Wil jy gesond word?

2025-09-24
Johannes 5:6 NLV

Agt-en-dertig jaar lank het hierdie verlamde man tussen die siekes en gestremdes by die bad van Bethesda vir ‘n bonatuurlike ervaring wat sy miserabele bestaan kon verander, gewag. Elke keer het iemand egter voor hom in die bad geklim en gesond weggestap. Keer op keer, wanneer die geleentheid voorgekom het, was daar niemand wat hom kon help nie. Die omstandighede was altyd dieselfde; hy kon homself nie uit sy wanhoop en sy kwynende voorraad van hoop en geloof red nie.

Miskien kan jy met hierdie man identifiseer. Miskien ken jy hierdie verhaal uit persoonlike ervaring. Dit gaan dalk oor liggaamlike siekte, maar dit kan ook oor dinge soos morele mislukking, verslawing, egskeiding, aborsie, berou, ouerskapmislukking, ensovoorts gaan. Soos die man by die bad, kan jou vriende jou nie red nie en jy besit nie die vaardighede wat nodig is om jouself te help nie.

Jesus vra egter vir jou dieselfde vraag: ‘Wil jy graag gesond word? Hy bied jou liggaamlike genesing – en meer – aan. Hy weet dat jy dit nie self kan doen nie. Dit is ‘n kwessie van jou wil. Vir dinge om anders te wees, moet jy jou wil by die proses betrek. Die geloof wat jou gesond sal maak, is nie ‘n emosie of gevoel nie. Dit is ‘n daad van jou wil wat kies om op God se Woord te staan en te glo dat Hy vir jou sal doen wat Hy sê en jou gesond sal maak! ‘Onmiddellik het die man gesond geword, sy slaapmatjie opgetel en weggestap…’ (vers 9 NLV). Dit kan jou verhaal ook wees!

Sielskos: 1 Sam 16-17; Matt 27:32-44; Ps 68:1-18; Spr 22:1-5

Bepaal jou eie lewenswyse

2025-09-23
Jesaja 41:10 NLV

Wanneer jy leer om jouself te vergewe en te aanvaar, beteken dit dat jy vrede met jou menswees gemaak het en geleer het om in vrede met jou onvolmaakthede saam te leef. Jy besef dat dit wat jy deurgemaak het, saam met die genade van God, jou die mens gemaak het wat jy vandag is.

Veronica Shoffstall het gesê: ‘Na ‘n rukkie leer jy die subtiele verskil tussen om ‘n hand vas te hou en ‘n siel vas te ketting. Dat liefde nie noodwendig altyd ondersteuning, geselskap en sekuriteit beteken nie. Dat soene nie kontrakte is nie en geskenke nie beloftes nie. Jy begin om jou nederlae met jou kop omhoog en jou blik vorentoe te aanvaar, met die genade van ‘n volwassene, nie die hartseer van ‘n kind nie. Jy leer om al jou paaie vandag te bou, omdat môre se grond te onseker vir planne is. Na ‘n rukkie leer jy dat selfs sonskyn jou kan brand as jy te veel daarvan kry, dus plant jy jou eie tuin en versier jou eie siel in plaas daarvan om te wag dat iemand vir jou blomme bring. Jy leer dat jy regtig kan uithou, regtig sterk is en dat jy regtig die moeite werd is.’

Hierdie woorde kan in een frase opgesom word: Bepaal jou eie lewenswyse. Is dit maklik om te doen? Nee. Op dae wat dit moeilik raak om volgens jou eie voorwaardes te leef, belowe God jou: ‘Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek hou jou vas met my reddened regterhand.’ Dis ‘n belofte waarop jy kan staan!

Sielskos: 1 Sam 14-15; Matt 27:11-31; Ps 91; Spr 21:28-31

God druk jou uit jou gemaksone

2025-09-22
Deuteronomium 32:11 NLV

In sy boek, Even Eagles Need a Push, beskryf David McNally ‘n arend wat haar kuikens leer om te vlieg: “Die arend het haar kuikens saggies na die rand van die nes gelok. Haar hart het van teenstrydige emosies gebewe toe sy hul weerstand teen haar aanhoudende druk voel. ‘Hoekom moet die opwinding van vlieg met die vrees om te val begin?’ Sy kon nog nie ‘n antwoord vir hierdie tydlose vraag vind nie. Haar nes was hoog op ‘n rotswand geleë. Daar was slegs lug onder die rotswand om die vlerke van elke kuiken te ondersteun. ‘Is dit moontlik dat dit hierdie keer nie gaan werk nie?’ dink sy.

Ten spyte van haar vrese, het die arend geweet dat dit tyd is. Haar ouerlike plig was amper voltooi. Daar het nog een laaste taak oorgebly. Totdat haar kuikens hul vlerke ontdek, was daar geen doel vir hul lewe nie. Totdat hulle leer hoe om te sweef, sou hulle nie die voorreg verstaan om as ‘n arend gebore te word nie. Om hulle uit die nes uit te druk was die grootste geskenk wat sy hulle kon bied – haar grootste liefdesdaad. So het sy hulle een vir een uit die nes gedruk en hulle het gevlieg!”

Die Bybel sê: ‘Soos ‘n arend haar kuikens grootmaak en bo-oor hulle sweef, so sprei Hy sy vlerke en vang en dra hulle op sy vlerke. Net die Here bewaar hulle…’ (verse 11-12 NLV).

Druk God jou uit jou gemaksone uit? Het jy jou werk en finansiële sekuriteit verloor? Of ‘n verhouding wat jy gedink het ‘n leeftyd sou duur? Voel dit of jy uit jou nes en oor die krans se rand gedruk word? Moenie bang wees nie; God sal jou vang. Nog beter – Hy sal jou leer om te vlieg.

Sielskos: Num 29:1-6; Matt 24; Op 11:15-19; 1 Kor 15:50-58

Redes om dankbaar te wees (2)

2025-09-21
Psalm 100:4 NLV

Jon Gordon skryf: ‘Ek wil graag die voordele van twee eenvoudige woorde met jou deel. BAIE DANKIE. Hierdie woorde het die krag om ons gesondheid, geluk en sukses te transformeer. Navorsing toon dat dankbare mense gelukkiger is en meer geneig is om goeie vriendskappe te handhaaf. Dankbaarheid verbeter ook die hart se ritmiese funksionering, wat ons help om stres te verminder, duideliker onder druk te dink en fisies te genees.

Dit is fisiologies onmoontlik om terselfdertyd gestres en dankbaar te wees. Wanneer jy dankbaar is, oorstroom jy jou liggaam en brein met endorfiene wat jou energie gee. Dankbaarheid is ook noodsaaklik vir ‘n gesonde werksomgewing. Die nommer een rede waarom mense hul werk verlaat, is omdat hulle nie gewaardeer voel nie. Dankbaarheid is soos spiere. Hoe meer ons dit oefen, hoe sterker word dit. Hier is ‘n paar maniere om elke dag danksegging te beoefen:

1) Gaan stap daagliks vir tien minute lank en sê hardop waarvoor jy dankbaar is. Dit sal jou vir ‘n positiewe dag voorberei.
2) Laat almal om die tafel by aandete sê waarvoor hulle dankbaar is.
3) Die sielkundige Martin Seligman stel voor dat ons ‘n brief skryf waarin ons ons dankbaarheid teenoor iemand uitspreek. Besoek dan daardie persoon en lees vir hulle die brief. Mense wat dit doen is ‘n maand later meetbaar gelukkiger en minder depressief.
4) Sê dankie by die werk. Toe Doug Conant die uitvoerende hoof van Campbell Soup was, het hy ongeveer 30 000 briewe aan sy werknemers geskryf om dankie te sê en die maatskappy in die proses getransformeer. Organisasies bestee gesamentlik miljarde dollars aan programme om aan hulle werknemers erkenning te gee, maar die beste en goedkoopste erkenningsprogram bestaan uit ‘n opregte BAIE DANKIE.’

Sielskos: Gen 1:1-2:3; Joh 1:1-18

Redes om dankbaar te wees (1)

2025-09-20
1 Tessalonisense 5:18 NLV

Dis ‘n gekompliseerde proses om asem te haal. Dit vereis fisiologiese presisie en die gemiddelde persoon haal ongeveer drie-en-twintigduisend keer per dag asem. Terwyl ons geneig is om God vir alles wat ons asem wegslaan te dank, moet ons Hom miskien ook vir al ons ander asems bedank.

Pastoor Ed Dobson is in 2000 met motorneuronsiekte gediagnoseer, ‘n degeneratiewe siekte wat geen bekende oorsaak het nie en terminaal is. Dobson deel sy voortdurende stryd om dankbaar te wees terwyl hy met ‘n ongeneeslike toestand leef, en skryf: ‘Daar is baie dinge waarvoor ek nie dankbaar is nie! Ek kan nie meer my hemp toeknoop nie. Ek kan nie meer ‘n baadjie aantrek of my regterhand bo my kop lig nie. Ek kan nie meer skryf of met my regterhand eet nie. Ek eet met my linkerhand en selfs dit word nou ‘n uitdaging. Mettertyd gaan hierdie uitdagings erger word.

Waarvoor in die wêreld moet ek dus dankbaar wees? Daar is so baie. Here, dankie dat U my vanoggend wakker gemaak het en dat ek nog in die bed kan omdraai. Dankie dat ek nog uit die bed kan opstaan en dat ek badkamer toe kan stap. Dankie dat ek nog my tande kan borsel en ontbyt kan eet. Dankie dat ek nog self kan aantrek, dat ek nog my kar kan bestuur en dat ek nog kan loop. Dankie dat ek nog kan praat. Ek het geleer om op die dinge wat ek kan doen, eerder as op die dinge wat ek nie kan doen nie, te fokus. Ek het geleer om vir die klein dingetjies in die lewe en vir die baie dinge wat ek nog kan doen, dankbaar te wees.’

Wat het jy waarvoor jy dankbaar kan wees? ‘Wees in alle omstandighede dankbaar…’

Sielskos: 1 Sam 11-13; Matt 26:69-27:10; Ps 13; Spr 21:22-27

Moenie dubbelsinnig wees nie

2025-09-19
Jakobus 1:8 KAB

Moenie dubbelsinnig wees en op twee verskillende maniere gelyktydig probeer dink nie. Ons gaan byvoorbeeld kerk toe om ‘…die wysheid wat van Bo kom…’ (Jakobus 3:17 NLV), te ontvang, maar die oomblik wat ons by die kerk uitstap, ontvang ons wêreldse wysheid en probeer om die twee te kombineer. Dit werk egter nie.

Jy kan nie petrol en diesel meng nie. Net omdat al twee vir voertuie bedoel is, beteken dit nie dat dit sal werk nie. As Christene, woon ons Sondae kerk by om petrol vir die week te kry en Maandag gaan ons in die wêreld uit en kry diesel. Dan wonder ons hoekom ons so hard moet werk terwyl ons so moeg is.

Kom ons illustreer dit as volg: Daar is AM- en FM-frekwensies op ons radio’s wat van mekaar verskil en apart van mekaar is. Wanneer jy in ‘n motor ry, kies jy na watter een om te luister; jy kan nie na albei op dieselfde tyd luister nie, al is beide beskikbaar.

Die Bybel sê: ‘Vra vir God as jy nie kan agterkom wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie. Maar, as ‘n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. Hy is iemand wat nie tot ‘n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie’ (Jakobus 1:5-8 NLV).

God reageer op ‘n geloof wat eensgesind en op sy Woord gefokus is. Die woord vir jou vandag is dus – moenie dubbelsinnig wees nie!

Sielskos: 1 Sam 8-10; Matt 26:47-68; Ps 54; Spr 21:18-21