God se DNA is in sy Woord

2022-05-12
2 Timoteus 3:16 NLV

Het jy al ooit gesien hoe ‘n dokter mond-tot-mond asemhaling op ‘n pasiënt doen en die pasiënt weer self begin asemhaal? Dis wat gebeur wanneer jy oor God se Woord mediteer, omdat God self lewe in die Woord geblaas het. Verbeel jouself jy is by ‘n partytjie waar mense ballonne opblaas en hulle met ‘n speld bars. ‘n Wetenskaplike sou kon uitvind watter ballon joune was, omdat jou DNA (die genetiese samestelling wat jou uniek maak), in jou asem is.

Pas nou daardie beginsel op Bybelstudie toe en jy sal verstaan hoe noodsaaklik dit vir jou geestelike lewe is. Johannes sê vir ons: ‘…die Woord was self God’ (Johannes 1:1 NLV), enige tyd wat jy dus God se Woord inneem, neem jy ook sy karaktereienskappe in. Dis hoekom die Vyand jou so besig sal probeer hou dat jy nie tyd het om jou Bybel te lees nie.

Die waarheid is dat baie van die kwessies waarmee ons sukkel, opgelos of heeltemal ge-elimineer kan word as ons ‘n honger na God se Woord ontwikkel. Jeremia, wat so moedeloos was dat hy as ‘die huilende profeet’ begin bekendstaan het, het gesê: ‘Toe U met my gepraat het, was u woorde vir my soos kos wat ek kon eet. Ek was bly, want Here, God wat oor alles regeer, U het gesê ek behoort aan U’ (Jeremia 15:16 ABA).

Jesus het elke toets en beproewing moontlik deurstaan; Hy het selfs die Versoeker weerstaan. Wat was die geheim van sy krag? Hy het gesê: ‘…’n Mens het meer as brood nodig om van te lewe. Wat jy eintlik nodig het, is om te leef van elke woord uit God se mond’ (Matteus 4:4 NLV). Neem vandag God se Woord in – dis sy DNA.

Sielskos: Num 19-21; Matt 8:18-34; Ps 44:9-16; Spr 11:10-11