Moenie afwysend wees nie

2025-07-10
Filippense 2:4 NLV

As jy jouself in ‘n leierskapposisie bevind, moet jy bewus wees hoe jy op die gevoelens, gedagtes en opinies van diegene rondom jou, reageer. Jy moet sensitief wees daarvoor, want dit wat jy as leier sê sal dieper aanklank vind as dit wat ander mense sê. Selfs wanneer iemand ‘n idee voorstel wat jy voel geen verdienste het nie, moet jy die versoeking om dit dadelik van die hand te wys, weerstaan. ‘n Eenvoudige: ‘Dankie vir jou insette,’ eerder as ‘n: ‘Nee, dit sal nie werk nie,’ is nodig.

Wanneer jy afwysend teenoor iemand is, stuur dit die volgende boodskap: ‘Ek ignoreer jou en jou idee. Jou gevoelens en sienings maak nie saak nie. Jou belange is vir my onbelangrik.’ Sulke stellings, gesproke of ongesproke, benadeel ‘n persoon se gevoel van waarde en behoefte aan respek. Dit is veral van toepassing as die persoon glo dat hulle spesiale agting verdien. Die ou gesegde is waar: ‘Mense gee nie om hoeveel jy weet nie, totdat hulle weet hoeveel jy omgee.’

Wanneer jy ander afwysend behandel, sal hulle ‘n manier vind om hul irritasie ten toon te stel, wat jou soms duur te staan kan kom as jy jou visie wil bereik. Jy kan dit voorkom deur meer bewus te raak van hoe jy teenoor ander mense optree. Die enigste oplossing vir hierdie probleem is om buite jouself te tree, aandagtig na ander te luister en te poog om hul bekommernisse te verstaan en met respek te hanteer. As jy dit doen, sal jy groot voordele daaruit put. ‘Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange.’

Sielskos: Hand 8-9; Matt 8:28-34; Ps 118:10-18; Spr 15:31-32

Reageer wanneer die lig groen word

2025-07-09
Johannes 8:12 NLV

In sy boek, Deep Thoughts, skryf Jack Handey: ‘Soos die lig van rooi na groen na geel en toe weer terug na rooi verander het, het ek daar gesit en oor die lewe nagedink. Was dit dan niks meer as ‘n klomp toeterende motors en geskreeu nie? Soms het dit so gevoel.’

Baie van ons wag vir die groen lig wat alreeds vir ons gegee is. Jesus het gesê ‘…Wie My aanhou volg… sal die lig hê wat lewe gee.’ Wanneer kry mens dan insig, duidelikheid en rigting? Wanneer jy die eerste tree in geloof neem. Ons beveel nie ‘n gedagtelose of gebedelose benadering tot besluitneming aan nie. Jy moet seker wees dat God jou roep. Jy kan egter so bang wees om die verkeerde ding te doen dat jy nooit die regte ding doen nie. Dit is wys om te dink en weer te dink, maar nie om te oordink nie. Oormatige ontleding lei tot geestelike verlamming.

‘n Pastoor verduidelik: ‘As jy probeer om die wil van God logies uit te redeneer, sal jy nooit ‘n geloofstap neem nie, omdat die wil van God nie logies is nie – dit is teologies.’ Die woord ‘theos’ beteken ‘God’, en dus dui ‘teologies’ daarop dat God in die vergelyking ingebring word. Die pastoor gaan voort: ‘Die aansporing van die Heilige Gees sal nie altyd vir jou logiese linkerbrein sin maak nie. Trouens, God-geïnspireerde idees lyk dikwels soos slegte idees. Juis dan moet jy toelaat dat die Heilige Gees jou intellek oorheers.’

Die dissipels wat Jesus geroep het, het twee dinge gedoen. Hulle het wonderwerke verrig en hulle het foute gemaak. As hulle onwillig was om ‘n fout te maak, sou hulle nooit die vreugde daarvan om wonderwerke te verrig, ervaar het nie. Gaan dus wanneer die lig groen word.

Sielskos: Hand 6-7; Matt 8:18-27; Ps 118:1-9; Spr 15:27-30

Probeer. Probeer harder. Probeer langer.

2025-07-08
Galasiërs 6:9 NLV

Een van die grootste voorvereistes vir sukses is deursettingsvermoë. Dit gaan nie net oor hoe hard jy probeer nie; dit gaan oor hoe lank jy probeer. Ons is geneig om die hoeveelheid wat ons op die korttermyn kan bereik, te oorskat. Volgens ‘n Amerikaanse pastoor en skrywer onderskat ons egter: “…hoeveel ons oor die langtermyn kan bereik. Hoekom? Omdat energie eksponensieel is. Hoe harder jy werk en hoe langer jy werk, hoe meer vrugte werp dit af. In ‘n studie is aan Japannese en Amerikaanse kinders ‘n moeilike legkaart gegee om op te los, terwyl navorsers gemeet het hoe lank hulle sou probeer voordat hulle sou tou opgooi. Gemiddeld het die Amerikaanse kinders 9.47 minute lank probeer. Die Japannese kinders het 13.93 minute probeer. Dit is ‘n verskil van 47 persent. Wil jy probeer raai watter kinders beter op gestandaardiseerde wiskundetoetse presteer het? Sukses is ‘n neweproduk van harder en langer probeer.

Daar is geen plaasvervanger daarvoor nie. Daar is geen kortpaaie nie. Dit maak nie saak of dit atletiek, akademie, musiek of wiskunde [of die bediening] is nie. Studies het getoon dat dit ongeveer tien jaar of tienduisend uur neem om uitnemendheid in enigiets te bereik. Jy moet hard en lank daaraan werk. Soos Malcolm Gladwell dit stel: ‘Tienduisend uur is die towergetal vir uitnemendheid.’ Is daar enige God-geïnspireerde idees waaroor jy opgegee het? Enige God-gegewe passies waarvoor jy opgehou veg het? Enige God-gegewe groot drome wat weens ongehoorsaamheid stof vergader? Moenie tou opgooi nie. Jy moet probeer. Dan moet jy harder probeer. En dan moet jy langer probeer.”

Sielskos: Hand 3:11-5:42; Matt 8:10-17; Ps 109:16-31; Spr 15:23-26

Hoekom kan ons nie saamwerk nie? (4)

2025-07-07
Efesiërs 4:3 NLV

‘n Vrou het vir haar vriendin gesê: ‘My man en ek het ‘n baie gelukkige huwelik. Daar is niks wat ek nie vir hom sal doen nie en daar is niks wat hy nie vir my sal doen nie. Dis hoe ons deur die lewe gaan – deur niks vir mekaar te doen nie!’ Ons glimlag, maar dis nie so snaaks wanneer dit die waarheid is nie. So ‘n gesindheid baan die pad na rampspoed in die huwelik, besigheid, kerk, persoonlike verhoudings en oral anders. Dikwels sluit mense tot hul eie voordeel by ‘n span aan – hulle wil ondersteunende spelers hê sodat hulle al die applous kan kry. Op die ou einde maak so ‘n gesindheid egter nie net hulself seer nie, dit maak ook die mense wat saam met hulle werk seer en verhinder die resultate wat hul andersins kon behaal het.

President Woodrow Wilson het gesê: ‘Jy is nie net hier om ‘n bestaan te maak nie. Jy is hier om die wêreld in staat te stel om ruimer, met groter visie, met ‘n fyner gees van hoop en prestasie, te leef. Jy is hier om die wêreld te verryk en om jouself te verarm wanneer jy vergeet om dit te doen.’

Is dit maklik om saam met ander te werk en altyd oor die weg te kom? Soms ja, soms nee. Dis hoekom Paulus skryf: ‘Deur in vrede met mekaar te lewe, moet julle die eenheid wat die Gees bewerk het, bewaar.’ Jy moet daaraan werk. Wanneer iemand kritiseer, wis dit met ‘n kompliment uit. As iemand kla, vind iets om voor dankbaar te wees. Wanneer iemand selfgesentreerd voorkom, herinner hulle daaraan dat die kollektiewe doel waarna julle streef, groter as enige individu is.

Sielskos: Hand 1:1-3:10; Matt 8:1-9; Ps 109:1-15; Spr 15:22

Hoekom kan ons nie saamwerk nie? (3)

2025-07-06
Psalm 133:1 NLV

Rede drie: temperament. Sommige mense is nie van nature ‘n ekstrovert nie. Wanneer hulle uitdagings in die gesig staar, kom dit nooit by hulle op om ander mense se hulp in te roep om hul doel te bereik nie. Wanneer jy alleen optree, sal jy ‘n sekere mate van sukses behaal, maar wanneer jy met die regte mense saamwerk, sal jy dinge bereik wat jy nooit gedroom het moontlik is nie. Wanneer jy alles alleen doen en nooit met ander saamwerk nie, sit jy groot struikelblokke in die pad van jou eie potensiaal. Dr Allan Fromme het geskerts: ‘Dit het al gebeur dat mense meer bereik wanneer hulle saamwerk, eerder as om mekaar teen te werk!’

Soos Chuck Swindoll sê: ‘Niemand is ‘n hele span nie; ons het mekaar nodig. Jy het iemand nodig en iemand het jou nodig. Ons is nie eilande op ons eie nie. Om die lewe te laat werk, moet ons leun en ondersteun. Vereenselwig en reageer. Gee en neem. Bely en vergewe. Uitreik en ander mense omhels en vertrou. Aangesien nie een van ons ‘n hele, onafhanklike, selfversorgende, super-bekwame, almagtige individu is nie, laat ons ophou om op te tree asof ons is. Die lewe is reeds eensaam genoeg. Die spel is verby. Kom ons skakel by mekaar in.’

As jy graag iets groots wil bereik, moet jy na ander toe uitreik. Een is ‘n te klein getal om groot suksesse te bereik. Die Bybel sê: ‘Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eengesind saamwoon!… daar gee die Here sy seën…’ (verse 1,3 NLV). Wanneer ons saamwerk, seën God ons pogings. Sonder God se seën is daar geen ware en blywende sukses nie.

Sielskos: Rut 1:3-18; Joh 6:41-69

Hoekom kan ons nie saamwerk nie? (2)

2025-07-05
1 Samuel 14:7 NLV

Rede twee: naïwiteit. ‘n Ou Chinese spreekwoord lui: ‘Agter elke bekwame man is daar altyd ander bekwame manne.’ Selfs as jy die werk self kan doen, is dit wys om te stop en te vra: ‘Wie ken ek wat my kan help om dit beter te doen?’ Hierdie vraag definieer die verskil tussen middelmatigheid en uitnemendheid. Die besigheidskonsultant, John Ghegan, het ‘n bordjie op sy lessenaar gehad wat gelees het: ‘As ek dit alles weer oor kon doen, sou ek hulp gekry het.’ Ons almal het so ‘n bordjie nodig!

Wanneer jy ‘n paar oorwinnings behaal het, loop jy die verhoogde risiko om te dink dat jy enigiets en alles self kan doen. Wanneer jou droom egter van God afkomstig is, sal dit altyd groter as jou individuele kapasiteit en gawes wees, wat beteken dat jy na ander mense sal moet uitreik.

Twee manne, Jonatan en sy wapendraer, het ‘n hele Filistynse leër uitgewis. Hoe het hulle dit gedoen? “‘Kom ons gaan oor na hierdie heidene toe,’ sê Jonatan vir sy wapendraer. ‘Dalk help die Here ons. Hy kan tog deur baie of deur min die oorwinning gee!’ ‘Doen wat u dink goed is,’ sê die wapendraer. ‘Ek is hart en siel saam met u!'” (verse 6-7 NLV). Jonatan, die leier, het die aanmoediging en ondersteuning van sy wapendraer nodig gehad. Sy wapendraer het weer die moed en leierskap van Jonatan nodig gehad. Saam het hulle wonderlike dinge vir God bereik.

Die waarheid is dat spanwerk altyd die kern van indrukwekkende oorwinnings is. Die vraag is nie of spanne waarde het nie; dit is of jy nederig genoeg is om daardie feit te erken en ‘n beter spanspeler te word.

Sielskos: Joel 1-3; Matt 7:15-29; Ps 79; Spr 15:18-21