2022-03-27
Efesiërs 6:2 NLV
Daar is geen opdrag op aarde wat die verskeidenheid vaardighede en begrip vereis wat deur ‘n ma benodig word om haar alledaagse pligte na te kom nie. Stop en dink wat haar werk vereis. Sy moet die inwonende sielkundige, dokter, teoloog, onderwyser, verpleegster, sjef, taxibestuurder, brandweerman en by geleentheid die polisieman, wees. Dink wat dit jou sou kos om al hierdie vaardighede te huur. Selfs al kon jy, hoe sou jy weet dat jy hulle kan vertrou?
Gaan in die middel van die oggend saam met Ma op ‘n besoek aan die pediater. Nadat sy vyf-en-veertig minute met ‘n moeilike, koorsige kind op haar skoot deurgebring het, word sy en die baba uiteindelik by die spreekkamer ingeroep. Die dokter ondersoek die siek kind en sê dan met ‘n reguit gesig vir die vrou: ‘Maak seker dat jy hom vir vier of vyf dae stil hou. Moenie toelaat dat hy die uitslag krap nie. Maak seker hy hou sy medisyne in en jy sal ook sy stoelgange moet dophou.’ ‘Reg so, dokter! Enige ander voorstelle?’ ‘Net een. Hierdie siekte is aansteeklik, so hou jou vier ander kinders weg van hom af en dan sien ek julle weer oor ‘n week.’
Die wonderbaarlike ding is dat die meeste ma’s hierdie werk gedoen sou kry – en hulle sou dit met liefde en wysheid doen. Dit gebeur omdat God hulle goed gemaak het met wat hulle doen. Hy het hulle ook ‘n passie vir hulle kinders gegee. Hulle sal, letterlik, hulle lewe vir die kinders wat aan hulle sorg toevertrou is, neerlê. Dis hoekom hulle ons bewondering verdien. Die woord vir jou vandag is dus – ‘Eer jou… moeder…’.
Sielskos: 1 Sam 17:4-51; Ef 6:10-18
2022-03-26
Openbaring 21:5 NLV
Johannes het geskryf: ‘Ek het ook die heilige stad wat aan God gewy is, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien neerkom. Die nuwe Jerusalem was soos ‘n bruid wat vir haar eggenoot mooigemaak is. Ek het toe ‘n kragtige stem van die troon af hoor sê: ‘Kyk, die tentwoning van God is nou onder die mense opgeslaan. Hy sal by hulle bly, en hulle sal sy volke wees en God sal self by hulle wees as hulle God. Hy sal elke traan van hulle oë afvee en die dood sal glad nie meer bestaan nie. Ook hartseer of smartkrete of pyn sal glad nie meer bestaan nie. Die ou dinge het eenvoudig verbygegaan.’ Hy wat op die troon sit, het toe gesê: ‘Kyk, Ek maak alle dinge nuut.’ En Hy sê verder: ‘Teken dit aan, want hierdie woorde is geloofwaardig en betroubaar’ (verse 2-5 NLV).
As verloste kind van God, word jy van ‘n tuiste in die hemel en burgerskap in ‘die nuwe Jerusalem,’ gewaarborg. Johannes gaan voort: ‘Die engel wat met my in gesprek was, het ‘n goue meetstok vasgehou. Die doel was om daarmee… die stad self… te meet’ (vers 15 NLV). Die stad is ‘n presiese vierkant van meer as 2 200 kilometers (sien vers 16 NLV). Dit sal dus ongeveer veertig keer die grootte van Engeland, tien keer so groot soos Frankryk en groter as Indië wees. En dis net die grondvloer! Dis so hoog soos wat dit wyd is; seshonderd verdiepings hoog – meer as genoeg plek vir biljoene mense om in te woon. Hier is egter die vraag: Wanneer jy sterf, sal jy hemel toe gaan?
Sielskos: Job 29-31; Luk 20:1-8; Ps 38:13-22; Spr 8:24-26
2022-03-25
1 Johannes 1:9 NLV
Die verhaal van Dawid en Batseba is die tipe storie waarvan rolprente gemaak word – wellus, owerspel, buite-egtelike swangerskap, moord en ‘n toesmeerdery. Dit het ook gelyk of Dawid met alles wegkom, behalwe vir een belangrike detail: ‘…Maar die Here was baie ontevrede met dit wat Dawid gedoen het’ (2 Samuel 11:27 NLV).
In die Bybel, verwys God na Dawid as ‘…’n man na sy hart…’ (1 Samuel 13:14 NLV), maar ons lees ook in dieselfde Bybel: ‘…Weet dan dat julle sonde aan die lig sal kom’ (Numeri 32:23 NLV). God het dus die profeet Natan gestuur om vir Dawid te sê: ‘…Ek het jou tot koning van Israel gesalf… Hoekom het jy dan die woord van die Here geminag…?’ (2 Samuel 12:7,9 NLV). Toe het God sy oordeel gevel: ‘Omdat jy dit gedoen het, sal Ek, die Here, toesien dat jou eie huis ellendes oor jou bring… Ek sal dit openlik voor die hele Israel doen’ (2 Samuel 12:10-12 NLV). Van daardie dag af het tragedie en onrus Dawid se familie geteister.
God sal in sommige gevalle jou vrede wegneem sodat jy jou sonde moet erken. Dit het ‘n onbeplande swangerskap, die moord van ‘n onskuldige man, ‘n kind se dood, ‘n profeet se oortuiging en die oortuiging van die Heilige Gees geneem voor Dawid se hart sag geword het en hy erken het: ‘…Ek het teen die Here gesondig…’ (2 Samuel 12:13 NLV). ‘As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV).
So lank as wat jy aanhou om jou sonde te verskoon, te verdedig en te rasionaliseer, kan God niks vir jou doen nie. Die oomblik wat jy dit egter teenoor Hom bely, sal Hy jou vergewe. Is dit nie wonderlik nie?
Sielskos: Job 24-28; Luk 19:41-48; Ps 38:1-12; Spr 8:22-23
2022-03-23
Filippense 1:6 NLV
Paulus skryf: ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi…’ (vers 6 NLV). Jy sal opmerk dat Jesus gereeld tyd uit sy besige skedule geneem het om te bid. Hy sê ook vir ons hoekom Hy dit gedoen het: ‘…die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen. Wat die Vader ook al doen, dit doen die Seun net so. Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen…’ (Johannes 5:19-20 NLV).
Onder die gewig van ons sonde, het Hy aan die kruis uitgeroep: ‘…My God, my God, waarom het U my verlaat?’ (Matteus 27:46 NLV). Sy woorde leer ons drie belangrike dinge: 1) Ons kan God se plan volg en steeds by tye oorweldig en alleen voel. 2) Wanneer God nie antwoord nie, moet ons oefen om op die beloftes wat Hy in sy Woord vir ons gee, te staan. 3) Die pyn wat ons voel, sal uiteindelik in die vreugde wat aan die ander kant daarvan wag, verander.
Hou dus by God se plan; solank as wat jy dit doen, is daar niks wat die Vyand kan doen om jou te vernietig nie. Die Bybel sê: ‘Maar geen wapen wat teen jou gemik word, sal iets teen jou kan uitrig nie… Dit is die erflating van die dienaars van die Here…’ (Jesaja 54:17 NLV). Wanneer jy voel of jy nie verder kan gaan nie, doen wat Jesus gedoen het en bid: ‘…Vader, in u hande gee Ek my gees oor!..’ (Lukas 23:46 NLV). Met ander woorde, gee dit alles aan God oor. Vertrou Hom om te doen wat jy nie kan nie en jou deur dit alles tot oorwinning te bring.
Sielskos: Job 18-20; Luk 19:11-27; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18
2022-03-22
Efesiërs 1:11 NLV
God sê: ‘Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde’ (Openbaring 22:13 NLV). God bepaal die eindresultaat wat Hy wil hê en begin dan by die begin en werk dan daarnatoe. Josef het ontdek dat selfs wanneer jou familie teen jou draai, God se plan steeds in werking is. Toe hy daarop terugkyk, het Josef gesê: ‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is…’ (Genesis 50:20 NLV). Moet egter nie ‘goed’ met ‘gemaklik’ verwar nie. Wanneer God jou korrigeer en jou lei, voel dit nie altyd goed nie. Dit is egter goed! Dawid het gesê: ‘Die lyding was goed vir my, want toe het ek u voorskrifte geleer’ (Psalm 119:71 NLV).
Indien jy nie seker is van God se plan nie, soek Hom totdat Hy dit vir jou wys. Ander dinge mag dalk dringender lyk, maar niks is belangriker nie. As jy reeds God se plan ken, kan jy seker wees dat geen menslike optrede dit kan kanselleer nie. Die Psalmdigter het geskryf: ‘Here, U sal u doel met my bereik, want u troue liefde, Here, ken geen einde nie…’ (Psalm 138:8 NLV). Daar is geen situasie wat Satan kan uitdink waarvoor God nie reeds vir ‘n uitweg gesorg het nie.
Paulus stel ons gerus: ‘…God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou’ (1 Korintiërs 10:13 NLV). Dis in die tye wat jy getoets word, wat jy ontdek dat God getrou is. Hy sal jou strek, maar nooit verder as jou breekpunt nie. Sy plan vir jou is om sterker en gereed vir dit wat volgende op sy agenda is, uit hierdie ervaring te kom.
Sielskos: Job 15-17; Luk 19:1-10; Ps 13; Spr 8:14-16
2022-03-21
Lukas 6:37 NLV
Sodra jy verstaan dat ouers nie altyd in staat is om dit vir hulle kinders te gee wat hulle self nie ontvang het nie – naamlik liefde, versorging, aanvaarding en fisiese geneentheid – word dit makliker om hulle te vergewe.
Die skrywer Stormie Omartian sê: ‘Soms maak dit wat een ouer nie gedoen het nie, net so seer as die een wat mishandel het. ‘n Ouer se onbetrokkenheid en onwilligheid om in te tree en jou te red, voel soos verraad. Onvergifnis vir ‘n onbetrokke ouer is moeiliker om te herken, maar meer algemeen as wat ons dink. Vra God om vir jou te wys of jy enige onvergifnis het teenoor ‘n ouer wat nie tot jou redding gekom het nie. As dit daar is, moet jy daardie gevoelens eerlik hanteer.
Die eerste stap is om God se vergifnis te ontvang en toe te laat dat die realiteit daarvan ons diepste binneste binnedring. Wanneer ons besef hoeveel ons al vergewe is, het ons geen reg om iemand anders te veroordeel nie. Om vergewe en vrygestel te word van alles wat ons ooit gedoen het is so ‘n wonderbaarlike gawe, hoe kan ons dus weier om gehoorsaam te wees wanneer God ons vra om ander te vergewe?
Vergifnis is ‘n tweerigting straat. God vergewe jou en jy vergewe ander mense. Ons baseer ons besluit nie op dit wat ons voel ons wil doen nie, maar op dit wat ons weet reg is.’
Jesus het gesê: ‘Hou op om ander te oordeel, en julle sal nie geoordeel word nie… As julle ander vergewe, sal julle vergewe word’ (vers 37 NLV). Deur te kies om te vergewe en nie toe te laat dat iemand anders se sonde dit wat jy voel en doen voorskryf nie, word jy vry om in vrede te leef.
Sielskos: Job 11-14; Luk 18:31-43; Ps 116:12-19; Spr 8:10-13