2025-08-20
1 Korintiërs 12:31 AFR83
Die waarde van enigiets word deur sy funksionaliteit bepaal. Watter probleem los dit op? Aan watter behoefte voldoen dit? Sand is ‘n goeie voorbeeld. Op die strand is sand gratis. As jy egter ‘n speelgrond wil bou, moet daardie selfde sand in sakke gepak en vervoer word, dus kos dit meer en daarom styg die waarde daarvan. Nou kos dit wat eens gratis op die strand was, R100 per sak. Sodra dieselfde sand op ‘n stuk papier vasgeplak is, wat dit skuurpapier maak, neem die waarde daarvan weer toe. Nou is dit omtrent R50 vir ‘n stuk skuurpapier. Die waarde het toegeneem, omdat die doel daarvan verander het.
‘n Skrywer verduidelik dit verder as volg: ‘Sand bestaan uit silikondioksied. Wanneer sand verhit en verwerk word, word dit ‘n ingewikkelde deel van ‘n rekenaarskyfie wat R10 000 werd is. Wat dus eens gratis op die strand was, het nou waarde omdat dit in ‘n sak is, omdat dit op ‘n stuk papier vasgeplak is, of omdat dit deel van ‘n rekenaarskyfie wat jy skaars kan bekostig, is. Die sand is dieselfde, maar omdat dit nou ‘n groter doel het, is die waarde daarvan baie groter.’
Nadat Paulus baie oor die verskillende werke wat gedoen moes word en gawes wat in die kerk uitgeoefen moes word geskryf het, het hy gesê: ‘Lê julle toe op die beste genadegawes.’ Hoekom? Sodat die goeie wat jy doen die beste en voordeligste vir almal sal wees. Paulus skryf aan die gelowiges in Rome: ‘Want ek begeer om julle te sien, sodat ek die een of ander geestelike gawe met julle kan deel om julle te versterk’ (Romeine 1:11 AFR20). Moenie met minder tevrede wees nie; vra God vir meer – jy sal nie teleurgestel word nie.
Sielskos: Klaag 3:40-5:22; Matt 20:1-16; Ps 119:129-136; Spr 18:21
2025-08-19
1 Petrus 3:8 NLV
Plaas jouself in die ander persoon se skoene en probeer dinge uit hulle perspektief te sien. Dit is een van die groot geheime om met kliënte te werk, ‘n huwelik te onderhou, kinders groot te maak, die evangelie met mense te deel, om mense te help wat minder bevoorreg is, ens. Lewe volgens die volgende Skrifgedeelte: ‘…Wees almal eensgesind, simpatiek, lief vir mekaar, goedhartig en nederig.’ Probeer om verder as jouself, jou belange en jou eie wêreld te kyk.
Wanneer jy besluit om vanuit elke moontlike hoek oor ‘n saak te besin: (a) kyk daarna in die lig van die ander persoon se verlede, (b) vind uit wat die ander persoon se belangstellings en bekommernisse is, en (c) lê jou eie plan opsy en probeer om te sien wat die ander persoon sien. Dit is ‘n kragtige benadering, want dit beteken dat jy werklik met hulle kontak probeer maak.
As jy by enige groep- of spanaktiwiteit aansluit, weet jy hoe noodsaaklik dit is dat elke persoon die geheelbeeld en nie net sy eie deel sien nie. Wanneer ‘n persoon nie besef dat sy optrede met die van die span moet ooreenstem nie, ly die hele span. Hoe beter ‘n spanlid die geheelbeeld begryp, hoe groter is hul potensiaal om met die span saam te werk.
Om met mense oor die weg te kom en saam met hulle te werk, verg inspanning: om hul behoeftes, hul doelwitte, hul seerkry en hul stryd te leer verstaan. Dit is wat Jesus met ons doen. Die Bybel sê dat Hy ‘…ten volle met ons in ons swakhede saamvoel…’ (Hebreërs 4:15 NLV). Om in sy voetspore te volg, moet jy poog om dieselfde met ander mense te doen.
Sielskos: Klaag 1:1-3:39; Matt 19:15-30; Ps 119:121-128; Spr 18:13-20
2025-08-18
Eksodus 4:12 NLV
Jy hoef nie ‘n groot spreker te wees nie; jy moet net die boodskap kan oordra. Jy hoef nie ‘n ander spreker na te boots nie; jy moet net besluit om die bes moontlike ‘jy’ te wees. Dus:
1) Moenie jouself bekommer dat jy dalk ‘n fout kan begaan nie. Die kans is groot dat jy meer oor jou onderwerp as 90 persent van die gehoor weet. As jy struikel, wat dan? Dit wys aan die gehoor dat jy mens is – net soos hulle. Mense vind dikwels meer aanklank by jou kwesbaarheid as by jou krag. Boonop ondersteun die gehoor jou en wil hulle hê jy moet slaag.
2) Fokus daarop om waarde aan die gehoor oor te dra, eerder as om hulle te probeer beïndruk. Al wat wat saak maak, is dit wat die gehoor van jou boodskap huis toe neem. John Ford, ‘n Amerikaanse filmregisseur, het dit so gestel: ‘Jy sal goed praat wanneer jou tong die boodskap van jou hart oordra.’
3) Oefen! Oefen! Oefen! Wanneer jy jou boodskap in die spieël oefen, kan jy sien en hoor wat jou gehoor gaan sien en hoor. So kan jy verbeterings byvoeg en dienooreenkomstig regstellings maak.
4) Wanneer jy God se Woord deel, berei jou boodskap voor asof dit alles van jou afhang. Bied dit egter aan asof alles van God afhang – want dit doen! Paulus het geweet dat hy nie ‘n goeie spreker was nie en tog verander sy woorde tweeduisend jaar later steeds lewens: ‘My boodskap en my prediking was bitter eenvoudig. Ek het julle nie probeer oorreed deur geleerde welsprekendheid nie, maar deur die Heilige Gees wat kragtig onder julle gewerk het. Dit het ek gedoen sodat julle geloof nie sou berus op menslike geleerdheid nie, maar op die krag van God’ (1 Korintiërs 2:4-5 NLV).
Sielskos: Gal 4-6; Matt 19:1-14; Ps 119:113-120; Spr 18:10-12
2025-08-17
Johannes 16:24 ABA
Bid jy, maar God het nog nie geantwoord nie? Kom ons kyk na ‘n paar moontlike redes daarvoor.
1) Miskien verwag jy baie van God, maar nie baie van jouself nie. Miskien vra Hy jou om harder te werk deur die vernuf wat Hy jou gegee het, te gebruik. Elia was in ‘n verwoestende droogte vasgevang toe God vir hom gesê het om na die Kritspruit toe te gaan en dat kraaie vir hom daar kos sou bring (sien 1 Konings 17:1-4). Elia kon geantwoord het: ‘Here, ek is uitgeput! Kan U hulle nie hiernatoe stuur nie?’ Die Bybel sê egter: ‘Elia het gedoen soos die Here hom beveel het…’ (1 Konings 17:5 NLV). Vra vir God of daar iets is wat jy moet doen en wanneer Hy vir jou die opdrag gee, doen dit.
2) Miskien is jou gebede nie breedvoerig genoeg nie. Weet God nie reeds wat ons nodig het nie? Ja, maar Hy wil dit by jou hoor. ‘…En eintlik is die rede hoekom julle nie het wat julle wil hê nie, die feit dat julle God nie daarvoor vra nie’ (Jakobus 4:2 NLV). God wil hê dat ons in gebed moet volhard: ‘En so sê Ek vir julle, hou aan vra, en vir julle sal gegee word wat julle vra. Hou aan soek, en julle sal vind. Hou aan klop, en die deur sal oopgemaak word’ (Lukas 11:9 NLV).
3) Ons besef nie dat God op sy tyd aan ons behoeftes wil voldoen nie. Soms wag Hy sodat Hy iets groters kan doen. Lasarus was dodelik siek, maar Jesus het nie onmiddellik gereageer nie. Hy het gewag sodat Hy hom uit die dood kon opwek (sien Johannes 11:1-6, 43-44). Die Woord verseker ons: ‘…Hy sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie’ (Psalm 84:12 NLV).
Sielskos: Gen 6:9-8:4; Matt 24:37-51
2025-08-16
Psalm 23:1 NLV
Spurgeon se tydgenoot, dr Joseph Parker, was ‘n pastoor by die City Temple Church in Londen. Eendag het hy na sy preekstoel gestap en hierdie vers gelees: ‘Die Here is my herder, daar is niks wat my ontbreek nie.’ Na ‘n lang pouse het hy sy Bybel toegemaak, na die gemeente gekyk en gesê: ‘En vriende, dit is genoeg!’
Skriftuurlik en prakties gesproke is hy reg! Wanneer God jou herder is, kom jy niks kort nie. Selfs in die ergste omstandighede hoef jy nie bang te wees nie, want Hy is altyd by jou (vers 4 NLV). Jy geniet twee dinge waarna elke mens smag – genoegsaamheid en sekuriteit – want by God is daar geen gebrek aan vermoë of hulpbronne om vir ons in enige situasie te sorg nie (sien Filippense 4:19). Dit is die rede waarom Paulus gesê het dat hoewel hy niks het nie, hy alles besit (sien 2 Korintiërs 6:10).
Die Bybel sê vir ons: ‘As God werklikwaar nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal aan die dood oorgegee het, is daar tog geen manier waarop Hy nie ook alle ander goeie dinge aan ons sal skenk nie’ (Romeine 8:32 NLV). Daar is egter ‘n paar dinge wat ons rakende God se tydsberekening moet onthou.
1) As gevolg van sy voortreflike wysheid, sal die antwoord slegs kom wanneer die tyd daarvoor reg is.
2) Totdat ons gehoorsaam aan Hom en sy opdragte is, sal die antwoord nie kom nie.
3) Geloof is deurslaggewend om die antwoord te ontvang.
Jesus het gesê: ‘Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou’ (Markus 11:24 NLV).
Sielskos: Gal 1-3; Matt 18:21-35; Ps 119:105-112; Spr 18:9
2025-08-15
Romeine 5:17 AFR20
Die Bybel sê: ‘Want as deur die oortreding van die een mens die dood deur daardie een mens begin heers het, sal hulle wat die oorvloed van God se genade ontvang, ja, die gawe van sy regverdiging, nog soveel eerder deur die een mens, Jesus Christus, in die lewe regeer’ (vers 17 NLV). Die geregtigheid wat God goedkeur en aanvaar is ‘n gawe en word op genade gebaseer. Genade is onverdiende guns by God.
Probeer jy deur jou dade om geregtigheid voor God te verdien? Glo jy dat wanneer jy meer goeie dade doen, meer gee, meer bid en meer dien, dat God jou liewer sal hê en jou seën? Dit is alles goeie dinge om te doen. Geregtigheid voor God is egter ‘n gawe wat Hy vir jou gee, jy self kan dit nie verdien nie. Hoe sou jy ook weet wanneer jy genoeg gedoen het om God te behaag en geregtig voor Hom te wees? Satan sal elke geleentheid gebruik om jou te veroordeel omdat jy nooit genoeg doen nie. Wanneer dit gebeur, begin jy in die strik van skuld, veroordeling en skaamte te trap.
Wanneer jy jou verhouding met God op jou eie meriete baseer, sal jy altyd te kort skiet. Wanneer jy jou geregtigheid as ‘n gawe wat deur God aan jou geskenk is omdat jy jou vertroue in Christus geplaas het sien, begin jy ‘in die lewe regeer.’ ‘Die sonde mag hoegenaamd nie oor julle heerskappy voer nie…’ (Romeine 6:14 NLV). In plaas daarvan om deur die wêreld, die vlees en die duiwel beheer te word, ‘regeer’ jy oor hulle.
Sielskos: Rig 19:16-21:25; Matt 18:10-20; Ps 119:97-104; Spr 18:6-8