Hoe om jou angsvlakke te verlaag (1)

2022-02-06
Psalm 55:23 NLV

Wanneer ons gestres is, kan die oplewing van negatiewe emosies oorweldigend wees. Tensy jy jou siel voor God ontlaai, is dit maklik om verkeerde besluite te maak, aan die verkeerde impulse oor te gee, in die verkeerde rigting te beweeg en teenoor die verkeerde mense te ontplof. Die Psalmdigter spreek dit aan: ‘Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg…’ Die hoeveelheid wat jy bewustelik op God leun en krag uit Hom put, is die hoeveelheid wat jou angsvlakke sal verlaag. Dis geen toeval dat baie van die Psalms begin waar Dawid na God om hulp roep en eindig met hom wat juig omdat hy sy frustrasies met die regte persoon – met God! – gedeel het nie.

Die lewe is 10 persent dit wat met jou gebeur en 90 persent hoe jy daarop reageer. Jou werk, jou finansies, jou huwelik, jou kinders, jou gesondheid en jou toekoms is alles bronne van angs, dus sal jy nooit heeltemal vry van angs wees nie. Jy kan egter jou angsvlakke verlaag deur Paulus se raad te volg: ‘Almal moet vir God, die Vader van ons Here Jesus Christus, prys. God is die Vader wat baie goed is vir ons en Hy is die God wat altyd vir ons bemoedig. Hy bemoedig ons wanneer ons swaarkry, dit maak nie saak wat die swaarkry is nie. Dan kan ons ook ander mense bemoedig wat swaarkry, dit maak nie saak wat hulle swaarkry is nie. Ons kan dit doen omdat God vir ons bemoedig. Ja, ons kry baie maal swaar omdat ons aan Christus behoort. Maar so bemoedig God ook baie maal vir ons omdat ons aan Christus behoort’ (2 Korintiërs 1:3-5 ABA).

Om ‘n welbekende pastoor aan te haal: ‘Hoe meer jy bid, hoe minder paniekerig sal jy wees. Hoe meer jy lofprys, hoe minder bekommer jy jou.’

Sielskos: Jes 53:1-12; Hand 8:26-40

Fokus inwaarts in plaas van uitwaarts

2022-02-05
2 Korintiërs 4:16 NLV

Volgende keer wat jy by die winkel in die ry staan om te betaal, kyk bietjie na die tydskrifte se voorblaaie. Beeldskone gesigte, gespierde lywe – advertensies vir diëte en pille wat beloof dat jy ook so kan lyk. Daar is niks daarmee verkeerd om op jou beste te lyk en jou liggaam te versorg nie. Dit is immers die tempel van die Heilige Gees en jy is verantwoordelik om dit te versorg. Daar is egter baie meer aan jou as klere en ‘n haarstyl.

Dis ‘n fout om op die uiterlike te fokus en nie die innerlike kwaliteite wat God vir jou gegee het, te waardeer en te ontwikkel nie. Die Bybel sê: ‘…’n Mooi voorkoms hou nie vir altyd nie…’ (Spreuke 31:30 NLV). Toe God jou geskep het, het Hy nie net die buitekant versier nie; Hy het ook vir jou ‘n ‘…blywende beskeidenheid en ‘n gemoed wat kalm en rustig is [gegee]. Dit is vir God kosbaar’ (1 Petrus 3:4 NLV).

Paulus herinner ons inderwaarheid: ‘…die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd’ (2 Korintiërs 4:18 NLV). Die waarheid is dat Paulus nie vir sy mooi voorkoms onthou word nie. Sy vyande het gesê: ‘…hy [is] maar onindrukwekkend en sy boodskap [het] maar min om die lyf’ (2 Korintiërs 10:10 NLV). Waarvoor hy egter wel onthou sal word, is hierdie woorde: ‘Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly. En nou wag die prys vir my: die lourierkrans van geregtigheid wat die Here, die regverdige Beoordelaar, my sal gee op die groot dag van sy wederkoms. En dié prys is nie net vir my nie, maar vir almal wat gretig uitsien na sy heerlike verskyning’ (2 Timoteus 4:7-8 NLV).

Die woord vir jou vandag is dus – fokus inwaarts in plaas van uitwaarts.

Sielskos: Jes 4-7; Luk 8:16-25; Ps 120; Spr 3:33-35

Bekommer jou minder en vertrou meer op God

2022-02-04
Markus 4:19 NLV

Jesus het in die gelykenis van die saaier gesê dat die saad in vier soorte grond geval het. Hier is een van hulle: ‘Daardie saad wat tussen die dorings gesaai is, staan vir die mense wat die Goeie Nuus hoor, maar die bekommernisse van hierdie lewe en die rykdom en die hunkering na allerhande goed verstik gou die boodskap, en dit bly sonder vrug’ (verse 18-19 NLV).

Let op dit wat God se Woord weerhou om effektief in jou lewe te werk: 1) Bekommernis dat God nie vir jou sal sorg nie. 2) Deur te dink dat as jy meer geld, ‘n groter huis, ‘n beter kar of ‘n aantrekliker voorkoms gehad het, jy gelukkiger sou wees. Hier is die vraag: Onthou jy toe jy gedink het dat jou huidige beroep, die huis waarin jy tans woon en die finansiële portefeulje wat jy bymekaar gemaak het, al jou bekommernisse sou laat verdwyn het? Dit werk egter nie so nie, doen dit? Hoe meer ‘goed’ jy het, hoe meer het jy om te verloor, te beskerm, te handhaaf en besorg oor te wees.

Bekommernis oor materiële dinge kan die lewe uit jou wurg! Vrede en geluk spruit uit vertroue op God vir dit wat jy nodig het; die wete dat wanneer iets reg is vir jou, God dit sal voorsien; en indien nie, dat Hy vir jou iets beters sal gee.

‘n Wonderlike ding gebeur wanneer jy oor God se beloftes mediteer. Jou bekommernisse verklein, jou gedagtes en houding word verander en jy geniet die lewe meer. Jesus het gesê: ‘Nee, maak die koningsheerskappy van God… julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (Matteus 6:33 NLV). Plaas dus vandag gebed en Bybelstudie aan die bopunt van jou prioriteitslys.

Sielskos: Jes 1-3; Luk 8:1-15; Ps 108; Spr 3:31-32

God leer jou geduld

2022-02-03
Psalm 37:7 NLV

Geduld word uit vertroue gebore. Dawid het gesê: ‘Vertrou op die Here en doen wat goed is. Woon in die land en geniet die veilige weiding. Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee’ (verse 3-4 NLV). God het ‘n plan vir jou lewe. Dit sluit dinge in wat jy nie vandag kan kry nie, maar wat jy more sal kan geniet. Wanneer die lente aanbreek, groei die gras vanself. Hou dus op sukkel om iets nou te bereik wat maklik sal wees wanneer die tyd reg is.

Wanneer jy weier om vir ‘n kleuter iets te gee wat nie goed vir hom is nie, stamp hy sy voet en skree: ‘Ek wil dit nou hê!’ Gee jy dit dan vir hom? Nee, want hy is nog nie reg daarvoor nie. Paulus skryf: ‘Julle moet geduldig wees…’ (Kolossense 3:13 NLV). Nie net leer God jou hoe om te wag nie, maar ook hoe om ‘n goeie houding daaroor te hê.

God laat toe dat sekere dinge in die lewe gebeur om ons belangrike beginsels te leer, soos: 1) om ons geloof te behou wanneer dinge moeilik gaan, 2) om genadig onder druk te wees deur ons reaksies te beheer, en 3) om nuwe vaardighede en beter denkwyses te ontwikkel. Die waarheid is dat God tans besig is om kwaliteite in jou te ontwikkel wat nie op enige ander manier ontwikkel kan word nie. Wanneer Hy klaar is, sal jy die volwassenheid hê om dit wat Hy vir jou in gedagte het, te hanteer.

Moet dus nie toelaat dat die Vyand jou senuweeagtig maak of toelaat dat die omstandighede jou paniekerig maak nie. ‘Wees stil in die Here en wag geduldig op Hom…’

Sielskos: Rom 15-16; Luk 7:36-50; Ps 111; Spr 3:29-30

Gee Jesus ‘n kans

2022-02-02
Matteus 4:19 DB

Wanneer ander mense nie jou potensiaal raaksien nie, doen Jesus dit wel. Hy het in eenvoudige vissermanne die kapasiteit om die wêreld te verander, gesien. Jesus het vir Simon Petrus en Andreas gesê: ‘…Kom agter My aan! Word my volgelinge. Dan sal Ek julle wys hoe…’ Betwyfel jy dit? Nataneal het ook. Toe hy uitgenooi is om Jesus te ontmoet, het hy gesê: ‘…’Hoe kan daar uit Nasaret iets goeds kom?’ ‘Kom kyk self,’ het Filippus hom uitgenooi’ (Johannes 1:46 NLV).

Selfs na drie jaar wat hulle Jesus se wonderwerke aanskou het, het sy dissipels steeds vertwyfelinge gehad. Kyk net hoe dikwels het Hy vir hulle gesê: ‘Julle kleingelowiges’; ‘Tog glo julle nie’; en ‘As jy glo, sal jy sien.’ Omdat Hy geweet het dat hulle angstig was oor wat sou gebeur wanneer Hy hulle verlaat en terugkeer hemel toe, het Jesus gesê: ‘En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees’ (Johannes 14:16 NLV).

Die waarheid is dat daar nooit ‘n dag sal verbygaan waar jy nie God se hulp nodig het of waar dit nie vir jou beskikbaar is nie. Miskien twyfel jy nog steeds. Indien dit die geval is, skep moed! Jesus is lief vir twyfelaars. Het Hy nie Tomas self uitgekies nie? Miskien dink jy dat jy te veel swakpunte het. Petrus het dit ook gedink – maar Jesus het hom die hoof van die kerk gemaak.

Kom net soos jy is en laat sy teenwoordigheid toe om aan jou af te smeer. Wat het jy om te verloor? As jy dit op jou manier probeer het en dit het nie gewerk nie, kom, gee Jesus ‘n kans!

Sielskos: Rom 12-14; Luk 7:24-35; Ps 107:33-43; Spr 3:27-28

Oorkom verwerping

2022-02-01
1 Johannes 3:1 NLV

Wanneer jy met ‘n gevoel van verwerping sukkel, kan dit in dinge soos die volgende manifesteer:

1) Jy raak perfeksionisties. Dit werk egter nie, omdat ander mense se behoeftes en verwagtinge so van mekaar verskil dat dit onmoontlik is om almal gelukkig te hou.

2) Jy is tevrede met minder. Jy verdra verwaarlosing en mishandeling omdat jy dink dis wat jy verdien. Of jy is bang dat dit dalk jou laaste kans op ‘liefde’ mag wees.

3) Jy raak aggressief. Verwerping kan voel asof jy aangeval word terwyl dit nie regtig die geval is nie, maar jy trek jou bokshandskoene aan en begin appels swaai.

4) Jy hou ‘n onversetlike front voor. Gevolglik sluit jy jouself van ander mense af, jou fisiese, geestelike en emosionele behoeftes ly daaronder en jy voel eensaam.

5) Jy beloof jouself dat jy nooit weer iemand naby genoeg aan jou gaan toelaat om jou seer te maak nie. Dit klink goed in teorie, maar deur ander mense uit te sluit, sluit jy jouself af en al jou verhoudings ly daaronder.

6) Jy trek die verkeerde mense aan. So lank as wat jy met ‘n verminderde sin van selfwaarde rondloop, sal jy altyd die verkeerde mense aantrek. Die waarheid is, wanneer jou self-waarde op enige ander opinie as God s’n gebaseer word, sal jy altyd weerloos teenoor verwerping wees en jy sal nooit die unieke en wonderlike persoon wat God jou gemaak het om te wees, ontdek nie.

Wat is dus die antwoord? Johannes sê vir ons: ‘Kyk net hoe ‘n groot liefde die Vader aan ons betoon het. Dit is dat Hý ons sy kinders noem, en ons is dit beslis ook…’ (vers 1 NLV). Jy kan verwerping oorkom deur te begin verstaan en aanvaar hoe baie God jou liefhet en hoe hoog Hy jou ag.

Sielskos: Rom 9:17-11:36; Luk 7:11-23; Ps 107:23-32; Spr 3:25-26