2025-08-02
2 Timoteus 2:15 DB
Gegradueerde, hier is elf lesse om jou te bemagtig en jou te inspireer:
1) Jy is hier vir ‘n rede en die belangrikste is om hierdie rede te ontdek.
2) Volg jou passie. Jy mag dalk nog nie weet wat dit is nie, maar maak dit jou missie om dit uit te vind.
3) Alhoewel jy dalk van ‘n maatskappy se produkte hou, beteken nie noodwendig dat jy dit sal geniet om vir die maatskappy te werk nie.
4) Moenie net bedank omdat die werk moeilik is nie. Bedank omdat jy diep binne-in jou weet dat daar iets anders is wat jy veronderstel is om te doen, of dat jy nie besig is om die werk of jouself te verbeter nie, of omdat jy weet dat jy nie meer veronderstel is om daar te wees nie.
5) Leer uit elke ervaring. Elke werk berei jou voor vir die werk waarvoor jy gebore is.
6) Jou huidige werk mag dalk nie jou hoogste doelwit wees nie, maar dit kan as ‘n wegspringplek daartoe dien.
7) Wees diensbaar waar jy ook al werksaam is. Om in mindere mate diensbaar te wees, bied jou geleenthede om in groot mate te dien.
8) Jou droomwerk is dikwels nie die een waarvan jy gedroom het nie. Ons beland gereeld in merkwaardige loopbane buite die grense van ons grade.
9) Die pad om jou doelwit te bereik is met uitdagings, oorwinnings, ompaaie, doodloopstrate en uitstel gesaai. Bly hoopvol en getrou.
10) Jy mag dalk iets onmiddellik wil hê, maar wanneer dit gebeur het, sal jy reg wees daarvoor?
11) Saad val op die grond sodat dit vir ‘n groter doel gebruik kan word. Plant jouself en laat jouself vir ‘n oes, wat ander sal bevoordeel, gebruik word.
Sielskos: Deut 30:1-32:28; Matt 14:1-12; Ps 119:9-16; Spr 17:4-6
2025-08-01
Psalm 118:6 NLV
Om in ‘n leierskapsposisie te wees sal jou nie moed gee nie, maar om moedig te wees, sal jou as ‘n leier in ander mense se oë vestig. Larry Osborne het gesê: ‘Die opvallendste kenmerk van hoogs effektiewe leiers is hoe min hulle in gemeen het. Wat die een by sweer, waarsku die ander een jou teen. Een eienskap staan egter uit: die bereidwilligheid om te waag.’ Moed is nie die afwesigheid van vrees nie; dit is om juis dit waarvoor jy bang is, te doen. Dit is die krag om die bekende agter te laat en nuwe terrein te betree. Die Psalmdigter het gesê: ‘Die Here is by my, ek sal nie bang wees nie. Wat kan ‘n mens aan my doen?’ (vers 6 NLV).
Die Romeinse historikus Tacitus het geskryf: ‘Die begeerte na veiligheid staan elke groot en edele onderneming teë.’ Moed het die omgekeerde effek. Die Britse teoloog John Henry Newman het gesê: ‘Moenie bang wees dat jou lewe tot ‘n einde sal kom nie, maar dat jou lewe nooit ‘n begin sal hê nie.’ Sonder die moed om te begin, het jy geen toekoms nie.
Ironies genoeg ervaar diegene wat nie die moed het om risiko’s te neem nie en diegene wat die moed het om risiko’s te neem, dieselfde hoeveelheid vrees in die lewe. Die enigste verskil is dat diegene wat bang is, terugdeins terwyl diegene wat moed aan die dag lê, vooruitbeweeg.
Hoe hanteer jy vrees? Verwelkom jy dit of probeer jy daarvan ontsnap? Plaas jy jouself in situasies wat jou geloof uitdaag? Of het jy so ver in jou gemaksone teruggetrek dat jy nooit vrees voel nie? Eers wanneer jy hierdie vrae beantwoord het, kan jy begin om jou vrese te oorkom.
Sielskos: Deut 28-29; Matt 13:47-58; Ps 119:1-8; Spr 17:3
2025-07-31
Psalm 84:12 NLV
Gierigheid beroof jou van tevredenheid. Jy blaai deur ‘n dekor-tydskrif en die huis waarvoor jy ‘n uur gelede nog dankbaar was, lyk skielik afgeleef. Of jy sien ‘n advertensie vir ‘n nuwe motor op TV en die kar in jou oprit lyk skielik soos ‘n skedonk. God verwag van jou om doelwitte vir jou lewe te hê en vir jou gesin te voorsien, maar jy moet versigtig wees dat jy nie só na dinge smag dat jy behep daarmee raak nie.
Toe Israel oorlog teen Jerigo gevoer het, het God hulle beveel om alles in die stad te vernietig. Later, toe Israel egter die klein dorpie Ai bestorm en ‘n vernederende nederlaag ly, was Josua diep ontsteld. Toe hy God vra waarom hulle die geveg verloor het, het God hom geantwoord dat dit as gevolg van sonde in die Israelitiese kamp was. Toe Josua ondersoek instel, het Akan, een van sy soldate, bely: ‘Ek het tussen die buit pragtige klere… gesien en ook silwer… en ‘n stuk goud…. Ek het dit begeer en toe vir myself gevat…’ (Josua 7:21 NLV). Toe Akan sy sonde probeer wegsteek het deur die gesteelde buit in sy tent weg te steek, het dit sy en sy gesin se lewens gekos. Wanneer jy gierig is, bevraagteken jy God se wysheid, gewilligheid en vermoë om aa jou te voorsien.
Wanneer jy graag iets wil hê, bid daaroor en vertrou God om dit vir jou te gee – mits dit volgens sy wil is. Sy Woord verseker ons: ‘…Hy sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie.’ Wanneer jou begeerte is om sy wil te doen, beloof Hy: ‘En God is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee sodat julle in elke opsig altyd van alles genoeg kan hê…’ (2 Korintiërs 9:8 NLV).
Sielskos: Deut 25-27; Matt 13:36-46; Ps 78:65-72; Spr 17:1-2
2025-07-30
Jeremia 31:3 NLV
Dr Gerald Mann skryf: ‘Moraliseerders is lief daarvoor om ons daaraan te herinner dat koning Dawid se lewe ná Batseba op die afdraande pad was. Hulle noem die lang lys van sy ellendes op: die baba uit die onwettige verbintenis het gesterf. Hy het nooit sy morele statuur herwin nie. Sy seuns het oor opvolging gestry. Een van hulle is onthoof omdat hy probeer het om hom te onttroon. God het hom sy grootste droom ontneem: om die Tempel te bou – daar was te veel bloed aan sy hande!
Kyk egter weer na die verhaal. Die openingswoorde van die boek Spreuke dwing sulke selfgeregverdigde uitsprake tot stilte: ‘Hierdie is die spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel’ (Spreuke 1:1, NLV). Salomo, die fontein van God se wysheid, het uit twee mense wat hul persoon en voorreg verontreinig het, voortgespruit. Van al Dawid se heldedade – die reuse wat hy verslaan het, die koninkryk wat hy versterk het, die psalms wat hy geskryf het – was sy grootste prestasie egter die seun van sy oudag. Salomo is ‘n monument van teenstrydigheid vir al die moraliste. Salomo met sy groot insig, visie en vooruitstrewende wysheid het aan die knieë van twee gebroke siele wat deur die vuur van vergifnis herstel is en die genade van ‘n tweede kans ontvang het, grootgeword.’
Die Bybel waarsku ons oor die gevolge van sonde omdat enigiets wat jou kan seermaak, God raak – Hy wat jou liefhet en net die beste vir jou wil hê. God se liefde vir jou het egter geen vervaldatum nie. Hy het gesê: ‘Ek het jou lief met ‘n liefde wat nooit ophou nie.’ Die waarheid is: God is steeds lief vir jou!
Sielskos: Deut 22-24; Matt 13:24-35; Ps 78:56-64; Spr 16:33
2025-07-29
Efesiërs 3:17 NLV
Ongelukkig word die woord “fellowship” dikwels met ongemaklike byeenkomste by die kerk, waar mense tee drink en geforseerde gesprekke voer, geassosieer. Paulus beskryf “fellowship” en verbondenheid egter as ‘in God se liefde gewortel en gegrondves wees.’ Wanneer ‘n boom sy wortels in die grond indring, neem dit voedingstowwe en water op en die boom groei en kry lewe. Net so word ons gewortel en ons siele deur die liefde van God en ander mense gevoed. Wanneer ons met iemand ‘n ware verbintenis vorm, ervaar ons dit fisies en emosioneel. Wanneer daar ‘n uitruiling van opregte omgee plaasvind, word die wortels van jou siel gevoed.
Ons floreer wanneer ons met God en mense verbind is en ons kwyn wanneer ons geïsoleerd is. Emosioneel geïsoleerde mense is meer geneig tot depressie, angs, eensaamheid, lae selfbeeld, middelmisbruik, seksuele verslawing en probleme met eet en slaap. Een gedragskenner skryf: ‘Verbintenis help nie net om ons te maak wie ons is nie; dit help om te bepaal wie ons as individue word. In beide gevalle is menslike verbintenis, geestesgesondheid en emosionele welstand onlosmaaklik met mekaar verbind.’
Selfs diere wat geïsoleer is, ervaar meer intensiewe arteriële sklerose. Een skrywer skryf: “‘n Vriend van my het ‘n hond en ‘n kat gehad wat tien jaar lank baklei het. Toe sterf die kat… en die hond wou nie meer eet nie. Ses weke later is hy dood.” Dit is net ‘n klein illustrasie van die krag van verbintenis. Dit beteken nie dat jy jouself moet dwing om ‘n ekstrovert te word nie. Sommige van die skaamste mense het die diepste vriendskappe omdat hulle lewensverrykende verhoudings identifiseer, daarby aansluit, floreer en teruggee. Dit is wat God jou ontwerp het om ook te doen.”
Sielskos: Deut 18-21; Matt 13:10-23; Ps 78:40-55; Spr 16:32
2025-07-28
Spreuke 29:18 KAB23
Die woord ‘vergaan’ roep beelde van agteruitgang en verval, soos vrugte wat van binne begin vrot, op. Op watter spesifieke dag verlaat passie ‘n huwelik, of verloor ‘n werker belangstelling in ‘n werk wat hom eens opgewonde gemaak het? Soos lug wat stilweg uit ‘n band ontsnap, kan dit wat bedoel was om ons te ondersteun en ons na ons doelwit te dryf, skaars meer beweeg.
As dit is hoe jy nou voel, lees hierdie belofte en laat dit diep in jou hart wortel skiet: ‘Hy gee krag aan dié wat moeg is. Hy maak die magtelose sterk. Selfs jongmense raak uitgeput en afgemat. Baie jongmense struikel en val. Maar dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry. Hulle vlieg soos arende. Hulle sal hardloop en nie moeg word nie. Hulle sal loop en nooit vermoeid word nie’ (Jesaja 40:29-31 NLV). Die groot apostel Paulus het vir sy bewonderaars gesê: ‘…Ons is mense, net soos julle…’ (Handelinge 14:15 NLV). Ons is almal van dieselfde gebrekkige material gemaak. Daarom het ons elke dag God se krag en genade wat nuut aan ons geskenk word, nodig (sien Klaagliedere 3:22-23).
Wat moet jy dus doen as jy mismoedig voel? Twee dinge. Eerstens, as jy fisies moeg is – rus. Tweedens, dink aan hoe God se familie funksioneer en hou op om jouself te isoleer. Die Bybel sê: ‘Help ander gelowiges wat swaarkry…’ (Galasiërs 6:2 NLV). Jy het in die verlede vir ander gegee – nou moet jy die genade en nederigheid hê om van hulle te ontvang. Reik uit. Gebruik jou kontakte. Begin God se Woord lees. Luister na opbouende musiek en vul jou ruimte met lofprysing. Wanneer jy hierdie dinge doen, sal jou fokus verander en jou geloof begin groei.
Sielskos: Deut 14-17; Matt 13:1-9; Ps 78:32-39; Spr 16:31