Moenie dit weerhou nie – gee dit!

2022-05-13
Genesis 22:16-17 NLV

God sal jou nie vra vir dit wat jy nie het nie, maar soms sal Hy jou vir die ding vra wat jy regtig graag wil behou. Hoekom? Om te sien of daar iets is wat vir jou kosbaarder is of waarop jy meer as op Hom staatmaak.

Abraham is soos niemand anders in die geskiedenis getoets nie. Hy het egter die toets geslaag en is soos min mense in die geskiedenis geseën. Verbeel jouself God sê vir jou: ‘…Neem jou seun, jou enigste seun… wat jy so liefhet, en gaan na die land Moria. Offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal wys’ (vers 2 NLV). Kan jy jou die vrae indink wat deur jou gedagtes sal maal? G’n wonder Abraham is ‘…vriend van God…’ (Jakobus 2:23 NLV) en ‘…die geestelike voorvader…’ (Romeine 4:11 NLV), genoem nie. Toe die toets verby was, het God gesê: ‘…Omdat jy My gehoorsaam het en nie eens jou geliefde seun van My weerhou het nie, neem Ek ‘n eed dat Ek jou oorvloedig sal seën. Ek sal jou nageslag vermenigvuldig tot ‘n ontelbare menigte, soos die sterre aan die hemel… Deur jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word. Dit sal alles gebeur omdat jy My gehoorsaam het’ (Genesis 22:16-18 NLV).

Hier is dus die vraag: Wat vra God van jou? Worstel jy tans daarmee? Weerhou jy dit wat Hy wil hê? Isak was die moeilikste saad wat Abraham ooit moes saai. Daardie saad het egter ‘n oes van seën geproduseer wat groter is as enigiets wat Abraham ooit kon gedroom het. Wat vra God vandag van jou? Wanneer jy ja sê vir Hom, sal jy ‘n hele nuwe vlak van seën in jou lewe ervaar. Probeer dit en kyk wat gebeur.

Sielskos: Num 22-24; Matt 9:1-13; Ps 44:17-26; Spr 11:12-13