2025-08-31
2 Timoteus 2:2 NLV
‘n Leierskapskundige wat ‘n peiling gedoen het om uit te vind hoe mense leiers geword het, skryf: ‘Ek het mense gevra of hulle leiers geword het omdat (a) hulle ‘n leierskapsposisie gegee is; (b) daar ‘n krisis in die organisasie was; of (c) hulle gementor is. Meer as 80 persent het aangedui dat hulle leiers is omdat iemand hulle in leierskap gementor en deur die proses gelei het. As leiers is ons gewoonlik nie onseker oor die leierskapontwikkelingsproses of opleiding wat ons gee nie. Ons voel egter onseker wanneeer ons dit oorweeg om die leiers wat ons oplei, te laat gaan om self te begin lei.
Dis soortgelyk aan hoe ouers oor hul kinders voel. My kinders is al groot en het hul eie gesinne, maar toe hulle tieners was, was die moeilikste ding vir my en my vrou om hulle die vryheid te gee om hul eie pad te baan en hul eie besluite te neem. Dit is skrikwekkend, maar as jy hulle nie toelaat om hul vlerke te sprei nie, sal hulle nooit leer vlieg nie.
Soos ek ouer word, is my hooffunksie as spanleier om my span met leierskapseienskappe toe te rus en hindernisse uit hul pad te verwyder. Wanneer ek dit doen, word die kans al hoe groter dat hulle tot hul volle potensiaal sal ontwikkel.’
Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘Dit is nie julle wat My uitgekies het nie, maar Ek wat julle uitgekies het om julle in staat te stel om te gaan vrugte dra, vrugte wat sal hou…’ (Johannes 15:16 NLV). As jy blywende vrugte en resultate wil hê, moet jy die tyd neem om leiers te ontwikkel.
Sielskos: Jona 1:10-2:10; Matt 12:38-42
2025-08-30
2 Korintiërs 3:5 NLV
‘n Leierskapskundige skryf: ‘Dit verg sterk leiers aan die bopunt van die leer om die leiers wat vir hulle werk, volle deelnemers aan die organisasie se leierskapproses te laat wees. As middelvlak leiers hulle bevraagteken, neem sterk leiers dit nie persoonlik op nie. Wanneer die leiers onder hulle idees deel, kan hulle nie bekostig om bedreig te voel nie. Wanneer mense op ‘n laer vlak as hulle risiko’s wil neem, moet hulle bereid wees om hulle die ruimte te gee om te slaag of te misluk. Leierskap daag verouderde idees, ou maniere om dinge te doen en die status quo uit.
Die geheim vir die ontwikkeling van nuwe leiers is om hulle die ruimte te gee om nuwe maniere te vind om dinge te doen – maniere wat beter as joune is. Beweeg meer na die agtergrond wanneer jou leiers tot hul eie reg begin kom. Probeer die rol van wyse raadgewer en hoofbemoediger aanneem. Verwelkom die begeerte van jou beste leiers om die organisasie te vernuwe en te verbeter. ‘n Oorwinning vir die organisasie is immers ‘n oorwinning vir jou.
Watter rol speel jy dus in jou organisasie? Is jy ‘die kenner,’ of is jy meer ‘n raadgewer en voorstander? Vra jouself af: ‘Verskaf ek ‘n omgewing waar mense vrae kan vra, idees kan deel en risiko’s kan neem?’ As jou doel is om God se koninkryk te bou, kan jy die antwoord op hierdie vraag in God se Woord vind: ‘Nie dat ons op eie houtjie iets kan bedink asof dit ons eie breinkind is nie. Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het…’ (verse 5-6 NLV).
Sielskos: Eseg 22-23; Matt 22:23-33; Ps 142; Spr 19:21-23
2025-08-29
Romeine 12:8 NLV
Daar is ‘n tweevoudige uitdaging om leiers te ontwikkel. 1) Opkomende leiers wil baie keer leiding neem voordat hulle werklik gereed is. 2) Potensiële leiers kan slegs volwasse leiers word wanneer hulle toegelaat word om hul inisiatief te ontwikkel en uit te oefen. Hoe gebeur dit? Deur goeie tydsberekening!
Paulus skryf: ‘Moet nooit oorhaastig ‘n ouderling aanstel nie…’ (1 Timoteus 5:22 NLV). Weer skryf hy: “‘n Ouderling moet nie ‘n onlangse bekeerling wees nie, want as hy so gou gekies word, kan hy dalk verwaand raak, en die duiwel sal dié verwaandheid gebruik om hom tot ‘n val te bring” (1 Timoteus 3:6 NLV).
Hier is dus die uitdaging: As jy die tydsberekening deurjaag, omseil jy die groeiproses, maar as jy leiers terughou wanneer hulle gereed is om te beweeg, inhibeer jy hul groei. Iets wat jou kan help om die tydsberekening reg te kry, is om te identifiseer of jou mentaliteit een van gebrek of oorvloed is. As jy dink dat jy ‘n onvoldoende hoeveelheid hulpbronne en ‘n beperkte aantal geleenthede het, kan jy huiwer om jou leiers risiko’s te laat neem – omdat jy dalk glo die organisasie nie foute kan bekostig nie. As jy egter dink dat geleenthede onbeperk en God se hulpbronne hernubaar en oneindig is, sal jy meer geneig wees om risiko’s te neem.
Dink terug: Hoe het jy ‘n leier geword? Deur ondervinding en deur foute maak – nie waar nie? Dis hoe ander mense ook tot leiers ontwikkel! Die Pulitzer-prys-bekroonde skrywer Garry Wills het gesê: ‘Leiers gee insae oor waarheen hulle op pad is. ‘n Leier wat dit stil hou, bevind hom gou sonder volgelinge.’ Dit verg ‘n sterk leier om ander aan die proses te laat deelneem en te laat ontwikkel.
Sielskos: Eseg 20-21; Matt 22:15-22; Ps 111; Spr 19:18-20
2025-08-28
1 Korintiërs 9:27 NLV
Fisiese oefening versterk jou immuunstelsel sodat jy hartsiektes, kanker, diabetes, vetsug, hoë bloeddruk, skildklierwanfunksie, verswakte geheue en ‘n magdom ander kwale kan beveg. Die beste soort oefening is die een waarvan jy hou en die gerieflikste is. Hier is die twee grootste redes waarom ons nie ‘n oefenprogram konsekwent volg nie: Eerstens verloor ons belangstelling daarin omdat ons nie veel bevrediging daaruit kry nie. Tweedens verg dit te veel tyd of moeite.
Of jy nou ‘n vinnige stappie neem of ‘n hoë-energie fiksheidsklas bywoon, amper enige fisiese aktiwiteit sal jou liggaam laat ontspan en jou weer energie gee. Oefen ten minste dertig minute per dag, ‘n minimum van vyf dae per week. Paulus som vir ons die sleutel tot sukses in een woord op: dissipline. ‘Ek brei my liggaam en dissiplineer dit om werklik bruikbaar te wees…’ (vers 27 NLV).
Fisiese oefening kan jou ook help om stres te verminder, gewig te verloor en dit af te hou en beter oor jouself te voel. As jy nie tyd vir ‘n amptelike oefensessie het nie, probeer om oefening geleidelik in jou leefstyl in te sluit. Parkeer verder van die winkel af, sodat jy verder tot daar moet loop. Neem die trappe, eerder as om met die hysbak te ry.
As verloste kind van God is daar ‘n baie belangrike rede om fisies fiks te bly: ‘Of verstaan julle nie dat julle liggame ‘n tempel van die Heilige Gees is wat in julle woon… nie?.. Daarom moet julle God met julle liggaam verheerlik’ (1 Korintiërs 6:19-20 NLV). Bid die volgende: ‘Here, help my om gereeld ‘n vorm van fisiese oefening te doen.’
Sielskos: Eseg 16:53-19:14; Matt 22:1-14; Ps 103:13-22; Spr 19:17
2025-08-27
Psalm 118:24 NLV
Wanneer dit moeilik gaan en jy in die versoeking kom om oor jou lot in die lewe te kla, stop en herinner jouself dat vandag ‘n gawe van God is, een wat jy nooit weer sal oorhê nie. Dink aan die volgende woorde wat jou sal help: Net vir vandag sal ek elke uur ten volle ervaar en geniet en nie al my probleme op een slag probeer oplos nie. Net vir vandag sal ek my kennis probeer verbreed deur iets nuuts te leer; ek sal iets lees wat inspanning, dinkwerk, konsentrasie en toewyding verg. Net vir vandag sal ek aangenaam wees. Ek sal probeer om op my beste te lyk, sag te praat en hoflik en bedagsaam teenoor ander te wees.
Net vir vandag sal ek nie probeer foutvind of enigiemand anders as myself probeer verbeter nie. Net vir vandag sal ek ‘n plan en ‘n doelwit hê. Ek sal dit dalk nie presies volg nie, maar ek sal nietemin een hê. Deur dit te doen, sal ek myself van twee vyande – haas en besluiteloosheid – red.
Net vir vandag sal ek my karakter ontwikkel. Ek sal iets goeds doen en dit vir myself hou; as enigiemand daarvan uitvind, tel dit nie. Net vir vandag sal ek iets doen waarvoor ek nie lus is nie. Sodoende sal ek my gees oefen om my vlees te oorheers en my wil om my emosies te oorheers. Net vir vandag sal ek nie bang wees om lief te hê of te waag nie; ek sal poog om al God se seëninge te geniet en glo dat elke saad wat ek in sy koninkryk saai, vermenigvuldig na my toe sal terugkom. Dis hoe ek sal lewe – net vir vandag!
Sielskos: Eseg 14:1-16:52; Matt 21:33-46; Ps 103:1-12; Spr 19:12-16
2025-08-26
Romeine 8:37 NLV
Het jy al van die beginsel van superkompensasie gehoor? ‘n Pastoor verduidelik dit as volg: ‘Wanneer ‘n atleet verby die drumpel van pyn en uitputting gedruk word, oorkompenseer die liggaam. Hoe meer ‘n spier afgebreek word, hoe meer bou dit weer op. Die tweehonderd-en-ses bene in die liggaam gaan voortdurend deur ‘n proses wat hermodellering genoem word. Hulle word deur osteoklaste afgebreek en deur osteoblaste opgebou. Die proses van hermodellering word intensiewer wanneer ‘n been breek. Ekstra osteoblaste help om die been te herbou. Daar is ‘n tydperk van swakheid waar die been meer kwesbaar vir ‘n herbesering is. Daarom dra ons gips. Die been is egter sterker as wat dit was om mee te begin, omdat die liggaam oorkompenseer. Baie selde breek ‘n been twee keer op dieselfde plek, omdat die been dikker en sterker is as wat dit voor die breuk was.
Amper soos ‘n gebreekte been wat herstel moet word, breek God ons waar ons gebreek moet word. God verbreek die trots en wellus en woede in ons lewens, maar Hy doen dit om ons na sy beeld te hervorm. Sodra ons genees, is ons sterker as wat ons was. Paulus skryf: ‘Aan julle is immers die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly’ (Filippense 1:29 NLV). Ons is geneig om lyding as ‘n noodsaaklike euwel te sien, maar Paulus noem dit ‘n goddelike voorreg.’
Miskien is God besig om jou te hervorm. Miskien sal die probleem wat jy gedink het jy nooit sal oorkom nie, jou effektiefste bediening word.
Sielskos: Eseg 10-13; Matt 21:18-32; Ps 84; Spr 19:11