2024-02-23
Efesiërs 6:11 NLV
Elke dag van jou lewe sal jy die wêreld, die vlees en die Duiwel beveg. Om gewapen vir geestelike oorlogvoering te wees, gee Paulus ons ses spesifieke stukke geestelike wapenrusting. Hier is die eerste drie:
Die stewige ‘…waarheid as ‘n gordel om julle heupe…’ (vers 14 NLV). Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het ‘n vliegtuig baie kilometers verby sy bestemming gevlieg. Hoekom? Omdat die bemanning, wat nie besef het dat die wind baie sterk was nie, geweier het om die kajuit-instrumente te glo. Gevolglik het almal aan boord omgekom. Toe die vliegtuig jare later gevind is, was die instrumente egter in perfekte werkende toestand. Jy kan op God se Woord staatmaak om jou op die regte pad te lei.
2) ‘…God se vryspraak as borsharnas…’ (vers 14 NLV). Let wel, dis God se vryspraak, nie jou eie nie. Jy word nie gered deur op jou eie optrede te vertrou nie, maar deur op Christus se daad aan die kruis te vertrou. Wanneer jy dit weet, word God se vryspraak ‘n borsharnas wat jou hart van twyfel oor jou verlossing beskerm (sien 2 Korintiërs 5:21).
3) ‘Trek die… vrede… aan soos skoene aan julle voete’ (Efesiërs 6:15 NLV). Skoene dui aan dat jy êrens heen op pad is, moet dus nie verwag om van God te hoor as jy vasbeslote is om op dieselfde plek te bly nie. Wanneer jy begin vorentoe beweeg, sal Hy die regte rigting bevestig deur jou ‘n sin van vrede te gee (sien Kolossense 3:15). Jy sal dan weet dat jy op die regte pad is. As jy nie vrede daaroor het nie, raadpleeg God vir leiding. God wil hê dat jy ‘n blywende gevoel van sy vrede moet hê – moet dus nie daarsonder gaan nie.
Sielskos: 1 Kon 6-7; Matt 16:1-12; Ps 36; Spr 5:21-23
2024-02-22
Johannes 20:25 NLV
Johannes skryf: “Tomas… een van die twaalf, was nie saam met die ander dissipels toe Jesus daar aangekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir hom: ‘Ons het die Here gesien!’ Maar hy het vir hulle gesê: ‘As ek nie die merk van die spykers in sy hande sien… en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.’ Agt dae later was Jesus se dissipels weer saam, en Tomas was by hulle. Die deure was op slot en grendel, maar Jesus het tussen hulle kom staan… Daarna sê Hy vir Tomas: ‘Bring jou vinger hier en kyk na my hande, en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar glo.’ Tomas het vir Jesus gesê: ‘My Here en my God!'” (verse 24-28 NLV).
Jesus het ‘n twyfelaar gekies om sy dissipel te wees. Toe hy getwyfel het, het Jesus hom nie aan die kaak gestel en afgedank nie. Hy het inderwaarheid ‘n spesiale verskyning gemaak om sy twyfel op te los en sy geloof op te bou. God sê: ‘My gedagtes is anders as julle s’n…’ (Jesaja 55:8 NLV). Die waarheid is dat God nie soos ons dink nie. Hy sien die groot prentjie en Hy werk na ‘n spesifieke doel toe. Jesus het gesê: ‘Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou hanteer nie’ (Johannes 16:12 NLV).
Wanneer jy jouself dus vind waar jy twyfel, bid die volgende: ‘Here, dis nie maklik om te glo wanneer ek seer het en verward is en U swyg nie. Soos Tomas wil ek bewys hê dat U vir my lief is. Help my om verby my begeerte vir vrede en gemak, verby my twyfel en onbeantwoorde vrae te kyk en die waarheid van u onfeilbare liefde en genade te begryp.’
Sielskos: 1 Kon 3-5; Matt 15:15-39; Ps 33:13-22; Spr 5:15-20
2024-02-21
Genesis 19:14 NLV
Maak jou lewe ‘n ope boek. Vestig ‘n waardesisteem waarteen alles in die lewe geoordeel word. Wandel met God; behou jou integriteit by die werk en by die huis en jy sal elke keer die regte besluit neem. Lot het dit nie gedoen nie en hy het duur daarvoor betaal. ‘Lot is toe vinnig na buite om sy dogters se aanstaande mans te vertel: ‘Maak gou, gaan uit die stad uit! Die Here gaan dit verwoes!’ Maar die jong mans het gedink hy maak ‘n grap’ (vers 14 NLV).
Ouers, wanneer jy jou integriteit verloor, verloor jy jou geloofwaardigheid. Pas dus jou kinders fisies en emosioneel wanneer hulle jonk is en soos hulle ouer word, op. Leer jou seun om meisies te respekteer en praat met die seuns wat jou dogter op afsprake neem. Maak seker dat jy kontrolleer wat hulle en jy op die televisie en op die internet kyk. Dit beteken nie dat jy nie pret mag wees nie. Wys jou ligter kant vir jou kinders. Moenie so behep met werk of die kerk wees dat jy preuts of vervelig is nie. ‘Blydskap laat ‘n mens se gesig straal…’ (Spreuke 15:13 NLV).
Toe Lot sy familie probeer waarsku het, het hulle nie na hom geluister nie. Was hy te besig om ‘n bestaan te maak om hulle te leer wat die belangrikste in die lewe was? Het hy een ding gesê en ‘n ander gedoen? Ons weet nie. Maar hoe jy ook al daaroor dink, sy verlies was tragies. Die waarheid is dat jou integriteit, of die gebrek daaraan, gevolge sal hê, nie net in jou eie lewe nie, maar ook in jou kinders se lewens.
Sielskos: 1 Kon 1-2; Matt 15:1-14; Ps 33:1-12; Spr 5:7-14
2024-02-20
Handelinge 20:24 DB
Daar is ‘n verhaal van ‘n ryk vrou wat met die Titanic gevaar het. Toe dit die ysberg tref, het sy plek in een van die reddingsbote gekry. Sy het gevra of sy gou na haar kajuit kon terugkeer en hulle het haar drie minute gegee voor die reddingsboot sou vertrek. In haar kajuit het sy oor die geld en kosbare edelstene wat die vloer besaai het, getree en drie lemoene gegryp voor sy na die reddingsboot teruggekeer het. Omstandighede het haar waardes verander; tragedie het haar prioriteite uitgeklaar.
Die vraag is nie of jou kalender vol sal wees nie, maar wie dit sal vul en waarmee dit gevul sal word? As jy wys is, sal jy God oor jou lewensprioriteite raadpleeg en dit dan te alle tye voor jou hou (sien Spreuke 3:6).
Mense ouer as negentig jaar oud, is in ‘n opname gevra: ‘As jy jou lewe kon oorhê, wat sou jy anders gedoen het?’ Drie antwoorde het aanhoudend opgeduik: 1) Ek sou meer tyd saam met my familie en vriende bestee het. 2) Ek sou meer dinge uitprobeer het en meer risiko’s geneem het. 3) Ek sou myself aan iets gee wat sal voortleef nadat ek weg is. As jy vir elke versoek ja sê, sal jy nooit by dit waarvoor God jou geroep het, uitkom nie.
Paulus het dit uitgepluis: ‘…Al wat saak maak, is dat ek doen wat die Here vir my sê om te doen. En dit is om die goeie nuus oor God se goedheid bekend te maak.’ Jou grootste uitdaging is om dinge te dink en te doen wat uiteindelik saak maak. ‘Was hulle maar wys, sou hulle verstaan en sien wat hulle lot sal wees!’ (Deuteronomium 32:29 NLV).
Sielskos: Heb 11:17-13:25; Matt 14:13-36; Ps 28; Spr 5:3-6
2024-02-19
Matteus 14:19 NLV
Die Bybel sê Jesus: ‘…neem die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra God om die kos te seën. Toe breek Hy die brood in stukke, gee dit aan sy dissipels en sy dissipels weer aan die skare’ (vers 19 NLV). Let die verloop van hierdie verhaal op: Eers is die brode geneem, toe geseën, toe gebreek en toe aan ander gegee. Dis hoe God werk! Om ander mense deur jou te seën, sal Hy jou neem, jou seën, jou breek en jou aan ander gee.
Paulus moes van trots gebreek word. ‘…Daarom, sodat ek nie hoogmoedig moet word nie, is aan my ‘n doring in die vlees gegee… Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat. Hy het egter vir my gesê: ‘My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.’ Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend deur my kan werk… want wanneer ek swak is, juis dán is ek sterk’ (2 Korintiërs 12:7-10 NLV).
As jy dus ‘n persoon of situasie vol ‘dorings’ in jou lewe het, wil God hê dat jy sy genade en krag sal ervaar wanneer jy dit hanteer. Paulus het uiteindelik ‘n plek bereik waar hy God vir sy ‘doring’ kon dank. Die Bybel praat van ‘n ‘…voortdurende lofoffer aan God…’ (Hebreërs 13:15 NLV). Wanneer jy gewillig is om op te offer sodat jy iets kan ontvang, beteken dit dat jy dit genoeg waardeer om die prys daarvoor te betaal.
Wil jy in God se krag stap? Sy seën ervaar? Dank dan God vir jou ‘situasie vol dorings’ en omhels die breekproses waardeur Hy jou vandag neem.
Sielskos: Heb 9:1-11:16; Matt 14:1-12; Ps 5; Spr 5:1-2
2024-02-18
Psalm 51:19 NLV
Gebrokenheid lei tot seën. Om ‘n dubbele deel van Elia se gees te ontvang, moes Elisa, wat ‘n boer was, sy jukke opkap en twee van sy osse slag. Om haar liefde vir Jesus te demonstreer, moes Maria haar kosbare olie oor Hom uitgiet. Om die Midianiete te oorwin, moes Gideon se driehonderd soldate hulle erdepotte breek, hulle fakkels laat skyn en hulself ‘n teiken maak. Die waarheid is dat God elkeen van ons in verskillende areas breek om ons te kan gebruik. Watter areas? Slegte gewoontes. Hardkoppigheid. Opgeblaaste ego’s. Bose gedagtes. Verlammende vrese. Geheime vooroordele. Misplaaste ambisies. Die lys is eindeloos. As jy na die ooste toe kyk, sal jy nie wes beweeg nie, dus sal God jou omdraai.
Soms verg dit dissipline. Dis jy, nie God nie, wat die lengte en omvang van daardie dissipline bepaal. ‘Elke vorm van tug lyk vir ons op die oomblik meer na ‘n rede vir trane as vir blydskap, maar later sal dit vir hulle wat daardeur gebrei is, die blye oes oplewer van ‘n lewe volgens die wil van God’ (Hebreërs 12:11 NLV). As jy ‘n ouer is, sal jy verstaan. Een kind sal in trane uitbars, terwyl ‘n ander kind jou sal teenstaan. God sal doen wat ook al nodig is om jou uit jou selfgenoegsaamheid te breek!
Paulus skryf: ‘Mag God self… julle volkome aan Hom toewy. Mag Hy julle heeltemal – gees, siel en liggaam – onberispelik bewaar tot wanneer ons Here Jesus Christus terugkom’ (1 Tessalonisense 5:23 NLV). Let op dat jou liggaam laaste in die transformasieproses kom. As ‘n wedergebore gees wat in ‘n onwedergebore liggaam leef, sal jy altyd teen die vlees veg. Wat is die geheim tot oorwinning? Gebrokenheid en oorgawe!
Sielskos: Eks 20:14; Spr 6:23-35; Matt 5:27-30; 1 Kor 6:9-20