Stres jy te veel?

2025-07-27
Eksodus 18:17-18 NLV

Die Bybel sê: “Die volgende dag moes Moses weer as regter vir die volk optree. Hulle het van vroegoggend tot laataand by Moses se tent tou gestaan. Toe Moses se skoonpa sien hoe Moses met die volk werk, vra hy vir hom: ‘Hoekom doen jy alles self? Die mense staan die ganse dag vir jou en wag!’ Moses het sy skoonpa geantwoord: ‘Die volk kom na my toe om te hoor wat die Here sê. As daar ‘n geskil is tussen twee partye, gee ek uitspraak. Ek sê vir die volk wat God besluit het en wat God wil hê.’ Sy skoonpa sê toe vir Moses: ‘Jy hanteer die saak nie reg nie. Jy en die volk sal die pas nie kan volhou nie…'” (verse 13-18 NLV).

Moses was tot op breekpunt gestres. Die Latynse woord vir ‘stres’ beteken om ‘styf getrek te word.’ Dokters sê dat dit ‘n voorloper tot beroerte en hartaanvalle is. Daar is ‘n rede waarom snelweë weegstasies het – om te verseker dat vragmotors nie meer gewig as waarvoor hulle gebou is om te vervoer, dra nie. Moses se skoonpa het vir hom gesê dat hy besig was om homself uit te put. Die Hebreeuse woord vir ‘uitput’ beteken letterlik ‘om oud te word.’ Moses was besig om voor sy tyd oud te word.

As dit tans met jou gebeur: (1) verwissel ratte en begin om die vrag met ander te deel, en (2) bestee meer tyd in God se teenwoordigheid. ‘Maar dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry… Hulle sal hardloop en nie moeg word nie. Hulle sal loop en nooit vermoeid word nie’ (Jesaja 40:31 NLV).

Sielskos: Lev 24:17-22; Deut 15:7-11; Matt 5:38-48

Wanneer God jou vra om te gee

2025-07-26
Efesiërs 6:8 NLV

Wanneer God jou vra om iets namens iemand anders op te offer, doen dit. Dis soos om geld in ‘n hemelse spaarrekening te belê. Jy mag dit dalk nie vandag of môre nodig kry nie, maar wanneer jy doen, sal God sorg dat jy dit vermenigvuldig terugkry.

Die Indiese Christelike sendeling, Sadhu Sundar Singh, en ‘n metgesel was besig om deur ‘n bergpas hoog in die Himalajas te reis toe hulle ‘n liggaam in die sneeu vind. Hulle het die liggaam ondersoek en ontdek dat die man nog net-net lewe. Terwyl Sundar begin het om die ongelukkige reisiger te help, het sy metgesel beswaar gemaak en gesê: ‘Ons sal ons lewens verloor as ons onsself met hom belas.’ Sundar kon hom egter nie indink om die man in die sneeu agter te laat, sonder om ‘n poging aan te wend om hom te red nie. Sy metgesel het hom gegroet en verder geloop. Sundar het die reisiger op sy rug gelaai en met groot inspanning – wat deur die hoë hoogte en sneeutoestande vererger is – verder gedra.

Terwyl hy geloop het, het die hitte van sy liggaam die bevrore man begin warm maak. Hy het weer bygekom, en gou het hulle langs mekaar geloop, mekaar ondersteun en liggaamshitte gedeel. Nie lank daarna nie, het hulle op ‘n ander reisiger se liggaam in die sneeu afgekom en by nadere ondersoek het hulle besef dat hy reeds dood was. Jy het reg geraai. Dit was Sundar se oorspronklike reisgenoot!

Wat is die les hieruit te leer? Wat jy vir ander mense laat gebeur, sal God vir jou laat gebeur! Die Bybel sê: ‘Doen julle werk entoesiasties… Julle weet mos dat die Here elke mens wat sy werk goed doen, sal beloon…’ (verse 7-8 NLV).

Sielskos: Deut 11-13; Matt 12:38-50; Ps 78:17-31; Spr 16:26-30

Medelye begin met die woord ‘opgemerk’

2025-07-25
Genesis 40:6 AFR83

Josef was in die tronk vir ‘n misdaad wat hy nie gepleeg het nie, wat dit opmerklik maak dat hy die tyd en energie gehad het om oor enigiemand anders om te gee. “‘n Ruk nadat Josef in die tronk gesit is, het ‘n skinker en ‘n bakker van Egipte se koning verkeerd opgetree… Die farao… het hulle in dieselfde tronk laat sit waarin Josef opgesluit was… Josef het die volgende môre… vir die twee… gevra: ‘Waarom lyk julle vandag so bedruk?’ Hulle het hom geantwoord: ‘Ons het elkeen ‘n droom gehad en ons weet nie wat dit beteken nie…'” (verse 1, 3, 6-8 AFR 83). Josef het hulle drome uitgelê en sodoende het die skinker sy werk in die farao se paleis teruggekry.

Toe farao ‘n droom gehad het wat niemand kon uitlê nie, het die skinker hom aan Josef voorgestel. Gevolglik het Josef oor Egipte geheers en was hy in ‘n posisie om sy familie van uitsterwing te red. Uit die familie wat Josef gered het, is die Verlosser van die wêreld gebore wat jou gered het. Hierdie wonderbaarlike sameloop van omstandighede begin met drie woorde: ‘Josef het opgemerk.’

Onthou die sterwende man op die pad na Jerigo? ‘Toevallig kom daar ‘n Joodse priester verby, maar toe hy die man daar sien lê, het hy die pad oorgesteek en aan die ander kant by hom verbygegaan… Toe het ‘n veragte Samaritaan verbygekom, en toe hy die man sien, het hy hom innig jammer gekry. Die Samaritaan kniel toe langs hom, behandel sy wonde met medisyne, en verbind dit…’ (Lukas 10:31, 33-34 NLV). Jesus sluit hierdie gelykenis met die volgende woorde af: “…’Ja, gaan nou, en doen dieselfde'” (vers 37 NLV).

Vra dus vir God om jou te help ‘opmerk’ en vir die genade om dan te reageer.

Sielskos: Deut 8-10; Matt 12:22-37; Ps 78:9-16; Spr 16:25

Hanteer verhoudingskwessies (2)

2025-07-24
Amos 3:3 NLV

Verhoudings word op wedersydse vertroue gebou – en vertroue word op die waarheid gebou. Daar is egter maniere om die waarheid te praat wat help en maniere om die waarheid te praat wat seermaak. Jy kan die waarheid praat deur net te sê wat jy dink, sonder om die ander persoon se gevoelens in ag te neem. Of jy kan die Bybelse benadering gebruik: ‘Nee, terwyl ons mekaar liefhet, sal ons by die waarheid bly en so in alle opsigte groei…’ (Efesiërs 4:15 NLV).

Kom ons veronderstel dat ‘n paartjie baklei omdat hy altyd laat is. Hoe kan sy seker maak hy verstaan haar boodskap? Wel, sy kan vir hom sê:

a) ‘Ek voel gefrustreerd.’ Geen blaam, geen aanval; net ‘n eerlike uitdrukking van hoe sy voel.
b) ‘Dit voel vir my asof my tyd nie werklik vir jou belangrik is nie.’ Geen aanval nie; sy deel net haar emosies eerlik.
c) ‘Kan jy in die toekoms asseblief probeer om betyds te wees of my laat weet wanneer jy hier gaan wees?’ In plaas daarvan om op sy optrede in die verlede, wat hy nie kan verander nie, te fokus, sê sy vir hom hoe sy graag sal wil hê hy in die toekoms moet optree.
d) ‘Sal jy gewillig wees om dit vir my te doen?’ Geen eise nie; sy vra net vir oorweging en samewerking. Wanneer hy instem, het hulle ‘n geïmpliseerde ‘kontrak’.

Sy bedank hom opreg en beloon elke poging wat hy aanwend om sy woord te hou. In werklikheid het sy pas die verhouding herbelyn deur hom ‘n bondgenoot in plaas van ‘n teëstander te maak. Sy het ook die fokus as ‘n gedeelde een, nie iets wat sy ‘aan hom doen nie!’ geherdefinieer. Soos die Bybel sê: ons kan ‘saam op reis gaan’ wanneer ons ‘afspreek om dit te doen.’

Sielskos: Deut 5-7; Matt 12:15-21; Ps 78:1-8; Spr 16:23-24

Hanteer verhoudingskwessies (1)

2025-07-23
Galasiërs 5:15 NLV

Elke verhouding wat die moeite werd is, kan probleme ondervind. Met dit in gedagte, is dit belangrik om die volgende te besef:

1) Probleme is onvermydelik, normaal en moontlik voordelig. Hulle is onvermydelik, omdat verhoudings verskillende mense bymekaar bring. Hulle is normaal, omdat alle verhoudings, selfs wonderlike verhoudings, laagte- en hoogtepunte deurmaak. Hulle is ook moontlik voordelig, omdat wanneer die probleme effektief hanteer word, die verhouding kan groei.

2) Oor die algemeen is daar drie maniere om probleme op te los.

a) Die vermydingstyl. Hierdie mense begrawe hulle gevoelens sonder om te besef dat daardie gevoelens onvermydelik weer later gaan opduik. Hulle bly stil, die gevoelens bou op en hulle ontplof dan, wat geestelike, emosionele en fisiese newe-effekte meebring. Terseldertyd hou die probleem aan groei en die ongedane sake kalwe die verhouding weg.

b) Die aanvalstyl. Hierdie mense is vegters wat weier om op te gee, dus hou hulle aan om wonde toe te dien; wonde wat moeilik is om gesond te word. Die Bybel sê: ‘Maar julle byt en verskeur mekaar. Pas op dat julle mekaar nie heeltemal verslind nie!’ Aanvalle veroorsaak teenaanvalle en niks word opgelos nie.

c) Die benaderingstyl. Hierdie mense is sensitief vir ander mense se gevoelens, maar dring daarop aan om belangrike kwessies direk aan te spreek. Hulle vermy dit om blaam uit te deel, val die kwessie eerder as die individu aan en nooi ander uit om saam met hulle te werk om die probleem op te los en die verhouding te versterk. Probeer dit – dit werk!

Sielskos: Deut 3-4; Matt 12:1-14; Ps 46; Spr 16:20-22

Hoe om entoesiasties oor God te bly

2025-07-22
Johannes 4:34 NLV

Niemand het meer energie as Jesus gehad nie. Hy het vroeg opgestaan, laat gaan slaap en soms deurnag wakker gebly. Waar het Hy al daardie energie vandaan gekry? Die antwoord word in ‘n fassinerende dialoog gevind: “Intussen het sy dissipels Hom gesmeek en gesê: ‘Rabbi, eet tog net iets.’ Maar Hy het gereageer: ‘Ek het kos om te eet waarvan julle nie eers weet nie.’ Die dissipels sê toe onder mekaar: ‘Het iemand anders dalk vir Hom iets gebring om te eet?’ Jesus antwoord hulle: ‘My kos is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk klaar te maak'” (verse 31-34 NLV).

Wanneer jy die woord ‘kos’ sien, dink jy aan energie, want dit is wat kos is. Jesus beklemtoon ‘n insiggewende punt: God se wil gee energie. Hoe hou jy jouself dus energiek? Deur in die wil van God te bly. Ons kry energie deur by God-gegewe passies betrokke te raak en God-grootte drome na te jaag. Niks gee ons meer energie nie. Moenie net berou hê wanneer jy iets verkeerd doen nie; vervang dit met dit wat reg is.

Paulus skryf: ‘Dus, my geliefde broers en susters, staan baie vas, onbeweeglik. Gee altyd julle allerbeste vir die Here se werk, want julle weet voor die Here is alles wat julle doen die moeite werd’ (1 Korintiërs 15:58 NLV). As sonde ‘n vermorsing van energie is, wat dit wel is, sal wanneer jy jou God-gegewe opdrag ontdek en dit vervul jou die meeste energie in jou lewe gee.

Sielskos: Deut 1-2; Matt 11:20-30; Ps 42:6-11; Spr 16:17-19