Wees lief vir jou kerk (1)

2018-03-26
Efesiërs 5:25 NLV

Voor jy jou kerk kritiseer, onthou dat ‘…Christus liefde aan die kerk bewys het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het.’ Hy het nie opgegee op sy kerk nie, dus moet jy nie opgee nie! Hou op om so baie oor dit waarvan jy nie hou nie, te praat. As jou kerk perfek was, sou jy uit jou plek gewees het! Noag het nie op die Symphony gevaar nie, hy het op ‘n boot vol diere gevaar. Kan jy jou die geraas en verwarring indink op daardie boot soos dit deur ‘n geweldige storm, groot genoeg om die wêreld te vernietig, gevaar het? En wat van die reuk! Al daardie diere en net een uitlaatklep! Hier is egter die ding – almal in die ark is gered terwyl almal buite die ark verlore gegaan het. Daar is ‘n verhaal van ‘n aristokraat wat oor sy geslagsboom en bloubloed voorvaders gespog het. Geïrriteerd het een van sy luisteraars opgemerk, ‘Ek veronderstel jou voorvaders was saam met Noag aanboord die ark!’ ‘Nee,’ het hy geantwoord, ‘my mense het hulle eie boot gehad.’ Jy mag dalk glimlag, maar daar is net een boot wat veilig in die hemel se hawe gaan aankom en dit is die boot van verlossing. Stink dinge soms in die kerk? Sekerlik. Jesus het vir Petrus, die dissipel wat bestem was om ‘n leier in die kerk te word, hard bestraf: ‘…Gee pad agter My, jou satan! Jy maak dit vir My bitter moeilik. Jy dink soos mense dink – nie soos God nie’ (Matteus 16:23 NLV). Die groot faktor is egter dat wanneer jy foute maak, dieselfde genade wat Petrus herstel het, ook vir jou beskikbaar is. Die woord vir jou vandag is dus: Wees lief vir jou kerk!

Sielskos: Jer 1-3; Matt 27:1-10; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18

Breek jou albaste fles (3)

2018-03-14
Markus 14:6 NLV

Toe die vrou haar albaste fles gebreek het, was die reaksie van die dissipels treffend. ‘…Hoekom hierdie verkwisting van duur olie?..’ (vers 4 NLV). Hulle het gedink sy verspil haar parfuum toe sy dit oor Jesus se voete gegiet het. Hulle het dit ‘n vermorsing genoem, maar Hy het dit “‘n weldaad” genoem. Toe het Hy voortgegaan om te sê, ‘Ek verseker julle, waar hierdie Goeie Nuus ook al oor die hele wêreld verkondig sal word, sal daar ook gepraat word van wat sy gedoen het, en so sal sy vir altyd onthou word!’ (vers 9 NLV). Kan jy jou indink wat so ‘n stelling vir haar selfvertroue gedoen het? Sy het heel waarskynlik jare laas ‘n vriendelike woord of ‘n kompliment gekry. Niemand kan potensiaal soos Jesus raaksien nie, omdat Hy die Een is wat dit in die eerste plek vir ons gee. Dis ook hoekom God nooit op jou sal opgee nie. Dis nie in sy aard nie (sien Filippense 1:6). Sy ‘…goedheid en trou vergesel [jou] al die dae van [jou] lewe…’ (Psalm 23:6 NLV). Hierdie vrou was desperaat genoeg om ongenooid by die partytjie op te daag. Jesus reageer op desperate mense. Hoe desperaat is jy? Desperaat genoeg om ‘n verandering te maak, om ‘n opoffering te maak? Desperaat genoeg om deurnag te bid? Die hele Bybel te lees? Die konflik op te los? Met ‘n vriend, wat ‘n verlore saak is, te pleit? Om jou spaargeld vir die uitbreiding van die koninkryk te skenk? Die pad van die minste weerstand sal jou nie bring waar jy moet wees nie. As jy egter vir God uit jou pad gaan, sal God vir jou uit sy pad gaan.

Sielskos: 2 Kon 9-10; Matt 23:15-28; Ps 28; Spr 7:14-20

Moenie dit net lees nie, doen dit (2)

2018-01-24
Johannes 14:26 NLV

Jesus het sy bergrede met ‘n treffende verhaal, wat die gaping tussen weet en doen aanspreek, afgesluit: ‘Elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, is soos ‘n verstandige persoon wie se huis op soliede rots gebou is’ (Matteus 7:24 NLV). Die probleem is dat ons dit makliker vind om slim, eerder as goed, te wees. Jy het nie nodig om meer van die Bybel te weet tot jy dit wat jy reeds weet, begin uitoefen nie. John Ortberg sê dat toe hy tennis afgerig het, sou onervare nuwelinge worstel met die besluit oor die tipe raket wat hulle moet koop – moet dit nylon snare wees, hoe styf moet dit gesnaar wees, ens. Die probleem was dat hulle nog nie eers ‘n bal kon slaan nie. In plaas daarvan om oor die kleinighede te debatteer, moes hulle net begin oefen. ‘n Woord van waarskuwing egter: Jy kan nie die Woord begin doen deur op jou eie krag en wilskrag staat te maak nie. Die Heilige Gees wat binne in jou woon word in die Skrif die ‘Voorspraak’ genoem. Wanneer jy besluit om dit wat reg is te doen, sal die Heilige Gees binne in jou jou bemagtig. Wanneer ‘n situasie hom voordoen, sal Hy jou voorsê wat om te doen. Jesus het belowe, ‘…wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom wat die Vader in my Naam sal stuur, sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.’ Jy vra, ‘Maar wat as ek dit nie regkry nie?’ Hy sal met jou werk en jou geleenthede gee totdat jy dit regkry.

Sielskos: Jak 1-2; Matt 9:27-38; Ps 91; Spr 3:3-4

Moenie mense stereotipeer nie, wees lief vir hulle

2018-01-12
2 Korintiërs 5:16 NLV

As jy geneig is om net met ‘jou eie soort’ om te gaan, dink hieroor na: ‘Van nou af beoordeel ons niemand meer volgens ‘n menslike maatstaf nie…’ Jesus het kilometers uit sy pad gegaan om ‘n Samaritaanse vrou by ‘n put te ontmoet. Vanuit ‘n kulturele en godsdienstige siening, was dit ‘n slegte idee. Eerstens, was sy al vyf keer geskei en het ‘n slegte reputasie gehad. Tweedens, was sy ‘n nie-Jood. In daardie dae kon Jode nie water drink of kos eet wat van ‘n nie-Jood af kom nie. Joodse geneeshere kon nie na nie-Joodse pasiënte omsien nie. Jode het inderwaarheid na nie-Jode as ‘onrein’ verwys en geglo dat hulle ook onrein sou word as hulle met hulle sou meng. Jesus het egter niemand uitgesluit nie: ‘En die Woord het mens geword en by ons kom woon…’ (Johannes 1:14 NLV). Jesus het melaatses aangeraak, vreemdelinge liefgehad en so baie tyd met partytjiegangers spandeer dat godsdienstige leiers hom ‘…’n vraat en ‘n dronklap, ‘n vriend van die liederlikste sondaars…’ (Matteus 11:19 NLV), genoem het. Jesus het nie mense tipeer nie; Hy het hulle liefgehad. Wanneer jy Hom volg, wys Hy jou vooroordele uit en sorg dat jy hulle hanteer. Dis omdat Hy die manier wat jy na ander mense kyk, wil verander, dat jy hulle nie as Jode of nie-Jode, binnestaanders of buitestaanders, liberales of konserwatiewes, ens sal sien nie. ‘Van nou af beoordeel ons niemand meer volgens ‘n menslike maatstaf nie…’ Vandag mag jy mense teëkom wat soos die vrou by die put deur die samelewing weggegooi is. Hulle is dalk uit die kerk gegooi of deur die kerk ontnugter. Jy sal die kans hê om hulle óf te tipeer, óf lief te hê. Eer God – en wees lief vir hulle!

Sielskos: Lev 18-20; Matt 6:9-18; Ps 71:1-16; Spr 2:1-2

Doen wat God vir jou sê (4)

2017-12-14
Genesis 6:8 NLV

Jy vra, ‘Wat is God se guns?’ Dit is wanneer God dit vir jou doen wat jy nie self kan doen nie. Dit maak deure vir geleenthede oop. Dit verander teenstand in ondersteuning. Dit help jou om bevordering te kry, die lys te haal of die ooreenkoms te beklink. Die Bybel sê, ‘En so het Jesus grootgeword en in wysheid toegeneem; en Hy was geliefd by God en almal wat Hom geken het’ (Lukas 2:52 NLV). Dit kan ook met jou gebeur. Dus, in plaas van om tevrede te wees met die vlak van guns wat jy tans geniet, vra God vir ‘n verhoging. Jy vra, ‘Hoe kry ek guns?’ Deur gehoorsaamheid! Dit begin deur jou lewe aan Christus oor te gee: ‘…Die Here gee genade en eer. Hy sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie’ (Psalm 84:12 NLV). God se guns word nie net tot die geestelike ryk beperk nie; dit reik ook tot in die materiële ryk. Dit was in Noag se lewe sigbaar in sy vernuftige uitvindings. Hy het nie net die eerste boot gebou en baanbrekerswerk in die skeepsbou-industrie gedoen nie, hy het ook ‘n wye verskeidenheid patente besit. Volgens Joodse tradisie, het Noag die ploeg, die skoffel, die hark en ‘n hele aantal ander implemente wat in landbou gebruik kon word, uitgevind. Die guns van God is in goeie idees vervat. Dit maak nie saak wat jy doen nie, God wil jou help om dit te doen. Hy wil guns in jou besigheidsplan, jou manuskrip, jou lesplan, jou regsdokument, jou verkoopspraatjie ensovoorts, bewys. Jy moet jouself egter vir hierdie guns posisioneer deur gehoorsaam te wees. As God weet dat Hy die eer sal kry, sal Hy jou bo jou vermoë en hulpbronne seën.

Sielskos: Est 1-4; Joh 19:18-42; Ps 105:23-36; Pred 7:5-8