Wees betroubaar

2022-05-11
Matteus 25:21 NLV

In die Skrif, beteken betroubaarheid om standvastig, stabiel, betroubaar en konsekwent te wees. Beskryf hierdie karaktereienskappe jou? Betroubaarheid betaal groot dividende by God. “‘n Betroubare man sal geseën word…” (Spreuke 28:20 NLV). Jesus het gesê: ‘…baie is geroep, maar min uitverkies’ (Matteus 20:16 AFR53). Hoekom is dit so? Omdat talent die deur vir jou kan oopmaak en vir jou die werk kan kry, maar karakter en betroubaarheid sal jou in die werk hou. Wanneer dit by betroubaarheid kom, sal God jou op twee maniere toets:

1) Jou betroubaarheid in iemand anders se visie. ‘En as julle nie betroubaar is met ander mense se geld nie, waarom sal julle met julle eie geld vertrou word?’ (Lukas 16:12 NLV). As jy krities, bytend, klaend of kompeterend is of jouself gedurig met ander vergelyk, word jy vir dit wat God vir jou in gedagte het, gediskwalifiseer. Betroubaarheid vereis dat jy met liefde en nederigheid dien.

2) Jou betroubaarheid in klein dinge. ‘Die eienaar het hom geprys en gesê: ‘Uitstekend! Jy is ‘n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou… Aan hulle wat dit wat aan hulle toevertrou is goed gebruik, sal nog meer gegee word… Maar van hulle wat niks kan wys nie, sal selfs die bietjie wat hulle het, ook nog weggeneem word’ (Matteus 25:23,29 NLV).

God wil weet dat Hy jou kan vertrou. Jy bewys dat Hy kan deur hoe goed jy ander dien en deur jou betroubaarheid in die klein dinge. Hierdie is bewese Bybelse beginsels wat nie net in geestelike kwessies werk nie, maar ook in die alledaagse lewe. Neem dus vandag ‘n paar oomblikke om met gebed jouself die volgende vraag te vra: ‘Is ek betroubaar?’ As jy is, sal God jou seën.

Sielskos: Num 16-18; Matt 8:1-17; Ps 44:1-8; Spr 11:9