‘n Veilige plek om af te pak

2022-04-11
Galasiërs 6:2 AFR83

Het jy al ooit iets gesê wat jy gewens het jy kon terugneem? Jy het al, né? Chuck Swindoll skryf: ‘Ons tree impulsief op en besef, na die tyd, hoe dwaas ons was. Boonop maak ons die mense vir wie ons die liefste is, seer. Al hierdie dinge druk swaar op ons gemoed en ons wonder hoe enigiemand, veral God, vir ons kan lief wees. Wanneer ons so begin dink, moet ons ons gedagtes op die ‘mekaar’ in die Nuwe Testament rig. Wees lief vir mekaar, bou mekaar op, wys mekaar tereg, bemoedig mekaar, lewe in vrede met mekaar, bely julle sondes teenoor mekaar, praat met mekaar, bid vir mekaar. ‘Dra mekaar se laste…’ (Galasiërs 6:2 AFR83).

Dink aan twee bergklimmers. Een het ‘n ligte rugsak terwyl die ander arme siel onder sy bagasie steier. Dit kan ‘n langslewende wrok wees wat sy binneste vergiftig. Of ‘n gebroke verhouding met sy vrou of een van sy kinders wees. Die rugsak kan met onbetaalde rekeninge oorlaai wees. Die vraag is: Waar kan hy gaan om af te pak? Wat hy nodig het, is ‘n plek waar daar persoon-tot-persoon omgee en opregte deelname is. Waar hy vry, sonder skaamte, kan voel om sy geheim of stryd te deel. Waar iemand na hom sal luister, hom sal help afpak en hom nuwe krag sal gee.

Volwasse selgroepe is nie miniatuur kerkdienste nie. Hulle is groepe mense wat Christus liefhet en daarin glo om mekaar te help. Hulle wys nie vinger of preek of vergelyk nie. Hulle is jou broers en susters in Christus. Is jy by ‘n selgroep betrokke? Indien nie, oorweeg dit om by een aan te sluit of een te begin.’ Sodra jy begin afpak, sal jy agterkom hoeveel makliker die reis voel.

Sielskos: Lev 18-19; Luk 22:63-71; Ps 25:8-15; Spr 10:2