Stop en vra vir aanwysings

2024-01-16
Johannes 16:13 NLV

Om besluite te neem sonder om God se leiding te soek is soos om sonder ‘n radar of kompas te vlieg. Jy kan doen wat volgens jou kennis en ervaring vir jou sin maak, maar dit wat ‘reg lyk’ kan op die ou einde dit wat die belangrikste vir jou is, vernietig. Die Bybel sê dat selfs die mees diepgaande menslike denke vir God dwaas is (sien 1 Korintiërs 1:18-20). Hy alleen ken die pad en Hy wil vooruit loop.

Dis ‘n fout om te aanvaar dat elke geleentheid wat oor jou pad kom, van God af kom. Paulus sê: ‘…Die Satan self gee immers voor dat hy ‘n engel van die lig is’ (2 Korintiërs 11:14 NLV). Sy uitnodigings word so verpak dat dit lyk asof hy jou beste belange op die hart dra, maar sy pad lei onvermydelik altyd tot ondergang (sien Johannes 8:44).

God se Woord is ontwerp as ‘…’n lamp vir [jou] voete en ‘n lig op [jou] pad’ (Psalm 119:105 NLV), om jou op regverdige paaie te lei. Jesus het gesê: ‘Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid. Hy sal nie uit Homself praat nie, maar net sê wat Hy hoor. Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel’ (Johannes 16:13 NLV).

Die waarheid is dat die meeste van ons nie vanself God se wil soek nie. Dis eers wanneer sy Gees in ons harte begin praat dat ons sy wil begin begeer. Neem tyd om die Heilige Gees se leiding te soek. Vertrou Hom. Hy verstaan die nagevolge van jou keuses. Hy sal vir jou die ‘groter prentjie’ wys en jou help om op die regte pad te bly.

Sielskos: Lev 26-27; Matt 6:1-8; Ps 74:12-23; Spr 2:7-8

Waak teen afguns en jaloesie

2024-01-15
Galasiërs 5:26 NLV

Paulus het die vroeë kerk teen afguns gewaarsku en dis steeds vandag ‘n probleem. Jou kollega kry ‘n salarisverhoging, ‘n vriend se kind wen ‘n beurs, ‘n buurman gaan op ‘n droomvakansie. Is jy saam met hulle bly, of forseer jy ‘n stywe glimlag? Ons is menslik; ‘n sprankie jaloesie elke nou en dan is normaal. Waak egter daarteen om altyd onvergenoegd te wees. Tacitus het gesê: ‘Wanneer mense vol afguns is, verag hulle alles… goed of sleg.’

Wanneer iemand anders voorspoedig is, voordat jy vra: ‘Hoekom nie ek nie?’ vra jouself af of jy op dieselfde manier sou reageer as hulle een of ander tragedie oorgekom het. Een skrywer herinner ons: ‘Wanneer ons onsself in die vallei bevind, is dit menslik om jaloers op diegene bo-op die berg te wees. Dit is maklik om te vergeet dat hulle nie daar geval het nie – hulle het soontoe geklim. Agter elke suksesstorie is daar altyd ‘n moeilike besluit en ‘n dapper daad. As ons hulle wil bereik, moet ons begin klim. Inspirasie mag ons dalk aan die gang kry, maar die sukses lê in die klim.’

Dink aan ‘n naelloper; hy is vinnig, gefokus en voor die res van die groep. Dan begin hy na sy kompetisie kyk. Kort voor lank struikel hy, verloor sy momentum en val uit die resies uit. Dis wat gebeur wanneer jy toelaat dat jaloesie jou aandag aflei van die koers wat God vir jou beplan het. Paulus skryf: ‘Julle het so goed gevorder. Wie het julle gekeer om die waarheid te bly gehoorsaam?’ (Galasiërs 5:7 NLV). Hou jou oë op die prys en moenie jou aandag laat aflei deur wat ander mense het en nie het nie. Dis nie jou saak nie.

Sielskos: Lev 23:26-25:55; Matt 5:38-48; Ps 74:1-11; Spr 2:6

Groei deur kritiek

2024-01-14
Spreuke 13:18 NLV

Salomo het gesê: ‘…Hy wat ‘n teregwysing ter harte neem, ontvang eer.’ Charlie Shedd gee ons tien maniere om deur kritiek te groei:

1) Kritiek is dikwels ‘n kompliment. Jesus het gesê: ‘Julle is gelukkig as ander mense julle haat, julle verstoot en julle sleg behandel. As hulle julle beledig en julle goeie naam onder hulle voete vertrap omdat julle my volgelinge is, moet julle baie bly wees… want daar wag ‘n groot beloning op julle in God se nuwe wêreld’ (Lukas 6:22 DB).
2) Aanvaar dat jy foute het wat kritiek kan ontlok. Bly nederig, dan sal kritiek jou nie van stryk bring nie.
3) ‘…Opregte mense se woorde red ander mense’ (Spreuke 12:6 NLV). Vra jou vriende in watter areas jy kan verbeter; dan wanneer jou vyande jou kritiseer, werk jy reeds daaraan.
4) Laat kritiek jou verbeter. ‘…as julle geduldig is wanneer julle swaarkry omdat julle goeie dinge doen, dan sal God goed wees vir julle’ (1 Petrus 2:20 ABA).
5) Jy moet sommige kritiek ignoreer, veral as dit in vals beweegredes gewortel is. Moet nooit ongelukkige mense die sleutel tot jou geluk gee nie.
6) Hou dit in perspektief. Almal het dit nie gehoor nie. Die meeste mense gee nie om nie. Een slegte woord kanselleer nie die goeie in jou nie.
7) Laat kritiek toe om jou meer barmhartig te maak. Herinner jouself daaraan dat jy al ander mense ook gekritiseer het.
8) Bid vir jou kritici. Dit sal hulle verbeter en jou bitterheid neutraliseer. Haat vernietig jou gesondheid en steel jou geluk.
9) Vind uit wat God daaroor sê. Hoe lyk dinge diep binne-in jou siel?
10) Wanneer jy seker gemaak het dat jy reg is, beweeg aan. Maak met stille vertroue klaar wat jy begin het, want God se beloftes is vir diegene wat volhard (sien Hebreërs 6:12).

Sielskos: Eks 20:4-6; Deut 7:17-8:2; Jes 40:18-31; Kol 3:5-10

Moenie bang wees om oud te word nie (2)

2024-01-13
Psalm 92:15 NLV

Laat die gedagte aan ouer word jou depressief voel, maak dit jou angstig of fatalisties in jou lewensuitkyk? Indien dit die geval is, lees die volgende: ‘Geplant in die Here se woning groei hulle weelderig, daar in die tempel van ons God. Al is hulle oud, is hulle ‘n aanwins; hulle is vars en lewenskragtig’ (vers 14-15 NLV). Hier is hoe om ‘vars en lewenskragtig’ soos jy ouer word, te bly:

1) Pas jou gesondheid op. Navorsing wys dat goeie gesondheid die belangrikste faktor is om geluk in jou latere jare te bepaal. Eet gesond en oefen dikwels. Drink baie water, neem jou daaglikse vitamiene en gaan vir gereelde doktersondersoeke. Dit sal jou nie meer tyd waarborg nie, maar dit sal die kwaliteit van jou tyd hier op aarde bepaal.

2) Lyk op jou beste. Trek stylvol, soos jou begroting dit toelaat, op elke ouderdom aan. Wanneer jy goed lyk, voel jy goed – en geïnspireerd. Hou egter jou pogings om aantreklik te lyk, in balans. Dink twee keer en doen jou huiswerk voor jy voor kosmetiese chirurgie swyg. Sommige kan baie gevaarlik wees. ‘Skoonheid is soms misleidend. ‘n Mooi voorkoms hou nie vir altyd nie. ‘n Vrou wat ontsag het vir die Here verdien om geprys te word. Gee vir haar die waardering wat sy verdien. Laat sy erkenning geniet in die stadspoort’ (Spreuke 31:30-31 NLV).

3) Help waar hulp benodig word. Moeder Teresa het gesê: ‘Ons kan nie groot dinge doen nie. Ons kan net klein dinge met groot liefde doen.’ Jy sal verbaas wees oor die gevoel van krag, eiewaarde en bevrediging wat jy voel wanneer jy aan die behoeftes van ander voldoen. ‘n Onbekende digter het geskryf: ‘It’s loving and giving that makes life worth living!’

Sielskos: Lev 21:1-23:25; Matt 5:27-37; Ps 71:17-24; Spr 2:3-5

Moenie bang wees om oud te word nie (1)

2024-01-12
Jesaja 65:22 NLV

Ons leef in ‘n wispelturige samelewing waar ‘n paar plooie jou eiewaarde kan vernietig. Jy kan egter nie ‘n slagoffer van daardie waardesisteem wees nie. ‘My volk sal so oud word soos ‘n boom. Hulle wat Ek uitverkies het, sal die vrug geniet van hulle eie handewerk’ (vers 22 NLV). Daar is ‘n gesegde wat lui: ‘Age is an issue of mind over matter. If you don’t mind, it doesn’t matter!’ Dus:

1) Bou ‘n sterk verhouding met God. Bestee tyd om met Hom te praat en sy Woord te lees. ‘…Hou vas aan my opdragte. Dit sal jou lank laat lewe en jou ‘n vol lewe gee’ (Spreuke 3:1-2 NLV).

2) Aanvaar die realiteit van oud word. Jy het begin verouder van die oomblik toe jy verwek is. Op die dag van jou geboorte, was jy reeds nege maande oud. Daarom is bekommernis oor ouer word net so nutteloos soos om jouself te bekommer oor die son wat elke dag ondergaan. In plaas daarvan om jou oor die lengte van jou lewe te bekommer, maak die meeste van elke dag. Kyk elke oggend in die spieël en verklaar: ‘Dit is die dag wat die Here gemaak het. Ek gaan daaroor juig en bly wees’ (sien Psalm 118:24).

3) Sorg dat jy altyd ‘n doelwit het. Dit hoef nie iets groots in die oë van die wêreld te wees nie, net iets waarna jy kan uitsien om met jou hande en jou gedagtes te doen. Eleanor Roosevelt het gesê: ‘Ek kon op geen ouderdom tevrede wees om êrens in ‘n hoekie te sit en bloot toe te kyk nie.’ Lees, groei, dra by, bly betrokke, leef tot jou laaste asem!

Sielskos: Lev 18-20; Matt 5:13-26; Ps 71:1-16; Spr 2:1-2

Wat dit beteken om ‘lief’ te wees vir iemand

2024-01-11
1 Johannes 4:17 NLV

Die woorde ‘liefde’ beteken in vandag se kultuur verskillende dinge vir verskillende mense. Jy kan vir jou man of vrou, jou hond, jou land, jou nuwe selfoon of jou kar lief wees. Jy is egter nie op dieselfde manier vir jou man of vrou lief as wat jy vir jou selfoon of kar lief is nie, nie waar nie? Die televisie- en poniekoerantliefde waar jy rondval tussen bedmaats en jou liefde aan elkeen verklaar is nie ware liefde nie, dis selfsug en onvolwassenheid.

Die Bybelse woord ‘agape’ (God se liefde) is ‘n onvoorwaardelike toewyding aan liefde wat in ‘n besluit wat onveranderd bly, gewortel is. Dit verander nie, of die liefde wedersyds is of nie. Dis ‘n besluit van jou hart om die goeie in die ander persoon te soek, maak nie saak hoe hulle reageer nie.

Toe die King James Bybelvertalers op die Griekse woord ‘agape’ afgekom het, het hulle benewens die woord ‘liefde,’ dikwels die woord ‘liefdadigheid’ gekies om dit te vertaal. Dit was bedoel om die idee te versterk dat liefde ‘n onbaatsugtige, onvoorwaardelike liefde is. Dit beteken dus vriendelikheid, respek en lojaliteit teenoor jou geliefde. ‘…God is die liefde self en almal wat uit dié liefde leef, leef in ‘n hegte verhouding met God en God met hulle. Hiertoe is God se liefde ten volle in ons verwesenlik… Want dan sal ons ook in hierdie wêreld wees soos Hy is’ (verse 16-17 NLV).

Wat ons van die wêreld onderskei is nie ons woorde nie, maar ons liefde vir mekaar. Wanneer ons ons verskille kan oorkom, wanneer ons grense van denominasie, ras en kultuur kan oorsteek en mekaar waarlik lief kan hê, word die wêreld na Christus toe aangetrek en begin dit aandag aan ons woorde gee.

Sielskos: Lev 15-17; Matt 5:1-12; Ps 46; Spr 1:32-33