2023-12-29
1 Korintiërs 4:2 NLV
Die meeste volwassenes bestee omtrent die helfte van die dag by die werk. Jou werk is ‘n groot deel van God se plan vir jou lewe. Hy het ‘n spesifieke roeping net vir jou ontwerp waaruit jy persoonlike vervulling sal kry, in die behoeftes van jou familie kan voorsien en wat sal help om sy doelwitte op aarde te vervul.
Die vierde gebod sluit al sewe dae van die week, nie net die Sabbat nie, in. ‘Ses dae lank kan jy met jou daaglikse werk aangaan… Die Here het in ses dae die hemel, die aarde, die see en alles wat daarin is, gemaak…’ (Eksodus 20:9,11 NLV). Soms hoor jy ‘n preek wat jou laat skuldig voel omdat jy nie die Sabbat onderhou nie, maar het jy al ooit ‘n preek gehoor wat jou laat skuldig voel omdat jy nie die ses-dag werkweek onderhou nie?
Die punt is dat net soos God die Sabbat gemaak het en lief is daarvoor, so het Hy ook werk gemaak en is Hy lief daarvoor. Die Bybel sê: ‘…die koningsheerskappy van God is hier by julle’ (Lukas 17:21 NLV). Of jy nou ‘n slagter, ‘n bakker of ‘n kersmaker is, daar word van jou vereis om integriteit in die werkplek te demonstreer.
Dis vernederend wanneer nie-gelowiges sê: ‘Ek sal nooit weer besigheid met ‘n Christen doen nie.’ Jy moet strewe om uitnemend in jou werk te wees. Dinge soos laat kom, die horlosie dophou, rondsit en niksdoen, skinder, flankeer en slegpraat van jou baas moet geen plek in jou lewe hê nie. Die Bybel sê: ‘Van bestuurders word verwag dat hulle hulleself as betroubaar sal bewys.’ Jy moet die volgende bid wanneer jy werk toe gaan: ‘Here, vandag wil ek goeie werk doen en sodoende u Naam verheerlik.’
Sielskos: Mal 1-2; Joh 21:1-14; Ps 139:1-12; Spr 31:25-27
2023-12-28
Prediker 9:10 NLV
Jy sal oplet dat almal in die Bybel werk! Die meeste van die helde in die Bybel het sekulêre beroepe gehad. Isak het eiendom ontwikkel. Jakob was ‘n boer, Josef het God die beste gedien deur in sy goedbetaalde staatspos te bly eerder as om ‘n nie-winsgewende, geloofsgebaseerde organisasie te begin om liefdadigheidswerk te doen. Daniël was ‘n immigrant wat Babel se weergawe van Oxford Universiteit bygewoon het en tot eerste minister bevorder is. Lydia was ‘n winsgewende sakevrou wat in tekstiele handel gedryf het. Jesus, die timmerman, is moontlik die grootste uitdrukking van hoeveel God werk waardeer. Vir meer as driekwart van sy lewe het Jesus in die boubedryf gewerk, tafels en bankies gemaak en was heel waarskynlik by konstruksiewerk betrokke. Die woord waaruit ons ‘timmerman’ vertaal, kom van die Griekse woord tektón af, waaruit ons ook die woord tegnologie kry en bevat die vermoë om klip- of messelwerk te doen.
Die Bybel is deur werkers, oor werkers en vir werkers, neergeskryf. Werk was God se idee. ‘Die Here God het die mens in die Tuin van Eden aangestel om dit te bewerk en te versorg’ (Genesis 2:15 NLV). Die eerste man, Adam, was ‘n tuinargitek. Deur te identifiseer waarvoor jy in die lewe geroep is en jouself ten volle daaraan oor te gee, is jy net so ‘geroepe’ soos enige dominee wat op ‘n preekstoel staan.
Dis jammer dat ons die woord ‘sekulêr; gebruik om enige werk wat nie vir die kerk gedoen word nie te beskryf, want God sien dit nie so nie. Alle eerlike werk kry sy glimlag van goedkeuring. Wanneer dit by werk kom, is dit wat Hy van jou vereis, in hierdie woorde vervat: ‘Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen…’
Sielskos: Sag 10-14; Joh 20:19-31; Ps 97; Spr 31:22-24
2023-12-27
Genesis 1:28 NLV
Die eerste opdrag wat God vir Adam en Eva gegee het, was om die aarde te vul en daaroor te heers. Adam en Eva is uit die Tuin van Eden verban, maar hulle was nie tot die Tuin van Eden beperk nie. God het vir hulle gesê: ‘…vul die aarde… en heers… [daar]oor…’
Dink daaroor. God het Adam en Eva uitgenooi om die aarde te verken. Alles buite die Tuin van Eden was onbekende gebied. Hulle kon 24,759 myl in enige rigting reis en nooit dieselfde landskap twee keer sien nie. Daar was 196,949,970 vierkante myl wat hulle kon verken. Een manier hoe ons God verheerlik, is om te verken en onsself oor alles wat Hy geskep het, op te voed.
Een skrywer verduidelik: ‘Die sterrekundige wat die sterre karteer, die genetikus wat die menslike genoom ondersoek, die navorser wat ‘n kuur vir Parkinson se siekte soek, die oseanograaf wat die rif verken, die ornitoloog wat skaars voëlspesies bestudeer en bewaar, die chemikus wat molekulêre strukture opskryf en die teoloog wat God bestudeer, het almal een ding in gemeen. Almal van hulle is verkenners. Hulle vervul die opdrag in Genesis. Hulle verkenning eer God as dit vir die regte redes gedoen word en die regte reaksie tot gevolg het: om Hom te ken en Hom te prys.’
Daar sal altyd sommige wetenskaplikes wees wat tot ateïstiese gevolgtrekkings kom. Eerder as om die wetenskap te laat vaar, is ons egter geroep om dit terug te eis. As God alles geskep het, dan dra alles sy heilige vingerafdruk. Alle waarheid is God se waarheid. Abraham Kuyper het gesê: ‘Daar is nie een vierkante duim van die hele skepping waaroor Jesus Christus nie uitroep: ‘Dit is Myne! Dit behoort aan My!’ nie.
Sielskos: Sag 6-9; Joh 20:10-18; Ps 117; Spr 31:18-21
2023-12-26
Lukas 2:20 NLV
‘n Vroeë pionier wat oor die Groot Vlaktes gereis het, het by die rand van die Grand Canyon gestop. Verbaas om ‘n groot kloof van een myl diep en agtien myl breed wat buite sig strek te ontdek, het hy uitgeroep: ‘Iets moes hier gebeur het!’
Soos Haddon Robinson opmerk: ‘Met Kersfees sal enigiemand wat stilhou om te kyk en luister vra waaroor die gewoel gaan. ‘n Nadenkende man of vrou wat die ligte, versierings, feestelikhede en godsdienstige dienste sien kan ook tot die gevolgtrekking kom: ‘Iets moes hier gebeur het!’ Iets het natuurlik gebeur. Ons moet die wêreld vertel dat God ons planeet kom besoek het. Sy Seun het gekom om God aan ons te openbaar en vir ons sondes te sterf (sien Johannes 1:1-14). Hy het tussen ons geleef sodat ons vir ewig saam met Hom kan leef.’
Toe die skaapwagters die Messias in die krip gevind het, was hulle verwonderd, want dis was ‘…net soos die engel gesê het’ (Lukas 2:20 NLV). Gevolglik het hulle ‘…teruggegaan… terwyl hulle God loof… oor wat vir hulle vertel [is], en omdat hulle die Kind gesien het…’ Hulle het na hulle weivelde en kuddes met nuwe energie teruggekeer. Hulle moes egter steeds teruggaan.
Jon Walker skryf: ‘Nadat ons die geboorte van Jesus gevier het, keer ons na die dinge wat ons gewoonlik doen, terug. God neem ons na die bergtoppe toe en wys vir ons groot wonderwerke en wonders, maar Hy los ons nie daar nie. Dis in die veld en tussen die kuddes wat ons geloof groei. Die konflikte oor wie die gemors skoonmaak, wie vroeg huis toe kan gaan, of wie die grootste stukkie tert kry, toets of dit werklik Christus is wat in ons woon.’
Sielskos: Sag 1-5; Joh 20:1-9; Ps 113; Spr 31:14-17
2023-12-25
Jesaja 9:5 NLV
Jack Hayford het geskryf: ‘Wie is hierdie Babatjie van Bethlehem wat vlees geword het, wat liedere van engele opgeroep het, hierdie Christus van Kersfees? Hy is die Verlosser. ‘Deur die Seun het ons verlossing verkry…’ (Kolossense 1:14 NLV). Ons wat in sy Naam glo, ‘…is geskik gemaak om in die erfenis van God se mense te deel…’ (vers 12 NLV), ons is ‘…gered uit die mag van die duisternis en ons [is] oorgebring onder die koningsheerskappy van sy geliefde Seun’ (vers 13 NLV). ‘n Prys is een keer betaal om ons vryheid, potensiaal en gemeenskap te verseker.
Hy is die Openbarer. ‘Die Seun is die sigbare uitbeelding van die onsigbare God…’ (vers 15 NLV). Die sluier van geheimhouding is verwyder. Niemand hoef te wonder hoe God is nie – sy Seun Jesus het gekom om sy hart, sy aard, sy weë en sy wese te openbaar. Hy is die Skepper. ‘omdat God alles deur Hom geskep het…’ (Kolossense 1:16 NLV). Alle dinge – in die hemel en op die aarde – is vir sy gebruik, plesier en heerlikheid gemaak. Hy is die Onderhouer. Hy, die Woord, het alle dinge tot stand gebring (sien Johannes 1:3) en ‘…Deur sy magtige bevel hou Hy die ganse heelal in stand…’ (Hebreërs 1:3 NLV). Hy is die Leier. ‘Hý is die hoof van die kerk, sy liggaam…’ (Kolossense 1:18 NLV). Hy het hierdie posisie verkry as gevolg van sy bewese krag en gesag wat in sy opstanding gedemonstreer is. Hy wat alle wesens en magte geskep het (sien v. 16) het Homself binne sy eie skepping ingeperk en vrywillig aan die dood onderwerp (sien Filippense 2:6-9). Tot die hel se ontsteltenis het Hy egter uit die dood opgestaan, aan die Kerk geboorte gegee, en is nou Here oor alles.’
Sielskos: Jes 9:1-7; Luk 2:1-20; Miga 5:2-5a
2023-12-24
Johannes 1:14 NLV
Toe die engel vir Maria besoek het, het hy gesê: ‘Moenie bang wees nie, Maria… want God het besluit om jou te seën!’ (Lukas 1:30 NLV). Tog, wanneer dit daarby kom om God direk te nader, word baie godsdienste deur vrees geregeer.
Philip Yancey sê: ‘Die Jode het verseker vrees met aanbidding geassosieer. ‘n Persoon wat met ‘n direkte ontmoeting met God ‘geseën’ is, het verwag om verskroei, gloeiend of dalk half kreupel soos Jakob daaruit te kom. Onder mense wat ‘n aparte heiligdom vir God in die tempel afgebaken het en nie sy naam wou uitspreek of spel nie, het God ‘n verrassende verskyning as baba in ‘n stal gemaak. In Jesus het God ‘n manier gevind om met mense in ‘n verhouding wat nie vrees behels nie, te staan. ‘n Nuwe Verbond wat nie die kloof tussen God en die mensdom sou beklemtoon nie, maar dit eerder sou oorbrug.
Ek het van vleeswording geleer toe ek ‘n soutwater-akwarium aangehou het. Jy sou dink, in die lig van al die energie wat ek op hulle bestee het, dat my visse darem dankbaar sou wees. Dit was egter nie die geval nie. Elke keer as my skaduwee bo die tenk opgedoem het, het hulle vinnig weggeswem om skuiling te soek. Om hul persepsie te verander sou ek ‘n vis moes word en met hulle in ‘n taal wat hulle kon verstaan, moes ‘praat’. ‘n Mens wat ‘n vis word, is niks in vergelyking met God wat ‘n baba geword het nie. Tog is dit wat in Bethlehem gebeur het. God het ‘n storie, deur regte karakters te gebruik, op die bladsye van die regte geskiedenis, geskryf. Die Woord het vlees geword.’
Sielskos: Jes 11:1-10; Luk 1:39-56