Leer om te konfronteer (1)

2022-02-12
Spreuke 13:18 NLV

Ons geniet nie konfrontasie nie, maar dis onmoontlik om daarsonder te groei. Gesonde konfrontasie vereis dat ons ‘…in liefde by die waarheid bly…’ (Efesiërs 4:15 AFR83), teenoor diegene wat ons liefhet. Net soos God ons in areas waar ons nodig het om te groei konfronteer, verwag Hy van ons om dieselfde vir ander te doen. Is dit maklik? Nee.

Hier is egter ‘n paar leidende beginsels om jou te help: 1) Praat met die persoon, nie van hulle nie. Gesonde konfrontasie moet direk wees en waar moontlik, in privaatheid plaasvind. Dit verg deurdagte kommunikasie wat op ‘n ferm, maar genadige wyse oorgedra word. Hanteer mense wat seer het, versigtig.

2) Moenie oordryf of geestelike mooipraatjies gebruik nie. Gee spesifieke voorbeelde. Moenie agter woorde soos: ‘Ek glo dat die Here my gewys het dat jy verkeerd is,’ wegkruip nie. Toe die profeet Natan vir koning Dawid oor sy sonde met Batseba gekonfronteer het, was hy spesifiek. Hou ook jou emosies in bedwang; laat genoeg tyd tussen die oortreding en die konfrontasie toe sodat jy enige woede wat jy voel, met gebed kan ontlont.

3) Moenie hulle skuldig laat voel nie; help hulle. Moenie iemand los om daaroor te tob sonder om vir hulle duidelike aanwysings te gee hoe om te verbeter nie. Dis nie regverdig nie en dis nie konstruktief nie. Jou doelwit is nie om iemand te ontbloot nie, maar om vir hulle ‘n beter manier te wys.

4) Moenie krities wees nie; wees meelewend. As jy alles anders nalaat, moenie hierdie beginsel nalaat nie! As jy dit doen, sal jy jouself bevind waar jy veroordeel, eerder as wat jy konfronteer. As jy eerlik is, sal jy erken dat jou paadjie na sukses ‘n paar slaggate gehad het – benader ander mense dus met liefde en besorgdheid.

Sielskos: Jes 30-33; Luk 9:37-45; Ps 145:1-13; Spr 4:20-22

Glo in jou kinders en kleinkinders

2022-02-11
Genesis 4:1 NLV

Henry Kendall van Boston en Richard Taylor van Medicine Hat, Kanada, het ‘n deurbraak in ons begrip van materie gemaak en op die teorie van die struktuur van protone en neurone uitgebrei. Mikhail Gorbachev van die USSR het bygedra tot die ontwikkeling van ons begrip oor hoe die Ooste en Weste mekaar beter kan verstaan deur glasnost, ‘n plan vir oop dialoog en vredevolle naasbestaan wat tot die ontrafeling van die Ystergordyn wat dekades lank die Ooste van die Weste geskei het, gelei het. Octavio Paz van Meksikostad was ‘n politieke kommentator, diplomaat, skrywer en digter wat dwarsdeur sy lewe vurig geskryf het oor die mensdom se begeerte aan ‘wyer horisonne,’ omdat hy geglo het dat ons toekoms groter as ons verlede kan wees. Edward Donnal Thomas van Mart, Texas, het bewys dat dit moontlik is om organe oor te plant en die lewens van sterwende pasiënte te red. Henry M Markowitz van Chicago het die markte bestudeer en die teorie dat ‘n kombinasie van ekonomiese bates van verskillende risiko’s die algehele beleggingsrisiko kan verminder, ontwikkel.

Wat het al hierdie geskiedenismakers in gemeen? Twee dinge. Eerstens, het hulle ‘n groot verskeidenheid agtergronde, belangstellings en talente gehad en ‘n Nobelprys in 1990 gewen. Tweedens, kon niemand hulle prestasies voor hul geboorte voorspel het nie.”…en [Eva] het swanger geword… Sy sê toe: ‘Met die hulp van die Here het ek ‘n man voortgebring!'” Dink daaroor: Enigeen wat deur die Here geskape is, het die potensiaal om groot dinge in die lewe te bereik. Dit is ook waar van jou kinders en jou kleinkinders, glo dus in hulle.

Sielskos: Jes 26-29; Luk 9:28-36; Ps 141; Spr 4:18-19

Die ondersteunende rolverdeling

2022-02-10
Lukas 22:10 NLV

Hollywood deel tydens die Oscar seremonie pryse aan die beste akteur, filmvervaardiger, redakteur, regisseur, kostuumontwerper ens., uit. Die Screen Actors Guild Awards weet egter dat daar nie plek vir groot sterre en beste films kon wees sonder die ondersteunende rolverdeling en die bydraes van die tegniese en kunsspanne nie.

Die Skrif vertel ons dat God ook ‘n ondersteunende rolverdeling het; mense wat gelukkig is om agter die skerms te werk. Hulle is diegene wat hulle ding by die huis, werk of by die kerk doen en stilweg, met vreugde en getrouheid, dien. Families word grootgemaak, nasies word versterk, besighede floreer en kerke groei, te danke aan daardie mense wat die klein dingetjies doen wat die groot verskil maak.

Die Bybel is vol agter-die-skerms mense, soos die naamlose man wat ‘n kan water dra wat Petrus en Johannes na die huis gelei het waar Jesus ‘n Paasmaaltyd voor sy kruisiging saam met sy dissipels geëet het (sien Lukas 22:10-13). Of mense soos ‘Klein-Jakobus’ (Markus 15:40 AFR83), ‘n relatiewe onbekende dissipel wat dikwels deur mense misgekyk is – maar nooit deur God nie!

Wat jy ook al doen, maak nie saak hoe klein dit is nie, neem die volgende belofte ter harte: ‘God is nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet hoe hard julle vir Hom gewerk het nie…’ (Hebreërs 6:10 NLV). Bly dus getrou. Jesus het gesê: ‘…Kyk, Ek kom gou! My loon kom saam met My om almal te beloon volgens wat hulle gedoen het’ (Openbaring 22:12 NLV). God is besig om sy eie Oscar seremonie te beplan – en jy kan deel wees daarvan!

Sielskos: Jes 22-25; Luk 9:18-27; Ps 138; Spr 4:14-17

Gebed en meditasie oor die Skrif kan jou gesondheid verbeter

2022-02-09
1 Tessalonisense 5:17 NLV

Weg is die dae toe sommige teoloë voor die god van wetenskap gebuig het. Betroubare wetenskaplikes bevestig nou hoe vernuftig God is en hoe sy beginsels onder die deurdringende lig van wetenskaplike ondersoek, steeds van toepassing bly. Die neuro-wetenskaplike, dr Andrew Newberg, wat die verhouding tussen geestelike verskynsels en die brein bestudeer, het gevind dat ons ontwerp is om deur middel van gebed en die Skrif fisies en geestelik met God om te gaan. Dis ‘n alombekende feit dat daar dele in die menslike brein is wat positief op gebed, die lees van en meditasie oor God se Woord, lofprysing en empatie vir ander mense, reageer.

Dr Newberg glo ook dat die uitoefening van ‘n persoonlike godsdienstige geloof die kragtigste manier is om ‘n gesonde brein te handhaaf. Die brein se frontale lob word vir rasionele denke en besluitneming gebruik en om jou aandag te fokus. Dit reageer op gebed en meditasie deur te help om stres te verminder, ons immuunstelsel te versterk, ons geheue te verbeter en ons kapasiteit vir medelye te vergroot. Dit help ons om ouderdomsverwante breinverswakking af te weer en langer te leef! Newberg se navorsing dui aan dat om vir ten minste twaalf minute ‘n dag te bid, ouderdomsverwante agteruitgang van die brein kan vertraag.

Gebed en Bybelstudie deaktiveer ook areas in die brein wat met woede, skuldgevoelens, angs, depressie, vrees, wrokkigheid en pessimisme geassosieer word. Uiteindelik lyk dit of die een-en-twintigste eeu se wetenskap by die antieke Skrif aansluit en die Psalmdigter eggo: ‘Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het. U werke is wonderbaar…’ (Psalm 139:14 NLV). Kan jy dink aan ‘n beter rede om die boodskap van Christus in sy volle rykdom in jou te laat bly? (Sien Kolossense 3:16).

Sielskos: Jes 17-21; Luk 9:1-17; Ps 134; Spr 4:5-13

Beheer jouself!

2022-02-08
Spreuke 25:28 NLV

Beproewinge, onaangename mense en frustrerende omstandighede is potensieel onstellend – en die slegte nuus is dat hulle nie binnekort gaan verdwyn nie. Die goeie nuus is egter dat hulle nie jou probleem is nie! Dis nie wat met jou gebeur wat jou bui bepaal nie; dis wat binne jou gebeur! Ons verbeel onsself dat die lewe dadelik ten beste gaan verander as ons mense en omstandighede kan verander, maar dan sou daar net nuwe mense en omstandighede wees om te hanteer, nie waar nie?

Salomo het dit reg gehad; dit gaan nie daaroor om die wêreld aan die buitekant te beheer nie, dit gaan daaroor om die wêreld aan die binnekant te beheer. Spreuke sê vir ons: ‘Iemand wat homself nie in bedwang kan hou nie, is soos ‘n stad sonder ‘n muur wat beskerming bied.’ Die enigste manier om dus jou sekuriteit te waarborg, is om daarvan te vergeet om mense en dinge te beheer en daarop te fokus om jou beskermende mure in stand te hou.

‘Maar mense en omstandighede kan my onvoldoende en weerloos laat voel,’ sê jy. Die Bybel sê vir ons: ‘…God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade’ (1 Petrus 5:5 AFR83). Om jou eie onvoldoendheid te besef, is inderwaarheid die eerste stap tot volkomenheid. Stap twee is om te aanvaar dat slegs God jou met selfbeheersing kan bemagtig (sien Filippense 2:13). Stap drie lê in die besef dat selfbeheersing nie uit vasberadenheid kom nie; dis ‘n produk van die Heilige Gees – ‘n vrug van die Gees (sien Galasiërs 5:22-23). Wanneer jy jouself aan die Gees wat in jou woon onderwerp, sal Hy jou mure versterk en jou bemagtig om sterk teen die Vyand te staan.

Sielskos: Jes 12-16; Luk 8:40-56; Ps 125; Spr 4:3-4

Hoe om jou angsvlakke te verlaag (2)

2022-02-07
Matteus 6:33 DB

Wanneer jy angstig oor die toekoms voel, stop en herinner jouself dat God ‘die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde’ (Openbaring 22:13 NLV), is. Waarheen jy op pad is – God is reeds daar! Jesus het gesê: ‘…die skape luister fyn na sy stem… hy [loop] voor hulle uit, en die skape hou aan om hom te volg omdat hulle sy stem ken’ (Johannes 10:3-4 NLV). Hoe leer skape om die skaapwagter se stem te herken? Deur tyd saam met hom deur te bring. Let op: ‘hy loop voor hulle uit,’ wat beteken so lank as wat jy vorentoe beweeg, kan God jou bewegings rig.

Elke keer wat jy breekpunt bereik, is dit ‘n toets: Jy sal óf tou opgooi, óf deurdruk tot oorwinning toe. Wanneer langafstandatlete uitgeput voel en voel of hulle wil tou opgooi, weet hulle dat indien hulle deur die pyn druk, hulle hul tweede asem sal kry en dat dit hulle oor die eindstreep sal dra.

Neem jy verantwoordelikhede wat nie joune is nie op jou skouers? Leer om gesonde grense te vestig ter wille van jouself en vir die mense wat afhanklik is van jou. As jy nie seker is wat gepas is nie, vra God om jou te wys hoe baie jy by die lewens van jou vriende en familie betrokke moet raak. As die las nie joune is nie, sit dit neer. As dit te swaar is, gee dit vir God! Staan op sy belofte: ‘…Hy draai nie sy rug vir hulle wat sy hulp nodig het nie. Hy help hulle as hulle smeek dat Hy iets aan hulle nood moet doen’ (Psalm 22:25 DB). Hoe meer jy op God vertrou, hoe meer sal jy jou angsvlakke kan verlaag.

Sielskos: Jes 8-11; Luk 8:26-39; Ps 67; Spr 4:1-2