God praat met jou deur sy Woord
2022-05-03Johannes 6:63 NLV
God sal met jou deur sy Woord praat. Jesus het gesê: ‘Die woorde wat Ek aan julle gerig het, is Gees en lewe,’ maar jy kan nie net die verse wat jou goed laat voel gaan uitkies om te lees nie. Om in geloof te groei, moet jy elke dag tyd bestee om jou Bybel deur te lees. Jy kan nie arbitrêr besluit dat een vers op jou van toepassing is terwyl ‘n ander een nie is nie. ‘Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te leer wat waar is en om ons te laat besef wat verkeerd is in ons lewe… Dit is God se manier om ons voor te berei, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê ons moet doen’ (2 Timoteus 3:16-17 NLV).
Die manier om sukses in jou Christelike lewe te behaal, is om jou Bybel te ken. Dis soos die analogie van die spermsel en die eiersel. Nie die manlike spermsel of die vroulike eiersel is tot voortplanting in staat nie. Eers wanneer die spermsel die eiersel tref en die eiersel die spermsel omring, vind bevrugting plaas, wat tot lewe en geboorte lei. Dis dieselfde met jou geestelike groei.
Wanneer God se Woord en ‘n ontvanklike hart bymekaar uitkom, gaan iets gebeur! Jy kan nie langdurige blootstelling aan die Skrif klop nie. Daar sonder sal jy nie hoor wat God vir jou sê nie. Jy sal dan altyd van iemand anders se interpretasie daarvan afhanklik wees. Kan jy jou indink om so met jou man of vrou te kommunikeer? Hoe lank dink jy sal so ‘n verhouding hou? Dieselfde beginsel is op jou verhouding met God van toepassing. Laat God vandag toe om persoonlik met jou deur sy Woord te praat.
Sielskos: Num 1-2; Matt 5:13-26; Ps 35; Spr 10:28-29