2022-01-31
Jesaja 6:9 NLV
Wanneer jy by God se werk betrokke is, is dit maklik om uit balans te raak en die werk van die Here meer as die Here van die werk te geniet. Die krag wat jy nodig het om sukses in jou Godgegewe opdrag te behaal, kom van die tyd wat jy met die Here bestee, nie van mense af nie.
Een dag het Jesus drie van sy dissipels na die bopunt van ‘n hoë berg geneem. ‘…Sy gesig het begin straal soos die son… En, wonderlik, toe verskyn Moses en Elia voor hulle en voer gesprek met Jesus’ (Matteus 17:2-3 NLV). Petrus was verheug deur die ervaring: ‘Here dis wonderlik om hier te wees! As U wil, sal ek hier drie skuilings oprig…’ (vers 4 NLV). Petrus wou daar bly, maar God het uit die hemel gepraat en gesê: ‘…Hý is my geliefde Seun… Doen wat Hy vir julle sê’ (vers 5 NLV). Daarna het Jesus sy dissipels van die berg af gelei en het hulle behoeftige mense begin bedien.
Dis goed om van tyd tot tyd ‘bergtop ervarings’ met God te hê, maar jy kan nie daar bly nie. Daar is werk wat aan die voet van die berg gedoen moet word. Daar moet ‘n balans wees tussen dit wat jy inneem en dit wat jy uitdeel.
Een dag ‘n jaar, het die hoëpriester die Allerheiligste binne gegaan en die voorreg gehad om God se heerlikheid te sien. Wat ‘n eer! Die res van die jaar het hy egter buite deurgebring en die mense bedien. Na ‘n ontmoeting met God waartydens die gebou geskud het, het Jesaja uitgeroep: ‘…Dit is verby met my!…’ (Jesaja 6:5 DB). Toe het God sy mond aangeraak en gesê: ‘…Gaan sê vir hierdie volk…’ (vers 9 DB). Kry jy die idee?
Sielskos: Rom 7:1-9:16; Luk 7:1-10; Ps 107:17-22; Spr 3:21-24
2022-01-30
Genesis 28:16 NLV
Ons het almal al mense hoor sê: ‘Die Here het so vir my gesê,’ en dan is dit op die ou einde nie so nie. Gevolglik raak ons vol twyfel en sinies. Wat ‘n verlies! God praat deur mense en jou vrees dat iemand dit verkeerd het, kan jou van lewensbelangrike insette beroof – in sommige gevalle, die presiese insette wat jy nodig het.
Een nag het God in ‘n droom aan Jakob verskyn en gesê: “‘Ek sal by jou wees en jou beskerm waar jy ook al gaan. Op die regte tyd sal Ek jou weer veilig terugbring na hierdie land toe. Ek sal jou nie verlaat nie, maar doen wat Ek beloof het.’ Toe Jakob wakker word, sê hy: ‘Sowaar! Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie geweet nie!’ Hy het bang geword en gesê: ‘Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dis niks anders nie as die woning van God, die poort na die hemel!'” (verse 15-17 NLV).
Om van God te hoor, moet jy: 1) dit bo alles anders begeer, 2) geestelike geraas elimineer en die tyd neem om te verstaan wat Hy vir jou sê, en 3) glo dat God werklik met jou sal praat. As jy nie glo nie, sal jy aan die genade van jou eie denke oorgelaat word – of deur ander mense wat net soos jy dink, beïnvloed word.
Sewe keer in die tweede en derde hoofstukke van die boek Openbaring, sê God: ‘Elkeen wat gewillig is om te luister, moet hoor wat die Gees sê.’ Hoe weet jy dat dit wat jy hoor werklik van God af kom? Omdat dit altyd met dit wat in sy Woord staan, sal ooreenkom; en jou gees sal sê: ‘Amen!’
Sielskos: Eks 16:1-35; Joh 6:30-40
2022-01-29
2 Korintiërs 5:16 NLV
Paulus skryf: ‘Van nou af beoordeel ons niemand meer volgens ‘n menslike maatstaf nie… iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’ (verse 16-17 NLV).
Hier is ‘n belangrike geestelike beginsel ter sprake. Wanneer jy probeer om ‘n gelowige te help wat teen teëspoed, verslawing of liggaamlike lyding stry, moet jy lewe tot hulle wedergebore gees spreek. Spreek tot die deel van hulle wat in staat is om in geloof op te staan en op God se Woord te reageer: ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap. En die aanhoor van die boodskap volg uit die prediking van die Goeie Nuus wat handel oor Christus’ (Romeine 10:17 NLV).
Waaruit kom geloof? Deur te hoor wat God dink, sê en kan doen. God het vir Esegiël opdrag gegee om in ‘n vallei vol droë bene te staan en te sê: “So sê die oppermagtige Here: ‘Kyk, Ek gaan in julle blaas en julle weer lewend maak!'” (Esegiël 37:5 NLV). Raai wat? Dit het gebeur! Esegiël het gesê: ‘…Skielik was daar ‘n gedreun terwyl ek praat. Die bene van elke liggaam het bymekaargekom’ (vers 7 NLV). Kom ons wees duidelik; jy kan nie aan ‘n geliefde vashou wanneer God in sy soewereine wysheid besluit dat dit tyd is om hulle hemel toe te neem nie, wat Paulus as ‘…verreweg die beste’ (Filippense 1:23 NLV), beskryf.
Totdat dit egter gebeur, spreek God se Woord tot hul wedergebore gees. Geloof ontken nie die realiteit van die omstandighede nie, maar dit weier om daardeur geïntimideer, beperk of oorheers te word. Wanneer iemand dus ‘n verloste kind van God is, moenie tot hulle menslike intellek spreek nie – spreek lewe tot hul gees.
Sielskos: Rom 3:21-6:23; Luk 6:37-49; Ps 107:10-16; Spr 3:19-20
2022-01-28
Job 16:5 NLV
Selfs wanneer ‘n operasie suksesvol is, kan die pasiënt letsels oorhou wat pyn en ongemak veroorsaak. Dis dieselfde in die lewe. Sommige mense rondom jou dra ‘n masker van sukses, maar binne-in hulle dra hulle wonde waaroor hulle nie in staat is om te praat nie. Die komediant Jonathan Winters het in ‘n onderhoud gesê dat sy lewe deur die wrede dinge wat sy ouers vir hom as kind gesê het, verwond is. ‘Ek is nie ‘n tjankbalie nie, maar ek onthou dinge tot die fynste detail – daar is baie pyn daar.’ Sy pa het vir hom gesê: ‘Jy is die domste kind wat ek ken.’
Toe hy by die vloot aangesluit het en gedurende die Tweede Wêreldoorlog na die Suid-Stille Oseaan reis, het hy geen ondersteuning van sy ma gekry nie. Toe hy tuiskom, het hy ontdek dat sy al sy spesiale, persoonlike besittings wat hy in die solder gestoor het, weggegee het. Hy was ontsteld, maar haar reaksie was: ‘Hoe moes ons weet jy gaan dit oorleef?’ Winters het aangegaan om een van die wêreld se voorste komediante te word, maar die emosionele littekens het agtergebly.
Verstaan die volgende – jou woorde kan wonde of genesing meebring. Dit kan iemand inspireer of hulle sin van mislukking en waardeloosheid versterk. Job, wat meer verlies gely het as wat die meeste van ons ooit sal weet, het gesê: ‘Ek sou eerder iets sê wat julle kon help. Ek sou probeer om julle hartseer te verlig’ (vers 5 NLV). Hoe kan jy iemand wat seer het help? Deur jou opinie te lug? Nee, deur vir hulle die enigste opinie wat saak maak te gee – God s’n! Dis wat God te sê het: ‘…Ek het jou lief met ‘n liefde wat nooit ophou nie. Ek trek jou met troue liefde na My toe’ (Jeremia 31:3 NLV).
Sielskos: Rom 1:32-3:20; Luk 6:27-36; Ps 107:1-9; Spr 3:13-18
2022-01-27
1 Korintiërs 9:22 DB
Dis maklik om ‘geestelike amnesia’ te ontwikkel. Jy vergeet hoe jy was. Hierdie houding affekteer ook die mense waarmee jy elke dag te doen kry. Een skrywer merk op: ‘Ek het ‘n kennis by die werkplek wat al die negatiewe karaktereienskappe van evangeliese Christene uitbeeld. Sy is veroordelend, haar optrede grens aan die bisarre, sy is heeltemal (en aspris) uit voeling met die omstandighede van die dag. Sy sien elke poging om haar evangelisasie te demp as vervolging. Niemand van ons wil soos sy wees nie, dus beweeg ons in die teenoorgestelde rigting en word ons pogings so subtiel, dat dit onopmerkbaar word.’ Hoe kan ons ons geloof deel, terwyl ons ‘n hoë vlak van integriteit handhaaf?
1) Vra opregte vrae en luister met ‘n gees van omgee.
2) Indien gepas, sê vir ander dat jy vir hulle bid – en doen dit dan!
3) Bid terwyl jy werk toe ry en vra God om jou te help om jou werkplek as ‘n sendingsveld te sien.
4) Moenie die belangrikheid van geloof in jou lewe afmaak nie. Waar dit natuurlik in ‘n gesprek na vore kom, praat oor die kerk, gebed, die Skrif en Christelike gemeenskap.
5) Demonstreer God se liefde teenoor alle mense deur ‘n kosinsameling of ‘n ander liefdadigheidsprojek by jou maatskappy te inisieer.
6) Strewe na uitnemendheid. Wees die persoon op wie jou bestuurder en kollegas staatmaak.
7) Nooi kollegas na geleenthede saam met Christen-vriende. Nie-kerkgangers is dikwels ontvanklik daarvoor om spesiale geleenthede soos Kersfees en Paasfees by te woon.
8) Wanneer jy nie seker is wanneer om te praat nie, vra vir God en ‘…Die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik help om die regte dinge te sê. Dit sal nie julle wees wat praat nie, maar die Heilige Gees’ (Markus 13:11 DB).
9) Bo alles – behou ‘n nederige gesindheid!
Sielskos: Pred 9-12; Luk 6:17-26; Ps 104:24-35; Spr 3:11-12
2022-01-26
Jesaja 51:1 NLV
Wanneer jy mense vir Christus wil wen, kan jy dit nie met ‘n hoogheilige houding doen nie. Ongelukkig is dit hoe die samelewing baie Christene sien; hulle harte is op die regte plek, maar hulle onvermoë om met meelewing met diegene buite hul sirkel te skakel, doen God geen guns nie. As jy wil hê dat mense op die evangelie moet reageer, moet jy ‘n blaadjie uit Paulus se boek neem. ‘…Ek het probeer om soos almal te wees, sodat ek miskien party van hulle kan red’ (1 Korintiërs 9:22 ABA). Voordat jy dalk dink dat Paulus dus nie streng genoeg oor sonde was nie, lees wat hy verder sê: ‘…Dit beteken egter nie dat ek doen wat ek wil nie, want ek moet gehoorsaam wees aan God se wet… As ek my egter so by die mense aanpas, kan ek ook van hulle na Jesus toe lei…’ (1 Korintiërs 9:21-22 DB).
Paulus kon met ongelowiges meelewe sonder om hulle leefstyl te onderskryf, want hy het onthou hoe hy self was voor God hom op die Damaskuspad getransformeer het. Dis die tipe nederigheid wat jy net kry wanneer jy terugkyk en ‘…Dink aan die rots waaruit julle gekap is…’ Deur die ontvanger van God se genade te wees, het Paulus in staat gestel om te skryf: ‘…Jesus Christus het na die wêreld toe gekom om mense wat verkeerd lewe, te help om weer God se vriende te word; ek weet, want as dit by ‘n slegte lewe kom, het ek voor in die ry gestaan. Juis daarom was Jesus so goed vir my. Slegter as wat ek was, kan niemand wees nie, maar so het Jesus duidelik gewys dat Hy nie moed verloor met selfs die slegstes onder ons nie…’ (1 Timoteus 1:15-16 DB). Onthou dus vandag hoe jy was.
Sielskos: Pred 5-8; Luk 6:1-16; Ps 104:1-23; Spr 3:9-10