2025-08-14
1 Petrus 3:7 NLV
Om ‘n suksesvolle huwelik te hê, moet jy verstaan dat jou maat nie net fisies nie, maar ook geestelik en emosioneel van jou verskil. Kom ons sê ‘n argument ontstaan tydens ontbyt. Na werk het hy al daarvan vergeet; hy het dit agter hom gesit sodat hy op sy werk kan fokus. Vir hom is dit verby, maar nie noodwendig vir haar nie. Sy het dit dalk oordink en verwerk terwyl sy met haar dagtake besig was. Dit het nie verdwyn nie; dis onafgehandelde sake. Na werk kom hy by die huis en daar is spanning. Hy dink: ‘Wat is die probleem?’ Sy dink: ‘Hoe kon hy daarvan vergeet het?’ Hy dink: ‘Sy dink tog seker nie nou nog oor vanoggend se voorval nie?’
Om mekaar te verstaan bring geluk mee. ‘n Man se brein funksioneer in kompartemente. Hy beweeg van familie, na werk, na ontspanning, met elke kompartement afsonderlik van mekaar. In ‘n vrou se brein skakel die kompartemente egter bymekaar. Terwyl hy by die werk is, dink sy gelyktydig aan die kinders, die argument tydens ontbyt en beplan die aandete wat sy moet maak. Die oggend se insident is dus steeds in haar gedagtes.
Deur hierdie verskille te verstaan, kan sy hom kans gee om weer in die ‘familie kompartement’ te kom voor sy die kwessie ophaal. Hy kan ook besef dat sy nie onredelik is nie, maar dat sy afsluiting nodig het sodat sy weer goed oor die verhouding kan voel. Sommige dinge in die huwelik moet opgelos word, terwyl ander dinge verwerk, vergewe en vergeet moet word. As dit jou doelwit is om in harmonie met mekaar saam te leef, moet jy hierdie beginsel verstaan.
Sielskos: Rig 16:1-19:15; Matt 18:1-9; Ps 119:89-96; Spr 18:1-5
2025-08-13
Markus 4:33 NLV
As jy ernstig daaroor is om mense te bereik en hulle te onderrig, is daar twee dinge wat jy moet probeer doen:
1) Praat met hulle, nie bo-oor hulle koppe nie. ‘n Kleuter was besig om ‘n appel agter in sy pa se kar te eet. ‘Pappa,’ het hy gesê, ‘hoekom word my appel bruin?’ Sy pa het verduidelik: ‘Nadat jy die vel aan die buitekant geassimileer het, het die kernstruktuur van die appel met die atmosfeer in aanraking gekom, wat dit laat oksideer het. Sodoende is sy molekulêre struktuur aangepas en het dit in ‘n ander kleur verander.’ Na ‘n lang stilte het die seuntjie gevra: ‘Pappa, praat jy met my?’ Kan die luisteraar dit wat jy sê verstaan en gebruik?
Paulus het vir die kerk in Korinte gesê: ‘Ek moes julle met melk voed, nie met vaste kos nie, want julle sou nie iets sterkers kon verteer nie. Trouens, julle is ook nou nog nie gereed daarvoor nie’ (1 Korintiërs 3:2 NLV). Jesus het ‘n punt daarvan gemaak om sy stellings so te struktureer dat die mense sy boodskap kon verstaan. Dink daaroor: Jesus was God en Hy kon ons maklik met sy kennis verstom het. Omdat sy begeerte egter was om lewens ten goede te verander, het Hy op ons vlak gebly en ‘n taal wat ons verstaan, gebruik. Jy moet leer om dieselfde te doen.
2) Sê dit oor en oor. Die grondbeginsel van onderrig is herhaling. Daar word genoem dat mense iets sestien keer moet aanhoor voordat hulle dit glo en werklik verstaan. Die vraag wat jou moet kwel is nie: ‘Wat gaan ek sê nie?’ maar: ‘Wat gaan mense van my boodskap verstaan?’
Sielskos: Rig 12-15; Matt 17:14-27; Ps 119:81-88; Spr 17:27-28
2025-08-12
1 Petrus 5:4 AFR83
Die vyfde kroon is die kroon van heerlikheid. Petrus het geskryf: ‘As mede-ouderling en getuie van die lyding van Christus en ook deelgenoot aan die heerlikheid wat geopenbaar sal word, dring ek by die ouderlinge onder julle daarop aan: Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid; ook nie deur baas te speel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar deur ‘n voorbeeld vir die kudde te wees. En dan, wanneer die Opperherder kom, sal julle die heerlikheid as onverganklike kroon ontvang’ (verse 1-4 NLV).
Hierdie kroon blyk van toepassing op pastore en Christelike leiers te wees. Dit beteken egter nie dat jy ‘n pastoor of amptelike leier moet wees nie. Soos een pastoor dit verduidelik: ‘Jy mag dalk die herder van ‘n klein groepie wees. Jou kudde is dalk jou familie of jou Sondagskoolklas. Die Here gee ons dikwels die verantwoordelikheid om na die geestelike welsyn van ander mense om te sien. Dis ‘n wonderlike geleentheid om Hom te dien!’
Dit bring ons by ‘n goeie vraag: Wat gaan ons met al hierdie krone doen? Openbaring 4:10-11 beskryf ‘n groot lofprysingsdiens wat gaan plaasvind wanneer ons in die hemel aankom: ‘…die 24 ouderlinge [val] in aanbidding voor Hom wat op die troon sit, neer. Hulle aanbid Hom wat vir altyd lewe en sit hulle krone voor die troon neer en sê: ‘U is waardig, Here ons God, om die hemelse heerlikheid en die eer en die mag te ontvang…’ (NLV). Stel jou voor dat jy voor die Here kniel en jou kroon aan sy voete neerlê, oorweldig deur dankbaarheid vir alles wat Hy vir jou gedoen het.
Sielskos: Rig 9:34-11:40; Matt 17:1-13; Ps 119:73-80; Spr 20:25
2025-08-11
Openbaring 2:10 NLV
Die vierde kroon is die kroon van die lewe. Twee verskillende verse maak melding daarvan: ‘Geseënd is die man wat versoeking verdra, want as hy beproef word, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet’ (Jakobus 1:12 KAB23). ‘…Wees net getrou tot die dood toe, en Ek sal aan julle die kroon van die lewe gee.’
‘n Pastoor verduidelik dit as volg: ‘Die kroon van die lewe word gegee in erkenning aan die volharding en oorwinning oor versoeking en beproewing, selfs tot die punt van martelaarskap. Ons word deur ons liefde vir Christus gemotiveer en ons volhard en gee nooit op nie totdat Hy ons huis toe neem. Byna elke boek in die Nuwe Testament is aan gelowiges, wat in gevaar van martelaarskap geleef het, geskryf. Die apostels het hulle aangeraai om te volhard sodat hulle die kroon van die lewe kan ontvang.’
Deesdae leef ons in een van die intenste tydperke van vervolging in die geskiedenis van die kerk. Geopende Deure, ‘n organisasie wat vervolging monitor, het in 2017 berig dat vervolging elke jaar erger word, dat honderd persent van Christene in een-en-twintig lande regoor die wêreld vervolging as gevolg van hul geloof in Christus ervaar en meer as 215 miljoen Christene ‘hoë vlakke’ van vervolging in die gesig staar. Byna een uit elke twaalf Christene woon deesdae in ‘n land of kultuur waarin Christenskap onwettig of verbode is en waar dit gestraf word.
Die Bybel sê: ‘Ja, en almal wat ‘n toegewyde lewe in Christus Jesus wil lei, sal vervolging te beurt val’ (2 Timoteus 3:12 NLV). Die goeie nuus is egter dat dit elkeen van ons ‘n wonderlike geleentheid gee om die kroon van die lewe op te eis.
Sielskos: Rig 7:1-9:33; Matt 16:13-28; Ps 119:65-72; Spr 17:23-26
2025-08-10
2 Timoteus 4:8 AFR53
Die derde kroon wat in die Skrif genoem word, is die kroon van geregtigheid. Paulus skryf: ‘Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het’ (verse 7-8 AFR83).
‘n Pastoor verduidelik dit as volg: ‘Die boek 2 Timoteus verteenwoordig die laaste bekende skrywe van die apostel Paulus. Ons het rede om te glo dat hy kort nadat hy hierdie woorde geskryf het, onthoof is. In plaas daarvan om die dood te vrees, het hy egter na die wederkoms uitgesien. Hy was met sy rekord van diens aan die Here tevrede. Paulus se gebruik van die metafoor van die atleet is veral beskrywend van die lewe van die gelowige, omdat dit uithouvermoë, dissipline en finale oorwinning beskryf. Die kroon van geregtigheid word vir diegene wat ‘n verlange na die Here Jesus het en wat wag vir Jesus om terug te kom, gereserveer.’
Paulus skryf in ‘n brief aan Titus dat ‘…die seën waarop ons hoop, ‘n werklikheid word. By daardie geleentheid sal die heerlikheid van ons groot God en Verlosser, Jesus Christus, ook sigbaar word’ (Titus 2:13 NLV). Die pastoor gaan voort: ‘Sielkundiges sê vir ons dat afwagting ‘n emosie met wonderlike genesende kragte is. Mense wat deur sneeu vasgevang is, hou moed deur die langer dae van lente en somer af te wag. Bruide en bruidegomme wag hulle troudag gretig af.’
As Christen lê jou beste dae nog voor jou en jy kan in afwagting van al die heerlikheid van die hemel en die ewigheid, leef. Dit sal jou motiveer om getrou aan Jesus te bly terwyl jy vir sy wederkoms wag.
Sielskos: Josh 2:1-24; Hand 9:20-30
2025-08-09
1 Tessalonisense 2:19 AFR83
Die tweede kroon wat in die Skrif genoem word is die kroon van blydskap. Dit word aan diegene wat daarna streef om ander mense na Christus te lei, gegee. Die agtergrond van bogenoemde Skrifgedeelte word in Handelinge 17 beskryf, wat die verhaal van Paulus wat in Tessalonika aankom, vertel.
Hy het na die sinagoge toe gegaan en “…op drie Sabbatdae na mekaar uit die Skrifte met die Jode geredeneer. Hy het die Skrif verklaar en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dood opstaan. ‘Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig,’ het hy gesê, ‘Hý is die Messias'” (verse 2-3 NLV). Sommige van sy toehoorders het hulle bekeer, insluitend ‘n groot menigte vroom Grieke en ‘n aantal vooraanstaande vroue. Gevolglik is ‘n kerk daar gestig. Toe Paulus later aan hulle skryf, het hy gesê dat hulle sy kroon sou wees wanneer Christus terugkeer.
Ons moet almal Bill Bright se voorbeeld volg; hy was in die twintigste eeu een van die grootste werwers van siele vir Christus. Hy het sy geheim gedeel: ‘Alhoewel ek deur die jare persoonlik Christus met baie duisende mense gedeel het, is ek ‘n taamlik teruggetrokke persoon en vind ek dit nie altyd maklik om te getuig nie. Ek het egter die volgende gedoen en ek moedig jou aan om dieselfde te doen: Aanvaar dat wanneer jy vir meer as ‘n paar oomblikke alleen saam met ‘n ander persoon is, jy daar op goddelike afspraak is om die liefde en vergifnis wat hy [of sy] deur geloof in Jesus Christus kan ken te verduidelik.’
Wanneer laas het jy die evangelie met iemand gedeel? Wanneer jy dit doen, berei God vir jou ‘n kroon van blydskap voor.
Sielskos: Rig 4-6; Matt 16:1-12; Ps 119:57-64; Spr 17:22