2024-01-04
Markus 12:30 NLV
Om God met jou hele verstand lief te hê, beteken om jou gedagtes te bestuur en die meeste daarvan te maak. Dit beteken dat jy God logies, kreatief, intuïtief en nadenkend liefhet. Albert Einstein, een van die geskiedenis se grootste denkers, het gesê: ‘Die belangrikste ding is om nooit op te hou bevraagteken nie. Nuuskierigheid het sy eie rede vir bestaan. ‘n Mens kan nie anders as om in verwondering te wees wanneer jy die geheimenisse van die ewigheid, van die lewe, van die wonderlike struktuur van die werklikheid oordink nie. Dit is genoeg as ‘n mens net probeer om elke dag ‘n bietjie van hierdie misterie te begryp. Moet nooit ‘n heilige nuuskierigheid verloor nie.’ Einstein het sy genialiteit afgemaak en gesê: ‘Ek het geen spesiale gawe nie, ek is net passievol nuuskierig.’
Die Bybel sê: ‘Die aarde behoort aan die Here, met alles wat daarop is, die wêreld en alles wat daarop lewe’ (Psalm 24:1 NLV). Jou nuuskierigheid moet geen perke hê nie. Die Latynse woord vir ‘opvoeding’ beteken ‘om uit te trek’ eerder as ‘om in te prop.’ Die meeste akademiese programme fokus op die dwangvoeding van kennis eerder as om nuuskierigheid vrye teuels te gee.
Wat is die resultaat? Ons weet sommige dinge, maar ons verloor die belangrikste: die liefde vir leer. In een studie by ‘n top-universiteit het die gegradueerdes met die hoogste punte een maand na hul gradeplegtigheid dieselfde eindeksamen afgelê. Almal van hulle het gedruip. Wanneer jy probeer om die waarheid in jou gedagtes in te prop, beweeg dit selde verby die korttermyngeheue. Dit bereik vir seker nie die siel in nie. Ongelukkig is dit soms wat in die kerk gebeur. Wat is die antwoord? Leef daagliks volgens God se Woord.
Sielskos: 2 Tess 1-3; Matt 2:13-18; Ps 90:7-17; Spr 1:5-9
2024-01-03
Markus 12:30 NLV
God het ons geskape met die kapasiteit om tot die dag wat ons sterf aan te hou leer, iets wat ons nie as vanselfsprekend moet aanvaar nie. Die gemiddelde brein weeg ongeveer 1.3 kilogram, maar neuroloë skat dat ons die vermoë het om iets nuuts elke sekonde van elke minuut van elke uur van elke dag vir die volgende driehonderd miljoen jaar te kan leer. Dis wonderbaarlik!
Dis egter meer as dit. Dis ‘n wonderlike verpligting. Jesus het gesê: ‘Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou ganse gemoed, met jou totale verstand en met al jou krag.’ Dis onmoontlik om die persentasie wat ons brein gebruik te bepaal, maar almal van ons het onbenutte potensiaal. Jou verbeelding is in staat tot baie meer as wat jy ooit kan droom.
Tog hou die meeste van ons êrens langs die pad op om uit ons verbeelding te leef en begin uit ons herinneringe leef. Ons hou op om die toekoms te ontwerp en begin die verlede namaak. Dit is die dag wat ons ophou leef en begin sterf. Hoekom? Omdat ons ophou om ons kennis te verbreed. Om God met jou hele verstand lief te hê, verg dat jy jou verstand ten volle benut deur soveel as moontlik van soveel as moontlik te leer.
Die ware toets van geestelike volwassenheid is nie hoeveel jy weet nie, maar die hoeveelheid van dit wat jy nie weet nie. Dit is om jouself met die realiteit dat ons God nie soseer kan begryp nie, maar eerder net in verwondering voor Hom kan staan, te versoen. Daardie heilige gevoel van verwondering steek ‘n heilige nuuskierigheid aan die brand om meer oor die Skepper en sy skepping te bly leer.
Sielskos: 1 Tess 4-5; Matt 2:1-12; Ps 90:1-6; Spr 1:1-4
2024-01-02
Psalm 90:12 NLV
Ons almal kry dieselfde vier-en-twintig uur in ‘n dag. Ons sal aan God rekenskap moet gee oor hoe ons ons dae gebruik (sien Prediker 11:9). ‘n Goeie plek om te begin is om jouself af te vra: ‘Hoe sal ek die volgende vier-en-twintig uur bestee as ek more voor God moes staan?’ Jou antwoord sal jou help om jou lewe te prioritiseer.
Dink daaroor: As iemand jou kar steel, kan jy ‘n ander een koop. As iemand jou beursie steel, sal jy moontlik ‘n paar kaarte moet kanselleer om die situasie op te los. Wat kan jy egter doen wanneer jy jou tyd verloor? Hoe jy jou tyd bestee is hoe jy jou lewe bestee! Efesiërs 5:16 sê: ‘Benut elke geleentheid…’ (NLV), leer dus om die volgende dinge te doen:
1) Hou op om vir almal ja te sê. Wanneer jou geestelike instink nee sê, maar mense van jou verwag om ja te sê, luister eerder na jou geestelike instink. Dis wat Jesus gedoen het. Dis wat Hom in staat gestel het om vir sy Vader te sê: ‘Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U My gegee het om te doen (Johannes 17:4 NLV). Moenie dat die goeie die beste by jou steel nie; verminder sommige aktiwiteite sodat jy in ander kan uitblink.
2) Word deur die Gees, nie deur die vlees nie, gelei. Paulus sê: ‘…Laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word. Dan sal julle glad nie aan die begeertes van julle sondige geaardheid toegee nie’ (Galasiërs 5:16 NLV).
3) Stel die eerste dinge eerste. ‘n Kenmerk van ware volwassenheid is om dit waarvoor jy nie lus is nie, te doen wanneer jy nie daarvoor lus is nie. Stel dus hierdie jaar die eerste dinge eerste – en hou hulle daar!
Sielskos: 1 Tess 1-3; Matt 1:18-25; Ps 116; Pred 12:13-14
2024-01-01
Romeine 6:4 NLV
Weier dat jou verlede jou toekoms by jou steel. Hierdie jaar wil God vir jou ‘n nuwe begin gee. Ons almal het verhoudings wat nie herstel kan word en kwessies wat nooit na wense opgelos sal word nie. Deur God se genade kan ons egter vergewe, vergeet en aanbeweeg. Jy hoef nie in die aande wakker te lê en ou koeie uit die sloot te grawe, rowe af te krap en pynlike herinneringe te vernuwe nie.
Jy sê: ‘Maar ek sukkel in so baie areas.’ Ons almal doen. Selfs die groot apostel Paulus het erken dat hy nie al die antwoorde het nie. Paulus het erken: ‘Ek weet dat ek – ten minste wat my ou, sondige natuur betref – nie oor die vermoë beskik om die goeie te doen nie… Ek versuim die goeie wat ek so graag wil doen, maar die slegte wat ek nie wil nie, dít doen ek…’ (Romeine 7:18-19 NLV). Almal van ons wat verkeerdelik gedink het dat sodra ons Christene word, daar geen stryd meer sou wees nie, kan Paulus vir sy eerlikheid bedank!
Paulus hou egter nie daar op nie, maar voeg hierdie twee belangrike Skrifgedeeltes by: 1) ‘…En nou kan ons, net soos Christus… opgewek is, ook ‘n totaal nuwe lewe leef’ (Romeine 6:4 NLV). 2) ‘Julle moet dus ook verseker weet dat julle vir die sonde dood is, en nou vir God lewe deurdat julle één is met Christus’ (vers 11 NLV).
Jy vra: ‘Hoe moet ek dan my ou kwessies hanteer?’ Erken hulle, hou daarmee op en vergeet daarvan! In plaas daarvan om gevegte te veg wat jy nie kan wen nie, laat Christus se opstandingskrag deur jou lewe beweeg en die bande tussen jou en die pyn van jou verlede, verbreek.
Sielskos: Rom 13:12-14:19; Matt 1:1-17; Jes 43:18-19
2023-12-31
Jeremia 9:24 NLV
God sê: ‘…Mense met insig moenie spog met hulle kennis nie. Sterk mense moenie grootpraat oor hulle krag nie. Ryk mense moenie roem in hulle rykdom nie. Laat hulle wat wil spog, dit doen omdat hulle My ken, en begryp…’ (verse 23-24 NLV). Die waarheid is dat as jy God nie ken nie, maak dit nie saak hoeveel geld in jou rekening is, watter diplomas op jou muur hang of watter posisie jy in die maatskappy beklee nie. Totdat jy ‘n verhouding met God het, het jy nog nie waarlik begin lewe nie!
‘n Deel daarvan om Hom te leer ken, is om die waarheid oor jouself te leer. Nadat hy gesien het hoe Christus ‘n wonderwerk doen, het Petrus erken: ‘…ek is ‘n te groot sondaar…’ (Lukas 5:8 NLV). Toe die profeet Jesaja die Here op sy troon gesien het, het hy uitgeroep: ‘…Ellende het my getref!…’ (Jesaja 6:5 NLV).
God vertel jou egter nie die waarheid oor jouself en los jou dan net so nie. Nee, soos ‘n goeie dokter sê Hy vir jou jy is siek, sodat jy die regte behandeling kan ontvang. Die regte behandeling vir sonde is verlossing deur die bloed van Jesus. Jy sal nooit God ken totdat jy met Hom deur Jesus Christus verbind is nie.
As jy Hom dus nog nooit as jou Redder aanvaar het nie, begin die nuwe jaar deur te bid: ‘Here, ek bely en draai weg van my sonde af. Ek plaas my lewe in u hande en vertrou U as my Here en Redder. Deur geloof ontvang ek die gawe van ewige lewe. Ek vra U om my van vandag af te lei en te rig en u wil deur my te vervul. In Jesus se Naam bid ek dit: Amen’ Voorspoed vir die nuwe jaar!
Sielskos: Fil 3:8-14; 2 Kor 5:14-21; Ps 77:11-20; Spr 9:10-12
2023-12-30
Eksodus 31:2 NLV
Die eerste persoon wat in die Bybel genoem word wat met die Gees van God vervul was, is Besaleël. As sy naam nie ‘n klokkie lui nie, is dit omdat hy nie ‘n profeet, priester, koning of apostel was nie. Hy was ‘n ambagsman wat vaardig in ontwerp was. Hy het ‘n oog vir kleur en ‘n aanvoeling vir bestuur gehad en toe dit tyd was om die tabernakel te bou, het hy die projek bestuur.
Hier is wat God oor hom gesê het: ‘Ek het Besaleël… gekies. My gees gee vir hom kennis en begrip en vaardigheid om verskillende dinge te kan doen. Hy kan kunstige voorwerpe uit goud, silwer en brons maak. Hy kan edelstene sny en monteer en houtsnywerk doen. Hy kan enige kunswerk maak’ (Eksodus 31:2-5 NLV).
Dink jouself in dat jy Besaleël is. Van kleins af is jy lief daarvoor om met jou hande te werk. Jy weet nie dat God daarby betrokke is nie – maar Hy is! Hy het inderwaarheid daardie begeertes binne-in jou geplaas. Wanneer jy werk, is die vreugde wat jy voel eintlik die teenwoordigheid van God. Jy het sekere sterkpunte waarmee jy gebore is. Hulle sal altyd jou sterkpunte wees en jy put plesier daaruit. Wonderlike dinge gebeur wanneer jy daardie sterkpunte ontdek, hulle begin gebruik en daarop fokus om hulle te verbeter.
Wanneer jy in jou Godgegewe plek is en met jou Godgegewe sterkpunte werk, is jy op jou beste. Wanneer dit gebeur, word jy en almal rondom jou geseën. Die punt is: in God se plan, was Besaleël net so belangrik soos Moses. Hou dus moed; dit wat jy doen, maak saak!
Sielskos: Mal 3-4; Joh 21:15-25; Ps 139:13-24; Spr 31:28-31