die persoon wat jy aanspreek, is.

Probeer ook jou persoonlike agenda in bedwang hou; dit gaan nie oor jou nie! Gee spesifiek aandag aan jou tydsberekening, kies jou woorde versigtig en bid natuurlik vir leiding. Onthou, Christusgesentreerde konfrontasie bring elke keer die regte resultate mee.

Sielskos: Jes 9:1-7; Luk 2:1-7; Matt 4:12-16