Hoe om finansiële sekuriteit te hê
2022-05-01Psalm 37:21 NLV
Jou begeerte na finansiële sekuriteit kan jou daarvan weerhou om te gee. Hoekom? Omdat jy voel dat elke rand wat jy weggee, nie meer onder jou beskerming is nie. Die teenoorgestelde is egter waar. Ons sin van vryheid en sekuriteit vergroot inderwaarheid wanneer ons gee, omdat om te gee ‘n verklaring is dat ons ons sekuriteit in iets anders as die bank of ons eie verdienste plaas. Om te gee is ‘n daad van vertroue in God en dit is die enigste manier om finansiële onsekerheid te oorkom. Dink aan al die dinge in die lewe waaroor ons min of geen beheer het nie. Siekte. Ongelukke. Werksverlies. Ekonomiese toestande. G’n wonder ons voel onseker nie!
Die Bybel sê: ‘Mense wat graag uitdeel, ontvang altyd meer. Daar is ander wat suinig is en hulle word arm. Mense wat ‘n ander iets gun, het self altyd oorvloed. Hulle wat ander se dors les, is self altyd verkwik’ (Spreuke 11:24-25 NLV). Vir die rasionele verstand klink dit nie reg nie, maar vir die verstand wat op die koninkryk gerig is, maak dit heeltemal sin.
Paulus skryf: ‘Dus staan die saak só: Wie suinig saai, sal karig oes; wie ruimhartig saai, sal volop oes. Elkeen moet gee soos hy in sy hart besluit het, nie uit spyt of dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. En God is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee sodat julle in elke opsig altyd van alles genoeg kan hê én ook nog oorvloedig kan wees in elke goeie werk’ (2 Korintiërs 9:6-8 NLV). ‘n Rand sal nooit meer as ‘n rand in jou hand wees nie. Wanneer jy dit egter in God se koninkryk saai, begin dit met ‘n oes waaruit jy kan pluk wanneer jy ‘n behoefte het. Om te gee is waarlik die sleutel tot finansiële sekuriteit.
Sielskos: 2 Kon 4:42-44; Mark 6:30-44