2018-10-08
Jesaja 40:31 NLV
‘n Gerespekteerde skrywer beskryf die emosies wat mens ondervind wanneer mens voor ‘n gehoor moet praat, so: ‘Om in die openbaar te praat word as ons nommer een vrees beskryf, voor die dood by nommer vyf en eensaamheid wat nommer sewe is. Dit beteken dat die meeste van ons minder bang is om dood te gaan as om ‘n gek van onsself voor ander mense te maak. Vrees is ‘n kragtige motiveerder. Daar is die vrees dat jy as vreemd en anders gesien kan word; die vrees vir die onbekende; die vrees dat jy as bedrieglik gesien kan word; die vrees dat jy sal vergeet wat jy wou sê; die vrees om ‘n risiko in die publiek te neem; en die vrees om alleen te wees. Al hierdie vrese word vir die meeste van ons saamgevat wanneer ons in die openbaar moet praat.’ In The Bible on Leadership, skryf Lorin Woolfe: ‘Leierskap benodig ‘n amper bodemlose voorraad van verbale energie. Jy moet oproepe kan maak, op jou boodskap gefokus kan bly, dieselfde mantra oor en oor kan herhaal totdat jy nie meer die geluid van jou eie stem kan verdra nie – en dit dan nog weer en weer herhaal, want net wanneer jy tot dodens toe verveeld met die boodskap is, sal dit heelwaarskynlik begin insink.’ As jy baie onderwys, prediking of openbare spreking doen, glimlag jy waarskynlik en sê ‘Amen!’ Die feit is dat jy nie ‘n leë emmer uit ‘n droë put kan vul nie. Jy moet jou batterye geestelik, emosioneel en fisies gelaai hou om te kan aanhou gee. Die Bybel sê vir jou hoe om dit te doen: ‘Maar dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry. Hulle vlieg soos arende. Hulle sal hardloop en nie moeg word nie. Hulle sal loop en nooit vermoeid word nie.’
Sielskos: Eks 4-6; Joh 1:1-13; Ps 63; Spr 25:26-28
2018-04-28
Spreuke 17:27 NLV
Dis nie genoeg om die regte antwoorde te hê nie; jy het die regte benadering nodig. Goeie idees en raad word gemors wanneer jy dit by mense se kele afdruk. Wysheid beteken om die regte ding, op die regte tyd, op die regte manier te sê. ‘Iemand wat kennis het, praat nie baie nie. Iemand met insig bly kalm.’ Jou pogings om iemand te help verander sal misluk, of erger, hulle wegstoot, tensy jy hulle met liefde en nederigheid benader. Die meeste mense weet reeds wat hulle probleem is. Die kans is goed dat hulle al ‘n rukkie daarmee worstel en diep binne-in hulle wil hulle beter doen. ‘Mooi woorde is soos heuning; dit is goed vir die gees en bevorderlik vir sy lewe’ (Spreuke 16:24 NLV). Jesus het gesê, ‘en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak’ (Johannes 8:32 NLV). As mense dus nie die waarheid op die manier wat jy dit deel wil aanvaar nie, is die probleem dalk deels joune. Die voormalige Amerikaanse Senaat Kapelaan, Richard Halverson, skryf: ‘Jy kan jou idees aan mense as koeëls of as sade aanbied. Jy kan hulle skiet of hulle saai. Idees wat as koeëls gebruik word maak inspirasie en motivering dood. Idees wat as sade gebruik word skiet wortel, groei en dra vrugte in die lewe waarin hulle geplant is. Daar is egter ‘n risiko hieraan verbonde: Sodra dit deel word van die persoon waarin dit geplant is, sal jy waarskynlik geen krediet vir jou oorspronklike idee kry nie. As jy egter gewillig is om sonder die krediet klaar te kom, sal jy ‘n groot oes hê.’ Die woord vir jou vandag is dus: Kies die regte benadering.
Sielskos: Hand 22-23; Mark 5:11-20; Ps 144:9-15; Spr 11:12-13
2018-03-29
1 Korintiërs 15:10 NLV
Ons almal het goeie rolmodelle nodig. Wanneer jy egter jou lewe daaraan wy om soos iemand anders te wees, loop jy die risiko om iets te word wat God nie wil hê jy moet wees nie. Onthou altyd dat jou ‘helde’ ook met blinde kolle en karakterfoute sukkel. Paulus het gesê, ‘Ek is werklikwaar die geringste van al die apostels, een wat die naam van ‘n apostel nie werd is nie omdat ek God se kerk vervolg het’ (vers 9 NLV). Dieselfde met Petrus: Toe Kornelius hom laat roep het, lees ons dat ‘Toe Petrus die huis inkom, het Kornelius voor sy voete neergeval en hom begin aanbid. Maar Petrus het hom opgehelp en gesê: “Staan op! Ek is ‘n mens net soos jy!'” (Handelinge 10:25-26 NLV). As jy suksesvol in die lewe is, moet jy dieselfde houding inneem. Die gevaar van heldeverering kom wanneer jy jou individualiteit prysgee en die pad verloor wat God vir jou persoonlik beplan het. Sommige van die lesse wat God ons leer mag dalk dieselfde wees, maar ‘n ander persoon se roeping, gawes, reis en tydsraamwerk sal van joune verskil. ‘n Vriend begin byvoorbeeld ‘n besigheid en maak geld, maar wanneer jy jou werk bedank en in sy voetspore volg, speel jy bankrot. ‘n Kollega dra dalk iets wat wonderlik aan haar lyk, maar aan jou lyk dieselfde uitrusting soos ‘n meelsak. God is ‘jaloers’ wat jou betref (sien Deuteronomium 4:24). Hoekom? Omdat Hy jou van enigiets wat jou uniekheid kan steel of jou verhouding met Hom kan bedreig, wil beskerm. Die punt is: As jy op veilige grond wil beweeg, maak Jesus jou rolmodel, en jy sal elke keer wen.
Sielskos: Jer 10-13; Matt 27:27-32; Ps 38:13-22; Spr 8:24-26
2017-12-06
Jesaja 42:16 NLV
Nog ‘n manier hoe God jou sal lei is: Deur jou vrees te konfronteer en ‘n tree in geloof te neem. Voel jy onseker of bang oor God se wil in die situasie? Sy belofte vir jou is: ‘Ek lei blindes op ‘n pad wat vir hulle onbekend is. Ek lei hulle op paaie wat vir hulle onbekend is. Ek maak die donkerte voor hulle helder lig, en die ongelyke plekke maak Ek gelyk. Ek gaan dit alles doen, en hulle nie alleen los nie!’ (vers 16 NLV). Let spesifiek op die woorde: ‘onbekende paaie’… ‘donkerte’… ‘ongelyke plekke’. Wanneer jy God se leiding deur die Skrif gesoek het, wanneer jy na die innerlike aansporing van die Heilige Gees geluister het en wanneer jy na betroubare mense vir wysheid uitgereik het, moet jy ‘n tree in geloof neem en doen wat jy glo God jou geroep het om te doen. Dis een ding om te vra, ‘Here, wat moet ek doen?’ Dis iets heeltemal anders om te vra, ‘Is ek gewillig om dit te doen wanneer U dit duidelik gemaak het?’ Probeer om hierdie twee vrae te antwoord. a) Hoekom is risiko vir jou so moeilik? Wees eerlik. Vir die meeste van ons is risiko en verandering ongemaklik, uitdagend en selfs bedreigend. Dit is hoekom die Bybel sê, ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie’ (Spreuke 3:5 NLV). God sê egter nie, ‘Moenie jou eie insig gebruik nie’; Hy sê, ‘Moenie daarop staatmaak nie. Maak op My staat.’ b) Is jy bereid om ‘n groot verandering in jou lewe te maak – indien dit God se wil is? Jy moet hierdie twee vrae antwoord. Eers wanneer jy hulle korrek antwoord, is jy gereed om vorentoe te beweeg.
Sielskos: Gen 35-36; Joh 15:1-27; Ps 147:12-20; Pred 4:9-12
2017-11-12
Psalm 112:7 NLV
Kom ons kyk na sommige van ons algemeenste vrese en hoe ons hulle kan oorkom. Vrees vir mislukking. Hierdie is die algemeenste vrees en weerhou ons daarvan om enige visie wat God vir ons gegee het, te vervul. As ons egter na die ware gevolge van mislukking kyk, is die kans goed dat jy sal lag oor die mag wat dit het. Nie net kan jy jou foute oorleef nie, hulle help jou om daaruit te leer en verskerp en verbeter jou as persoon. Wat daarvan as jy ‘n fout tydens jou aanbieding maak? Niemand gaan jou skiet nie? Wat daarvan as jy ‘n fout met jou projek of in jou somme maak? Ons almal wil perfek wees, maar die feit is dat ons almal foute het. In realiteit skep ons irrasionele vrees vir mislukking en ons weiering om foute te aanvaar, baie meer probleme in die langtermyn. Wanneer mense weier om die moontlikheid te aanvaar dat hulle ‘n fout kan maak, is hulle dikwels huiwerig om iemand anders toe te laat om hulle werk na te gaan of om die projek waaraan hulle werk te hersien. As gevolg daarvan maak hulle op die ou einde meer slegte besluite en foute, wat op sy beurt hulle bestaande onsekerhede aanspoor. Om te misluk maak nie van jou ‘n mislukking nie. Net wanneer jy tou opgooi, nie daaruit leer nie en weier om op te staan wanneer jy geval het, is jy een. Die Psalmdigter het gesê, ‘Vir slegte tyding is hy nie bang nie: hy is gerus, hy vertrou op die Here.’ Gebruik die gawes wat God jou gegee het, neem ‘n risiko op geloof gebaseer en vertrou Hom vir sukses. As jy dit doen, ‘…sal [jy] dan sukses behaal op jou pad…’ (Josua 1:8 NLV).
Sielskos: 2 Kon 5:1-27; Matt 6:19-34; Hand 5:1-11