2025-08-26
Romeine 8:37 NLV
Het jy al van die beginsel van superkompensasie gehoor? ‘n Pastoor verduidelik dit as volg: ‘Wanneer ‘n atleet verby die drumpel van pyn en uitputting gedruk word, oorkompenseer die liggaam. Hoe meer ‘n spier afgebreek word, hoe meer bou dit weer op. Die tweehonderd-en-ses bene in die liggaam gaan voortdurend deur ‘n proses wat hermodellering genoem word. Hulle word deur osteoklaste afgebreek en deur osteoblaste opgebou. Die proses van hermodellering word intensiewer wanneer ‘n been breek. Ekstra osteoblaste help om die been te herbou. Daar is ‘n tydperk van swakheid waar die been meer kwesbaar vir ‘n herbesering is. Daarom dra ons gips. Die been is egter sterker as wat dit was om mee te begin, omdat die liggaam oorkompenseer. Baie selde breek ‘n been twee keer op dieselfde plek, omdat die been dikker en sterker is as wat dit voor die breuk was.
Amper soos ‘n gebreekte been wat herstel moet word, breek God ons waar ons gebreek moet word. God verbreek die trots en wellus en woede in ons lewens, maar Hy doen dit om ons na sy beeld te hervorm. Sodra ons genees, is ons sterker as wat ons was. Paulus skryf: ‘Aan julle is immers die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly’ (Filippense 1:29 NLV). Ons is geneig om lyding as ‘n noodsaaklike euwel te sien, maar Paulus noem dit ‘n goddelike voorreg.’
Miskien is God besig om jou te hervorm. Miskien sal die probleem wat jy gedink het jy nooit sal oorkom nie, jou effektiefste bediening word.
Sielskos: Eseg 10-13; Matt 21:18-32; Ps 84; Spr 19:11
2025-08-25
1 Johannes 5:4 NLV
‘n Pastoor moedig ons aan: ‘Die psigoanalis, Alfred Adler, het ‘n fassinerende navorsingsprojek oor die teorie van kompensasie van stapel gestuur. Hy het kunsstudente bestudeer en ontdek dat sewentig persent van hulle aan optiese afwykings ly. Hy het degeneratiewe afwykings in die ore van groot komponiste soos Mozart en Beethoven gevind. Hy het talle voorbeelde van mense wat op die gebied van hul grootste swakheid uiteindelik suksesvol geword het, aangehaal. Adler het geglo dat geboortedefekte, armoede, siekte en negatiewe omstandighede dikwels die springplank tot sukses is.
God wil jou teëspoed gebruik en dit in ‘n bediening verander. Mense gaan deur ‘n pynlike egskeiding, of die dood van ‘n kind, of ‘n vernietigende verslawing, maar God help hulle om uit die put te klim sodat hulle ander in soortgelyke omstandighede kan help. Een van die verlammendste foute wat ons maak, is om te dink dat ons probleme ons op een of ander manier diskwalifiseer om deur God gebruik te word. Niemand rol die rooi tapyt uit en nooi tragedie in hul lewens in nie, maar ons grootste gawes en passies is dikwels die neweproduk van ons ergste tragedies en mislukkings. Beproewings het ‘n manier om ons te help om ons doel in die lewe te herontdek.’
Die probleme waardeur jy met God se hulp geworstel het, word ‘n platform waarop jy kan staan en ander mense kan bedien. ‘God, die Vader van ons Here Jesus Christus, word geprys! Hy is die Vader van meelewing en die God wat in elke opsig bemoedig. In al ons swaarkry bemoedig Hy ons. Hy doen dit sodat ons ook in staat sal wees om mense in al hulle swaarkry by te staan met dieselfde bemoediging waarmee God ons versterk het’ (2 Korintiërs 1:3-4 NLV).
Sielskos: Eseg 5-9; Matt 21:12-17; Ps 119:169-176; Spr 19:9-10
2025-08-24
Openbaring 21:7 NLV
‘n Pastoor skryf: ‘Almal van ons wil hê dat elke dag ‘n goeie dag moet wees. As elke dag egter ‘n goeie dag was, sou daar geen ‘goeie’ dae wees nie, want daar sou geen slegte dae wees om die goeie dae mee te vergelyk nie. Siekte help ons om gesondheid te waardeer. Mislukking help ons om sukses te waardeer. Skuld help ons om rykdom te waardeer. Die moeilike tye help ons om die goeie tye te waardeer. Teëspoed is dikwels die saadbedding van geleenthede, omdat dit ‘n manier het om die beste in ons na vore te bring. Teëspoed is dikwels ‘n bedekte seën.
Ons droom van geen swaartekrag. Ons stel ons voor hoe die lewe sonder enige probleme of uitdagings sou wees. Vanuit ‘n biologiese perspektief is geen swaartekrag egter gevaarlik vir jou gesondheid. Ruimtevaarders wat tyd in die ruimte met geen swaartekrag deurbring, ervaar ernstige mediese komplikasies. Sonder enige weerstand, verloor hulle spiermassa en beendigtheid, hulle ervaar hoë polsslag en hartkloppings en hulle kan skaars loop wanneer hulle weer die aarde se atmosfeer binnedring.
Ons droom dalk van geen swaartekrag wat teëspoed voortbring, maar wat ons regtig nodig het, is ‘n gesonde dosis teëspoed. Die mense wat God die meeste kan gebruik, is dikwels die mense wat die meeste teëspoed ervaar het. Dit is nie noodwendig wat jy wil hoor nie, maar dit is die waarheid. Teëspoed kan ‘n groter vermoë om God te dien voortbring.’
Teëspoed veroorsaak dat ons na God draai, op Hom steun, Hom soek en Hom leer ken op ‘n manier wat ons nie andersins sou nie. Die Bybel sê: ‘…Dié wat in hulle God glo, sal egter sterk staan en doen wat reg is’ (Daniël 11:32 NLV).
Sielskos: 2 Kon 4:42-44; Joh 6:1-15; Mark 8:1-9
2025-08-23
Hebreërs 11:16 NLV
Daar is ‘n verhaal oor ‘n Amerikaanse toeris wat die huis van ‘n negentiende-eeuse Poolse rabbi besoek het. Die toeris was verbaas om dit so karig ingerig te vind. Die leefarea, ‘n eenvoudige kamer vol boeke, het ‘n tafel en ‘n bankie bevat. Toe die toeris die rabbi vra: ‘Waar is al jou meubels?’ het hy geantwoord: ‘Waar is joune?’ Die toeris het geantwoord: ‘Wat bedoel jy? Ek is ‘n besoeker. Ek is net tydelik hier.’ ‘Ek ook!’ het die rabbi geantwoord.
Ons almal is net tydelik hier. In werklikheid is Christene burgers van die hemel wat met ‘n ompad via die aarde huis toe gaan. ‘Ons daarteenoor het ons burgerskap in die hemel. Van dáár verwag ons ook die Here Jesus Christus as Redder’ (Filippense 3:20 NLV). Vir die verloste kind van God behoort die hemel ‘n ingesteldheid te wees; ‘n manier van dink en leef.
Paulus skryf: ‘Aangesien julle saam met Christus opgewek is, mik in dié lewe na die dinge wat daarbo by Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge… Julle het mos saam met Christus gesterf en julle lewe is saam met Hom veilig by God weggesteek’ (Kolossense 3:1-3 NLV).
Die hemel is ons Noordster. Laat sy skoonheid jou verbeelding aangryp, sy waardes jou gedrag bepaal, sy vreugdes jou smart verlig en sy almagtige Koning jou lewenslange aanbidding ontvang! Die hemel behoort vir ons ‘n lewensveranderende waarheid te wees. Ons is nie hier om te bly nie. Ons is pelgrims op reis, met ‘n heerlike bestemming waar ons die ewigheid in ons Vader se huis gaan deurbring (sien Johannes 14:2). Ons is op pad na ons Ewige Huis!
Sielskos: Eseg 1-4; Matt 21:1-11; Ps 119:161-168; Spr 19:3-8
2025-08-22
2 Timoteus 4:7 NLV
Voordat hy vir sy geloof ter dood veroordeel is, het Paulus geskryf: ‘Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly. En nou wag die prys vir my: die lourierkrans van geregtigheid wat die Here, die regverdige Beoordelaar, my sal gee op die groot dag van sy wederkoms…’ (verse 7-8 NVL).
Tot op die oomblik wat hy tereggestel is, het Paulus aangehou om waarhede, wat die wêreld sou verander, te skryf. Hy het nooit gesê: ‘Ek gee op!’ nie. Het hy rede gehad om op te gee? Natuurlik, hy is deur sy vyande vervolg en deur sy vriende verlaat. Wat het hom aan die gang gehou? Die visie wat in sy hart gebrand het (sien Handelinge 26:19). Solank as wat jy ‘n visie het, sal jy nooit ‘oud’ wees nie. Om die vrees vir veroudering te oorkom, moet jy die volgende doen:
1) Handhaaf ‘n gesindheid van geloof en verwagting. Solank jy glo dat die beste dae nog voor jou lê, doen hulle!
(2) In plaas daarvan om oor die goeie ou dae obsessief te raak, soek maniere om nuwe herinneringe te maak. Probeer byvoorbeeld om jou vakansie op verskillende maniere, op verskillende plekke en met verskillende mense te vier. As jy dinge wil hê wat jy nie het nie, moet jy dinge begin doen wat jy nog nie gedoen het nie.
(3) Kry jou finansiële sake in orde. “‘n Goeie mens laat iets na vir kleinkinders…” (Spreuke 13:22 NLV). Die grootste nalatenskap is nie geld nie, maar liefde, getrouheid, integriteit en ‘n voorbeeld van ‘n goddelike lewe. As verloste kind van God, gaan jy na ‘n beter plek wanneer jy sterf – maar jou doelwit moet wees om die wêreld ‘n beter plek na te laat.
Sielskos: Amos 5:18-9:15; Matt 20:29-34; Ps 119:145-160; Spr 19:1-2
2025-08-21
Markus 14:8 NLV
“Tydens die ete kom daar ‘n vrou in met ‘n albaste fles vol egte, baie duur aromatiese olie. Sy breek toe die seël van die fles en gooi die olie oor Jesus se kop uit. Sommige van dié wat saam aan tafel was, was verontwaardig daaroor: ‘Hoekom hierdie verkwisting van duur olie?’ het hulle gesê. ‘Sy kon dit vir ‘n yslike bedrag verkoop het en die geld vir die armes gegee het.’ En hulle het haar uitgetrap. Jesus het hulle egter geantwoord: ‘Laat haar met rus! Waarom maak julle dit vir haar so moeilik?.. Sy het haar allerbeste vir My gedoen. Sy het my liggaam vooruit gesalf vir my begrafnis. Ek verseker julle, waar hierdie Goeie Nuus ook al oor die hele wêreld verkondig sal word, sal daar ook gepraat word van wat sy gedoen het, en so sal sy vir altyd onthou word!'” (verse 3-6, 8-9 NLV).
Let twee dinge op wat Jesus oor hierdie vrou gesê het.
1) ‘Sy het haar allerbeste vir My gedoen’ (vers 8 NLV). Dit is ‘n teregwysing vir die trots in elkeen van ons. Ons dink as ander mense nie gaan sien dat ons iets groots doen nie, doen ons eerder niks. Moeder Teresa het glo gesê: ‘Ons kan nie almal groot dinge doen nie, maar ons kan almal klein dingetjies met groot liefde doen.’
2) ‘So sal sy vir altyd onthou word!’ (vers 9 NLV). Tweeduisend jaar later praat ons steeds van haar nalatenskap – barmhartigheid!
Jy hoef nie gesofistikeerd, geleerd of ryk te wees om barmhartig te kan wees nie. Dien God – en ander – en jou beloning in die hemel is verseker (sien 2 Timoteus 4:6-8 NLV).
Sielskos: Amos 1:1-5:17; Matt 20:17-28; Ps 119:137-144; Spr 18:22-24