Bly op dit wat belangrik is, gefokus

2018-12-07
Jesaja 50:7 ABA

In ‘n klein dorp op die suidelike oewer van Lake Superior in Wisconsin, was die jaarlikse hondeslee wedren op die punt om te begin. Die deelnemers was almal kinders – van ouer seuns met verskeie honde en groot sleë, tot een klein seuntjie met slegs ‘n klein slee en een hond. Op die teken, het die sleë weggespring en gou was die klein seuntjie so ver agter dat dit skaars gelyk het of hy deel van die resies was. Halfpad deur die resies, toe die span in die tweede plek probeer om die eerste span verby te steek, het die sleë te naby aan mekaar gekom en het die honde begin baklei. Soos elke slee op die toneel aangekom het, het meer honde betrokke geraak. Dit was gou ‘n warboel van kinders, sleë en honde. Alle gedagtes oor die wedren het verdwyn. Een klein outjie en sy hond het dit egter reggekry om die chaos te omseil en die wedren te wen. Die Right Path stigter en besigheidsafrigter, Jerry Mabe, sê vir werkgewers dat wanneer hulle bestuurders aanstel, hulle op die uitkyk moet wees vir mense wie se aandag maklik deur ander dinge afgelei word, omdat die werk dikwels onder hulle ly. Om sukses te behaal moet jy gefokus bly op dit wat belangrik is en jou doelwitte sonder aarseling najaag. Hou jou oë op die wenstreep en vertrou God om jou te help. Hy sal dit doen. Sy Woord sê so: ‘Ja, die Here help my, daarom kon die mense my nie verneder nie. Die Here help my, daarom het ek my gesig hard gemaak soos klip. Ek weet hulle sal my nie verneder nie.’

Sielskos: Gen 37-39; John 17:1-26; Ps 147:1-11; Pred 3:5-8

Probeer om te ‘sien’ wat God in jou lewe doen!

2018-10-02
Eksodus 3:2 NLV

Moses het vir vier dekades lank in die woestyn geleef: Dis meer as 21 miljoen minute! Sy lewe is deur eentonigheid gedefinieer totdat hy ‘n ondervinding gehad het. Op ‘n dag wat presies soos die 4,600 dae vantevore begin het, het Moses ‘n brandende bos uit die hoek van sy oog opgemerk. Toe het hy ‘n stem uit die bos gehoor wat sy naam roep. Soms sal God jou verras! ‘n Brandende bos is amper so absurd soos ‘n pratende donkie. O wag, God het dit ook gedoen! Een van die inherente gevare daarin om vir ‘n lang ruk die pad met God te stap, is dat jy naderhand kan dink dat jy Hom uitgepluis het. Ons probeer Hom in ‘n boks sit, maar daar is geen boks groot genoeg wat Hom kan inperk nie. Hy sê: “‘My gedagtes is anders as julle s’n, en julle paaie is nie my paaie nie,’ sê die Here. ‘Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is wat Ek doen, hoër as wat julle doen, en my gedagtes hoër as julle gedagtes'” (Jesaja 55:8-9 NLV). In plaas daarvan om doelloos deur die lewe te gaan en jou dae ineen te laat loop, het jy nodig om elke dag op te staan en te bid: ‘Vader, dankie vir hierdie nuwe dag. Gee my asseblief nuwe insigte in u Woord wat nuwe aspekte van u karakter openbaar, sodat ek u wil mag doen en U kan verheerlik.’ Word meer oplettend en bewustelik; moenie dit wat God vir jou het, misloop nie. Doen wat Moses gedoen het: “‘Dit is snaaks,’ het Moses vir homself gesê. ‘Hoekom brand die bos dan nie uit nie? Laat ek gaan kyk wat aangaan'” (Eksodus 3:3 NLV). Probeer vandag ‘sien’ wat God in jou lewe doen!

Sielskos: 1 Kor 7-9; Luk 24:1-12; Ps 91; Spr 25:9-12

Bewaar God se Woord (4)

2018-06-22
Psalm 119:97 NLV

Mens bewaar God se Woord op drie maniere: 1) Deur dit na te vors. Dit beteken dat jy jou gedagtes daaroor neerskryf. Dit behels ook dat jy vrae soos: Wie? Wat? Wanneer? Waar? Hoekom? Hoe? moet vra. Met ander woorde, jou Bybelstudie moet jou insig gee, nie net inligting nie. 2) Deur dit te onthou. Jy mag dalk dink dat jou geheue sleg is, maar jy het alreeds miljoene idees en feite gememoriseer. Die waarheid is dat ons dit onthou wat waarlik vir ons belangrik is! Daar is enorme voordele daaraan verbonde om die Skrif te memoriseer. Dit sal jou help om versoeking te weerstaan, om beter besluite te maak, stres te verminder, jou selfvertroue op te bou en jou in staat te stel om jou geloof met ander te deel. Begin deur ‘n vers neer te skryf wat jou gehelp het en dra dit op ‘n klein kaartjie saam met jou rond. Sê dit hardop vir jouself terwyl jy werk, oefen, wag en voor jy gaan slaap. Die kuns daarin om Skrifgedeeltes te memoriseer, is om dit aanhoudend te hersien! 3) Deur daarop te reflekteer. Geen ander gewoonte sal jou meer geestelik volwasse laat word as om daagliks oor God se Woord te reflekteer nie. Soos jy dit doen, word jy letterlik ‘…al hoe meer verander om soos die Here te lyk…’ (2 Korintiërs 3:18 NLV). God het Dawid ‘…’n man na my hart…’ (Handelinge 13:22 NLV), genoem. Hoe het hy daardie onderskeiding gekry? Omdat hy lief was daarvoor om oor God se Woord te reflekteer: ‘Hoe lief het ek u gebooie! Ek oordink dit die hele dag.’ Die sleutel tot ‘n suksesvolle Christelike lewe is joune, wanneer jy leer om God se Woord te bewaar.

Sielskos: 2 Kor 1-4; Luk 1:67-80; Ps 139:13-24; Spr 15:31-33

Bewaar God se Woord (3)

2018-06-21
Kolossense 3:16 NLV

Soos jy jou gedagtes met God se Woord vul, sal die Heilige Gees dit gebruik om jou te verander. ‘Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal…’ Hoe doen jy dit? 1) Deur dit te lees. As jy die koerant maar nie die Bybel lees nie, sal jy nie geestelik groei nie. Jy kan nie televisie vir drie of vier ure kyk, dan jou Bybel vir drie of vier minute lees en groei verwag nie. Hoe kan jy sê jy glo die Bybel van begin tot einde, as jy dit nog nie deurgelees het nie? ‘…[Ons moet] dit elke dag lees so lank as wat [ons] lewe…’ (Deuteronomium 17:19 NLV). As jy jou Bybel net vyftien minute elke dag lees, sal jy dit teen die einde van die jaar heeltemal deurgelees het. As jy elke dag net een dertig-minute televisieprogram uitsny, kan jy dit twee keer ‘n jaar deurlees. Daaglikse Bybelstudie hou jou binne die bereik van God se stem. Wil jy geestelik groei? Ontwikkel dan ‘n daaglikse Bybel leesplan en hou daarby. 2) Deur dit te ontvang. In die gelykenis van die saaier praat Jesus van drie onontvanklike houdings: ‘n geslote gees (harde grond), ‘n oppervlakkige gees (vlak grond) en ‘n deurmekaar gees (grond met onkruid) (sien Lukas 8:5-15). Hy gaan dan verder om te sê, ‘Gee aandag aan wat jy hoor…’ (vers 18 NLV). Enige tyd wat jy nie besig is om te leer nie, kyk na jou houding, want God kan selfs deur die verveligste onderwyser met jou praat as jy nederig en ontvanklik daarvoor is. Jakobus sê ‘…aanvaar nederig die woord wat God in julle geplant het. Hierdie woord het die mag om julle te red’ (Jakobus 1:21 NLV). Hierdie is nie net goeie idees nie; dis lewensveranderende beginsels!

Sielskos: Eseg 46-48; Luk 1:57-66; Ps 139:7-12; Spr 15:28-30

Bid vir die regte woorde

2018-06-14
Kolossense 4:6 NLV

Bid: ‘Here, ek sluit by die psalmdigter Dawid aan en vra: ‘Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees…’ (Psalm 19:15 NLV). Ek besef dat die woorde wat ek spreek geweldige krag het, in beide my eie lewe en in my verhoudings. U Woord sê, ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe…’ (Spreuke 18:21 NLV). Leer my om woorde te spreek wat altyd getrou aan u Woord is en wat U verheerlik. Help my om versigtig te wees om woorde te spreek wat ander mense opbou in plaas van afbreek, wat komplimenteer eerder as kritiseer, wat in liefde en waarheid gespreek word en nie deur my eie verwagtings en begeertes verdraai word nie, en wat vertroue en nie mismoedigheid meebring nie. Waar ek woorde gespreek het wat negatief of skadelik vir iemand anders was, vergewe my. Weerhou my daarvan om dinge te sê wat ander mense op enige manier seermaak of afkraak. Ek wil vriendelik met my woorde wees en ‘n tong hê wat genesing en seën bevorder (sien Spreuke 12:18). Help my om geloof in u Heerskappy oor my lewe te hê dat ek ‘…alles sonder kla of teëpraat’ (Filippense 2:14 NLV) kan doen. Help my om nie negatiewe dinge van myself te sê nie. Help my om onmiddellik op te hou wanneer ek ‘n kritiese woord begin sê. U woord sê, ‘Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee.’ Laat my woorde U vandag eer en verheerlik. In Jesus se naam bid ek dit. Amen.’

Sielskos: Eseg 27:25-30:26; Mark 15:33-47; Ps 143; Spr 15:8-10