2025-07-22
Johannes 4:34 NLV
Niemand het meer energie as Jesus gehad nie. Hy het vroeg opgestaan, laat gaan slaap en soms deurnag wakker gebly. Waar het Hy al daardie energie vandaan gekry? Die antwoord word in ‘n fassinerende dialoog gevind: “Intussen het sy dissipels Hom gesmeek en gesê: ‘Rabbi, eet tog net iets.’ Maar Hy het gereageer: ‘Ek het kos om te eet waarvan julle nie eers weet nie.’ Die dissipels sê toe onder mekaar: ‘Het iemand anders dalk vir Hom iets gebring om te eet?’ Jesus antwoord hulle: ‘My kos is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk klaar te maak'” (verse 31-34 NLV).
Wanneer jy die woord ‘kos’ sien, dink jy aan energie, want dit is wat kos is. Jesus beklemtoon ‘n insiggewende punt: God se wil gee energie. Hoe hou jy jouself dus energiek? Deur in die wil van God te bly. Ons kry energie deur by God-gegewe passies betrokke te raak en God-grootte drome na te jaag. Niks gee ons meer energie nie. Moenie net berou hê wanneer jy iets verkeerd doen nie; vervang dit met dit wat reg is.
Paulus skryf: ‘Dus, my geliefde broers en susters, staan baie vas, onbeweeglik. Gee altyd julle allerbeste vir die Here se werk, want julle weet voor die Here is alles wat julle doen die moeite werd’ (1 Korintiërs 15:58 NLV). As sonde ‘n vermorsing van energie is, wat dit wel is, sal wanneer jy jou God-gegewe opdrag ontdek en dit vervul jou die meeste energie in jou lewe gee.
Sielskos: Deut 1-2; Matt 11:20-30; Ps 42:6-11; Spr 16:17-19
2025-07-21
Hebreërs 11:34 NLV
Die sogenaamde ‘geheim’ tot sukses is inderwaarheid geen geheim nie! Dis eenvoudig om weer op te staan nadat die lewe jou platgeslaan het en om die lesse wat jy geleer het, saam met jou die toekoms in te neem. Ons lees in die Bybel van helde soos Simson en Dawid. ‘Hulle het krag in hulle swakheid ontvang, was magtig in die oorlog en het vreemde leërs op die vlug laat slaan’ (vers 34 NLV). Let op dat hierdie mense nie altyd sterk was nie, maar dat hulle sterk geword het. Hulle het nie elke stryd gewen nie, maar wel die oorloë wat saak gemaak het.
In 1928 het ‘n drie-en-dertigjarige man met die naam Paul Galvin alweer mislukking in die gesig gestaar. Op hierdie stadium het hy twee keer in die industrie misluk en sy mededingers het hom gedwing om sy jongste onderneming te sluit. Hy was egter oortuig dat hy steeds ‘n merkwaardige idee gehad het. Galvin het die veiling van sy eie besigheid bygewoon en met die $750 wat hy bymekaar kon skraap, die battery-uitskakelingsgedeelte van die voorraad teruggekoop. Daarmee het hy ‘n nuwe maatskappy gebou, een waarin hy geslaag het, een waaruit hy uiteindelik afgetree het en een wat ‘n huishoudelike naam geword het: Motorola.
Roger von Oech het gesê: ‘Onthou die twee voordele van mislukking. Eerstens, as jy wel misluk, leer jy wat nie werk nie; en tweedens kry jy die geleentheid om ‘n nuwe benadering te probeer. Die meeste mense dink aan sukses en mislukking as teenoorgesteldes, maar hulle is albei produkte van dieselfde proses.’ Mislukking is vertraging, nie nederlaag nie. Ons maak almal foute, veral diegene wat optree en risiko’s neem. Dit is eers wanneer jy onwillig raak om te waag en om te misluk wat jy ophou leer, ophou groei, en ophou om sukses te behaal.
Sielskos: Hand 27-28; Matt 11:10-19; Ps 42:1-5; Spr 16:16
2025-07-20
Johannes 15:5 NLV
Net omdat God se Gees in jou leef, waarborg dit nie dat sy krag in jou lewe werksaam is nie. God se krag is beskikbaar, maar jy moet daarby inskakel. Jesus vergelyk ons geestelike lewe met ‘n druiwestok en sy lote: ‘Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie’ (vers 5 NLV). In hierdie vergelyking is die loot heeltemal afhanklik van die druiwestok; dit kan nie vrugte op sy eie voortbring nie.
As iemand appels aan die takke van ‘n dooie boom sou vasmaak en sê: ‘Kyk na hierdie vrugteboom,’ hoe sou jy reageer? Jy sal heel waarskynlik sê: ‘Jy het daai vrugte aan die boom vasgemaak.’ Dis soortgelyk aan wanneer ‘n Christen sê: ‘Ek gaan ‘n klomp vrugte in my lewe vasmaak – ‘n bietjie geduld nou, ‘n bietjie barmhartigheid later, ‘n bietjie selfbeheersing op ‘n ander tyd. Ek sal dit self doen.’ Dis onmoontlik! Dis die vrug van die Gees, nie die inspanning van die vlees nie.
Jesus het gesê: ‘…Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte…’ Hoe kan jy vasstel of jy aan Christus verbonde is? Dink aan jou gebedslewe. Jou gebede openbaar jou afhanklikheid van God. Waarvoor bid jy? Dit waarvoor jy bid is dit waarvoor jy van God afhanklik is. Die Bybel sê: ‘Moenie ophou bid nie’ (1 Tessalonisense 5:17 NLV). Bid oor jou besluite, behoeftes, versoekings, belange, planne, skedule, probleme, aankope; bid oor alles! Deur dit te doen bly jy ‘verbonde’ – deur bewus te wees dat God en sy teenwoordigheid altyd by jou is.
Sielskos: 1 Sam 5:1-6:16; Op 11:15-19
2025-07-19
Prediker 5:4 AFR83
Wanneer die druk in jou lewe begin ophoop, sal jy in die eerste plek versoek word om jou stiltetyd met God, om te bid en sy Woord te lees, te laat vaar. Satan weet ook dat as hy jou van jou stiltetyd kan weerhou, hy die stryd gewen het en sal hy geen teenstand van jou kry nie. Hoe kan jy dus hierdie probleem oorkom?
1) Deur ‘n verbond met God te sluit. Dink daaroor: Hoekom ruil ons huweliksbeloftes uit? Sodat ons twee keer sal dink voor ons dit verbreek! Dieselfde geld vir jou alleentyd met God. ‘As jy aan God ‘n gelofte gedoen het, moet jy nie versuim om dit te betaal nie…’
2) Deur dit te skeduleer. Skeduleer elke dag tyd saam met God in jou dagboek, net soos jy met ‘n doktersafspraak of ‘n belangrike vergadering sal doen. Kan jy aan ‘n belangriker afspraak dink? Sekerlik nie!
3) Deur voorbereid op die duiwel se verskonings te wees. Dr Robert G. Lee het gereeld gesê: ‘As jy in die oggend opstaan en die duiwel nie direk in die gesig staar nie, beteken dit dat julle in dieselfde rigting op pad is!’
4) Deur jou Bybel by die verse wat jy moreoggend wil lees, deur die nag oop te los. Wanneer jy wakker word, sal dit jou aan die belangrikste afspraak van die dag, naamlik om tyd met God te bestee, herinner.
Wat as jy ‘n dag oorslaan? Moenie bekommerd wees en heeldag skuldig voel nie. Wanneer jy ‘n maaltyd oorslaan, hou jy mos nie heeltemal op om te eet nie. Dit beteken net dat jy bietjie meer by die volgende maaltyd eet en dan daarvandaan aanbeweeg.
Sielskos: Hand 24-26; Matt 11:1-9; Ps 1; Spr 16:10-15
2025-07-18
Psalm 63:2 NLV
Dr Stephen Olford het gesê: ‘Ek wil God se stem in die oggend hoor voor ek enigiemand anders se stem hoor en sy stem is die laaste stem wat ek in die aand wil hoor.’ Of jy nou besluit om in die oggend of aand met God tyd te bestee, wees konsekwent. Maak ‘n afspraak met God en hou daarby. ‘Hoeveel tyd moet ek bestee?’ vra jy.
1) Begin met ‘n paar minute en laat dit groei. Moenie begin om twee uur lank stiltetyd te hou nie, dit sal jou ontmoedig. Jy sal meer herinneringe aan mislukking as herinneringe aan sukses skep. Jy moet hierdie verhouding, net soos enige ander verhouding, laat groei.
2) Moenie jou horlosie saamvat nie. Dit kan jou stiltetyd vinniger as enigiets anders ruïneer. Besluit hoeveel tyd jy aan God se Woord en gebed kan bestee – en hou dan daarby! Soms sal jy langer tyd wil bestee as wat jy beplan het en ander kere sal dit korter wees. Onthou, jy praat met die God van alle ewigheid; moenie Hom beledig deur aanhoudend na jou horlosie te kyk nie. Met God is kwaliteit belangriker as kwantiteit. Dis wat jy doen wanneer jy by Hom is wat belangrik is, ongeag of dit tien minute of ‘n uur is.
3) Kry ‘n spesiale plek. ‘Dié oggend het Abraham vroeg opgestaan en hom gehaas na die plek waar hy by die Here gestaan het’ (Genesis 19:27 NLV). Jou spesiale plek moet êrens wees waar jy hardop sonder skaamte kan bid, êrens waar jy gemaklik is. Moet dit net nie in die bed doen nie – dis te gemaklik! Soos die tyd aanstap, sal jou spesiale plek as gevolg van al die wonderlike tye wat jy daar saam met die Here bestee het, alles vir jou begin beteken.
Sielskos: Hand 22-23; Matt 10:32-42; Ps 65; Spr 16:8-9
2025-07-17
Markus 1:35 NLV
Om geestelik te groei, moet jy tyd alleen met God bestee. Wanneer jy in sy teenwoordigheid kom, moet jy die volgende benadering hê:
1) Afwagting. Verwag om in julle tyd saam te gee en te ontvang. Maak dit ‘n tyd van intimiteit. Dis onmoontlik om ‘n liefdesverhouding in die openbaar te hê; intimiteit verg alleentyd saam met die een wat jy liefhet. Die Bybel praat van Christus as die bruidegom en ons as sy bruid (sien 2 Korintiërs 11:2). Dink aan die afwagting en opgewondenheid wat in sulke oomblikke gedeel word.
2) Eerbied. Moenie in God se teenwoordigheid inbars nie. Berei jou hart voor deur voor Hom stil te word en die stilte toe te laat om die gedagtes van die wêreld weg te vee. Herinner jouself wie jy ontmoet – God! Die Een wat waardig is ‘… om die hemelse heerlikheid en die eer en die mag te ontvang…’ (Openbaring 4:11 NLV).
3) Waaksaamheid. Gaan vroeg bed toe sodat jy op en wakker sal wees wanneer jy God in die oggend ontmoet. Hy verdien jou volle aandag. Gee aan Hom die beste deel van jou dag – wanneer jy die varsste is. Volg Christus se voorbeeld: ‘Nog voor dagbreek die volgende oggend het Jesus opgestaan en alleen op ‘n stil plek gaan bid.’
4) Gewilligheid. Dit is van kardinale belang dat jy na jou stiltetyd toe kom met die doel om enigiets en alles te doen wat God wil hê jy moet doen. Johannes sê: ‘Wat ons ook al bid, kry ons van Hom omdat ons sy opdragte gehoorsaam en dié dinge in sy teenwoordigheid doen wat Hom bly maak’ (1 Johannes 3:22 NLV). Wanneer jy alleen saam met God is, besluit om dit wat Hy vir jou sê om te doen, met oorgawe te doen.
Sielskos: Hand 20-21; Matt 10:21-31; Ps 14; Spr 16:6-7