Die breekproses (1)

2024-02-17
Psalm 51:19 NLV

Gebrokenheid is die proses waardeur God ons van trots en selfgenoegsaamheid stroop sodat die karakter van Christus kan skyn. Gebrokenheid beteken nie noodwendig dat jy ‘n tragedie beleef het nie. Baie mense ervaar tragedies sonder om nader aan God te beweeg. Die kwessie van gebrokenheid is nie soseer jou omstandighede nie, maar jou reaksie. Wat probeer God vir jou leer?

Gebrokenheid is wanneer God jou van jou selfgenoegsaamheid tot so ‘n mate stroop dat jy geen krag oor het om jouself weer reg te maak nie. Wanneer Hy elke pad wat jy probeer neem blokkeer en jy tot die besef kom dat Hy alleenlik die antwoord is, maak jy ‘n lewensveranderende ontdekking. Wanneer God al is wat jy het, is God al wat jy nodig het! Die waarheid is dat God se krag vir diegene wat opgehou het om dit in hulle eie krag te doen of om dit vir hulle eie doeleindes te probeer bereik, voorbehou word.

Let die woorde: ‘Die offer wat U wil hê, o God…,’ op. ‘n Offer beteken dat iets op ‘n altaar moet sterf. As jy dus ‘n nuwe vlak van God se genade en krag in jou lewe wil ervaar, moet jy gewillig wees om in selfbelang, ego en onafhanklikheid te sterf. Vir ‘n plant om deur die grond te groei, moet die saad gebreek word. Vir ‘n kuiken om die lewe te ervaar, moet die dop gebreek word. Vir ‘n volbloedperd om te wen, moet sy wil gebreek en ingespan word.

Na ‘n ontmoeting met Christus op die Damaskuspad waar hy gebreek is, het Paulus gebid: ‘…Here, wat wil U hê moet ek doen?..’ (Handelinge 9:6 AFR53). Is jy vandag in die breekproses? Hier is jou opsies: 1) teenstand, 2) weghardloop, of 3) reageer en sê: ‘Ja, Here.’

Sielskos: Heb 5-8; Matt 13:47-58; Ps 149; Spr 4:25-27

Berei jouself voor

2024-02-16
2 Konings 3:16 DB

Alle goeie dinge kom nie vir diegene wat geduldig wag nie, maar vir diegene wat voorberei. Daar is ‘n goeie illustrasie hiervan in 2 Konings 3. As deel van God se strategie om die Moabiete te oorwin, het Hy vir die Israeliete gesê om gate in die vallei te maak, wat Hy met water sou vul totdat dit ‘n magtige rivier sou word. Hulle het dit gedoen en ‘n wonderbaarlike oorwinning behaal. Moet egter nie die punt hier mis nie. God het gesê: ‘Wanneer julle die gate gemaak het, dan sal Ek dit vul!’ (sien vers 17 DB).

God kan enigiemand gebruik, maar Hy doen nie; Hy gebruik voorbereide mense. Moses het 120 jaar oud geword. Die eerste veertig jaar van sy lewe het hy in ‘n paleis deurgebring, die tweede veertig jaar van sy lewe het hy in die woestyn deurgebring en die laaste veertig jaar het hy bestee deur sy Godgegewe opdrag te vervul. Twee-derdes van sy lewe het hy in voorbereiding deurgebring!

Wat gebeur wanneer jy nie voorbereid is nie? Die dinge wat jy hoop nie sal gebeur nie, gebeur. Dikwels is die skeidingslyn tussen wen en verloor voorbereiding! Paulus se bediening begin met hierdie woorde: ‘…Here, wat wil U hê moet ek doen?..’ (Handelinge 9:6 AFR53). God neem hom dan vir die volgende drie jaar na die woestyn toe om hom te leer en vir sy bediening voor te berei.

Of jou roeping nou geestelik of sekulêr is, jy moet weet wat dit in terme van tyd, inspanning en hulpbronne gaan kos en dan daarvolgens voorberei. ‘Met wysheid word ‘n huis gebou. Insig is nodig om dit te onderhou’ (Spreuke 24:3 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – berei jouself voor.

Sielskos: Heb 1-4; Matt 13:36-46; Ps 145:14-21; Spr 4:23-24

Moenie oor jou verlossing twyfel nie

2024-02-15
1 Johannes 5:13 NLV

Jy sal verras wees om uit te vind hoeveel mense oor hul verlossing twyfel. Kom ons maak dus God se Woord oop om die kwessie vir eens en altyd op te los: ‘…God het aan ons die ewige lewe gegee, en dié lewe bestaan in ‘n hegte verhouding met sy Seun. Hy wat deel het aan die Seun, het nou reeds die ewige lewe… Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle met die wete kan leef dat julle nou reeds deel het aan die ewige lewe, julle wat aanhou glo in die persoon van die Seun van God’ (verse 11-13 NLV).

Vertrou jy op Christus om jou te red, eerder as om op jou eie goeie werke staat te maak? Dan is jy gered! Jesus het gesê: ‘Ek verseker julle, wie aanhou glo, het reeds die ewige lewe’ (Johannes 6:47 NLV). Twyfel ontstaan altyd wanneer jy na jou gevoelens, eerder as jou Bybel, luister. Jou gevoelens is soos die weer; dit verander konstant. Die duiwel sal jou ook probeer oortuig dat verlossing goed vir ander mense werk, maar dat dit nie vir jou sal werk nie. Die Bybel noem Satan ‘n leuenaar (sien Johannes 8:44). Paulus skryf: ‘…ek ken die Een op wie ek vertrou en ek is seker dat Hy sal bewaar wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag van sy koms’ (2 Timoteus 1:12 NLV).

Wanneer jou geloof dus wankelrig voel, stop en bid: ‘Here Jesus, ek het my vertroue in U geplaas. U Woord sê dat ek kan weet dat ek die ewige lewe sal verkry. Dis nie ‘n kwessie van goed genoeg of waardig genoeg voel nie, maar die geloof dat U waardig is. Ek plaas dus my vertroue in U, kies om u Woord te glo en verwerp my vertwyfelinge.’

Sielskos: Tit 1-3; Matt 13:24-35; Ps 145:1-13; Spr 4:20-22

Hou hoop lewendig

2024-02-14
Psalm 131:3 NLV

Dawid het gesê: ‘Israel, hoop op die Here, nou en vir altyd.’ Wanneer jy besluit dat dinge hopeloos is, slaan jy die deur in God se gesig toe.

Eerstens: Vra jouself wat jou grootste begeerte is. Verbeel jouself dat jy tagtig jaar oud is en terug op jou lewe kyk. Voel jy tevrede? Indien nie, moet jy jouself uitdaag om met ‘n antwoord vorendag te kom. Hoop moet persoonlik wees. Dit moet vurig genoeg wees om alles wat jy doen, te beheer.

Tweedens: Gee dit ‘n simbool – iets waarom jy jou gedagtes kan sentreer. Jeremia het God se mense ‘n les in hoop geleer deur die land by Anatot te koop (sien Jeremia 32:9). Hy het geweet dat hulle gevange geneem sou word en gedurende daardie lang jare, sou die herinnering aan daardie veraf land in Juda as ‘n simbool van toekomstige vernuwing dien.

Toe Leo Algimas en sy familie tydens die Tweede Wêreldoorlog na ‘n konsentrasiekamp gestuur is, het hulle ‘n simbool van hoop gehad – ‘n klein stukkie papier van ‘n sjokoladeboksie met ‘n Amerikaanse vlag aan die onderkant. Hulle het dit vir mekaar aangestuur, dit vasgehou en vir mekaar gefluister oor die bevrydingsleër wat op pad was. Simbole help ons om ons gedagtes op dit wat moontlik is, te vestig.

Die grootste simbool wat die wêreld nog ooit geken het was die moeilikste om in te glo. ‘n Baba in ‘n stal het God se koninkryk op aarde aangekondig en die mensdom se lotsbestemming verander. Hy kan jou lotsbestemming ook verander. Stippel dit waarvoor jy hoop uit, vra daarvoor in sy Naam en maak nie saak hoe onmoontlik dit lyk nie, verwag dat dit waar sal word.

Sielskos: Ef 5:21-33; Hoogl 2:1-7; Ps 45; Spr 5:15-19

Pak jou reus aan

2024-02-13
1 Samuel 17:50 NLV

Chuck Swindoll sê: ‘Goliat herinner my aan die skeel diskusgooier. Hy het nie enige rekords verbeter nie, maar hy het definitief die skare wakker gehou! Elke dag het Goliat rond geparadeer en dreigemente geskreeu. Die enigste reaksie van die Israeliete se leër was die geluid van hulle knieë en tande wat teen mekaar geklap het! Die reus se strategie van vrees en intimidasie het gewerk, totdat Dawid hom aan die Here voorgestel en hom met sy slinger en klip oorwin het. Twee tydlose waarhede bly tot vandag nog staan.

Een: Jy sal nie die stryd wen deur die Vyand se tegniek te gebruik nie. Wanneer jy met die wêreld se wapens veg, word jy soos die wêreld. Die Bybel sê: ‘…Hy het hom getref en doodgemaak sonder dat daar ‘n swaard in Dawid se hande was’ (vers 50 NLV). Dawid se kragtigste wapen – die ding wat hom uniek gemaak en vir hom die oorwinning gegee het – was sy innerlike skild van geloof. Dit het hom vry van vrees gemaak, sy visie helder gemaak en hom kalmte te midde van die chaos gegee.

Twee: Om reuse te oorwin verg vaardigheid en dissipline. Om die slinger en klip van die Gees te gebruik is baie meer delikaat as om die swaard van die vlees te gebruik. Paulus sê: ‘Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen die bose hemelse regeerders en maghebbers, teen die geeste wat mag in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes’ (Efesiërs 6:12 NLV).

Jy is die Vyand se enigste teiken solank as wat die stryd voortduur. As jy vandag voor jou eie persoonlike reus te staan kom, maak soos Dawid; gee hom aan God oor, tel jou slinger op en laat God die oorwinning namens jou behaal.’

Sielskos: Joh 1-4; Matt 13:10-23; Ps 141; Spr 4:18-19

Om vriende met God te wees

2024-02-12
Eksodus 33:11 NLV

Wanneer jy met ‘n goeie vriend gesels, is jy ontspanne, onbewaak en oop. Jy kan uitdruk hoe jy voel sonder om te vrees dat jy geoordeel of verwerp sal word. Dis hoe Moses en God met mekaar gepraat het – soos twee vriende wat mekaar vertrou. Hulle het reguit gesê wat hulle dink en voel, sonder om vakwoorde of godsdienstige taal te gebruik.

Die Israeliete het ‘n goue kalf gemaak om te aanbid en God was kwaad genoeg om hulle te onterf en vir Hom ‘n nuwe nasie te kies. Moses het ‘n krisis op sy hande en ‘n ernstige gesprek met God daaroor gehad. In wese het hy vir God gesê: ‘U sien dit op hierdie manier Here, maar ek sien dit op ‘n ander manier – en u perspektief maak my baie ongemaklik!’ Dit klink soos ‘n openhartige gesprek tussen twee vriende. Moses was nie besig om oneerbiedig te wees nie; hy was net eerlik en reguit met God. Hulle het mekaar goed genoeg geken dat hulle kon praat: ‘…soos vriende wat gesels en mekaar in die oë kyk…’

Bid jy so? Het jy ‘n hart-tot-hart gesprek met jou vriend, God? Dis die tipe verhouding wat God met Moses gehad het en dis die tipe verhouding wat Hy ook met jou wil hê! Godsdienstige clichés en die gewone versoeklyste laat jou die geleentheid om diep en persoonlik met God te verbind, misloop. Gesels eerder openhartig met Hom. Sê vir Hom waar jy vandaan kom, wat jy regtig voel, dink en begeer; en luister dan na sy perspektief. Met ander woorde, wees ‘n vriend van God!

Sielskos: Num 34-36; Matt 13:1-9; Ps 138; Spr 4:14-17