Wat beteken dit om te mediteer?
2022-05-19Psalm 119:15 NLV
‘n Ander woord vir meditasie is oorpeinsing of herkouing. ‘n Koei herkou haar voedsel. Sy eet gras, kou dit goed en sluk dit dan in. Dit sit dan vir ‘n ruk in haar maag en ‘n klein bietjie later bring sy dit weer op – met hernude smaak. Die koei kou dit nog ‘n bietjie en sluk dit weer in. Hierdie proses gaan in al vier haar mae voort. Dit is herkouing. Die koei verkry elke moontlike stukkie voeding uit die gras uit.
Meditasie is eenvoudig die vertering van gedagtes. Meditasie beteken nie dat jy jou gedagtes in neutraal plaas en aan niks sit en dink nie. Inteendeel, dis om ernstig na te dink oor wat jy lees. Jy staan byvoorbeeld by een vers in die Skrif stil en vra: ‘Wat beteken dit vir my lewe?’ Jy praat met jouself en met God daaroor. Die Bybel sê: ‘…julle moet altyd dink aan die dinge wat waar is, wat mooi is, wat reg is, wat rein is, wat pragtig en goed is. Ja, julle moet dink aan alles wat mooi is, alles waarop ‘n mens trots kan wees… dan sal God wat vrede gee, by julle wees’ (Filippense 4:8-9 ABA). Let op dat ons oor verskillende kategorieë moet nadink om, by implikasie, dit te vermy om oor die teenoorgestelde soort dinge te dink.
Kolossense 3:16 sê: ‘Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal…’ (NLV). Jy moet elke dag tyd – ‘n minimum van tien tot vyftien minute – bestee waar jy gaan sit, ‘n deel van jou Bybel lees en diep nadink oor dit wat jy pas gelees het. Praat dan in gebed met die Here daaroor. Dit is die beginpunt vir geestelike verandering en groei.