Verwyder die ‘vleeslike’ element
2025-10-05Eksodus 4:4 NLV
Moses het sy herderstok op die grond neergegooi en dit het in ‘n slang verander (sien vers 3). Hy was so bang dat hy wou weghardloop. Toe het God egter vir hom gesê: ‘Gryp dit aan sy stert!’
Een Bybelonderwyser wys die volgende uit: ‘Gedurende jou opleidingsreis deur die wildernis, sal jy waarskynlik dink dat God jou op die verkeerde pad lei; dat Hy goed sê wat nie sin maak nie. Sy bevele gaan nie gewoonlik met ‘n verduideliking gepaard nie. Wanneer jy nie kan agterkom wat Hy besig is om te doen nie, moet jy Hom vertrou. Nadat Moses die slang aan sy stert opgetel het, het dit weer ‘n herderstok geword. Dit het van ‘n eenvoudige herderstok in ‘n stok waarmee God vir Moses ‘n teken gegee het, verander (sien Eksodus 4:1-20; 17:9).
God het die slang in Moses se herderstok verwyder. Moses moes die een ding waarop hy kon staat maak – sy ou, bekende, beproefde herdersstok – prysgee. God mag jou van sekere dinge stroop sodat jy jou afhanklikheid aan Hom kan besef. Hierdie stroping gaan egter met krag gepaard. Daar is dinge waaraan jy wil vashou wat jy moet loslaat, sodat God die slang daarin kan verwyder.’
Waaraan hou jy vandag vas? ‘n Begeerte om ‘n onderwyser te wees?’n Musikale talent? ‘n Aanleg vir besigheid? Leierskapseienskappe? Neem jou gawe, wat dit ook al mag wees, en gooi dit voor God op die grond neer. Hy is die enigste een wat weet of daar ‘n slang daarbinne skuil. Hy kan die ‘vleeslike’ element verwyder, dit seën en vir jou ‘n instrument wat vir diens geskik is, teruggee.
Sielskos: Est 4:9-5:3; Heb 4:7-16