Het jy verhoudingsprobleme?

2024-01-10
Spreuke 24:16 NLV

Wanneer dit daarby kom om verhoudings te hanteer, het ons almal ons sterk- en swakpunte. Om dus in ‘n verhouding te oorleef en te floreer, moet ons leer om te volhard. Selfs wanneer ons ons beste gedoen het om ons potensiaal vir mislukking te verminder, moet ons steeds daarvoor gereed wees. As ons in mislukking, skuldgevoelens en skaamte oor verspeelde kanse en verkeerde keuses in een spesifieke verhouding vasgevang bly, sal ons nooit die vryheid om ons ander verhoudings te onderhou, ontvang nie.

Jy moet jouself beloof dat jy sal oorleef, maak nie saak watter omstandighede plaasvind of watter verhoudings in die hek duik nie. Jy sal weer opstaan, daaruit leer, nader aan God beweeg en Hom vir al die seëninge wat steeds in jou lewe oorbly, dank. Wanneer jy daaraan dink, sal jy oplet dat daar nog baie seëninge in jou lewe is!

As jy aan die lang lys gawes wat in jou lewe agterbly, selfs te midde van probleme, verliese en frustrasies dink, is jy beter in staat om die groter prentjie en nie net die huidige moeilikheid te sien nie. Dankbaarheid is die beste middel teen selfbejammering en wanhoop. Danksegging lig jou terug na ‘n posisie om jou verhoudings en lewe duideliker te kan sien.

Wil jy graag hê dat hierdie verhouding moet werk? Dan moet jy jouself daaraan toewy om vir die ander persoon te bid, hulle onvoorwaardelik lief te hê en in hulle te belê. Wanneer jy dit doen, kan jy God vertrou om die res te doen!

Sielskos: Lev 13:38-14:57; Matt 4:12-25; Ps 3; Spr 1:29-31

Die gawe van belydenis

2024-01-09
Efesiërs 5:2 NLV

Geestelike genesing vind plaas wanneer jy jou probleem aan iemand wat volwasse genoeg is om dit te hanteer en toegewyd genoeg is om nie op jou op te gee nie, bely. Wat beteken dit om “‘n lewe van liefde” te leef? a) Om op God se onfeilbare liefde vir jou te vertrou. b) Om sy liefde aan ander mense te betoon. c) Om hulle liefde in ruil daarvoor te kan aanvaar. Eers dan kan jy geestelik heel word.

Jy kan net liefgehê word in die mate waarin jy geken word. Wanneer jy ‘n deel van jou lewe geheim hou, mag ander mense dalk vir jou sê dat hulle vir jou lief is, maar diep binne-in jou dink jy: ‘As jy die hele waarheid oor my geweet het, sou jy nie vir my lief wees nie.’ Dus is jy nie in staat om hulle liefde te ontvang of daardeur versterk te word nie.

Sonde isoleer ons en sonde en isolasie sal ons siel, en selfs ons liggame, siek maak. Belydenis gevolg met gebed en verbinding met mekaar en met God, nooi die Gees binne en bevorder genesing. Om ten volle geken en liefgehê te word is die grootste geskenk wat ons vir mekaar kan gee. Die Bybel sê: ‘Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word…’ (Jakobus 5:16 NLV).

Een Bybelonderwyser sê: ‘Wanneer ons onsself eerlik afvra watter persoon in ons lewens die meeste vir ons beteken, vind ons dikwels dat dit diegene is wat in plaas daarvan om raad, oplossings of genesing te gee, verkies om eerder ons pyn te deel en ons wonde met ‘n warm en teer hand aan te raak.’

Sielskos: Lev 11:1-13:37; Matt 4:1-11; Ps 42:6-11; Spr 1:24-28

Engele

2024-01-08
Psalm 91:11 NLV

Daar is meer as driehonderd verwysings na engele in die Skrif en hulle word met twee woorde beskryf: baie en magtig. Dit het egter net een engel geneem om die leeus se bekke vir Daniël toe te sluit en om Petrus uit die tronk te red die aand voor hy tereggestel sou word. Onthou jy Elisa se dienaar? Toe ‘n groot leër die stad van Dotan omsingel het, het Elisa vir God gevra om sy dienaar se oë oop te maak: ‘…Toe hy opkyk, sien hy dat daar baie perde en strydwaens van vuur op die heuwels rondom Elisa was’ (2 Konings 6:17 NLV).

As God jou oë vandag oopmaak, wat sou jy sien? Engele wat jou kinders skool toe begelei? Wat jou van ‘n dronk bestuurder beskerm? Wat die hande van die chirurg rig? Wat jou oppas terwyl jy slaap? Een Bybelonderwyser sê: ‘As jy ‘n gelowige is, moet jy verwag dat magtige engele jou in jou lewenservaring sal begelei.’

Het almal ‘n beskermingsengel? Nee, die Bybel sê: ‘Die engele is… geestelike wesens wat God uitstuur in belang van daardie mense wat gered gaan word’ (Hebreërs 1:14 NLV). Wanneer jy Jesus verwerp, verbeur jy hierdie sekuriteit, maar wanneer jy Hom as jou Here en Redder aanvaar, kry jy vier-en-twintig uur ‘n dag se beskerming: ‘Want die Engel van die Here hou wag oor almal wat Hom dien, en Hy red hulle’ (Psalm 34:8 NLV).

Jou engel waai nie net vir jou soos hy verbyvlieg nie; hy slaan sy tent op, vertoef en bly waaksaam. Jy kan in die skadu van sy vlerke rus – as dit nie jou angsvlakke verlaag nie, sal niks nie! Die feit is dat sommige van die rykste mense op aarde nie eers hierdie voordeel geniet nie! Ons is geseënd.

Sielskos: Lev 8-10; Matt 3:11-17; Ps 42:1-5; Spr 1:20-23

Werk aan jou kommunikasievaardighede

2024-01-07
Spreuke 21:11 NLV

Kommunikasievaardighede is noodsaaklik om sukses en geluk in ‘n verhouding te vind, hetsy in jou persoonlike lewe of in jou beroep. Behalwe om feite te verkry, moet kommunikasie as ‘n manier dien om insig in die hart en gedagtes van die ander persoon te vind.

Goeie kommunikasie verg vertaling. Jy leer inderwaarheid die ander persoon se taal. Ons almal gebruik dieselfde woorde, maar ons het elkeen ‘n unieke taal as dit by die liefde kom. Wat jy bedoel wanneer jy sê: ‘Ek het iemand nodig om daar te wees vir my,’ mag dalk nie wees wat die ander persoon bedoel wanneer hy of sy sê: ‘Ek sal daar wees vir jou,’ nie. Jy moet hulle taal sonder voorafgaande aannames en verkeerde projeksies wat jou in die steek laat, leer. Sulke interpersoonlike geletterheid sal jou goed in die jare wat kom, te staan kom.

Ons almal het nodig om lief te hê en liefgehê te word, maar ons maak van verskillende maniere van kommunikasie gebruik om ons begeertes uit te druk. Moenie bang wees om uitdrukkings en definisies te vergelyk om seker te maak dat julle op dieselfde bladsy is nie. ‘n Gerespekteerde Bybelonderwyser stel dit as volg: ‘Dikwels sal ek in my eie gesprekke sê: ‘Kom ek vertel jou wat ek gehoor het sodat ek kan sien of dit is wat jy bedoel het.’ Ek is geskok oor hoeveel keer ek iets heeltemal anders hoor as wat bedoel word!’

Blywende geluk vind nie plaas deur dinge te besit nie; dit vind plaas deur goeie verhoudings te hê. Werk dus daaraan om jou kommunikasievaardighede te verbeter. Dis die belegging werd!

Sielskos: Eks 20:1-3; Deut 6:1-9; Mark 12:28-34; Op 2:1-7

Blinde toeval teenoor God se opdrag (2)

2024-01-06
Hebreërs 11:3 NLV

Gepraat van ons wonderlike liggame – wat van DNA? Elke menslike sel (tot 100 triljoen) bevat ‘n databasis wat groter as die Encyclopedia Britannica is! Kon dit alles toevallig ontstaan het? Die Engelse fisikus, Paul Davies, maak die volgende vergelyking: ‘Dit is soos om ‘n stok dinamiet onder ‘n hoop bakstene te laat ontplof en te verwag dat dit ‘n huis sal bou. Jy kan genoeg energie vrystel om die stene te beweeg, maar sonder om die energie op ‘n beheerde manier aan die stene te koppel, is daar min hoop om enigiets anders as ‘n chaotiese gemors te produseer.’

Dit verg duidelik meer as ‘n hoop stene om ‘n huis te bou. Die argitek se intellek en die bouer se vaardighede is sleutelkomponente. Dis dieselfde as dit by die kompleksiteite van ‘n menslike wese kom. Die kans is nul dat al die nodige elemente wat nodig is om menselewe te begin, eenvoudig terselfdertyd op dieselfde plek op aarde bymekaar gekom het. Selfs al kon dit so plaasgevind het, kon blinde toeval nie daardie 100 triljoen selle in die volgorde wat nodig is om lewe te produseer, saamgevoeg het nie.

Die vooraanstaande wetenskaplike, Francis Crick, is nie bekend vir sy geloof nie, maar selfs hy het gesê: ‘Die oorsprong van lewe blyk amper ‘n wonderwerk te wees, so baie is die voorwaardes wat bevredig moet word om dit aan die gang te kry.’ Wat is die wonderwerk? Die Psalmdigter het gesê: ‘U self het my diepste wese gemaak, my in die moederskoot gevorm. Ek loof U omdat U my so wonderlik gemaak het…’ (Psalm 139:13-14 NLV). Dis die wonderwerk!

Sielskos: Lev 5-7; Matt 3:1-10; Ps 10:12-18; Spr 1:17-19

Blinde toeval teenoor God se opdrag (1)

2024-01-05
Psalm 139:14 NLV

Kon die lewe soos ons dit ken – plant, dier en menslike lewe – spontaan deur toeval ontstaan het? Kon ons wonderlike sonnestelsel die gevolg van ‘n ongeluk gewees het? Hoe meer gevorderd die wetenskap raak, hoe meer bewyse is daar van ‘n Meesterontwerper. Navorsers ontdek aanhoudend die goddelike ontwerp in elke klein menslike sel.

Die Amerikaanse biochemikus Bruce Alberts, die voormalige president van die Nasionale Akademie van Wetenskap, skryf: ‘Ons het nog altyd selle onderskat; ons doen dit ongetwyfeld nog steeds. Selle is die basiese boublokke van lewe. Die hele sel kan inderdaad as ‘n fabriek wat ‘n uitgebreide netwerk van verskillende proteïenmasjiene in vaste posisies het, beskou word.’

Die Psalmdigter Dawid was nie ‘n wetenskaplike nie, maar tog het hy besef dat elkeen van ons die komplekse produk van God se wonderbaarlike hande is! ‘U het self my diepste wese gemaak… My beendere was vir U sigbaar toe ek stilletjies gevorm is in die dieptes van die moederskoot. U het my gesien voor ek gebore is… Kosbaar is u gedagtes vir my, o God!.. As ek dit sou moes tel, sou hulle meer wees as sandkorrels! Wanneer ek daarmee klaar is, sal U nog by my wees’ (verse 13, 15-18 NLV).

Die gemiddelde menslike hart klop 115,000 keer per dag. Ons bloed beweeg ongeveer 19,300 kilometer elke dag. Volwassenes neem gemiddeld 18,000 tot 30,000 asemteue elke dag en al hierdie funksies neem meestal plaas sonder dat ons daarvan bewus is. Dis fantasties! Neem vandag ‘n paar minute om jou Skepper te erken en te dank vir hoe wonderbaarlik Hy jou gemaak het.

Sielskos: Lev 1-4; Matt 2:19-23; Ps 10:1-11; Spr 1:10-16