Goddelike idees

2024-03-04
1 Kronieke 28:11-12 NLV

Die eerste Joodse tempel word as een van die argitektoniese wonders van die antieke wêreld beskou. Die projek, wat in die tiende eeu vC gebou is, was so groot dat Salomo dertigduisend houtkappers en tagtigduisend klipkappers in diens gehad het. Meer as drieduisend voormanne het die sewe jaar lange projek bestuur. Die tempel was die episentrum van die Joodse geloof. Dit was die plek om offers te bring. Dit was die plek van aanbidding. Dit was die plek waarheen pelgrimstogte onderneem is.

Tog was die tempel eers net ‘n deel van Dawid se verbeelding. Die kumulatiewe geskiedenis van die Joodse tempel kan na ‘n idee in die gedagtes van koning Dawid teruggevoer word. Dit was egter nie Dawid se idee nie. ‘Toe het Dawid aan sy seun Salomo die planne gegee vir die voorportaal van die tempel, die ander geboue, die skatkamers, die bovertrekke, die binnevertrekke, die vertrek van die versoendeksel en van alles wat hy in gedagte gehad het…’

Die Gees het Dawid van hierdie planne voorsien. Ons het geen idee hoe God die planne vir Dawid gegee het nie. In ‘n PDF dokument? Geestelike beelde? Gedetailleerde sketse? Een ding is egter seker: Die planne van die tempel is nie in Dawid se gedagtes vervaardig nie; hulle het hulle oorsprong in God se Gees gehad. Die tempel was nie net ‘n goeie idee nie, dit was God se idee.

Vra dus vir God vir ‘n idee. Bid vir ‘n plan. Hoekom? Om twee redes. Eerstens omdat die Bybel sê: ‘Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee’ (Psalm 37:4 NLV). Tweedens, wanneer iets sy oorsprong in God se Gees het, sal dit sekerlik slaag.

Sielskos: 1 Kon 21-22; Matt 20:1-16; Ps 66:13-20; Spr 6:23-25