Jesus wil jou vrymaak

2018-10-01
Johannes 8:31-32 NLV

Probeer jy ‘n slegte gewoonte afsweer? Jesus wil jou daarvan vrymaak. ‘…As julle in ‘n noue verbintenis aan my boodskap leef, is julle my egte navolgers; en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak.’ Jy vra, ‘Wat is hierdie ‘waarheid’ wat my sal vrymaak?’ Jesus antwoord: ‘As [jy] in ‘n noue verbintenis aan my boodskap leef.’ Oorwinning word in jou gedagtes bewerkstellig en onderhou. Een dame het gegrap, ‘Dis maklik om op te hou rook; ek het dit al duisend keer gedoen.’ Op ‘n ernstiger noot, hoe kan jy ophou om na ou gewoontes terug te keer? Deur jou van hulle te bekeer, hulle te verwerp en die ou gedagtes wat jou na die gewoonte teruglei met nuwe gedagtes te vervang. Waar kom hierdie nuwe gedagtes vandaan? Jesus antwoord, ‘As jy in noue verbintenis aan my boodskap leef.’ Dit beteken dat jy moet wegbly van plekke wat verkeerde gedagtes kweek en wegbly van mense wat verkeerde gedagtes aanmoedig. Dit mag dalk beteken dat jy dit wat jy op televisie kyk moet verander. Jy sal agterkom dat voordat jy voor ‘n slegte gewoonte swig, jy die gedagtes dink wat daartoe lei. Die Bybel sê, ‘Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe…’ (Romeine 12:2 NLV). In die vroeë stadiums van herstel van enige verslawing is dit krities om jou gedagtes daagliks met die Skrif te versadig, te bid en gewillig te wees om uit te reik na ‘n vriend se ondersteuning (sien Prediker 4:9-10). Sal jy soms op die pad na sukses misluk? Ja. Oorwinning begin egter wanneer jy besluit om vry te wees en glo dat God jou sal vrymaak.

Sielskos: 1 Kor 4-6; Luk 23:44-56; Ps 13; Spr 25:4-8

Neem standpunt in

2018-09-26
Matteus 16:18 NLV

Jy kan nie op die kantlyne sit nie, want God het jou na die voorste linie toe geroep. Dit beteken dat jy soms ‘n standpunt vir dit wat reg is sal moet inneem. Jesus het gesê, ‘…Ek [sal] my kerk oprig, en al die magte van die hel sal dit nie oorwin nie.’ In 1517 het ‘n monnik genaamd Martin Luther ‘n godsdienstige instelling die stryd aangesê. Hy het die status quo uitgedaag deur die verkope van kwytskeldings (lisensies om te sondig) aan te val. Hy het sy 95 stellings teen die kerkdeur in Wittenberg, Duitsland, vasgespyker en die Protestantse Hervorming begin. Luther het waarskynlik nie geweet dat hy besig was om geskiedenis te maak nie. Klein dade van geloof en moed kan egter ‘n domino effek hê. Wanneer ons doen wat reg is, ten spyte van die omstandighede of gevolge, dek ons die tafel vir God om die tafels om te keer. By die Ryksdag van Worms in 1521, is Luther deur die keiser Karl V vir sy oortuigings aangekla. In plaas daarvan om sy stellings terug te trek, het Luther sy morele moed bymekaar geskraap om standpunt in te neem: ‘Tensy ek oortuig word uit die getuienis van die Heilige Skrif self, of met goeie rede, is ek gebonde deur my gewete as ‘n gevangene van die Woord van God. Ek kan en wil niks herroep nie, want dit is nie geoorloof of reg om teen my gewete te getuig nie. Mag God my help. Amen.’ Vir wie moet jy opstaan? Die haweloses? Die vaderloses? Die stemloses? Moenie toelaat dat die probleem jou oorweldig nie. Moenie toelaat dat dit wat jy nie kan doen nie, jou daarvan weerhou om dit wat jy kan doen, te doen nie.

Sielskos: Sag 5-8; Luk 23:1-12; Ps 39; Spr 24:26-28

Staan op teen diskriminasie

2018-09-22
Handelinge 6:1 NLV

Die Bybel sê: ‘Namate die aantal gelowiges steeds toegeneem het, het daar klagtes gekom. Die Griekssprekendes het gekla oor die daaglikse verspreiding van kos aan hulle weduwees. Hulle het beweer dat die Arameessprekendes hulle afskeep.’ Hoekom? Omdat hulle buitestaanders was. Hierdie vrouens het nie in Judea of Galilea grootgeword nie. Hulle was van die verre lande van Griekeland, Rome en Sirië afkomstig. As hulle enigsins Aramees gepraat het, het hulle dit met ‘n aksent gedoen. Daarom is hulle afgeskeep. Die bestuurder van die kosstoor het die Hebreeuse vrouens eerste keuse gegee. Die versoeke is in twee stapels gedeel: plaaslike vroue en immigrante se versoeke. Hoe het die kerk gereageer? ‘Die Twaalf roep toe al die gelowiges bymekaar…’ (vers 2 NLV). Hoekom het die apostels so ‘n vergadering geroep? As gevolg van die voorbeeld wat Jesus van die begin van sy bediening aan hulle gestel het: ‘Die boekrol met die boodskappe van Jesaja die profeet is aan Hom gegee en Hy het dit oopgerol tot by die plek waar dit sê…’ (Lukas 4:17 NLV). Daardie dag het Hy die ses dinge aangekondig wat God Hom gestuur het om te doen: 1) Om die evangelie aan die armes te gee. 2) Om gebroke harte gesond te maak. 3) Om gevangenes vry te laat. 4) Om blindes te laat sien. 5) Om onderdruktes vry te maak. 6) Om aan te kondig dat die tyd van die Here se goedheid gekom het. Dit was die bevrydingsjaar toe alle gevangenes vrygelaat is, alle skuld vergewe is en alles wat van jou weggeneem is, herstel is. Jesus voldoen aan elke behoefte: liggaam, siel en gees. Dit is die boodskap wat jy geroep is om met ander te deel.

Sielskos: 2 Tim 1-4; Luk 22:54-62; Ps 19; Spr 24:19-22

Billy Bob

2018-09-19
Matteus 18:14 NLV

Philip Bray het in Atlanta ‘n straatbediening genaamd SafeHouse Outreach gestig. Hy skryf: ‘Een dag het ‘n klein seuntjie ‘n handgebaar vir my gewys, die soort wat manlike prostitute maak. Ek het die kar gestop en vir hom gepreek, maar nie gedink dat hy verstaan nie. Hy het egter gesê, ‘Ek doen maar net besigheid. Ek lewe hier in Cabbagetown en my broer het my die besigheid geleer.’ Ek het gevra, ‘Wat is jou naam? Hoe oud is jy?’ Hy het geantwoord, ‘Billy Bob, en ek is agt jaar oud.’ Geskok het ek gesê, ‘Jy het sekerlik nie baie kliënte nie?’ Hy het gesê, ‘Hoe jonger jy is hoe meer geld maak jy. Ek maak tweehonderd dollar per keer; my dertienjarige broer kry net twintig dollar omdat hy vigs het.’ Ek het by hom gepleit om my toe te laat om hom te help om ‘n nuwe lewe te begin, maar hy het gesê, ‘Ek kan nie. Ek is my familie se kaartjie uit die ghetto uit.’ Vir weke het ek hom probeer bereik. Toe het die polisie een dag sy verminkte liggaam in ‘n vullishouer gekry nadat een van sy kliënte hom vermoor het. In straatbediening het nie elke verhaal ‘n gelukkige einde nie. Soms is die pyn en wanhoop net te veel.’ Dan voeg Philip by, ‘Maar daar is hoop! Jesus het vir die Billy Bobs van hierdie wêreld gesterf, net soos Hy vir die Billy Grahams gesterf het. Dis hoekom ek daar buite in die strate werk.’ Jesus het gesê, ‘Net so wil julle Vader in die hemel nie hê dat één van hierdie kleinstes verlore gaan nie.’ Dit beteken dat jy geroepe is om jou gemaksone te verlaat en om na ‘n wêreld wat seer het met die liefde van Jesus uit te reik!

Sielskos: Miga 1-4; Luk 22:24-38; Ps 78:65-72; Spr 24:11-14

Verwelkom hierdie verandering!

2018-09-18
2 Korintiërs 4:18 NLV

Ons geniet die seëninge van verandering, maar nie die proses van verandering nie. Ons is wesens van gewoonte. Ons vorm ons gewoontes en ons gewoontes vorm ons. Dan begin ons dinge eksklusief uit ons eie perspektief sien. Wanneer dit gebeur, stagneer ons. Die waarheid is dat daar sonder verandering geen groei is nie. Wanneer jy die regte houding het, word elke ervaring – positief of negatief – ‘n geleentheid. Dink daaroor: Bome het meer as sonlig nodig om vrugte te dra. Die reënseisoen is ook ‘n produktiewe seisoen, omdat dit altyd die oestyd voorafgaan. Jy hoef nie van die reën te hou nie, jy moet net die doel en voordele daarvan verstaan. Die Bybel sê ons word elke dag ‘…al hoe meer verander om soos die Here te lyk…’ (2 Korintiërs 3:18 NLV). Om soos Jesus te word, moet jy Hom egter volg waar Hy jou ook al lei. Dit beteken dat jy Hom deur die wildernis van versoeking, die pyn van verwerping, die verlies van jou reputasie en die oorgawe van jou wil volg en om gereed te wees om na die plek van kruisiging te gaan waar jy vir alle vorme van self-gesentreerde lewe sterf. Om Jesus te volg beteken dat jy môre dalk op ‘n ander plek as vandag sal wees. Sodra jy hierdie beginsel verstaan, sal jy ophou om verandering wat in jou lewe plaasvind teen te staan en begin om God se werk daarin te sien. Paulus sê: ‘…Al is ons uiterlike mens besig om te vergaan, innerlik word ons dag tot dag vernuwe… Ons oog is nie op die sigbare gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd’ (2 Korintiërs 4:16-18 NLV).

Sielskos: Neh 11-13; Luk 22:14-23; Ps 78:56-64; Spr 24:6-10