Wie weet? God weet!

2018-04-20
Deuteronomium 29:29 NLV

Die Bybel sê: ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie’ (Spreuke 3:5 NLV). Hierdie Skrifgedeelte is maklik om aan te haal, maar moeilik om volgens te lewe, veral wanneer ons lewens deur tragedie aangeraak word en ons nie die redes daaragter verstaan nie. Daar is tye wat ons bid en God vir ons antwoorde gee en daar is tye wat ons bid en Hy vir ons vrede gee. ‘…Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:6-7 NLV). In tye van pyn en verlies, is daar twee Skrifgedeeltes waarop jy kan staan: 1) ‘Die geheime dinge is vir die Here ons God. Die dinge wat geopenbaar is, vir ons en ons nageslag…’ Wanneer dit by die verstaan van dinge kom, het ons ons gebied en God het syne. Ons s’n is beperk tot wat Hy besluit Hy aan ons wil openbaar. Paulus, wat die helfte van die Nuwe Testament deur goddelike openbaring geskryf het, erken, ‘Ons ken maar net ten dele…’ (1 Korintiërs 13:9 NLV). 2) ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (Romeine 8:28 NLV). Wanneer jy dus in die versoeking kom om jou hande in wanhoop op te gooi en te sê, ‘Wie weet?’ herinner jouself, ‘God weet!’ Herinner jouself vandag daaraan dat Hy dinge ten goede vir jou en vir sy heerlikheid laat uitwerk.

Sielskos: Hand 8-9; Mark 3:28-35; Ps 130; Spr 10:24-26

Posisioneer jouself om te ontvang

2018-04-10
Spreuke 12:15 NLV

Dit maak al die verskil in die wêreld wanneer jy jouself posisioneer om te ontvang! As jy byvoorbeeld jouself posisioneer soos jy hierdie lees om te ontvang deur vir die Here te sê, ‘Ek sal aksie neem op dit wat U vir my wys,’ sal jy meer voordeel daaruit trek as wanneer jy dit net lees om gemotiveerd of geïnspireer te word. Om weerstand te bied of om te ontvang – dis ‘n keuse wat jy elke dag maak. Niks sterf vinniger as ‘n nuwe idee in ‘n geslote brein nie. Dis onmoontlik om te leer wanneer jy dink dat jy reeds alles weet. Een van die redes hoekom Jesus so sterk op die Fariseërs gereageer het, is omdat hulle geweier het om dit wat Hy te sê gehad het, te ontvang. Denke wat verkeerd geposisioneer is, is soos ‘n mikroskoop wat klein onbenullige dinge kan vergroot, maar nie die groter prentjie kan sien nie. Elke situasie is ‘n geleentheid as dit op die regte manier beskou word. Geleenthede kan egter net ‘in jou skoot val’ wanneer jy jou skoot reg posisioneer. Ons gedagtes is te dikwels op net een plek gefokus. Ons is opsoek na rooi, dus sien ons blou nie raak nie; ons dink ‘môre,’ terwyl God ‘nou’ sê. Ons soek orals, terwyl die antwoord reg onder ons neus is. Wanneer ‘n persoon reg geposisioneer is, is hy of sy gereed om alles wat God vir hulle in gedagte het, te ontvang. God sal deur ander mense met jou praat, maar tensy jy luister, sal jy nie hoor wat Hy vir jou wil sê nie. Posisioneer jouself dus vandag om te ontvang.

Sielskos: Jer 36:27-40:16; Mark 1:40-45; Ps 25:1-7; Spr 9:17-18

Geheime vir selfbeheersing (3)

2018-03-02
Titus 2:12 DB

Praat terug met jou gevoelens. Ons sit heeltemal te veel klem op ons gevoelens. Ons dink dat alles moet goed voel, so nie is dit nie die moeite werd nie. Ons sê dinge soos, ‘Ek voel nie lus om te werk nie… Ek voel nie lus om my Bybel te lees nie.’ Of, ‘Ek voel of ek nog ‘n drankie wil drink… Ek is lus om tot laatoggend te slaap.’ Moenie jou gevoelens so baie outoriteit gee nie. Gevoelens is hoogs onbetroubaar; as jy hulle toelaat, sal hulle jou beheer en manipuleer. God wil nie hê dat jy deur jou gevoelens beheer moet word nie. Hy wil hê dat jy jou buie moet bemeester. Met Christus as die Heerser van jou lewe, kan jy jou gevoelens beheer. Praat terug met hulle. God sê dat Hy wil hê dat jy moet leer om jou emosies uit te daag. ‘Nou wys Hy vir ons hoe om ‘n Godlose leefstyl te systap en hoe om vernietigende begeertes te laat staan. Hy laat ons met wysheid en opregtheid leef…’ God se genade gee jou die krag om te doen wat reg is. Dit gee jou die vermoë om nee te sê vir daardie gevoel, daardie begeerte, daardie impuls. Sukkel jy met jou gewig? Voor jy die yskas oopmaak, het jy reeds met jouself oor kos begin praat. As jy ernstig is, sal jy sommige van hierdie onderbewustelike houdings teenoor kos moet begin uitdaag. Wanneer jy jou gevoelens hoor sê, ‘Ek moet net ietsie eet of ek gaan doodgaan,’ moet jy antwoord, ‘Nee, ek gaan nie doodgaan nie. Ek gaan inderwaarheid gesonder wees as ek nie nou iets eet nie.’ Die feit is: God se bonatuurlike krag kan jou help om jou buie, gedagtes en begeertes te bemeester.

Sielskos: 1 Kon 18:16-20:43; Matt 19:15-30; Ps 66:1-12; Spr 6:20-22

Belydenis van ‘n geheime sondaar (5)

2017-11-21
1 Samuel 16:7 NLV

Die pastoor en skrywer John MacArthur sê: ‘Jesus se uitleg van die wet is ‘n verwoestende slag vir die leuen dat ‘n mens se beeld alles is. Geheime sondes is veral afskuwelik omdat: 1) God die hart sien. As ons besef dat Hy die enigste toeskouer daarvan is, sal ons minder geneig wees om dit geheim te hou. Dis dwaas om te dink dat jy sonde ongedaan kan maak deur dit privaat te hou. Dis veral dwaas om te dink dat jy beter as ander mense is omdat jy privaat sondig. Dit is die dwaasste om jou sondes weg te steek. ‘Wie sy oortredings verswyg, sal nie voorspoedig wees nie…’ (Spreuke 28:13 NLV). 2) Sondige gedagtes uit dieselfde plek as sondige dade ontstaan. Toe Jesus gesê het dat haat dieselfde gewig as moord dra en dat begeerte die kern van owerspel is, het Hy bedoel dat daar geen verskil in die mate van sonde is nie – dus het ‘n persoon wat begeer geen reg om verhewe bo die persoon wat owerspel pleeg, te voel nie. Die feit dat iemand sulke gedagtes het bewys dat hy of sy in staat is om immorele dade te pleeg en iemand wat sy broer haat, het reeds moord wat in sy hart skuil. 3) Skynheiligheid weggesteekte sonde vererger. Skynheiligheid brand jou gewete en stel die pad oop vir ander sondes wat jou karakter verniel. Wanneer iemand vir jou probeer vertel dat voorkoms alles is, moet dit nie glo nie. Jou geheime lewe is ‘n toets vir jou karakter. As jy wil weet wie jy regtig is, kyk na jou private lewe. Kyk dan in die spieël van God se Woord en laat Hom toe om die gedagtes en bedoelinge van jou hart te openbaar en te korrigeer.’

Sielskos: Pred 10-12; Joh 10:34-42; Ps 102:12-17; Spr 30:21-23

Wetenskap bewys dat die Bybel waar is (2)

2017-08-07
Jesaja 40:22 AFR53

Die Bybel sê vir ons dat die aarde rond is. ‘Hy sit bo die kring van die aarde…’ Die woord kring kom van die Hebreeuse woord wat ook as ‘rondte’ vertaal kan word. Die boek van Jesaja is omtrent sewehonderd jaar voor Christus se geboorte geskryf. Dit is ten minste driehonderd jaar voor Aristotel voorgestel dat die aarde dalk ‘n sfeer kan wees. Dit was ‘n verdere tweeduisend jaar later, in ‘n tyd wat die wetenskap geglo het dat die aarde plat is, wat die Skrif vir Christopher Columbus geïnspireer het om rondom die wêreld te seil. Hy skryf: ‘Dit was die Here wat dit in my gedagtes geplaas het. Ek kon sy hand op my voel. Daar is geen twyfel dat die inspirasie van die Heilige Gees af gekom het nie, omdat Hy my met wonderlike illustrasie van die Heilige Skrif gerusgestel het’ (vanuit die dagboek van Christopher Columbus, met verwysing na sy ontdekking van die Nuwe Wêreld). Die Bybel leer ons oseanografie. In die negentiende eeu, het Matthew Fontaine Maury, wat die vader van moderne oseanografie en marine meteorologie genoem word, die woorde van Dawid oor ‘…die visse van die see, wat trek deur die paaie van die see’ (Psalm 8:8 AFR53), gelees. Hy het gesê, ‘As God sê dat daar paaie in die see is, gaan ek dit vind.’ Vandag kan ons die ontdekking van die warm en koue seegetye aan hom toeskryf. Sy boek oor oseanografie word steeds vandag in universiteite regoor die wêreld gebruik. Die volgende keer wat iemand dus die akkuraatheid van die Skrif betwyfel, glimlag en sê vir hulle, ‘Wetenskap bewys dat die Bybel waar is.’

Sielskos: 1 Kron 6:1-7:19; Mark 2:23-28; Ps 119:17-24; Spr 20:22-24