Reageer met liefde
2024-03-011 Petrus 3:9 NLV
Sommige van die negatiewe mense in jou lewe het ‘n gebrek aan intieme verhoudings. Dus hou hulle ander mense op ‘n afstand, deel nie maklik hulle gevoelens nie en is ongemaklik met mense wat dit wel doen. Hulle vind dit makliker om te veroordeel as om te aanvaar. Hulle sienswyse maak hulle onbuigsaam. Dikwels kan hierdie mense nie vryheid hanteer nie. Deur dit te verstaan sal jou help om hulle op die regte manier te hanteer.
Petrus gee ons riglyne hoe om dit te doen. (Interessant genoeg is dit nou die ouer, sagter, meer geestelike Petrus, nie die een wat sy swaard uitgepluk en die oor van die hoëpriester se dienaar afgekap het nie, wat hierdie riglyne gee). “‘n Laaste woord hieroor: Wees almal eensgesind, simpatiek, lief vir mekaar, goedhartig en nederig. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Moenie iemand wat julle beledig, terugbeledig nie. Inteendeel, jou antwoord moet ‘n seënwens wees. Dít is waarvoor God julle geroep het en waarvoor Hy julle sal seën. Want die Skrif sê: ‘As jy die lewe wil liefhê en goeie dae wil beleef, moet jy jou tong weghou van kwaadpraat en jou lippe van leuens. Bly weg van die kwaad af, ja, doen wat goed is. Soek vrede, ja, jaag dit na! Die Here sorg vir dié wat reg doen, en Hy luister na hulle gebede. Maar die Here is teen dié wat kwaad doen'” (verse 8-12 NLV).
Die Woord vir jou vandag is dus – moenie weerwraak neem nie, reageer met liefde.
Sielskos: 1 Kon 16:1-18:15; Matt 19:1-14; Ps 61; Spr 6:16-19