2024-02-29
2 Korintiërs 5:17 NLV
Wat sal jy graag aan jouself wil verander? Hoe sou jy dit verander? Wat sou jou eggenoot graag wou hê jy moet verander? Hoe sou jy die sin: ‘Dis tipies van my om….’ voltooi? Altyd laat te wees? Nie op ‘n dieet te bly nie? Die verkeerde ding te sê? In woede uit te bars? Hartseer te wees? Jeremia stel dit so: ‘…Kan ‘n luiperd sy kolle laat verdwyn? Dink julle miskien dat julle skielik kan begin goeie dinge doen nadat julle gewoond was om kwaad te doen?’ (Jeremia 13:23 NLV). Jy sê: ‘Dan is dit seker hopeloos.’ Nee, dis waar God se lewensveranderende krag inkom. ‘Daarom – iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’ (2 Korintiërs 5:17 NLV).
Wanneer ons ons lewens aan Christus toewy, is ons nie meer dieselfde nie; ‘n nuwe lewe het begin. Dis hoekom die Bybel sê dat ons ‘wedergebore’ is. Ons het onmiddellik ‘n nuwe gesindheid, sowel as die inwonende Heilige Gees. Dit maak die verskil. Net soos jou eerste geboorte die begin van jou lewe was, so is die nuwe geboorte die begin van hierdie nuwe lewe.
Dit word deur ‘n lewenslange proses wat in Romeine 12:2 uitgebeeld word, gevolg: ‘Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is’ (NLV).
Sielskos: 1 Kon 15; Matt 18:15-35; Ps 96; Spr 6:12-15
2024-02-28
Efesiërs 1:15-16 NLV
Bybelse gebede is kragtig. Hulle plaas dinge in perspektief. Paulus het byvoorbeeld gebid vir die Efese dat: ‘…die Vader… aan julle geestelike wysheid en insig sal gee deurdat julle Hom persoonlik ken. Mag God julle harte so verlig dat julle sal insien watter wonderlike vooruitsig sy roeping inhou… Mag julle insien hoe enorm groot die krag is wat God gebruik in ons wat glo’ (verse 17-19 NLV).
JoHannah Reardon skryf: ‘1) Maak jou gebede God-gesentreerd. Die skepper van die heelal het jou die voorreg gegee dat jy jou versoeke na Hom kan bring. Wanneer jy vir God vertel hoe groot Hy is, word jy met ‘n verwagting vervul dat iets groot kan gebeur, omdat jy met die Een wat enigiets kan doen, praat.
2) Maak jou gebede vol lofprysing. Die sleutel is nie om op jou probleme te fokus nie, maar om God te dank en te prys omdat Hy weet wat Hy doen. Leer om te sê: ‘Ek weet nie hoekom ek hierdie probleem het nie, Here, en ek sal graag wil hê dat U dinge verander. As U dit egter nie verander nie, weet ek dat U dit ten goede in my lewe sal gebruik.’
3) Maak jou gebede lewensveranderend. Die meeste van ons gebede vra God om ons omstandighede te verander. Miskien wil Hy egter vir jou verander. Dit beteken nie dat Hy nooit tussenbeide sal tree nie; Hy voorsien aan behoeftes, maak deure oop en genees mense elke dag op wonderbaarlike maniere. Wanneer jy egter jare bestee om te bid vir iets wat nooit gebeur nie, mag dit dalk ‘n leidraad wees dat jy nie op die regte manier bid nie. Paulus het vreugde in ‘n tronksel gevind en wanneer God jou oë oopmaak, sal jy ook vreugde in jou situasie vind.’
Sielskos: 1 Kon 14; Matt 18:1-14; Ps 58; Spr 6:10-11
2024-02-27
Spreuke 23:18 NLV
Is jy omring deur mense wie se missie dit is om jou ‘n ‘dosis realiteit’ te gee? Hulle wys aanhoudend uit hoe moeilik die ekonomie is, hoe sleg die arbeidsmark is en hoe die lug besig is om te val.
Jon Walker skryf: ‘Ek onthou dat my Engelse onderwyser in die hoërskool my aangeraai het om nie aansoek by Cornell Universiteit te doen nie, want hulle sou my nie aanvaar nie en as hulle sou doen, sou ek nie in staat wees om die werk te doen nie. Ek het amper nie aansoek gedoen nie, maar ‘n paar dae later het ‘n voormalige onderwyser vir my gesê: ‘As jy inkom, gaan. Jy kan dit doen.’ Sy woorde het die wêreldse verskil gemaak. Ek het aansoek gedoen en is aanvaar. Die wêreld het meer optimiste, bemoedigers en inspireerders nodig om met die harte van ander mense te praat en te sê: ‘Ek glo in jou. Volg jou passie na en lewe jou doelwit uit. As jy die begeerte het, het jy die krag om dit te laat gebeur. Hou aan om hard te werk. Die ekonomie is moeilik, maar jy kan nog steeds jou besigheid laat groei. Die arbeidsmark is nie watwonders nie, maar jy sal die regte werk kry. Selfs as jy misluk, sal dit tot iets beters lei. Jy leer en groei.’ Die verskil tussen sukses en mislukking is geloof en dikwels word daardie geloof by ons ingeprent deur iemand wat ons aangemoedig het.’
Om ‘n visie te hê beteken dit dat jy ‘n begeerte het om vorentoe te beweeg; daarsonder bly jy vasgevang waar jy is. Dit maak nie saak wat enigiemand anders dink nie; God sê: ‘Jy sal altyd ‘n toekoms hê…’ Wanneer jy na Hom kyk, sal Hy jou die krag gee om vorentoe te beweeg.
Sielskos: 1 Kon 12-13; Matt 17:14-27; Ps 53; Spr 6:9
2024-02-26
Jakobus 3:17 NLV
Buigsame mense is gelukkige mense. Hulle ervaar baie minder stres as die rigiede mense wat daarop aandring dat dinge altyd op ‘n sekere manier gedoen moet word. Een van die redes hoekom onbuigsaamheid so stresvol is, is omdat ons ons doelwitte moet bereik deur denkende mense wat dikwels hulle eie idees, wat van ons s’n verskil, het. As jy nie die tipe mens is wat ontvanklik vir nuwe idees is nie, omdat jy dit as ‘n persoonlike verwerping van jou eie idees sien, moet jy Jesus, die Groot Geneesheer, vra om korrektiewe chirurgie op jou te doen.
Die Fariseërs was die toonbeeld van perfeksionisme en onbuigsaamheid. Toe hulle Jesus daarvan beskuldig het dat Hy nie die Sabbat onderhou nie, het Hy gesê: ‘…Die Sabbat is daar ter wille van die mens – nie die mens ter wille van die Sabbat nie’ (Markus 2:27 NLV).
Hoe buigsaam is jy? Is jy so spesifiek by die huis dat jou familie op eiers loop in die vrees dat hulle een van jou eindelose voorkeure sal skend? Moet die handdoeke altyd op ‘n spesifieke manier gevou word? As planne moet verander, raak jy angstig of stop en oorweeg jy dit dat God dalk ‘n ander plan mag hê? Moenie probeer om jou gedrag te regverdig deur dit onder die mantel van ‘uitnemendheid’ te probeer wegsteek nie. Ja, jy sal graag wil sien dat dinge op die beste moontlike manier gedoen moet word; probeer egter verstaan wanneer jou gedrag die gebied van uitnemendheid verlaat en begin grens aan ‘n onbuigsame perfeksionis wat nie net vir jouself nie, maar ook vir ander, stres veroorsaak.
Die woord vir jou vandag is – ontspan. Wees bietjie buigsaam. Probeer om dinge te vat soos dit kom.
Sielskos: 1 Kon 10-11; Matt 17:1-13; Ps 40:9-17; Spr 6:6-8
2024-02-25
Efesiërs 6:18 NLV
Jy moet jou geestelike wapenrusting reg aantrek sodat al die dele inmekaar pas; anders is jy weerloos teen Satan se aanvalle. Hoe doen jy dit? Paulus sê vir ons hoe: ‘Doen alles deur gebed en smeking…’ Jou klerekas is waar jy die klere vind wat jy in die natuurlike ryk moet aantrek, maar jou gebedskas is waar jy dit wat jy in die geestelike ryk moet aantrek, vind. Net deur gebed word jy vir geestelike oorlogvoering aangetrek, moet dus nie ongeklee die stryd betree nie.
Paulus skryf: ‘Nee, soos ‘n mens jou klere aantrek, moet julle die Here Jesus Christus ‘aantrek,’ en nie ‘n duimbreedte toegee aan die begeertes van julle sondige natuur nie’ (Romeine 13:14 NLV). Dis een van die effektiefste verse in die Skrif wanneer dit daarby kom om versoeking te weerstaan.
Professionele mense wat honde leer om na hulle bevele te luister en te gehoorsaam, begin deur ‘n stuk vleis voor die hond te gooi. Die onopgeleide hond begin dadelik eet, maar uiteindelik leer die afrigter die hond om vir hom sy onverdeelde aandag te gee, maak nie saak wat voor hom neergesit word nie. Wanneer die opleidingsproses voltooi is, sal die hond nie sy oë van sy afrigter af neem nie, selfs wanneer die versoeking reg onder sy neus is.
Daar is ‘n belangrike les hieruit te leer. As jy jou oë op Jesus hou, sal dit nie saak maak watter tipe leuen of versoeking Satan oor jou pad stuur nie. Elke nou en dan sal jy dalk daarvoor wil val, maar as jy op Jesus gefokus bly en alleenlik na sy stem luister, sal jy as oorwinnaar uit die stryd tree.
Sielskos: Eks 20:15; Josua 7:1-26; Tit 2:6-10; Ef 4:28
2024-02-24
Efesiërs 6:13 NLV
Kom ons kyk na die volgende drie stukke geestelike wapenrusting wat God vir ons voorsien om in oorwinning te lewe:
1) ‘Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof…’ (vers 16 NLV). Hoekom? ‘…Dit kan al die brandpyle blus wat die Bose afskiet’ (vers 16 NLV). Onthou jy die ou westerse flieks waar daar gevegte tussen inheemse Amerikaanse Indiane en nedersetters was? Die nedersetters het hulle waens in ‘n sirkel getrek en die Indiane het vlammende pyle soontoe geskiet. Jy kan nie terselfdertyd brande en vyande bestry nie; vlammende pyle is ‘n afleiding. Satan gebruik dieselfde taktiek. Geloof (deur op God se Woord te fokus), blus egter daardie brandpyle.
2) ‘Gebruik God se verlossing as ‘n helm…’ (vers 17 NLV). Die helm beskerm jou gedagtes. Wanneer Satan fluister: ‘As jy regtig ‘n Christen was, sou jy nie…’ kan jy sy aanvalle afweer deur jou identiteit in Christus te ken – ‘n bloedgekoopte, vergewe, regverdige, hemelgebonde kind van God.
3) ‘Gebruik… as swaard, die Gees, dit is God se woord’ (vers 17 NLV). ‘Die woord van God’ waarna hier verwys word, is nie logos (die geskrewe woord) nie, maar rhéma, wat ‘uitspraak’ beteken. Dit beteken dat jy God se Woord moet spreek om Satan te verslaan; om die regte Skrifgedeelte op die regte tyd te gebruik om die probleem te hanteer. Dis hoekom Satan so met jou baklei dat jy nie jou Bybel moet lees nie. Drie keer het hy Jesus in die woestyn aangeval en drie keer het Jesus geantwoord: ‘Daar staan in die Skrif geskryf’ (sien Matteus 4:4-10). Hy het Satan met die Skrif verslaan. Die Duiwel kan nog met jou stry, maar hy het geen verdediging teen die Woord van God nie. Memoriseer dus die Skrif en gebruik dit as ‘n wapen om hom te verslaan.
Sielskos: 1 Kon 8-9; Matt 16:13-28; Ps 40:1-8; Spr 6:1-5