Verander hoe jy bid

2024-02-28
Efesiërs 1:15-16 NLV

Bybelse gebede is kragtig. Hulle plaas dinge in perspektief. Paulus het byvoorbeeld gebid vir die Efese dat: ‘…die Vader… aan julle geestelike wysheid en insig sal gee deurdat julle Hom persoonlik ken. Mag God julle harte so verlig dat julle sal insien watter wonderlike vooruitsig sy roeping inhou… Mag julle insien hoe enorm groot die krag is wat God gebruik in ons wat glo’ (verse 17-19 NLV).

JoHannah Reardon skryf: ‘1) Maak jou gebede God-gesentreerd. Die skepper van die heelal het jou die voorreg gegee dat jy jou versoeke na Hom kan bring. Wanneer jy vir God vertel hoe groot Hy is, word jy met ‘n verwagting vervul dat iets groot kan gebeur, omdat jy met die Een wat enigiets kan doen, praat.

2) Maak jou gebede vol lofprysing. Die sleutel is nie om op jou probleme te fokus nie, maar om God te dank en te prys omdat Hy weet wat Hy doen. Leer om te sê: ‘Ek weet nie hoekom ek hierdie probleem het nie, Here, en ek sal graag wil hê dat U dinge verander. As U dit egter nie verander nie, weet ek dat U dit ten goede in my lewe sal gebruik.’

3) Maak jou gebede lewensveranderend. Die meeste van ons gebede vra God om ons omstandighede te verander. Miskien wil Hy egter vir jou verander. Dit beteken nie dat Hy nooit tussenbeide sal tree nie; Hy voorsien aan behoeftes, maak deure oop en genees mense elke dag op wonderbaarlike maniere. Wanneer jy egter jare bestee om te bid vir iets wat nooit gebeur nie, mag dit dalk ‘n leidraad wees dat jy nie op die regte manier bid nie. Paulus het vreugde in ‘n tronksel gevind en wanneer God jou oë oopmaak, sal jy ook vreugde in jou situasie vind.’

Sielskos: 1 Kon 14; Matt 18:1-14; Ps 58; Spr 6:10-11