2020-10-06
Prediker 11:4 NLV
Moet jy die risiko neem om geld te belê, of moet jy vir ‘n gelukskoot wag wat jou oornag ryk sal maak? Salomo antwoord: ‘Gooi jou brood op die water, want na ‘n lang tyd kry jy dit terug’ (vers 1 NLV).
Dit beteken dat jy met gebed en wysheid beleggings moet maak en geduldig moet wees, want dit mag dalk ‘n ‘lang tyd’ neem voordat jy dividende daaruit sal ontvang. Die word-vinnig-ryk mentaliteit is nie Skriftuurlik nie. ‘Sit jou besittings op sewe of agt plekke. Jy weet immers nie watter rampe die land kan tref nie’ (vers 2 NLV).
Belê dus, diversifiseer en laat ruimte vir markwisselings toe. Jy moet wys speel, nie veilig speel nie. Word deur geloof, nie deur vrees nie, aangedryf. Goddelike wysheid, asook geloof, is die sleutel tot beleggings. Om vir die ‘ideale tyd’ te wag, sal jou verlam. Sukses is nie die afwesigheid van uitdagings nie, dis die wysheid om hulle te bestuur en aan te hou vorentoe beweeg.
Die Bybel sê: ‘As jy heeldag na die wind kyk, sal jy nie saai nie. En as jy na die wolke kyk, sal jy nooit oes nie.’ Die lewe is vol van die onbekende, en net so min as wat jy ‘…die pad van die wind ken, of weet hoe die liggaam lyk in die skoot van ‘n swanger vrou, net so min verstaan jy die werk van God…’ (vers 5 NLV).
Jy hoef nie alles te weet of in staat te wees om die uitkoms te voorspel nie. Vra net na God en tree volgens die wysheid wat Hy vir jou gee, op (sien Jakobus 1:5). Jy hoef nie te verstaan hoe Hy om jou onthalwe te werk gaan nie – jy moet net glo dat Hy sal!
Sielskos: 1 Sam 18:1-20:29; Joh 1:1-13; Ps 92; Spr 22:24-25
2019-10-18
Spreuke 2:10 ABA
Een Vrydagoggend het ‘n ywerige Stanford Universiteit student voor Louis Janin, ‘n bekende myningenieur, gestaan. Hy het werk gesoek. Janin het hom ingelig: ‘Al wat ek op die oomblik nodig het is ‘n stenograaf. Die jongman het gretig gesê: ‘Doodreg, ek sal die werk neem.’ Toe het hy bygevoeg: ‘Maar ek kan eers Dinsdag terugkom.’ Janin het ingestem en die volgende Dinsdag het die jongman soos afgespreek, by die werk gerapporteer, Janin het hom gevra: ‘Hoekom kon jy eers vandag terugkom?’ Die jongman het geantwoord: ‘Omdat ek eers ‘n tikmasjien moes gaan huur en leer om dit te gebruik.’ Hierdie jongman was Herbert Hoover, wie se houding hom uiteindelik deur die deure van die Withuis gelei het om een van Amerika se presidente te word. Deur kortpaaie te neem, loop jy die risiko om jou toekoms in te kort. Jou onwilligheid om vandag te leer sal jou onvoorbereid vir môre se geleenthede laat. Geen vaardigheid wat jy aanleer sal ooit verlore gaan nie. Om nuwe kennis in te neem en nuwe vaardighede aan te leer, bou selfvertroue en verskerp jou gedagtes. Suksevolle mense het een ding in gemeen: Hulle hou nooit op leer nie! God roep voorbereide mense, dus moet jy jouself voorberei. Die Bybel sê: ‘as jy goed luister na wysheid en regtig probeer verstaan… as jy dit so graag wil hê soos jy geld wil hê, en daarna soek soos jy na kosbare dinge sal soek… dan sal jy verstaan wat dit is om reg te lewe en reg te doen en regverdig te wees, jy sal altyd op die regte pad loop en die regte dinge doen. Die wysheid sal in jou kom woon en dit sal vir jou lekker wees om dinge te weet’ (Spreuke 2:2-10 ABA).
Sielskos: 1 Tim 1-3; Joh 5:16-30; Ps 5; Spr 24:8-9
2019-04-10
2 Timoteus 4:2 NLV
As jy jou saad op die verkeerde tyd saai, loop jy die risiko om jou oes te verloor. Hoekom? Omdat jy nie die seisoen waarin jy is, herken het nie. Is jy in die seisoen van klein begin? As jy is, sê God: ‘Wie minag die dag van oënskynlik klein dingetjies?..’ (Sagaria 4:10 NLV). Die rykheid en stabiliteit wat uit ‘n klein begin en geleidelike sukses kom, is blywender as die temperamentele optrede van diegene wat nooit hulle eie swakhede ontdek het of ‘n ware sin van afhanklikheid aan God ontwikkel het nie. Vra vir God as jy nie seker is in watter seisoen jy is nie. Hy doen alles volgens ‘n gevestigde tyd en doel. In die herfs ploeg jy die grond, saai die saad, strooi kunsmis en kyk dan die volgende lente uit vir die oes. Intussen wag jy, omdat die grond besig is om sy voedingstowwe weer aan te vul om ‘n oes te kan produseer. Die wortelstelsel wat nodig is vir sterk, gesonde groei, is besig om te ontwikkel. Verstaan die volgende: God gee vir jou genade vir die seisoen waarin jy is – nie die een waarin jy was of die een waarin jy graag wil wees nie. Toe Paulus gesê het: ‘…Hou daarmee vol, of die tyd daarvoor geleë is of nie…,’ het hy besef dat hy in die winter van sy bediening was. Dis hoekom hy sy kennis aan sy opvolger, Timoteus, uitgestort het. Paulus het nie die veranderende seisoene weggewens nie. Nee, toe sy tyd as speler tot ‘n einde gekom het, het hy eenvoudig ‘n afrigter geword. Vra dus vir God om jou te wys in watter seisoen jy is en hoe om dit die produktiefste seisoen van jou lewe te maak.
Sielskos: Fil 1-4; Luk 22:14-23; Ps 43; Spr 10:10
2018-12-25
Lukas 1:34 NLV
Die Bybel sê, “Maria het vir die engel gevra: ‘Maar hoe kan ek ‘n kind hê? Ek was nog nooit by ‘n man nie.’ Die engel het geantwoord: ‘Die Heilige Gees sal oor jou kom…'” (verse 34-35 NLV). Het God vir jou dinge gesê wat Hy deur jou wil vermag, maar jy kyk na jouself en dink, ‘Hoe kan dit gebeur? Ek het nie die opleiding, hulpbronne, vaardighede of konneksies nie. Ek het verseker nie die krag om dit alleen te bereik nie.’ God sal dit egter vermag. Hoe sal dit gebeur? ‘…Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal oor jou toevou…’ (vers 35 NLV). Die Heilige Gees kan jou met ‘n visie swanger maak, jou met kreatiewe idees inspireer, jou aan die regte mense voorstel en jou bemagtig om die werk te doen. God het ‘n unieke plan vir Maria gehad; en Hy het ook een vir jou. Jy is nie bevoorreg genoeg om die toekoms te kan sien en te weet wat God alles vir jou in gedagte het nie. Hy het egter ‘n plan. Let op wat Maria gesê het nadat die engel met haar gepraat het: ‘…Ek is die Here se dienares en gewillig om te aanvaar wat Hy ook al wil hê…’ (vers 38 NLV). Dit gaan nie oor jou sosiale status, jou CV, jou finansies of wat jy verdien nie. Nee, dit gaan oor wat Hy wil hê. Was dit maklik vir Maria om dit te sê of te glo? Nee, sy het ‘n groot risiko geneem. Tog het sy haarself gewillig aan God oorgegee – en die resultate was wonderbaarlik. God kan dieselfde vir jou doen.
Sielskos: Jes 7:14; Luk 2:1-7; Mig 5:2-5a; Jes 9:6-7
2018-10-18
Matteus 25:21 ABA
Nicole Unice, die direkteur van die vrouebediening by Hope Church, sê: ‘Daar is idees wat ek weet voordelig sal wees en tog huiwer ek om te veel te deel of te groot te droom. Wat as dit nie werk nie? Of mense nie daarvan hou nie? Wat as die mense bo my wonder of hulle die regte besluit geneem het om my aan te stel? Een dag het ek op my kantoormuur geskryf: Wat daarvan as dit misluk? Wat begeer jy om te probeer, maar het dit nog nie gedoen nie omdat jy bang is dat jy sal misluk? Watter tegnologie vermy jy? Watter nuwe kennis ignoreer jy omdat jy oud en geroes voel? As jy nie iets op die horison het waarin jy dalk kan misluk nie, is jy besig om as leier te misluk. Tensy jy op innovasie en kreatiwiteit aandring, sal jy aanhou om dieselfde soort mense aan te trek. Wanneer jy met God se werk begin, sal jy grense moet verskuif en dinge moet probeer wat dalk sal misluk.’ John Mason skryf: ‘Moenie bang wees om te misluk nie. As jy nie misluk nie, groei jy nie. Wanneer suksesvolle mense ophou groei en leer, is dit omdat hulle nie meer bereid is om die gevaar van mislukking te loop nie. Ons almal maak foute – veral diegene van ons wat dinge doen. Soos Paulus sê, ‘Aan God kom ons dank toe – Hy wat aan ons die oorwinning… gee deur Jesus Christus ons Here!’ (1 Korintiërs 15:57 NLV). Mislukking is dikwels die eerste stap na sukses. Tensy jy bereid is om ‘n risiko te neem, sal jy nie die kans kry om sukses te behaal nie.’ Vertrou vandag op God en neem ‘n tree in geloof!
Sielskos: Eks 30-32; Joh 4:13-26; Ps 100; Spr 26:27-28