Wat jy in die hemel gaan doen
2024-03-03Openbaring 21:1 NLV
Miskien is die rede hoekom baie van ons nie so opgewonde oor die hemel is as wat ons moet wees nie, omdat ons vertel is dat ons gaan rondstaan en harpe speel, liedjies sing en God vir ewig gaan aanbid. Dink daaroor. Wanneer die gesange en gebede in die gemiddelde diens op ‘n Sondagoggend langer as vyftien minute aanhou, raak baie mense verveeld. Wanneer ons dan hoor dat ons dit sonder ophou, vier-en-twintig uur ‘n dag, vir ewig in die hemel gaan doen, verstaan mens hoekom ons dit nie kan indink of opgewonde daaroor is nie.
Daar is egter meer as een manier om God te aanbid. Sterrekundiges skat dat daar honderde biljoene sterrestelsels bestaan, meer as tien sterrestelsels vir elke persoon wat vandag lewe! Jy sal dus nie uit dinge hardloop om in die hemel te doen nie en dit sal vir seker nie vervelig wees nie. Dit het biljoene mense duisende jare geneem om ‘n enkele klein planeet te verken en ons het nog kwalik ‘n duik op die oppervlak gemaak.
Om die wonders van die nuwe hemel en die nuwe aarde te verken, sal ons vir ewig geïnteresseerd hou. Ons liefde vir God sal as gevolg daarvan ook oneindig groter word. Ons sal dus nooit ophou om Hom te aanbid nie. Jesus het vir die vrou by die put gesê dat God die mense verkies wat ‘…die Vader in Gees en waarheid sal aanbid…’ (Johannes 4:23 NLV).
As jy uit onkunde aanbid, is aanbidding leeg. God wil nie net hê dat jy Hom moet aanbid nie; Hy wil hê dat jy weet Wie jy aanbid en hoekom jy Hom aanbid. Aanbidding is tweevoudig: ‘…in Gees en waarheid…’ Om die waarheid oor God te leer sal jou vir ewig besig, opgewonde, tevrede en vervuld hou.
Sielskos: Eks 20:16; Spr 24:28; Matt 5:33-37; Hand 5:1-11