Hoe God ons verander (2)
2022-05-17Spreuke 20:30 NLV
Nog ‘n manier hoe God ons verander, is deur omstandighede. Probleme, druk, hartseer, moeilikheid en stres trek altyd ons aandag. C.S. Lewis het gesê: ‘Pyn dring daarop aan dat ons aandag daaraan gee. God fluister vir ons in ons plesier, maar skree vir ons in ons pyn.’ Die Bybel sê: ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet… Want God het hulle reeds vooruit geken, en Hy het hulle aangewys om soos sy Seun te word…’ (Romeine 8:28-29 NLV). Niks kan in jou lewe sonder jou hemelse Vader se toestemming, gebeur nie.
Die interessante ding oor hoe God omstandighede gebruik, is dat die bron daarvan geen verskil vir Hom maak nie. Ons bring dikwels probleme oor onsself. Soms word dit deur ander mense veroorsaak. Ander kere weer sorg die Vyand dat daar dinge met ons gebeur. Die bron van die omstandighede is egter irrelevant. God het gesê: ‘Ek sal dit by my plan vir jou lewe laat inpas, om jou soos Jesus Christus te maak.’ Dit beteken dat daar geen omstandighede is waaruit ons nie iets kan leer nie. Hoekom het Salomo gesê: “‘n Pak slae suiwer die kwaad. Dit maak die binnekant skoon”? Omdat ons slegs kan verander wanneer ons vrees vir verandering deur ons pyn oorskry word.
As jy meer soos Jesus wil word, dink oor die volgende Skrifgedeelte na: ‘Selfs al was Hy die Seun, het Hy gehoorsaamheid geleer deur wat Hy gely het’ (Hebreërs 5:8 NLV). As God die uitdagings, konflikte en omstandighede van die lewe gebruik het om sy Seun vir sy doelwit voor te berei, sal Hy dan ook nie dieselfde in ons lewens doen nie? In plaas daarvan om dus vanuit jou omstandighede te probeer ontsnap, leer uit hulle en word sterker.
Sielskos: Num 30:1-32:24; Matt 10:1-10; Ps 22; Spr 11:16-18