Wat beteken dit om te mediteer?

2022-05-19
Psalm 119:15 NLV

‘n Ander woord vir meditasie is oorpeinsing of herkouing. ‘n Koei herkou haar voedsel. Sy eet gras, kou dit goed en sluk dit dan in. Dit sit dan vir ‘n ruk in haar maag en ‘n klein bietjie later bring sy dit weer op – met hernude smaak. Die koei kou dit nog ‘n bietjie en sluk dit weer in. Hierdie proses gaan in al vier haar mae voort. Dit is herkouing. Die koei verkry elke moontlike stukkie voeding uit die gras uit.

Meditasie is eenvoudig die vertering van gedagtes. Meditasie beteken nie dat jy jou gedagtes in neutraal plaas en aan niks sit en dink nie. Inteendeel, dis om ernstig na te dink oor wat jy lees. Jy staan byvoorbeeld by een vers in die Skrif stil en vra: ‘Wat beteken dit vir my lewe?’ Jy praat met jouself en met God daaroor. Die Bybel sê: ‘…julle moet altyd dink aan die dinge wat waar is, wat mooi is, wat reg is, wat rein is, wat pragtig en goed is. Ja, julle moet dink aan alles wat mooi is, alles waarop ‘n mens trots kan wees… dan sal God wat vrede gee, by julle wees’ (Filippense 4:8-9 ABA). Let op dat ons oor verskillende kategorieë moet nadink om, by implikasie, dit te vermy om oor die teenoorgestelde soort dinge te dink.

Kolossense 3:16 sê: ‘Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal…’ (NLV). Jy moet elke dag tyd – ‘n minimum van tien tot vyftien minute – bestee waar jy gaan sit, ‘n deel van jou Bybel lees en diep nadink oor dit wat jy pas gelees het. Praat dan in gebed met die Here daaroor. Dit is die beginpunt vir geestelike verandering en groei.

Soos saadjies wat binne-in jou groei

2022-05-04
1 Tessalonisense 2:13 NLV

Wanneer jy God se Woord lees, glo en daarvolgens optree, is dit soos saadjies wat binne-in jou groei. Daardie saadjies bevat lewe! In die natuurlike wêreld hoef jy nie die proses te verstaan waardeur sade groei nie; jy moet hulle net water gee, versorg en beskerm. Dis dieselfde met die Skrif. Paulus skryf: ‘…Julle het dit aanvaar, nie as mensewoorde nie, maar soos dit werklik is, as Gód se woord. Dié woord is aan die werk in julle wat glo’ (vers 13 NLV).

God se Woord is selfonderhoudend; dit vereis nie dat ander mense dit bevestig nie. Ons lees dat, toe Jesus op die water na sy dissipels aangeloop kom, het Petrus gesê: ‘…Here, as dit regtig U is, laat my dan op die water na U toe kom’ (Matteus 14:28 NLV). Jesus het geantwoord: ‘Kom dan…’ (vers 29 NLV), en Petrus het op die water begin loop. Die ander dissipels het waarskynlik nie geglo dat Petrus dit sou kon doen nie. Dis omdat hulle nie verstaan het wie met Petrus gepraat het nie. ‘…hulle het gedink dis ‘n spook’ (Markus 6:49 NLV).

Wanneer God met jou deur sy Woord praat, moet jy nie verwag dat almal sal verstaan, saamstem of jou ondersteun nie. Dis net menslik om te wil hê dat sekere mense moet sien wat jy sien en moet glo in wat jy doen. In hierdie Skrifgedeelte berei God ons egter vir die verwerping van diegene wat nie verstaan wat God vir ons gesê het nie, voor. As jy nie versigtig is nie, kan mense se opinies jou laat twyfel oor dit wat God gesê het. Soms bevestig Hy wat Hy gesê het deur ander mense, maar soms doen Hy nie. Solank as wat jy egter sy Woord inneem en dit glo, is dit aan die werk binne-in jou.

Sielskos: Num 3:1-4:33; Matt 5:27-37; Ps 2; Spr 10:30-32

Leer om te konfronteer (1)

2022-02-12
Spreuke 13:18 NLV

Ons geniet nie konfrontasie nie, maar dis onmoontlik om daarsonder te groei. Gesonde konfrontasie vereis dat ons ‘…in liefde by die waarheid bly…’ (Efesiërs 4:15 AFR83), teenoor diegene wat ons liefhet. Net soos God ons in areas waar ons nodig het om te groei konfronteer, verwag Hy van ons om dieselfde vir ander te doen. Is dit maklik? Nee.

Hier is egter ‘n paar leidende beginsels om jou te help: 1) Praat met die persoon, nie van hulle nie. Gesonde konfrontasie moet direk wees en waar moontlik, in privaatheid plaasvind. Dit verg deurdagte kommunikasie wat op ‘n ferm, maar genadige wyse oorgedra word. Hanteer mense wat seer het, versigtig.

2) Moenie oordryf of geestelike mooipraatjies gebruik nie. Gee spesifieke voorbeelde. Moenie agter woorde soos: ‘Ek glo dat die Here my gewys het dat jy verkeerd is,’ wegkruip nie. Toe die profeet Natan vir koning Dawid oor sy sonde met Batseba gekonfronteer het, was hy spesifiek. Hou ook jou emosies in bedwang; laat genoeg tyd tussen die oortreding en die konfrontasie toe sodat jy enige woede wat jy voel, met gebed kan ontlont.

3) Moenie hulle skuldig laat voel nie; help hulle. Moenie iemand los om daaroor te tob sonder om vir hulle duidelike aanwysings te gee hoe om te verbeter nie. Dis nie regverdig nie en dis nie konstruktief nie. Jou doelwit is nie om iemand te ontbloot nie, maar om vir hulle ‘n beter manier te wys.

4) Moenie krities wees nie; wees meelewend. As jy alles anders nalaat, moenie hierdie beginsel nalaat nie! As jy dit doen, sal jy jouself bevind waar jy veroordeel, eerder as wat jy konfronteer. As jy eerlik is, sal jy erken dat jou paadjie na sukses ‘n paar slaggate gehad het – benader ander mense dus met liefde en besorgdheid.

Sielskos: Jes 30-33; Luk 9:37-45; Ps 145:1-13; Spr 4:20-22

Jy word getoets

2021-11-30
Psalm 105:19 DB

God mag dalk nie presies wanneer jy dit wil hê reageer nie, maar Hy is altyd betyds. ‘…Hy sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie’ (Psalm 84:12 NLV). Dis moeilik om toe te kyk hoe God ander mense seën, terwyl jy gedwing word om te wag. God se plan vir Josef was om in ‘n paleis te woon, maar tog het hy vir jare in die tronk as gevolg van misdade wat hy nooit gepleeg het nie, gebly. Dit was egter in die tronk wat hy die skinker ontmoet het aan wie die farao goedgesind was. Deur hierdie vriendskap is Josef tot tweede in bevel van Egipte bevorder. Wanneer jy met God ‘n pad stap, word jou geleenthede vir bevordering deur sy plan, nie deur iemand ander se aksies nie, gereguleer. Voorbereiding vind altyd voor bevordering plaas.

Toe Elia vuur uit die hemel by Karmelberg laat neerkom het, het almal hom bewonder en toegejuig. Hy het egter daarna vir jare deur ‘n hongersnood gelewe, waar sy enigste vriend ‘n arm weduwee was. Saam moes hulle God vir elke ete vertrou. Dis daar wat Elia belangrike lesse oor nederigheid, goddelike leiding en vertroue op God in tye van nood, geleer het – dinge wat nie noodwendig natuurlik tot ons kom nie.

Wanneer God iets groots gaan bou, neem Hy die tyd om ‘n sterk fondasie te lê. ‘En so het Jesus grootgeword en in wysheid toegeneem; en Hy was geliefd by God en almal wat Hom geken het’ (Lukas 2:52 NLV). Gee jouself tyd om te groei. Laat Hom toe om ‘n fondasie onder jou te bou wat jou en die seëninge wat Hy in die komende jare vir jou in gedagte het, sal kan ondersteun.

Sielskos: Jos 8:30-10:43; Joh 14:26-15:4; Ps 146; Spr 28:9-12

Strewe na uitnemendheid (1)

2021-08-23
Daniël 5:14 NLV

Selfs al was Daniël ‘n gevangene, het hy geweier om middelmatigheid te aanvaar. Dit het hom onder die aandag van die koning van Babel gebring wat gesê het: ‘Ek hoor dat die gode in jou woon en dat jy besondere insig, begrip en wysheid het.’ Wat ‘n wonderlike reputasie! En wat ‘n berisping vir diegene van ons wat maar net aanploeter. Die Bybel sê: ‘Sien jy iemand wat bedrewe is in sy beroep? Hy werk vir konings en nie vir gewone mense nie’ (Spreuke 22:29 NLV).

Die manier om aandag in die lewe te trek en vooruit te beweeg, is om te studeer, te groei en jou vaardighede op te knap. Het jy ‘n middelmatige houding teenoor jou werk, jou verhoudings en die lewe oor die algemeen? Indien dit die geval is, oorweeg bietjie die vlakke van frustrasie wat jy sou ervaar as die mense wat jou moet bedien, so ‘n houding gehad het. Wat as die kelner koue kos en jou drankie in ‘n vuil glas vir jou bedien het? Sou jy daaroor gekla het? Dink dan hoe mense voel wanneer jy hulle slordige vakmanskap en ‘n ‘kan-nie-minder-omgee’ houding gee nie.

Daar word gesê dat uitnemendheid sy eie beloning is. Ja, jy sal vir uitnemendheid beloon word, maar jou grootste beloning sal kom uit die wete dat jy jou beste gedoen het. Aristotel het gesê: ‘Ons is wat ons herhaaldelik doen. Uitnemendheid is dus nie ‘n daad nie, maar ‘n gewoonte.’ Kyk na die lewens van mense wat in hulle veld uitblink. Bestudeer hulle gewoontes en leer van hulle. Identifiseer hulle karaktereienskappe en strewe daarna om dit te ontwikkel. Eers wanneer jy jou beste gedoen het, kan jy op God vertrou om die res te doen.

Sielskos: Klaag 1:1-3:39; Luk 16:19-31; Ps 119:121-128; Spr 18:13-20